Donderdag 31 Mei 2012

Terug in Suid-Afrika

Nou ja, nou is ek weer terug in Wellington na twee-en-veertig dae en Wellington voel nog steeds soos my huis. Ek moet eerstens sê dat Hendrik nie saam met my teruggekom het nie en nog steeds in Suid-Afrika sit, maar vir die wat wonder, ons is nog lief vir mekaar (al het ek hom gedreig met 'n egskeiding). Na die dreigement en 'n paar gille op hom, het hy belowe hy sal in Augustus hier wees. Ons sal nou maar sien of hy by sy woord bly die keer. Hopelik skop 'n paar familie-lede of vriende hom onder sy 'jy weet wat' om hom weg te kry daar uit Suid-Afrika. Ek dink almal daar weet nou presies hoe ek voel oor die situasie.

Ek is toe Saterdagoggend, 14 April, vroeg hier weg met die taxi lughawe toe, saam met Rialeen, om die vliegtuig te haal na Sydney en daarna na Suid-Afrika. Vir die wat nie weet nie, dit is 'n vlug van negentien ure van Wellington tot in Suid-Afrika. Dit neem drie ure om tot in Sydney te vlieg. Daar het ek vir ongeveer twee ure oorgebly om die vlug na O.R. Tambo te haal wat veertien ure lank is. Die vlieg was nie vir my so erg nie, maar die omruil van dag en nag is 'n gesukkel. As julle slaap in Suid-Afrika is dit hier dag en andersom. Suid-Afrika is tien ure agter New Zealand (in die somer elf, want ons het nou 'daylight saving' wat 'n uur is). Dit vat 'n paar dae vir jou liggaam om aan die verandering in roetine gewoond te raak. Gelukkig het Sulet my die eerste paar dae so besig gehou dat ek nie deur die dag geslaap het nie. Dit het baie gehelp, maar soms voel dit of jy nie jou oë kan oop hou nie.

Ek het Saterdagoggend 6h00 hier vertrek en het Saterdagmiddag 15h00 in Suid-Afrika geland. Dis gekompliseerd, want 'n mens vlieg 'terug' in tyd en negentien ure is verby teen die tyd wat jy in Suid-Afrika aankom. Gelukkig het die persoon wat langs my moes sit, gekanselleer en het ek ekstra spasie gehad. Ek het ook by die gang gesit en kon dus gemaklik opstaan en rondbeweeg as ek wou. Omdat ek ook die nag voordat ek lughawe toe is, wakker gebly het, het ek die grootste deel van die veertien ure omgeslaap. 

Dis hoe ek gelyk het toe ek by Sulet en Philip se woonstel aangekom het, gedaan!




Moeg gevlieg

Julle wonder seker hoe dit gevoel het om my voete op Suid-Afrikaanse bodem neer te sit. Wel... eerstens was ek geskok deur die lugbesoedeling wat sigbaar is vanuit die vliegtuig en wat oor die Oosrand hang (Wellington het geen lugbesoedeling nie), maar toe ek my voete daar neersit, was die eerste gedagte: 'Hoekom het ek hier weggegaan?' Dit voel net of ek hoort in Suid-Afrika. Ek het net so tuis gevoel, tussen my mense, 'Afrikane'. Die harde gepraat van die Suid-Afrikaners het my herinner dat ek terug is in my vaderland (Suid-Afrikaners praat vreeslik hard teenoor New Zealanders, ons moes leer om sagter te praat toe ons hier aangekom het) en dit was weird om so baie mense te hoor Afrikaans praat. Hier hoor ons ook mense Afrikaans praat in die openbaar (so af en toe) en dan is ons baie opgewonde. Ek gaan groet hul baie keer en maak 'n praatjie, maar daar in Suid-Afrika daal die besef gou op 'n mens neer, dat jy nou weer in die land van die Afrikaners is en jy kan/hoef nie elkeen te gaan groet nie.

Dan die opgewondenheid om die gesigte van jou geliefdes tussen die skare vreemdes te herken en hul vas te hou. Dis 'n vreugde wat 'n mens nie in woorde kan beskryf nie!

Ek wou alles wat ek beplan het, binne die eerste paar dae ingepas kry. Ek was net so bang dat daar goed is wat ek gaan vergeet om te doen en mense wat ek nie gaan sien nie. Gelukkig het ons gou besluit om my besoek te verleng om alles ingepas te kry en om meer tyd saam met Sulet en Hendrik te kan spandeer (die uitstel van my vliegtuigkaartjie is natuurlik 'n storie op sy eie wat ek later sal vertel). Een-en-twintig dae in Suid-Afrika het toe vinnig twee-en-veertig geword omdat ek graag die eerste kleedrepetisie wou sien van die produksie wat Sulet tans op werk nl Dawid - die Musical wat in die Staatsteater opgevoer word. Sy is verantwoordelik vir die ontwerp en maak van al honderd-en-twintig (of meer)kostuums (om sommer so 'n bietjie te brag oor my oulike kind).

Op die ou end was daar nog steeds mense wat ek wou sien en nie by uitgekom het nie, dinge wat ek wou doen, sake wat nie afgehandel is nie... Maar die belangrikste was om Sulet, Hendrik en my suster, Heleen, my pa en broers te sien, om 'n bankrekening oop te maak vir polisgeld wat uitbetaal word, om al ons ander finansiële sake af te handel en 'n nuwe testament te laat opstel. Ek kon alles op my lysie koop en nog 'n paar ander goed om saam te bring (asook 'n tas vol nuwe klere, asof hier nie klere in New Zealand is nie). Ek het koppies vol Red cappuccino en Wimpy koffie gedrink, twee keer Spur T-bones geëet, 'n Spur burger, Spur ribs, weense worsies (dis iets wat nie in New Zealand bestaan nie), Steers, koeksisters, melktert, potjiekos en braaivleis geëet. Staatsteater toe gegaan saam met Sulet vir die openingsaand van Lied van my Hart (en ge-mingle met die wie's wie van die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld), Phantom of the Opera gaan kyk (danksy Sulet se skoonma, Annatjie, wat ons genooi het om dit saam met hul te sien), Moedersdag saam met Sulet en Philip spandeer by Arts on Main in Johannesburg, my skoonsus en swaer in Langebaan besoek, gaan fliek by Brooklyn Nouveau en 'n laaaang naweek saam met Hendrik by Dullstroom spandeer. Wil gedoen wees!