Maandag 10 Februarie 2014

Drie Jaar in New Zealand!

Nou ja, ons het die drie jaar mylpaal bereik, ek en Rialeen. Ek wil nie sê, ons is nou goed ingeburger nie, maar ons gaan stappie vir stappie voorentoe. Ek dink Rialeen is meer gevestig as ek en Hendrik. Dit is seker makliker vir 'n jongmens om aan te pas en in te 'blend' as op my ouderdom. 

Rialeen het 'n permanente werk in die stad by die 'General Practitioner' as 'n sjef. Hul is bekend as 'n 'premium gastropub' en bedien  'A La Carte pub food' en het al verskeie New Zealandse pryse gewen vir hul kos. Bars/pubs is nie iets wat Suid-Afrikaners eintlik ken nie, maar is dit baie algemeen in New Zealand. Meeste bars bedien 'craft beer' en ander hardehout wat nie in cafés of ander eetplekke bedien word nie.

Die naam van die Restaurant verwys na die geskiedenis van die gebou waarin hul is. Die gebou is in 1902 deur Dr Henry Pollen opgerig wat 'n algemene praktisyn was. Dit is 'n drieverdieping gebou wat hy as sy spreekkamer en huis gebruik het. Die grondvloer was die spreekkamer en hy en sy gesin het bo gewoon.

Rialeen klink heel gelukkig met haar nuwe werk. Dit is maar 'n stappie in die regte rigting vir haar. Sy het uiteindelik haar neering gevind en dit verskaf haar groot plesier. Sy en Tim is ook nog saam en lyk baie gelukkig. Sy praat nou 90% van die tyd Engels en het al 'n goeie Kiwi-aksent aangeleer. Sy praat net Afrikaans as sy alleen by ons is, as Tim by is, praat almal Engels. Sy het baie planne en drome vir haar toekoms, maar sy besef dat sy onder moet begin.

Soos jul seker al weet, het ek ook uiteindelik in 'n permanente werk gevestig geraak. Dit gaan nog stadig, maar seker. Dis nou presies 'n maand gelede wat ek begin het, maar omdat ek so lank daar afgelos het, voel dit baie langer. Ek het net geen administratiewe verpligtinge gehad terwyl ek afgelos het nie. Ek was nie deel van die beplanning of voorbereiding nie. Ek het elke dag net ingestap, my werk gedoen en huis toe gegaan. Ek het so bietjie tyd spandeer aan idees vir aktiwiteite en gereeld boeke by die biblioteek uitgeneem om voor te lees, maar ek hoef nooit 'n vergadering na werk by te gewoon het of iets op papier neer te geskryf het nie. Dit is nog 'n stresvolle proses vir my om hieraan gewoond te raak. Omdat die organisasie vir wie ek werk so groot is en kleuterskole in al die groot stede van New Zealand het, is daar baie papierwerk om sogenaamd die gehalte van die onderrig te kontroleer. Dit is maar 'window dressing' wat my betref.

Ek geniet die werk baie. Dit is 'n uitlating vir my kreatiewiteit en natuurlik geniet ek die kinders baie. Ek is maar kort van draad en kwaai soos Suid-Afrikaanse juffrouens maar is. Hier kan hul vreeslik mooi praat en redeneer met die kinders. Ons het nie so grootgeword nie en ek vind dit nog baie moeilik. Party kinders is maar moeilik, omdat hul in kleuterskole grootword en soggens vroeg afgelaai word en op die laaste nippertjie weer opgelaai word. Hul soek dus aandag al is dit negatiewe aandag. Die weer is ook 'n faktor, want daar is gedurig dae wat die kinders vir lang tye nie buite kan speel nie, soms vir 'n hele dag. Die binneruimte is beperk en dan begin die kinders stry en knou mekaar af. Dan is daar natuurlik die verpligte uur rustyd na middagete wat meeste kinders van 4 jaar nie waardeer nie. Hul kyk hoe ver hul jou kan dryf met allerlei geluide, aanhoudende gevraery om toilet toe te gaan, rondgooi van hul kussings of beddegoed ens. 'n Mens se geduld word dus maar soms beproef.

Ons is dus nou goed gevestig hier in Wellington. Rialeen woon net om die hoek van ons af en het 'n mooi groente tuin wat sy goed versorg. Ons huur nog 'n woonstel, maar die eienaar is hard besig om dit op te knap. Op die oomblik is hul besig om die dak te herstel en die buitekant te verf. Ons is baie gelukkig hier (soos ek al baie gesê het). Dis sentraal, loopafstand van al die nodigste besighede, flieks, eetplekke en die strand. Die busstop is om die draai en die stasie bietjie verder. Ons kan boerewors en biltong koop by die winkel waar Rialeen voorheen gewerk het en dit is twee blokke van ons af. Wat wil ons meer hê?

Ons is ook nou gevestig by 'Arise Church' wat 'n onafhanklike kerk in die stad is. Hul beskryf hulself as 'n studente bediening, maar daar is baie 'ou'mense soos ons. Hul het so pas 'n stuk grond hier in Petone gekoop, binne loopafstand van ons af, waar hul hul eerste kerkgebou gaan oprig. Op die oomblik hou hul dienste in die teaters in die middestad. Dit is 'n baie groot en lewendige bediening. Iets wat my in Suid-Afrika nie baie aangestaan het nie, maar hul het my van my voete afgeslaan met hul meelewendheid en warmte. Hul het ons nie 'n groot keuse gegee nie en ons is onwetend ingetrek en nou wil ons nie meer daar uitkom nie. Ons geniet die dienste en ander byeenkomste baie. My Amerikaanse kollega, Emily, wat met 'n Suid-Afrikaanse man getroud is (wat SA verlaat het en Amerika toe is toe hy 9 jaar oud was en nou nog vlot Afrikaans praat) het ons genooi om 'n diens daar by te woon saam met hul en nou ja, die res is geskiedenis.

Hendrik is ook nog besig met volunteerwerk by die Hospice winkel hier in Petone. Hy het daar ook goeie vriende gemaak en so ingeskakel geraak in die gemeenskap. Hy doen op die oomblik vir hul afloswerk in die plek van sy vriend, Ian, wat op verlof is en toe 'n beentjie in sy voet gebreek het. Hy sal dus vir 'n langer tydperk afwesig wees as beplan. Hendrik het dus hierdie week sy eerste 'pay cheque' gekry wat handig te pas gekom het na die onbetaalde vakansiebreuk wat ek gehad het in Desember. Sulet se kuier het ook bygedrae tot 'n paar ekstra uitgawes. Gelukkig is ek nou permanent aangestel en is geregtig op betaalde verlof.

Soos jul kan sien, skryf ek ook minder op my blog, want die lewe gaan aan en die vakansie gevoel is nou verby. Hierdie is nou ons lewe en ons moet sorg dat daar kos in die kaste is, en die krag, telefoon en huur betaal word. Ons lewens is dus nou weer in die 'rat race' vasgevang en ons moet probeer om te oorleef. Gelukkig is ons kinders groot en is dit net ons twee waarvoor ons hoef te sorg. Behalwe vir die weer, is New Zealand 'n fees! Nie een van ons sal ooit weer permanent in Suid-Afrika gaan woon nie. Ek is net dankbaar dat ons die groot stap geneem het. Elke oomblik se stres en elke sent wat ons spandeer het, was die moeite werd!