Sondag 08 April 2012

Wrede wrede herinneringe

Die jaar 2000 was nie 'n goeie jaar vir my nie en my lewe het daarna onomkeerbaar verander. Hierdie was die eerste van 'n reeks tragedies wat een na die ander om my afgespeel het. Die gesin van een van Rialeen se jare lange vriendinne is deur hierdie wrede gebeure geraak. Ek was plat op die aarde, maar hul kon opstaan en aangaan met hul lewens. Ek was net 'n toeskouer, maar my sensitiewe geaardheid kon dit nie begryp nie. Dit het die 'skrywer' in my wakker gemaak en ek het die terapeuteise waarde van skryf in my eie lewe begin ervaar, want ek kon nie wegkom van die vrees dat so iets met my gesin ook kan gebeur nie. Dis hierdie vrees wat my uit Suid-Afrika gedryf het.

DEUR U VERLAAT

Het U hul verlaat
daardie nag
toe die duiwels vir hul sit en wag?
Net hul alleen
en U is nie daar om op te steun.

Ek onthou nog daardie dag.
Ons het oor die nuus gehoor.
Veertienjarige dogter deur vyf inbrekers verkrag.
Was dit U wil, Heer?
Waarom het U hul nie gekeer?

My hart voel uitmekaar geskeur.

Ek het amper kop verloor.
Wanneer staan die donders voor my deur
om my kinders leed aan te doen?
Ek wou links en regs begin moor.

Jul pyn het my hart gebreek.
Ek wou jul met liefde omvou
deur my hande na jul uit te steek.
Ek weet nie hoe julle die pyn binne hou
en op God bly vertrou.

My hart was van God verlaat.
Ek het Hom gehaat.
Hoe kon U dit doen?
Hoe kan U hierdie wreedheid
met U liefde versoen?

Hul pyn is onbeskryflik groot,
maar hulle dra dit met soveel hoop.
Hoop wat ek nie kan verstaan,
my hart is soos lood.
Ek weet nie meer waar ek met U staan.

Sal ek ooit weer ‘n loflied kan sing?
My kop is deurmekaar.
Ek wil die vlaktes invaar
om my pyn en woede te laat bedaar.
Sal God ooit weer vir my vrede bring?

Maar as ek na julle kyk
weet ek êrens moet daar vrede wees.
Vrede wat my nog ontwyk,
want jul is reeds genees
van daardie wrede nag
wat miskien op my gesin ook wag.


Ronél Louw  Meintjes 2000

1 opmerking:

Amanda het gesê...

Geen woorde kan beskryf hoe seer my hart vir jou is nie Ronel. Ek onthou die kind se verkragting baie goed. Het self nagte wakker gele hieroor. Mens kan net vasklou aan wat jou gaan laat dryf of toelaat om te oorleef. Jy kan nie klou aan wat nie meer waarde het nie. En daai vraag moet elkeen self antwoord. Wat is nou eintlik belangrik?
Vir my is dit vryheid en geleenthede en 'n open minded samelewing- dus maklik op die ou end toe ek soontoe gedruk is.
Arohanui!