Sondag 01 Maart 2020

Hendrik is kankervry

Hierdie week het Hendrik vir sy laaste kolonoskopie gegaan en het hy die goeie nuus gekry dat daar geen teken van kanker in sy kolon is nie. Dis nou al meer as vyf jaar gelede wat hy gediagnoseer was met kolonkanker. Dis 'n groot verligting en ons kan dit nou agter ons plaas.

Nou moet ons net fokus op my sodat ek deur hierdie herstelperiode kan kom. Ek is darem meer aktief hier in die huis en beweeg meer rond. Ek was nog net eenkeer weg van die huis om ons huisdokter te besoek. Verder besoek almal my by die huis om om te sien na my mediese behoeftes. 

Ek het nog die voedingsbuis deur my neus. Vrydag was die dieetkundige hier en ons het besluit om die voeding met die helfte te verminder, aangesien ek twee kilogram opgetel het in die twee weke sedert sy my laas gesien het. Ek weeg nou weer dieselfde as die dag toe ek vir die groot operasie ingegaan het. Dis verseker nie as gevolg van eet nie, maar al die kalorieĆ« wat in die nag in my maag gepomp word. Almal is trots op my omdat ek my gewig behou het, maar ek dink nie dis iets wat ek gedoen het nie. Dis maar hoe my liggaam  reageer. Ek het nie beheer daaroor nie.

Ek sukkel nog baie om te eet omdat ek nie eetlus het nie, maar dit is normaal vir iemand in my situasie. Dit is die nagevolg van die bestraling. My dieƫt is ook beperk tot kos waarvan ek die smaak en tekstuur kan verdra. Alles moet in Klein stukkies gesny word sodat ek dit tussen my tande kan kry om te kou. Ek sal die voedingsbuis vir ten minste nog twee weke inhou. Ek is baie angstig om sonder dit te wees, want ek kan nie sien dat ek sal kan oorleef op die bietjie wat ek eet nie.

Die grootste terugslag is dat ek 'n gehoorverlies ontwikkel het. Ek is nie doof nie, maar ek kan nie tv kyk sonder onderskrifte nie en almal moet skree as hul met my praat. Die onkoloog het my na 'n  Oor, Neus en Keel Spesialis verwys. Ek weet nie wanneer ek 'n afspraak by hom sal kry nie. Dis nou weer wag. Gehoorapparate is verseker deel van my toekoms. Hul het my gewaarsku dat 'n gehoorverlies 'n  newe-effek van die chemo is, maar dit het my oornag oorval, twee weke nadat die chemo afgehandel was. Nou ja, nog iets waarmee ek moet saamleef. Kanker is nie vir die pieperiges nie, maar as Hendrik dit kon doen, kan ek ook.