Sondag 17 Julie 2016

Twee Jaar Later

Kanker is 'n skrikwekkende woord en dis wat op Hendrik en my pad gekom het en daartoe gelei het dat ek nie die krag gehad het om my blog vol te hou nie. Daar is tye wat mens ook nie als wat in jou lewe aangaan met almal wil deel nie. Tyd bring heeling en dan kan mens meer objektief terugkyk na gebeure. Vir my is praat en skryf heeling, om met ander my emosies en gedagtes te deel, is terapie. 

Daar het so baie in twee jaar gebeur. Ek het gedink dit is al baie langer sedert ek die laaste inskrywing gemaak het en was verstom om te sien dit was net twee jaar. Maar as ek terugkyk weet ek dit was stresvol, maar twee goeie jare. Wonderlike dinge het met ons gedurende die tyd gebeur. Ons was oorval met gebede nadat kanker by Hendrik gediagnoseer is wat hom die krag gegee het om kanker te oorwin. Rialeen het aangekondig dat sy swanger is en ons het 'n kleindogter, Aisling Yew Morris, ryker geword. Ons het ook ons eerste huisie in Wellington gekoop. Ek en Rialeen is ook nou al langer as vyf jaar hier en kan aansoek doen vir burgerskap. Hendrik se broerskind Carel, sy vrou Cheney en klein Carter, het by ons aangesluit in Wellington. Nou het ons darem ook familie net om die draai van ons.  Ek is gevestig in 'n permanente pos en het 'n wonderlike kollega, Doug Tristran, met wie ek agt ure elke dag van die week by die werk deel. Waarvoor meer kan ek vra?

Hierdie is vir my 'n lekker manier om met almal te gesels wat in ons lewens belangstel. Hier kan elkeen sien wat gebeur met ons, die laagte punte en die hoogte punte. Ek kan ons foto's deel en terselfdertyd skep ek vir ons 'n dagboek en foto-album. Dis 'n verwysing vir ons kinders of kleinkinders in die toekoms as hul begin wonder oor gebeure in ons lewens. Vir my is dit 'n lekker  manier om deel te bly van die lewens van die mense wat nou ver van my af woon in ander lande en met wie ek graag nog lang persoonlike gesprekke sou wou voer. Dit is ook 'n beskikbaar vir ander wat dit mag oorweeg om Suid-Afrika te verlaat as 'n bewys dat mens aanpasbaar is en 'n nuwe lewe êrens anders kan begin. Dis nie 'n maklike besluit nie, maar die uitkoms is vir ons goed en ons sal nooit terugkyk nie.

Ek het oorweeg om in Engels te skryf aangesien ek nou gemaklik is in Engels en baie van my vriende net Engels verstaan, maar ek besef dat ek vir die na aan my skryf en hul is Afrikaners. Dit sal net te onnatuurlik wees om oor my persoonlike lewe in Engels te praat. Gelukkig kan die Engelssprekendes, wat belangstel om dit te lees, die 'translater' gebruik.

My laaste inskrywing was in Junie 2014. Op daardie stadium het Hendrik alreeds baie gewig verloor, maar ons het aangeneem dit is as gevolg van die meer aktiewe lewe wat ons hier lei. Teen einde Augustus het hy begin siek word en na verskeie besoeke aan die huisdokter en die noodeenheid by die Hutt Hospitaal, is kolonkanker gediagnoseer. Hy is dadelik in die hospitaal opgeneem en die volgende dag is hy teater toe om 'n groot deel van die kolon te verwyder waar die fase vier kanker gediagnoseer is. Teen die tyd wat hy die hospitaal verlaat het, het hy net ses-en-vyftig kilogram geweeg.


Die laaste foto van Hendrik in Junie tydens ons besoek in Dunedin
Die dag wat Hendrik die hospitaal verlaat het

Dit was die begin van 'n agtien maande stryd om kanker te oorwin en terug te keer na 'n normale lewe. Dis 'n opdraende pad, maar ons albei was positief en het die stryd gestry, vasgebyt en heel anderkant uitgekom. Ons het soveel liefde en ondersteuning van almal gekry en van oral oor is daar vir Hendrik gebid.

Vir meer as 'n jaar moes Hendrik 'n stomasak dra en chemoterapie kry, maar genadiglik het die dokter besluit om die stoma om te keer in Oktober en van daar af kon ons lewens terugkeer na normaal. Hendrik moes nog herstel en sy krag herwin, maar in Desember het hy die krag gehad om Suid-Afrika te besoek. Hy het 'n intense behoefte gehad om sy familie en vriende weer te sien. Ons huis in Moreletapark is ook verkoop en hy het die geleentheid gebruik om ons finansies daar te gaan uitsorteer en geld oor te plaas om ons instaat te stel om ons eerste huis hier in Wellington te koop.

Vandag is Hendrik skoon van kanker en ons het soveel om voor dankbaar te wees. Ons sien uit na die toekoms hier in Wellington, New Zealand waar ons nou ingeburger is.

Sondag 01 Mei 2016

Aisling Yew Morris

Dit was 'n groot verrassing toe Rialeen en Tim ewe formeel 'n afspraak met ons maak, net nadat Hendrik uit die hospitaal ontslaan is, om ons in te lig dat sy swanger is. Sy het dit toe al vir 'n geruime tyd geweet, maar wou nie die goeie nuus met ons deel nie agv Hendrik se siekte. Sy het nie gevoel die tyd is geleë daarvoor nie. Ek was geskok! Rialeen is my babatjie en sy was net 23 jaar oud. Ek kon net nie indink dat sy op so 'n vroeë ouderdom al 'n mamma moet word nie, maar ek het geleer om my kinders se keuses te respekteer. Tim is heelwat ouer as Rialeen en sy het al dikwels gesê dat hul nie lank gaan wag om kinders te hê nie, maar nou ja, vir my is sy my baba. Hendrik is 'n ander mens en hy was onmiddelik baie opgewonde. Ek moes eers bietjie knaag aan die gedagte om 'n ouma te word, maar as daai gogga jou eers gebyt het, is daar geen keer nie en ons kon nie wag dat die baba kom nie.

Vir Hendrik het dit iets gegee om voor te leef en het hom meer gemotiveerd gemaak om so gou as moontlik te herstel sodat hy sterk genoeg sal wees om die klein mensie te kan geniet. Intussen moes Hendrik leer om met 'n stomasak saam te leef en chemoterapie ondergaan. Hy spandeer ure in hospitale, wagkamers en spreekkamers om bloedtoetse en ander mediese ondersoeke te ondergaan. Sy lewertellings is te hoog en 'n biopsie word gedoen en hy moet roetine kolonoskopieë ondergaan om seker te maak dat die kanker nie weer groei nie. Maar ons weet daar groei 'n klein mensie in Rialeen en ons sien met vreugde uit na die geboorte. Ons almal was oortuig dit is 'n seuntjie.

In Desember kom Sulet kuier om haar siek pa en swanger suster te sien. Dit was nie 'n vrolike tyd nie, maar 'n belangrike tyd vir ons as 'n gesin om saam te spandeer en vir Sulet om haarself te verseker dat dit goed gaan met ons hier onder moeilike omstandighede.



Rialeen se klein liggaampie begin ook wys dat daar 'n mensie in dit groei wanneer sy ons vertel dat sy beplan om in hul huis te kraam. Dis 'n angswekkende gedagte vir my as die ma, maar niks wat ek sê, kan haar oortuig om van besluit te verander nie en dit beteken dat ek my ook daarvoor moet voorberei. Dis haar en Tim se besluit. Hier is die ambulansdiens effektief en die vroedvrou wat haar sal bystaan, het baie ervaring. Rialeen het baie vertroue in haar en sy oortuig my dat dit die regte besluit is vir haar en Tim en hul baba.

Net as die opwinding in mens se lewe begin afneem, moet daar mos altyd nog iets gebeur. Dieselfde tyd wat ons begin wag vir daai klein mensie om haarself aan te kondig, kry ons
die slegte nuus dat Sulet in Pretoria in die hospitaal opgeneem is met 'n dodelike Kolitis. Sy was 'n geruime tyd al siek en onder doktersbehandeling, in die hospitaal en weer uit, maar die keer is sy dodelik siek. Sy het teveel bloed verloor en die medikasie wat sy gebruik bring geen verligting nie. Wat 'n stresvolle tyd! Sy ontvang 6 eenhede bloed en spandeer 2 weke in die hospitaal. Ek is in drie geskeur met Hendrik se siekte, Rialeen wat moet kraam en Sulet in 'n kritiese toestand in die hospitaal. Die een dag wil ek Suid-Afrika toe vlieg, maar ons wag vir die baba wat by die huis gebore gaan word. Dan bly ek weer. Ek berus my op die einde by die feit dat Sulet in goeie hande is en baie ondersteuning van familie en vriende kry. My swaer, Johannes, hou my ook daagliks op die hoogte van sake via Skype.

Tot op die dag wat ons kleine Aisling gebore is, het Rialeen nie een keer 'n dokter gesien nie. Alles word deur 'n vroedvrou hanteer, al die konsultasies, ondersoeke en geboorte. Sy het een keer vir 'n sonar gegaan, maar wou nie die geslag van die baba weet nie. Rialeen het verkies dat ek nie by is met die geboorte nie. Sy het vir Tim daar gehad en ek en Tim sou definitief nie 'n goeie span uitmaak nie. Ek sal nooit vergeet toe sy my na een die oggend van die 2de Mei 2015 gebel het om te sê dit is 'n dogtertjie (gewig ens) net voor twaalf op 1 Mei gebore. Als het normaal verloop en babatjie is gesond. Wat 'n verligting! Ons kon nie wag dat die son opkom om ons kleindogter te gaan ontmoet nie en te hoor dat sy Aisling Yew Morris genoem sal word.


Rialeen se klein maer swanger lyfie
'n Dag voor die geboorte
Ons eerste ontmoeting