Saterdag 01 Oktober 2011

Wêreldbeker in Wellington

Ek was maar 'n bietjie stil in die laaste tyd, vreeslik besig!? Ons het twee naweke in die CBD spandeer in 'n poging om ons op te werk vir die Rugbywêreldbeker. Wellington CBD was skielik groen en goud en almal praat Afrikaans, Engels met 'n Suid-Afrikaanse aksent of regte Kaapse Afrikaans (ai, te lekker!). Oral is Suid-Afrikaanse vlae, hoog bo ons koppe op geboue, serpe om mense se nekke of groot vlae om lywe. Daar is 'n South African Cultural Festival voor die hoofbiblioteek en die Fan-zone is 'n groot trekpleister.

Dit was net ongelooflik, maar het net 'n week geduur. Die week wat die Springbokke Saterdag teen Wallis en die volgende Sondag teen Fidji gespeel het by die Westpac stadion. Toe verander dit skielik in geel en groen vir die wedstryd, Australië teen VSA. Dis ook hoe lank ons opgewondenheid geduur het.

Rialeen het voortgegaan met haar projekte wat voltooi moet word en ek het hard gewerk, want ons het mos nou 'n nuwe manager by Kindercare (én ‘n nuwe Afrikaanssprekende administrator, Malinda). Hulle verstaan dat ek genoeg ure moet werk om te kan oorleef en hou my dus goed besig waarvoor ek baie dankbaar is. Ek het gedink ek sal nog foto's neem van al die rugby-fans in Wellington om op my blog te sit, maar weet nou beslis dat daar nie veel meer sal wees nie. Ek het darem die wedstryd tussen die All Blacks en die Franse gevolg, sodat ek kan saamgesels by die werk. Rialeen het by haar vriendin, Adrianne, gaan braai, rugby gekyk en oorgeslaap en dit was iets om my besig te hou. Ek is nou maar eenmaal nie 'n sport-entoesias nie!

Sulet se skoonma, Annatjie, en haar man, Thys van der Merwe, het ook vir die week Wellington toe gekom om na die rugby te kom kyk. Dit het ons ook gehelp om in die gees van die rugby te bly. Hul is groot sport-entoesiaste en dit help nogal om gees te bou. Ons het hul darem albei naweke gesien wat hul hier was. Dit was die eerste bekende gesigte wat ons uit Suid-Afrika gesien het in sewe maande. Dit was wonderlik! Hul het ook vir my 'n paar goedjies gebring (oa ‘n Huisgenoot, Rooi Rose, Sarie en Tuis) en kan gaan rapporteer dat ek en Rialeen spekvet en gesond is hier in Wellington. 

Intussen het die Bokke Samoa ook gewen en het hul deurgedring na die kwarteind (soos ek dit met my gebrekkige kennis verstaan). Rachel, wat saam met my werk, is ‘n groot ondersteuner van Wallis. (Sy is daar gebore en het New Zeeland toe gekom toe sy so 8 jaar was, maar is terug Wallis toe op ‘n stadium vir ‘n paar jaar en het weer saam met haar ouers teruggekom Wellington toe. Sy is 32 jaar oud en het die grootste deel van haar lewe dus hier gewoon, maar sy het nog sterk bande met Wallis, die res van haar familie woon almal daar.) Sy het ‘n groot tattoe (onder haar klere, wat sy vir my gewys het, van die draak wat op hul vlag is.Tattoe’s is groot hier en almal het êrens een.) Sy hou my op my tone met die rugby, want sy het altyd baie kommentaar te lewer oor die Suid-Afrikaanse span en reken dat die Bokke teen Wallis gaan speel in die halfeindstryd.

Die Vrydag voor die Bokke teen Wallis gespeel het, het sy groot op die kennisgewingbord by Kindercare geskryf, ‘Go Wales!’. Toe ek Maandagoggend instap vra ek of ek ook op die bord mag skryf (almal het dadelik geweet wat ek wil skryf), ‘Go South-Africa!’ (die Bokke het Wallis met een punt gewen). Hul het na hul asems gesnak en gesê ek moenie sout in Rachel se wonde smeer nie. Sy het reeds gesê, sy hoop nie sy hoef my te sien nie. Maar toe ons mekaar in die personeelkamer raakloop, het sy vreeslik kommentaar te lewer gehad oor die Bokke se vrot spel en dat hul Wallils met baie meer punte behoort te gewen het. Ek het maar net gelag. Ek is nou nie so ‘n groot rugby-entoesias nie en sy het baie geld betaal om die wedstryd te gaan kyk.

Rachel het ‘n baie goeie kennis van die Suid-Afrikaanse geskiedenis en ek moes al ‘n paar maal maar my reënjassie aantrek oor haar kommentaar oor apartheid. Sy het ‘n gay vriend wat in Johannesburg woon. Hy is Afrikaanssprekend. Sy het ook verskeie boeke oor apartheid en die Suid-Afrikaanse geskiedenis gelees. Daar is empatie by haar vir die Afrikaners se delemma en se stryd om ons land te behou deur al die jare. Sy noem my ‘boertjie’ nadat sy my eendag gevra het of ek ‘n Boer is. Ek is seker maar ‘n Boer, my hele familie aan albei kante is Afrikaners. Sy vra toe of dit ‘n belediging is as iemand my ‘n boer noem. Ek sê toe as Malema my so noem, ja, maar andersins pla dit my nie. Nou ja, so het ek toe my bynaam verwerf. Op ‘n ander keer vra sy my weer wat beteken ‘Rooinek’. Ek vertel haar toe hoe die Engelse soldate hul nekke in die Suid-Afrikaanse son verbrand het en dat dit eintlik maar net verwys na Engelssprekende mense. Nou noem ek haar maar ‘Rooinek’. En ek hoop volgend keer as die Bokke teen Wallis speel, gee hul hul ‘n goeie pakslae dat ek vir dié Rooinek kan lag.

Die kinders by Kindercare is ook goed in die gees van die wêreldbeker. ‘n Klomp van hul kom amper elke dag met hul All Black truie of truie van ander lande wat hul ouers ondersteun, skool toe. Daar is vlae van al die lande in die kamers, All Black banners en plakate van rugbyspelers. Daar is darem een bal wat soos ‘n rugby-bal lyk en die seuns hardloop met dit onder hul arms rond terwyl ander die bal probeer afvat en daar word geskrum vir die vale (wat op ‘n lekker bakleiery uitloop). Een of twee kan die Haka doen en ons moet tot verveelens toe kyk en luister daarna. Pauline het darem ‘n All Black vlaggie in haar kar se venster. Die pa’s wat kinders by skool kom haal, wil net rugby met my gesels as hul my aksent herken (asof ek veel weet van rugby. Ek maak maar of ek vir die All Blacks skree dan is hul gelukkig). Nou ja, so bly ons nou maar in die gees van die rugby of ons nou entoesiaste is of nie.

Die fan-zone

 



                           South African Cultural Festival
(Die man met die rooisak en rooi hare woon in ons straat en is altyd oral waar ons ook is)


                        Groen en goud oral in die strate
                       (Rialeen met haar afduim in 'n spalk)


                    en Suid-Afrikaanse vlae oral op geboue


Foto's by die Queen's Wharf op die sementvloer van die Springbokke se besoek aan Wellington in 1956
(kliek op foto om te lees)



 Sulet en Rialeen trots by die wêreldbeker in die Te Papa Museum (Die man op die agtergrond pas die beker op :-0 ) tydens Sulet se kuier hier in Wellington

 Fanzone in Nelson op die Suid-Eiland (All Blacks vs Australia)
Ons het die naweek van 14 Oktober daar deurgebring



Ons beskeie vlaggie in Rialeen se kamervenster

Geen opmerkings nie: