Saterdag 30 Junie 2012

Uiteindelik het ons vier wiele!

Ek is nou al 'n maand terug in Wellington en kan myself net so ver kry om te vertel van my besoek aan Suid-Afrika nie. Dit is die probleem as ek nie dadelik begin skryf terwyl dinge gebeur nie. Dan begin dit vervaag en raak dit moeite om al die herinneringe terug te bring. Dis nie dat ek te besig is om dit te doen nie. Ek sukkel nog om terug te kom in die gewerkery. Dis die probleem as 'n mens afloswerk doen, sodra ek weggaan, vervang hul my soos niks en vat dit 'n ewigheid om weer terug in die roetine te kom.

Ek is dus nou nie besig om my dood te werk nie, maar ons het 'n kar gesoek (wat vir my 'n groot job was) en gekoop. Ja, 'n Nissan Micra TS 1.5 outomaties (hier ry almal outomatiese karre wat vir my weird is) 2011 model met net 6010 km op. Ons is dus nou so mobiel soos kan kom en ek weet klaar nie meer hoe ons deur die winter gekom het verlede jaar sonder 'n kar nie!




Ons het ook die harde werklikheid van privaat vervoer ontmoet toe ons verlede Sondag twee ure op die state highway gestaan het (wat 'n vinnige ritjie sou wees) na Paraparauma  se strand vir 'n koppie koffie en 'n bord tjips. Daar was 'n kettingbotsing nie ver voor ons nie, gelukkig was ons op 'n gedeelte van die pad waar ons nog kon omdraai en terugry  na Paraparaumu toe ons sien dat daar ambulanse en polisievoertuie by ons begin verby skuur.

Ons besluit om by Wendys iets te gaan drink. Nie een van ons is juis honger nie, maar ons koop 'n slaai om te deel, sip elkeen aan 'n koeldrank, na 'n halfuur raak Rialeen rusteloos en wil nie langer sit nie. Ek hou die pad dop en sien daar kom nie juis karre van Wellington se kant nie, wat vir my aantoon dat die pad nog toe is, maar Rialeen voel of ons hier sit of in die kar sit, dis om met ewe. Ons pak dus maar weer die pad aan, wat 'n fout! Ons het net uit die dorp gery, toe staan ons weer, vier kilometer nader aan die dorp as die eerste keer. Hierdie keer kan ons nie omdraai nie, want daar is twee rye karre en barriers in die middel van die pad. Die mense staan langs die pad en gesels, 'n klomp jonges wat in 'n bus agter ons was het uitgeklim en staan en sing en dans en ons sit. Na 'n uur en 'n half is daar vir die eerste keer 'n bewegingkie in die verkeer!

Natuurlik voel ek ook jammer vir Rialeen wat met twee treine moet werk toe sukkel. Dit neem in die oggende omtrent 'n uur en in die aande een en 'n half uur om by die huis te kom, want dit hang af hoe laat hul die winkel se deur sluit en of sy moet wag of dadelik 'n trein kan kry in Petone. Sy moet dan ook gewoonlik op Wellingtonstasie wag om oor te klim na Johnsonville. Ek besluit dus om haar werk toe te vat die oggende wat ek nie vroeg werk nie. Sy werk tien kilometer van ons huis af en dit vat presies tien minute om haar af te laai en tien minute om terug te ry tot daar 'n ongeluk op die pad is of as dit reën, dan staan jy. Nee wat genade, ek weet nie wat is dit met die plek nie!  Daar is net nie alternatiewe roetes nie. Ek verlang skoon terug na trein en busry... maar ai, dis lekker om weer 'n kar te hê (veral so 'n potbloutjie soos ons s'n). Die lekkerste is om 'n kattebak byderhand te hê om mens se inkopies en jasse in te sit en nie alles saam met jou oral te dra nie.

Nou jaag ek weer soos in Suid-Afrika in die strate rond, laai Rialeen by die werk af, jaag terug huis toe, werk toe, etenstyd winkels toe, vanaand laai ek weer vir Rialeen op, Bar toe, huis ens. Ons probeer om nog af te stap na ons local mall in Johnsonville. Ek stap ook na Johnsonville se Kindercare toe, want dit is net een kilometer van ons huis. Ons het ook besluit om altyd met die trein in te ry stad toe, want parkering is 'n probleem in die stad en dit is vrekduur. Ons stap dan met die hawe langs tot waar ons wil wees. Ek moet net aan die beweeg bly anders gaan ek begin rol. My liggaam is nou so gewoond aan al die oefening. Ek wil net nie weer vet word nie.

Maar eintlik wou ek jul vertel van my vakansie in Suid-Afrika. Miskien moet ek begin deur 'n paar foto's op te sit, dit sal dalk help om al die herinneringe terug te bring. Ek het regtig lekker gekuier en tyd gehad om weer met Hendrik en Sulet te bond. Dit was baie lekker om my familie weer te sien en ou vriende te ontmoet en te besoek. Daar was baie hoogte punte, maar ook baie laagte punte, maar ek is bly ek het gegaan en ek is bly om terug te wees. Ek wens net nog steeds dat Hendrik hier by ons kon wees en dat daar geleenthede sou wees dat van my familie of vriende ons hier kon besoek.