Vrydag 13 April 2012

Aotea

 The glen (in die voorstad Aotea) is soos 'n village in Suid-Afrika (daar word dit 'n security village genoem) sonder enige elektriese omheining en sekuriteitswagte. Aotea bestaan uit verskeie sulke villages. Dis ook die rykmense wat hier woon in huise wat $600 000 (R4 miljoen) of meer kos
 My nuwe werksplek
 Die pragtige berge waaroor ek elke dag vanaf die speelterrein kyk
 Die berge vanaf die busstop


 Oral waar jy kyk is berge!



 Oorkant die straat van my werksplek is die park met 'n gymapparaat en al! Terwyl jy oefen kan jy oor die pragtige berge kyk (en niemand kom steel dit om die staal te verkoop nie)

 En 'n elektriese braaiplek, jy druk net 'n knoppie en dan word dit warm en dis gratis
Die kinders kan ook die uitsig geniet terwyl hul baljaar in die parkie


Sondag 08 April 2012

Ready, steady ...

Ek is nou nog nie by die 'go' nie, maar dit kom vinnig nader. Ek is so opgewonde dat ek vlinders op my maag het, iets wat ek seker as 'n student laas ervaar het. Alles is gereed. Ek het so baie kleingoedjies vir al die familie in Suid-Afrika gekoop dat ek nie plek vir klere gaan hê nie. Sulet moet net weet ek bring niks saam wat sy reeds het nie en wat sy nie het nie, sal ek gaan koop (met Hendrik se geld). Ek moet ook genoeg plek in my tas hê vir alles wat ek weer vir my en Rialeen wil terugbring.

Rialeen wil (soos gewoonlik) nie veel hê nie (sy dink Wellington se winkels hou alles aan wat ons nodig het) behalwe Lipton Red Ice Tea. Ons kry al die ander geure hier, maar nie Red nie. Sy is ook lus vir 'n Red Cuppuccino, maar dit kan ek nie vir haar bring nie. Hul verkoop Red Esspresso in Ontrays, maar as 'n mens dit self maak, proe dit net anders. Madelene het vir my gesê dat die café by Paraparauma se lughawe wel Red Cuppuccino verkoop, maar nou ja, dis 'n busrit na Tawa en dan 50 minute met die trein tot in Paraparauma vir ons. Ek sal vir Rialeen saamsleep as ek weer vir haar gaan kuier dan kan Madelene ons vat vir 'n Red Cuppuccino by hul lughawe café. Madelene, wat minder as 'n jaar gelede New Zealand toe gekom het, het vir die eerste keer in haar lewe 'n Red Cuppuccino by die café gedrink en kon dus nie sê of dit dieselfde proe nie.

Ek is nou maar 'n 'oumens' (of ek dit nou wil erken of nie), so, ek het baie goetertjies wat ek wil saambring uit Suid-Afrika. New Zealand se goetertjies is net nie altyd dieselfde nie of ons weet nie waar om dit te kry nie. In Auckland is om elke hoek en draai 'n Suid-Afrikaanse winkel en daar is dus baie meer allerlei uit Suid-Afrika beskikbaar, maar hier het ons net Ontrays (wat 'n 'food emporium' is) en Springbok Butchery (wat 'n slaghuis is). Ander alledaagse goed is dus nie hier so beskikbaar nie.

Watse goetertjies? Goeie vraag ... nou kan ek nie meer so lekker onthou nie ... hmm... eerste op die lys is seker Blue Berry kougom van Dentyne. New Zealand se kougom is sulke stafies en is nie 'sugar coated' nie. Bactroban salf, Linctagon-C bruistablette (hier moet ek pelargonium sidoides, wat die aktiewe bestandeel van Linctogon is, in 'n botteltjie met 'n drupper koop by 'n gesondheidswinkel en dis bitterlik sleg). Linctagon-C is hier heeltemal onbekend. Dit gee 'anti-viral and antibacterial support' en voorkom infeksies, inflammasie, kongestie en allergië. Ek het hope van dit nodig agv my werk by die kleuterskool en die snotneuse wat ek heeldag moet afvee.

Ek is nie juis 'n Marmite eter nie en Marmite is hier beskikbaar, maar hul gebruik 'n ander resep. Suid-Afrikaanse Marmite proe dus heeltemal anders en as jy lus het vir Marmite wil jy Marmite eet wat soos Marmite proe. Vegemite, wat 'n Australiese produk is, kry hier groot aftrek. Dis nie bad nie, Sulet en Rialeen eet dit graag, maar dis nie Marmite nie. 

Ek soek room vir voetskimmel, want agv die feit dat ek baie buite loop as dit nat is, dra ek soms vir 'n hele dag klam skoene en hier kon ek nog nie iets kry wat regtig vir voetskimmel werk nie. In Checkers kan 'n mens allerlei produkte van die rak af koop. As ek hier in die apteek vra, sal hul seker een of ander duur produk hê wat ek nie kan bekostig nie.

Onderlaag en maskara is vir my vrekduur hier. Hulle het ook net sulke fancy modelle maskara met allerlei weird borsels en die goed is nie waterdig genoeg vir my nie. Ek sal tien teen een daar in Pretoria gaan kyk en sien dit is net so duur en het net sulke borsels, maar nou ja, vir eers is dit ook op my lys. Maar ek sal jul nie verder verveel met my kleinlikheid nie. Alles is hier in die winkels beskikbaar en 'n mens raak maar gewoond aan goed wat anders proe, lyk of werk. Dis net dat ek nou die kans het om my hunkeringe te bevredig wanneer ek my voete daar in my vaderland gaan neersit.

Taspak is dus volgende op die agenda. Ek werk volgende week elke dag agt ure (plus een uur ete) en spandeer dan meer as twee ure op en tussen busse. Dit beteken tussen elf en twaalf ure weg van die huis. Daar gaan nie veel tyd wees vir 'n gewassery van klere nie. Al die klere wat ek gaan inpak, gaan definief nie eens skoon wees nie (ek weet nie of Sulet nou al 'n wasmasjien het nie, dalk was hul nog by skoonma), maar nou ja, dis Pretoria se bekommernis. Ek moet net sorg dat ek Saterdagoggend vieruur wakkerskrik vir die taxi na die lughawe en dat my tasgepak is met al die geskenkies wat ek wil saamvat. Die res koop ek daar in Pretoria of leen ek by Sulet.

Nog ses slapies! My vliegkaartjie lê reg met my paspoort, ID boek (hier het hulle nie ID nommers of boekies nie - weird!) en Suid-Afrikaanse bestuurderslisensie.

Wrede wrede herinneringe

Die jaar 2000 was nie 'n goeie jaar vir my nie en my lewe het daarna onomkeerbaar verander. Hierdie was die eerste van 'n reeks tragedies wat een na die ander om my afgespeel het. Die gesin van een van Rialeen se jare lange vriendinne is deur hierdie wrede gebeure geraak. Ek was plat op die aarde, maar hul kon opstaan en aangaan met hul lewens. Ek was net 'n toeskouer, maar my sensitiewe geaardheid kon dit nie begryp nie. Dit het die 'skrywer' in my wakker gemaak en ek het die terapeuteise waarde van skryf in my eie lewe begin ervaar, want ek kon nie wegkom van die vrees dat so iets met my gesin ook kan gebeur nie. Dis hierdie vrees wat my uit Suid-Afrika gedryf het.

DEUR U VERLAAT

Het U hul verlaat
daardie nag
toe die duiwels vir hul sit en wag?
Net hul alleen
en U is nie daar om op te steun.

Ek onthou nog daardie dag.
Ons het oor die nuus gehoor.
Veertienjarige dogter deur vyf inbrekers verkrag.
Was dit U wil, Heer?
Waarom het U hul nie gekeer?

My hart voel uitmekaar geskeur.

Ek het amper kop verloor.
Wanneer staan die donders voor my deur
om my kinders leed aan te doen?
Ek wou links en regs begin moor.

Jul pyn het my hart gebreek.
Ek wou jul met liefde omvou
deur my hande na jul uit te steek.
Ek weet nie hoe julle die pyn binne hou
en op God bly vertrou.

My hart was van God verlaat.
Ek het Hom gehaat.
Hoe kon U dit doen?
Hoe kan U hierdie wreedheid
met U liefde versoen?

Hul pyn is onbeskryflik groot,
maar hulle dra dit met soveel hoop.
Hoop wat ek nie kan verstaan,
my hart is soos lood.
Ek weet nie meer waar ek met U staan.

Sal ek ooit weer ‘n loflied kan sing?
My kop is deurmekaar.
Ek wil die vlaktes invaar
om my pyn en woede te laat bedaar.
Sal God ooit weer vir my vrede bring?

Maar as ek na julle kyk
weet ek êrens moet daar vrede wees.
Vrede wat my nog ontwyk,
want jul is reeds genees
van daardie wrede nag
wat miskien op my gesin ook wag.


Ronél Louw  Meintjes 2000

Saterdag 07 April 2012

Oppad 'huis' toe

Baie jare gelede toe ek nog geworstel het met die dood van my eerste man, Nico, het Henk Zeeman, wat toe ons predikant was, aanbeveel dat ek 'n dagboek hou of net al my gevoelens en gedagtes neerskryf. Op daardie stadium wou die woorde nie kom nie, maar later in my lewe het ek dit begin regkry om te skryf oor gebeure wat my ontstel en ek het begin besef wat die terapeutiese waarde van skryf is. Niemand hoef dit ooit te lees nie, maar dit gee 'n mens 'n kans om jou kop uit te sorteer.

'n Blog is 'n baie openbare manier om mens se kop uit te sorteer en almal kan dit nie doen nie of wil dit nie doen nie (om hul wasgoed in die openbaar te was nie), maar vir my help dit baie. Dit lei tot gesprekke met mense wat vir my omgee. Sulke gesprekke help my weer om my opinies, waarnemings en belewenisse vanuit 'n ander perspektief te sien. Dit gee ook mense wat ver van my is, 'n kans om te sien wat in my lewe aangaan en hul hoef nie deur hoorsê tot gevolgtrekkings te kom nie.

Dit is nou maar so dat daar foto's geneem word van gelukkige oomblikke en 'n mens skryf oor die lekker dinge in jou lewe. Daarom dink ek soms my blog gee 'n baie idilliese idee van wat in ons lewens aangaan. Daar is baie ander worstelinge wat moeiliker is om in woorde uit te druk, maar die dinge waarmee ek worstel, het my gelukkig nog nie ondergekry nie. Daar was baie laagte punte rondom kersfees, in so mate dat ek eendag (gedurende die tyd wat Rialeen weg was Auckland toe) in trane uitgebars het by die werk en ontroosbaar gehuil het oor Hendrik wat nie sy mind kan opmaak nie en dink omdat ons gelukkig is in New Zealand, het ons hom nie hier nodig nie (net 'n man kan so redeneer!). Dit was net 'n slegte sameloop van omstandighede op 'n baie emosionele tyd. Dit het verseker nog steeds nie beteken ek is nie gelukkig hier nie. Dit beteken net ek mis my man en wil hom hier by my hê, maar mans dink met hul breins en nie met hul harte soos vrouens nie.


Vroeg in Januarie het ek en Sulet 'n vreeslike uitval gehad omdat sy nie kon  vrede maak met die feit dat ek nou hier woon en nie van plan is om binnekort terug te gaan Suid-Afrika toe nie. Sy voel erg verwerp en mis my baie. Ek het op daardie stadium baie gesukkel met werk, want na die tyd wat ek in Auckland gekuier het, was daar net nie afloswerk beskikbaar by Tawa nie en ek kon nie 'n inkomste gegenereer kry nie. Die laaste ding wat ek in my lewe nodig gehad het. was om met my kind in 'n gestryery betrokke te raak. Daar was ook ander onderonsies met familie oor goed wat ek op facebook gesê of nie gesê en wat hul tussen die lyne in my blog gelees het ens ens. Dis hoekom Hendrik toe skielik vinnig op die vliegtuig gespring het om te kom kuier (waaroor ek baie bly is), maar 'n kuier is nie genoeg nie. Ek wil my man hier hê!

Rialeen het ook intussen haar studies opgeskop. Sy het met 'n beurs een jaar by die Openwindow in Pretoria grafiese ontwerp geswot (en nie daarvan gehou nie) en toe 'n jaar in Wellington by die Victoria Universiteit industruele ontwerp gedoen (en ook nie daarvan gehou nie). Hoewel sy 'n A+ student is, kan sy nie haar mind opmaak nie en alles verveel haar. Sy het besluit om maar liewer 'n jaar af te vat, groot te word, haarself te vind en dan te besluit wat sy met haar lewe wil doen. Sodra ons twee jaar in New Zealand is, kan sy 'n rentevrye lening van die staat kry asook 'n studentetoelaag om van te lewe, as sy weer gaan swot. As sy dus eendag besluit het wie sy is en wat sy met haar lewe wil doen, kan sy dit sonder ons hulp doen.

Intussen werk sy nou by Ontrays in Petone ook bekend as die Suid-Afrikaanse winkel. Hulle verskaf ingevoerde kosse, vanuit veral Europese lande en Afrika, aan restaurante en ander groot verspreiders soos supermarkte. Hul het 'n groot stoor en 'n winkel waar produkte herverpak word vir verspreiding. Hul spesialiseer veral in kosher produkte en verkoop natuurlik Biltong, droëwors, boerewors, mieliemeel en beskuit aan Suid-Afrikaners. Die eienaars kom van Suid-Afrika. Stephan is van Poolse agtergrond en leer haar goeie 'business skills' wat haar in die toekoms handig te pas sal kom.


Nederige voorkoms, maar duisende dollars gaan daagliks deur hierdie winkel
(Dit is 'n Suid-Afrikaanse vlag wat daar wapper!)


Ek glimlag natuurlik breed, want die ekstra inkomste maak ons lewens baie makliker en sy kan 'n tas vol geld spaar vir wanneer sy weer gaan swot. Sy dink weer sy gaan die tas vol geld gebruik om oorsee te gaan reis, maar nou ja, dis haar geld, sy kan daarmee maak wat sy wil. Solank sy net haar lewe geniet.

Intussen het ek ook gatvol geraak vir die klomp by Tawa wat nie vir my genoeg werk kan gee nie. Daar gaan 'n centre van Kindercare hier by ons oopmaak in Johnsonville, vyftien minute se stap vanaf ons huis af, maar dit word toe uitgestel en ek is desperaat. Op aanbeveling van die manager by Tawa, kontak ek toe Kindercare Aotea. Ek het saam met die onderwysers en manager van Aotea my noodhulpkursus voltooi en ek ken dus meeste van die personeel reeds. Sommige van hul het ook as relief teachers gewerk by Tawa en die een het haar prakties daar gedoen terwyl sy 'n student was. Coral, die bestuurder, was baie bly om te hoor ek wil vir hul kom werk en nou ja, nou werk ek by hulle. Dit beteken egter, ek moet met 'n bus ry tot by Porirua stasie en daar oorklim op 'n ander bus na Aotea. Maar Gelukkig hou Coral my goed besig en is  ek permanent op hul rooster vir tussen 30 en 35 ure per week, wat vir my 'n vaste inkomste beteken en ure elke dag op die pad wat gepaard gaan met baie frustrasies. Ek verslind boeke gedurende hierdie ritte en gewag by busstoppe (gelukkig is die biblioteek vol van die nuutste boeke en dit kos my nie 'n sent nie).

Rialeen moet nou weer van een trein oorklim na 'n ander. Die oorklimmery veroorsaak baie probleme, want dikwels verpas jy die tweede trein/bus met 'n minuut of twee en moet jy sit en wag vir die volgende bus/trein. Dit is dus glad nie die ideale omstandighede nie. Ek moes  volgende week van 7h30 werk, maar kan dit nie doen nie omdat die eerste bus eers 7h10 hier uit Johnsonville vertrek na Porirua en dit neem amper 'n uur om by my eindbestemming uit te kom (wat 20 minute met 'n kar sou wees). Arme Coral moes toe op Goeie Vrydag rondbel om iemand te kry om in my plek vroeg te begin sodat ek eers 8uur kan begin. 'n Kar is dus ons voorland. As ek terugkom van Suid-Afrika, gaan ek 'n kar koop en die volgende ding is dat ons na 'n groter woonstel gaan begin soek. Jippie!

Maar ek is baie gelukkig by Aotea. Coral is 'n gebore New Zealander wat nadat sy haar studies voltooi het, Australia toe gegaan het, daar met 'n man getroud is wat van Duitse herkoms is. Hul het die laaste nege jaar in Duitsland gewoon. Haar man en een seun is ook nog in Duitsland en sy en die ander seun is in Wellington (nadat sy besluit het dis tyd om 'huis' toe te kom). Haar kinders en man het Australiese burgerskap. Sy het dus baie begrip vir my situasie en ken al die stuiptrekkings van in 'n ander land woon. Sy is ook nader aan my ouderdom en ons kommunikeer net beter as wat dit by Tawa gegaan het met die nuwe manager daar, wat net 26 jaar oud was.

Soos jul kan sien, het daar baie dinge in ons lewens verander, maar dit hou die lewe interessant. Ek werk nou in een van die mooiste voorstede van Welllington en ry elke dag by die Porirua hawe verby oppad na my werk en terug. Rialeen ry elke dag langs die see met die trein. Dit is soos medisyne vir die gees. Ek word vervul met die ongelooflikste streslose gevoel as ek by die busstop staan en letterlik omring is met die pragtige berge.


Maar soos jul reeds weet, is ek oppad Suid-Afrika toe. Volgende week hierdie tyd is my tasgepak en gaan ek slaap sodat ek vieruur in die oggend kan opstaan om met 'n taxi lughawe toe te ry, 6h40 vertrek ek na Sydney. Daar bly ek vir twee ure oor op die lughawe en dan volg die laaang sit van veertienure (of so iets). Daarna sien ek nie baie uit nie, maar dit is nou my lot wat ek gekies het toe ek besluit het om in New Zealand te kom woon.

Ek kan verseker nie sê dat ek nooit weer in Suid-Afrika sal gaan woon nie, maar as 'n mens kyk na die voordele wat ons hier het, sal ek twee maal dink voordat ek dit opgee. Die kwaliteit van ons lewens het net so verander, want vir my as 'n oorsensitiewe en emosionele mens is daar net soveel minder stres en emosionele bagasie. Ek het energie vir die dinge wat belangriker is as om my te kwel oor my gesin se veiligheid. Ons lewens is nie gejaag nie en daar is nie soveel sosiale druk op ons nie. Mense het hier net soveel meer verdraagsaamheid teenoor mekaar, kulture, godsdienste, alternatiewe lewenstyle en sienswyses. Daar is nie 'n kompenterende gees soos in Suid-Afrika nie omdat die bevolking soveel kleiner is en daar genoeg werksgeleenthede vir almal is. Die onderskeid tussen arm en ryk is kleiner en hier sien jy nie mense op die hoeke van strate wat bedel nie. Toe Wellington se alombekende 'blanket man' (ons boemelaar wat aan almal in New Zealand bekend was) dood is in Januarie, was dit hoofopskrifte in die koerante en op tv. Daar was vir 'n week lank elke dag 'n berig oor hom en sy geskiedenis in die koerante. Hul het selfs vir hom 'n openbare roudiens gehou in een van die parke in die middestad.

As enige iemand my nog kwalik neem dat ek liewer hier wil woon, moet hulself hierheen kom om dit te ervaar, dan praat ons weer. Vir nou gaan ek dus net kuier in Suid-Afrika en ek sien uit daarna om almal weer te sien en vas te hou, maar ek gaan met baie trane en hartseer terugkom hierheen waar my huis nou is.