Maandag 02 September 2013

Een jaar in Wellington vir Hendrik

Binnekort sal Hendrik 'n jaar hier in New Zealand wees. Die tyd het gevlieg! Ek is net bly dat ons nou weer saam is. Ons lewens hier is totaal anders as wat ons aan gewoond was in Suid-Afrika. Natuurlik is daar laagte punte, maar oor die algemeen gaan dit goed met ons. Ons het 18 maande appart van mekaar gewoon en ons huwelik het dit oorleef. Nou worstel ons weer met die feit dat Hendrik nog nie 'n werk kon kry nie, maar dit sal ons nie onderkry nie. Ek werk en ons oorleef op my inkomste. Nog 'n inkomste sal welkom wees, maar ons is darem nie heeltemal armlastig nie.

Ek sukkel maar met die leë-nes-sindroom vandat Rialeen die huis verlaat het. Ek en Hendrik is baie gelukkig so op ons eie, maar 'n mens mis jou kinders. Rialeen drafklas in die dag en werk daarna by die Te Papa Museum se restaurant in die kombuis, soms tot 2 uur in die oggend. Ek sien haar baie min al woon sy net so 200 meter hier van ons af. Sy kom gereeld hier by Hendrik 'n draai maak terwyl ek by die werk is. Sy loop hier verby na die busstop toe. Vrydae het sy nie klas nie, dan kom sy soms hier ontbyt maak vir hulle.

Hendrik hou hom besig deur volunteerswerk by die Hospice Shop hier in Jacksonstraat te doen. Die ou tannies daar benut hom goed. Dinsdae ry hy saam met Ian met die lorrie en laai hul goed op wat geskenk word om in die winkel te verkoop of laai hul goed af wat mense gekoop het. Dit gee hom goeie geleentheid om sy Engels te oefen en hy ken die Hutt Valley nou al van hoek tot kant. Die tannies gee darem altyd vir hom tee en koek as hy daar is. As ek daar 'n draai maak, vertel die vrouens altyd hoe dankbaar hul vir sy hulp is.

Verder hou hy die huis aan die kant en was die wasgoed. Dit maak my lewe soveel makliker, want ek spandeer my dae by die werk en is net te dankbaar dat ek my nie daaroor ook nog hoef te kwel nie. Ek pak net my klere weg, kook kos en bak koekies en beskuit as ek lus het. Ons doen saam al ons kruideniersaankope. Hy stap darem soms supermark toe deur die dag om 'n paar goed wat ons dringend nodig het, te koop . Hy is ook besig om 'n Meintjes-familiestamboom saam te stel en sit heeldag voor sy rekenaar en werk.

Hy het darem nou 'n goeie agent gekry wat hard besig is om hom in Auckland te bemark, soos sy sê. Hy bly met haar inkontak en werk gedurig aan sy CV vir spesifieke poste en kyk maar self ook rond na moontlikhede op die internet, maar die ekonomie is maar swak. Ons hoor gedurig op die nuus van mense wat afgedank word. Hy het darem onlangse Auckland toe gevlieg vir 'n onderhoud en hul het hom tot op nommer 99 laat glo dis sy job, maar nou ja, op die einde het hy dit nie gekry nie. Dit was die ideale posisie by 'n Amerikaanse maatskappy wat kantore hier in New Zealand het.

Hy voel maar soms moedeloos. Ek troos hom maar daarmee dat hy vir baie jare vir my en die kinders gesorg het, nou is dit ons beurt om na hom te kyk. Rialeen is onafhanklik. Sy studeer met geld wat sy rentevry leen van die regering se studentefonds en kry 'n 'student grand' om haar verblyf- en reiskostes te dek. Sy verdien genoeg om vir haarself te sorg en sy verwag niks van ons nie. 

Die grootste frustrasie is dat 'n mens gevestig wil raak en dit kan ons nie doen nie. Ons weet nie of ons hier in Wellington gaan bly nie. Ons aanvaar dat Hendrik waarskynlik nie hier werk gaan kry nie. Ons lewens hang dus in die lug. As hy 'n werk kry, kan ons gevestig raak en begin dink om 'n huis te koop. Alles nou is dus net tydelik. 

Ons woon baie lekker hier in Petone. Dit is ruim, sentraal en naby aan die strand, maar dit is nie die beste omgewing nie. Dit is maar soos 'n woonstelgebied in Suid-Afrika in die ou dae was. Meeste plekke word uitgehuur en word nie wonderlik instand gehou nie. Die plek waar ons woon, is in 'n taamlike goeie kondisie, maar dit kort aandag. Die eienaar is in die proses om dit so bietjie op te gradeer, maar dit gebeur maar stadig. Ons is gewoond om ons eie plek te hê en mens verlang daarna. Ons sal graag weer 'n troeteldier wil aanhou, maar hier laat meeste eienaars wat uitverhuur dit nie toe nie. 'n Hondjie sou Hendrik goed gedoen het, maar ons kan dit net nie nou doen nie.

Ek mis vir Sulet baie, maar hul plekke is bespreek vir Desember. Hul sal Singapore om vlieg en 'n paar dae daar by Theo en Elaine (Hendrik se broer en skoonsuster) kuier en dan tot in Auckland vlieg. Dit werk so bietjie goedkoper uit. Dit is baie duur om in Desember hierheen te kom, maar dis al tyd wat Philip kan. Hulle kantore maak daardie tyd van die jaar toe. Ons sien baie uit daarna en ek is opgewonde om my kind weer in my arms te kan vashou. 

My een kollega, Malinda, is tans in Suid-Afrika. Dis die eerste keer in meer as tien jaar wat hul terug is vir 'n besoek. Hul kon dit nog nooit bekostig nie en kan dit nou ook nie bekostig nie, maar haar skoonpa is baie siek en hul is in 'n haas hier weg met geleende geld. Ek kan nie wag om van haar te hoor nie. Hulle kom van Kaapstad af.  Hul het hierheen gekom na 'n hijack-episode en kort daarna is haar kinders by die kleuterskool as gyselaars aangehou deur misdadigers wat oor die muur van die skool gespring het, terwyl die polisie jaggemaak het op hulle.

Malinda raak baie melancholies as sy oor Suid-Afrika of haar familie praat. Hulle het nog nooit New Zealandse burgerskap aanvaar nie en in haar kop gaan sy nog eendag teruggaan. Haar kinders is groot en is ware Kiwi's. Hul ken Suid-Afrika glad nie en haar jongste seun praat net Engels. Die dogter verstaan darem nog Afrikaans. Ek kan nie sien dat hul dit ooit sal doen nie.

So het elke Afrikaner hier 'n storie. Almal het 'n familie in Suid-Afrika. Elkeen het 'n een of ander tyd misdaad aan hul lyf gevoel of iemand baie na aan hul. Iemand het my vertel hoe sy haar bure in die hospitaal besoek het wat die vorige nag papgeslaan was deur inbrekers. Sy kon vir weke nie 'n oog toemaak daarna nie en binne 3 maande was hul hier asof hul op vakansie kom. Sy het 'n werkspermit gekry nadat hul hiergekom het en verblyfsreg daarna. Vir niemand is dit lekker om hul familie agter te laat nie. Sommiges is gelukkig hul kan gereelde besoeke bekostig en hul familie kan hierheen kom, maar vir baie is dit nie so nie. Party is bloot net te bang om terug te gaan uit vrees dat hul weer so iets moet beleef. Ek en Hendrik sal beslis weer teruggaan om te kuier as ons dit kan bekostig. Ons het 'n kind daar en ons wil ons familie bittergraag weer sien.

Werk of nie werk nie, Hendrik voel so seker soos ek, dat ons nie sal teruggaan om in Suid-Afrika  te woon nie. 'n Mens nie weet die toekoms inhou nie en miskien is daar omstandighede wat ons terugdwing. Ek weet nie of Rialeen ooit weer sal gaan nie, nie eens vir 'n besoek nie, miskien eenkeer om vir Tim te gaan wys. 

Ons kan nooit kry in Suid-Afrika wat ons hier kry nie. Hier word na ons gekyk. As ons tien jaar hier woon en ouer as 65 jaar oud is, is ons geregtig op 'n staatspensioen wat genoeg is om van te leef. Ons albei behoort aan Kiwisaver wat 'n spaarplan van die staat is om jou pensieon aan te vul. Sodra jy aansluit, betaal die staat $1000 in jou rekening. Jou werkgewer dra 3% van jou inkomste by en jy kan kies om vanaf 2 tot 4% van jou inkomste by te dra. As jy $1100 in 'n jaar uit jou inkomste inbetaal, gee die staat vir jou $500. Die geld kan net onttrek word as jy vir die eerste keer 'n huis koop of as jy 65 jaar oud is. Ek, Hendrik en Rialeen het dus $3000 gekry toe ons aangesluit het. Ek en Rialeen het elke jaar meer as $1100 inbetaal en elkeen weer $500 gekry. Oor die langtermyn is dit 'n klomp geld!

As ek siek is, gaan ek na 'n opleidingshospitaal hier in ons omgewing en dit kos my niks nie. Dis skoon en netjies en die mense is beleefd. Ek gaan gewoonlik na-ure en moet wag wat irriterend is, maar met 'n boek in my handsak, oorleef ek dit. Ek betaal 'n bybetaling van $5 op 'n voorskrif. Ek word jaarliks herinner om my cholestrol te laat toets en dit kos my niks nie. Hendrik het 'n probleem ondervind met medikasie wat hy geneem het toe hy hier by ons gekuier het. Hy moes elke dag sy bloed laat toets en die dokter sien. Dit alles was gratis.

Enige besering wat as 'n ongeluk beskou word ingesluit motorongelukke, word deur die Accident Compensation Company gedek. Alle mediese behandeling, terapie ens wat hierop volg, word deur die ACC betaal. Dit is wat gebeur het toe Rialeen die spier van haar duim afgesny het met 'n NT-cutter. Dis in die teater geheg. Sy het 'n paar spalke en handterapie gekry vir weke. Dit het ons nie 'n sent gekos nie.

Hier is nie inflasie nie. Toe ons hier gekom het, het 'n koppie koffie by 'n cafe $4 gekos. Dit kos nou nog $4. Piesangs kos $2.99 behalwe as dit op special is. Brood, melk en vleis kos nog steeds dieselfde. In die winter word tamaties ongelooflik duur, maar as die somer kom, is dit weer spotgoedkoop teen dieselfde somerpryse. 

En natuurlik die belangrikste van alles, ons hoef nie agter slot en grendel te woon nie. Ons kan vrylik in die nag in die straat stap. Rialeen werk dikwels tot laat in die nag. As dit na middernag is, betaal die Te Papa vir 'n taxi. Anders haal sy 'n bus en stap vanaf die busstop huis toe. Sy het nog nooit bedryg gevoel nie. Sy kla soms oor 'n paar te vrolike jongmense op die bus wat haar irriteer, maar hul het haar nog nooit bedryg laat voel nie.

Deur die lang storie probeer ek sê dat alles nie net rooskleurig is nie. Daar is trane, verlange, depressie, angs ..., maar nooit twyfel of ek die regte ding gedoen nie. Maak nie saak wat nie, ek weet ek kan nooit weer teruggaan nie. Hierdie is nou my lewe. Rialeen het getwyfel of Hendrik ook so voel en ek het hom gevra. Hy het sonder om te twyfel gesê, hy is gelukkig hier en hy sal nie teruggaan nie. Hy is nie spyt dat hy gekom het nie, maar hy sal dit oorweeg om eendag in Australia te gaan woon en werk 😊