Dinsdag 11 Februarie 2020

Ek is nog in die land van die lewendes

Dis al meer as 'n maand wat ek iets geskryf het. Ek was net te siek gedurende die laaste twee weke van my behandeling en is nou in die herstelperiode. Klink maklik om te skryf, maar dit verg baie konsentrasie wat ek nie op die oomblik het nie. Ek wil net slaap en sukkel om op enige iets anders te fokus.  Ek beweeg net tussen die badkamer en die bank, waar dit ingerig is soos 'n hospitaalkamer. Daar is 'n voedingsbuis deur my neus na my maag, aangesien ek geen eetlus het nie. Deur die nag word ek gevoed met die hulp van 'n klein pompie wat 'n sak met 'kos' stadig in my maag in pomp. Kos het geen smaak nie, wat 'n  newe-effek is van die bestraling, en skep dus nie 'n begeerte om te eet nie. Ek geniet darem nou so af en toe 'n koppie soet koffie, Rooibostee en 'n glasmelk. Dis ongelukkig nie genoeg om my aan die lewe te hou nie

Daar is net nie genoeg woorde om te beskryf wat ek deurgemaak het gedurende die laaste maand nie, maar ek begin nou stadig maar seker die lig aan die anderkant van die tonnel sien. Ek wil nie in teveel detail gaan nie, want ek het nie genoeg energie om 'n lang relaas te skryf nie. Ek wil liewer net genoeg sê, dat almal sal weet, ek stry nog die stryd. Soos ek sterker word, sal ek hopelik weer lekker kan gesels, maar vir nou wil ek net sê, ek is nog in die land van die lewendes.

Hoe ek hierdie pad sou gestap het sonder Hendrik,  weet ek nie. Hy het die laaste twee weke met soveel toeweiding na my omgesien. Ek het soos 'n dooie mens op die bank gelê en Hendrik het gesorg dat ek my medikasie neem, gekyk dat ek genoeg vloeistof inkry, my wonde versorg, gehelp om te stort, omgesien na alles wat in die huis gedoen moet word ensovoorts. Daar is net teveel om op te noem. Ek kan sien hoe hy gewig verloor omdat hyself nie genoeg eet nie. (Ek moet sê, hy het vinnig geleer om vir homself te kook😉) Dis wanneer mens deur so 'n marteling gaan, dat jy besef wat liefde is. Hendrik hoef nooit weer in sy lewe vir my 'n aardse geskenk te gee nie, hy het sy liefde aan my dubbel en dwars bewys gedurende die laaste maande. In die nag het ek gesien hoe hy kom loer het om te sien dat ek okay is. Nou is hy weer terug werk toe en sover gaan dit goed met my hier op my eie. 

Ek moet net weer sê, ek haal my hoed af vir die mediese versorging wat ons in New Zealand kry. Alles is so georganiseerd en ons hoef nie veel van ons kant af te doen nie.. Nou dat my behandeling verby is, is ek weer onder die versorging van die Hutt Hospitaal.  Ek was skaars by die huis na my laaste bestraling sessie, toe kontak my Cancer Nurse Coordinator my en die volgende dag besoek sy my om te sien hoe dit met my gaan en wat my behoeftes is. As ek haar nodig het, is sy hier. Sy het my weer en weer besoek nadat ek vir dae lank aanhoudend opgegooi het. Die verpleegsters van die distrikskliniek kom ook gereeld om na my wonde te kyk. Al om my nek het ek 'n wond gehad wat soos 'n brandwond was as gevolg van die bestraling. Hendrik het dit versorg, maar die verpleegsters hou 'n oog oor dit om te sien dat nie geinfekteerd raak nie en voorsien alles wat ons nodig het om die wond te versorg. My Mental Health Nurse het my besoek, die dieetkundige het 'n afspraak om my te besoek die week en die psigiater kom vir 'n  tuisbesoek volgende week. Ek moet nou net vasbyt en my oog op die lig aan die einde van die tonnel hou.