Sondag 08 Junie 2014

Dunedin (vervolg)

Dunedin is die sewende grootste stad in New Zealand met 'n populasie van net oor die honderd-en-twintig-duisend. Amper 'n kwart van die bevolking bestaan uit jongmense onder vyf-en-twintig wat aan die Universiteit van Otago en ander tersiêre institusies studeer. Dunedin het begin groei rondom 1852, die tydperk wat goud daar ontdek is, tot die grootste stad in New Zealand.Teen 1900 het ander stede op die Noord-Eiland vinniger begin groei, maar die studente getalle in Dunedin het bly toeneem wat dit vandag as 'n akademiese, historiese en kultuurstad laat bekend staan. Die middestad bestaan uit ongelooflike mooi argitektuur uit die Victoriaanse en Edwardian tydperkte. Dit het museumstukke geword wat nog steeds ingebruik is. So word die geskiedenis van hierdie pragtige stad bewaar. 

Ons het gelukkig maklik goedkoop parkering in die stad gekry en toe voetgeslaan om na al die mooi geboue te kyk. Moet my nou nie uitvra wat die geboue voor gebruik word of wat die geskiedenis daarvan is nie. Ek het dit net bewonder en foto's geneem. Die stasiegebou is die enigste een wat ons kon uitken en iets van weet.
Dunedin Middestad








 Die Stasiegebou
Die mees gefotografeerde gebou in New Zealand is in 1904 gebou en die eerste steen is op my verjaardag, 3 Junie gelê (nie dat ek al gebore was nie). Dis in die Renaissance Revival argitektuurstyl gebou met 'n kloktoring wat sigbaar is in die grootste deel van sentrale gedeelte van die stad. Die stasie is nog steeds ingebruik.

 Binne die stasiegebou: Dis asemrowend mooi!

Ons het vis en tjips vir middagete hier by die Wig 'n' Pen Restaurant in die Law Courts Hotel geniet.
 Die binneversiering van die restaurant en kroeg is so klassiek uit die oudae en die kos ... wel, baie gemiddeld, maar tipies Engels.
 Otago Settlers Museum
Iemand het gedink dis 'n goeie idee om die museum se uitstalruimte te vergroot deur hierdie ultra-moderne glas-ingangsportaal, cafe en gift shop aan die bestaande ou gebou te bou.
 Die res van die museum lyk so :)
 Moderne meubels in die gedeelte van die gebou met die antieke stoomlokomotief op die agtergrond.
'n Paar interessanthede wat vir my uitgestaan het:
Een van die eerste petrolmotors in New Zealand
 
'n Motorfiets
 en 'n karavaan 
 'n Mac's Sassy Red na 'n lang en besige dag
by Stuart St Brew Bar in die middestad 
Nadat ons die stad verken het, het ons besluit om die volgende dag 'n sirkelroete te ry na Alexandra wat so twee ure se ry van Dunedin is. Die dorpie is bekend vir sy buitengewone warm somers teenoor ander dele van New Zealand. Dit sou ons so bietjie nader aan die Alpe bring, waar ons gehoop het om sneeu te sien. Ons het deur talle klein dorpies gery, in Lawrence koffie gedrink en in Alexandra middagete geniet. Wat 'n ervaring! Die foto's spreek vanself, ek hoef nie veel te sê nie.
Lake Waihola
So 40 km buite Dunedin kom ons op die pragtige meer af.


 Die water is so stil en letterlik spieëlglad. Dit lyk of die vier eendjies op 'n spieël sit.


Lawrence
'n Klein dorpie met ongeveer 500 inwoners, maar die eerste dorp in New Zealand met gratis WiFi  internet vir almal in die dorp.
 

 En 'n lekker koppie koffie by die quirky cafe.


 
Dan die eerste sneeu op die berge.
 
 Roxburgh
'n Dorpie met 600 inwoners en 'n hydro-elektriese dam in die Clutha Rivier wat daar verby loop. Daar is ook 'n cinema wat in 1898 geopen is en nog steeds in gebruik is. Dit kan 285 mense huisves en word ook vir live shows gebruik.


 Ons het nou nie Villa Rosa nie, maar wel Villa Rose :)
 

Alexandra
 Middagete by die Rock Bar en Restaurant.
 
Binne die restaurant kry ons die Harley-Davidson vir Hendrik om te bewonder.
 
 Net 'n bewys dat daar nog skape in New Zealand is.



 Die perde in New Zealand dra jassies om hul te beskerm teen velkanker.
'n Laaste foto by die Dunedin lughawe terwyl Hendrik die huurkar terugvat.
Haha... you wish... wat is die kans? Maar nou ja, 'n mens weet nooit :)
  'n Laaste smoothie by die cafe op die lughawe en dan is dit terug na Wellington.
Wat 'n heerlike ervaring! Dis so mooi! Dit voed die siel en bring 'n mens nader aan jou Skepper. Daar is nie genoeg woorde om dit te beskryf nie. Ek hoop elkeen wat hierna gekyk het, kry 'n nuwe begrip van die skepping en die wonders daar agter. Wat 'n voorreg!

Ons lewe hier in New Zealand is nederig met net een inkomste, maar ek besef net elke dag weer hoe bevoorreg ons is om hier te mag woon, in 'n land wat nie ons geboorteland is nie, 'n land wat omtrent geen misdaad het nie, nie oorbevolk is nie en met die asemrowenste mooi natuurtonele. 'n Plek wat jou so na aan jou Skepper bring dat dit 'n vrede oor jou bring wat alle verstand te bowe gaan.