Julle dink seker ek het van die aardbol af verdwyn, maar nee, ek is nog hier, net baie besig. Besig is 'n 'goeie' woord. Dit beteken ek verdien geld. Vandat Hendrik kom kuier het, het ek net nie kans gehad om by julle uit te kom nie. Dit het so woes gegaan terwyl Hendrik hier was, want ek het net by die nuwe daycare centre begin werk (ja, ek werk nou by 'n ander 'skool') en met Hendrik hier, was daar net nie tyd om te blog ook nie. Sederdien het ons lewens net totaal verander en tussen busry, werk, kosmaak, wasgoedwas en probeer om die huis skoon te hou en in die winkels drentel (om geskenkies te koop vir die familie in SA, want ek gaan binnekort kuier), is daar nie eintlik tyd of energie vir baie ander dinge nie.
My kop was maar leeg en dis net of ek nie geweet het wat om te sê nie, veral as mens agterkom dat die mense vir wie ek eintlik skryf, nie juis die moeite doen om my blog te lees nie en ander gedagtes tussen die reëls lees wat tot konfrontasies lei. Nou ja, in ander woorde, ek was 'n bietjie afgesit om te blog, omdat ek mense na aan my ontstel met dit wat ek skryf en hulle tot die gevolgtrekking gekom het, dat dit nie eintlik só goed met my gaan in New Zealand as wat ek probeer voorgee nie.
Maar ek kan jul verseker dit gaan só goed met my. Ek dink nie ek het al ooit in my lewe so goed gevoel nie! Ek werk hard en het nie tyd om te top en dink oor nonsens nie, maar ons maak nog tyd om uit te kom en dinge te doen wat vir ons lekker is. Ek verslind boeke, want ek spandeer nou twee ure elke dag op busse en by busstoppe (lekker leestyd en die biblioteek is vol van die nuutste en beste boeke. Kos my nie 'n sent nie!). Daar is laagtepunte, maar dit voel vir my of ons vorentoe begin beweeg, ingeburger raak en die lewe voel nie meer die hele tyd soos 'n vakansie nie maw Wellington word nou waarlik soos 'ons tuiste'. Dit voel nie meer soos iets tydelik wat verby sal gaan en dan moet ons 'huis toe' gaan nie. 'Huis' is nou hier, nie soos in, Cortina Avenue, Johnsonville nie, maar New Zealand en spesifiek op die stadium Wellington. Ek gaan binnekort in Suid-Afrika kuier. Daar is geen gevoel van 'huis toe gaan' nie, want ek het nie meer daar 'n huis nie en gaan 'n gas wees by familie en vriende. Hendrik woon by sy broer in Krugersdorp en ander mense woon in ons huis. So, 'ons huis' is nou verseker hier.
Hier waar die gedreun van die wasmasjien, die geraas van busse in die straat, die bure se gepraat in Hindi, hul baba wat huil en die gepiep van die mikrogolf (om my te roep as ek nie betyds daar is om my opgewarmde koffie daaruit te haal nie). Ander nuwe geluide en reuke, meubels, huisgereedskap ens waaraan ons gewoond moes raak en wat nou die bekende is, ons geluide, ons reuke, ons besittings, my en Rialeen s'n.
Dit bly natuurlik die minder lekker deel van ons lewe in New Zealand. Dis die deel wat uit my hande is en wat ek nie kan verander nie. Ek het alles probeer, maar Sulet bly nog in Pretoria en Hendrik het kom kuier (om ons te troos), maar het nog nie 'n plan om hierheen te kom nie. Hoewel hy elke kort-kort laat deurskemer dat hy wil kom, maar die vraag bly 'wanneer' en hoe lank kan 'n mens so aangaan en dit nog 'n huwelik noem? Dit is die onbeskryflikste, magtelose gevoel, maar ons lewe gaan aan hier in New Zealand.
Sulet het daarmee vrede gemaak. Sy gun my nou die geluk wat ek hier ervaar, al is dit vir haar moeilik dat ek so ver van haar is. Ons chat, sms, email en praat soms op die foon. Die afstand tussen ons het ons tog op 'n weird manier nader aan mekaar gebring. Ons waardeer mekaar meer, 'n mens praat ook soms makliker in geskrewe woorde (wou se op papier, maar ons skryf nie meer op papier nie, maar op skerms).
Ek is nie 'n vreeslike sosiale mens nie en dit vat my jare gewoonlik jare om mense wat ek ontmoet, vriende te noem. Hier het dit my verstom hoe gou 'n mens so in die vreemde hegte vriendskappe smee met mense wat eens op 'n tyd in dieselfde bootjie as ons was (oor kultuurgrense) of ook nuwe inwoners van New Zealand is. Almal wil hul ervaringe met jou deel, het empatie, gee raad, bied hulp aan ens. Ek het vriende gemaak met mense wie ek nooit in Suid-Afrika mee sou vriende wees nie agv die manier hoe ons na die lewe kyk, maar hier het ons iets anders ingemeen wat ons bymekaar uitbring.
Op die oomblik leef ek vir die dag wat ek op die vliegtuig klim om almal vir die eerste keer in meer as veertien maande te sien, om die warm Afrika-son op my te voel, te luister na donderweer in die nag, omring te wees deur die miljoene mense van Afrika, op besige paaie te ry en groot malls te besoek. Ek wil 'n reuse groot Spur T-bone gaan eet (New Zealanders weet nie hoe om vleis gaar te maak nie!), 'n red cuppaccino drink, sushi gaan eet (om seker te maak of New Zealand s'n regtig lekkerder is), natuurlik 'n Wimpy koffie drink en ek kan nie wag om 'n tjoppie te eet wat Philip vir ons op die vuur gebraai het nie.