Sondag 11 November 2012

Wainuiomata

'n Oud-kollega van my, daar in Pretoria, het by een van my foto's opgemerk, dat dit lyk of ons altyd op vakansie is. Dit is dié ding wat Wellington (en ek dink New Zealand in die algemeen) lekker maak. Dis so veilig en om elke hoek of draai is daar 'n strand, natuurreservaat, wandelpad, park of rivier om te besoek. Alles is skoon, goed instand gehou en daar is geriewe soos piekniektafeltjies, toilette, waterpunte en plastiese sakkies vir jou honde se poef. Hier is dit ook nooit so warm soos in Suid-Afrika nie en dis 'n fees om buite te wees op sonskyndae. Die uv hier is net baie hoog en 'n mens moet maar jou hoed saam dra en sorg dat jy jouself goed smeer met 'sun block'. Ek kan stoksielalleen oral stap en ek hoef nooit bang te wees nie, dag of nag. Nou wat meer wil jy hê?

Ek en Hendrik het een Saterdag na 'n kwekery gaan soek in die omgewing van Wainuiomata (nie dat ons 'n tuin het nie, maar ons het by die 'Home en Garden Show' van dit gehoor en was nuuskierig). Ek en Rialeen het nog nooit oor die berg na daardie kant toe gery nie. Ons ontdek toe hierdie pragtige klein dorpie, Wainuiomata, daar. Dis ook deel van die Groter Wellington en nie ver van die dorpie vind ons die afgeleë strand met swart seesand. Die strande aan die Stille oseaan het swart sand agv die vulkane wat lank gelede hier uitgebars het. Aan die Tasmaniese see is die seesand ligter, soos ons dit ken in Suid-Afrika. 
 
 
  

 




Saterdag 10 November 2012

Ons lewe in die Hutt Valley

Terwyl ek hier sit en skryf (tik), luister ek na klappers en ander vuurwerke van die bure, want dis mos weer Guy Fox Day (een of ander tyd). So gaan dit nou voort tot na Nuwe Jaar. Hier is vuurwerke nie verbied soos in baie ander lande nie. Dit is maar 'n frustrasie en ek kry die diere jammer. Gisteraand toe dit begin het, het ek 'n kat gehoor wat aanhoudend geskree het. Vanaand is hy seker toegemaak, want hy is stil. Pauline het ook verlede jaar gekla oor haar kat wat totaal angsbevange raak as die vuurwerke begin en sy moet haar 'n kalmeermiddel ingee.

Ek moet sê, Hendrik se koms maak so groot verskil aan ons lewens. Hy werk mos nie en hou darem die huis aan die kant, was die klere en skottelgoed, dra die vuilgoed uit en help met die kosmakery. Dit moes ek alles doen voor hy gekom het. Dis ook vir ons lekker om weer ons lewens met hom te deel en dinge saam met hom te doen. Tot nou het ek elke Maandag gewerk en dis Rialeen se afdag en sy kon dit saam met haar pa spandeer.

Hierdie week het Hendrik begin om klas te draf by die Weltech om homself besig te hou, tussen mense te kom en om sy kanse vergroot om so gou as moontlik werk te kry. Hy doen 'n somerkursus in IT en Projekbestuur. Hy klink heel opgewonde na sy eerste week se klasdraf. Dis 'n 12 weke kursus en eindig in die middel van Februarie.

Vir my lyk Hendrik gelukkig en ontspanne. Hy beweeg rond met die hulp van 'public transport' (soos ons ook in die begin gedoen het) of stap om te kom waar hy wil wees. Hy gaan gereeld na die biblioteek in Petone en lees die koerante daar en neem op bestelling vir ons boeke uit of neem boeke terug. Hy gaan ook na die Wellington biblioteek in die stad met die trein. Mc Donalds is om die hoek en hy kan daar koffie en 'n appelpastei of koffie en 'n muffin vir $5 koop. Hy gaan haal vir ons fonteinwater by die fontein hier in Petone of stap Pack n Save (ons Pick n Pay) toe om die daaglikse melk, brood en ander benodighede te koop. Dan doen hy ook meeste van die takies by die huis. Hy lees baie en het al klomp van die wandelpaaie hier in die omgewing gestap. Dis die voordeel van Wellington. Hier is altyd iets om te doen, dis gratis en veilig. Die museums, kunsgallerye, parke, botaniese tuine, natuurreservate ens vra geen toegangsfooi. Dis net by die dieretuin en Zealandia waar 'n toegangsfooi betaal word. Niemand kan kla dat hul verveeld is hier in Wellington nie.

Vanoggend het ons besluit om langs die Hutt Rivier te gaan stap. Die Hutt Rivier vloei vanaf Wellingtonhawe hier in Petone (wat ek Petone beach noem) vir ses-en-vyftig kilometer tot verby Upper Hutt. Die area waar ons woon is bekend as die Hutt Valley en is verdeel in Lower en Upper Hutt wat deel vorm van die Groter Wellington. Petone is 'n voorstad van Lower Hutt. Die hele gedeelte lê langs die Hutt Rivier. Daar is 'n wandelpad wat langs die rivier loop vanaf die strand by Petone tot Upper Hutt, altesaam seker dertig kilometer in totaal. Hendrik en Rialeen het een oggend, kort nadat hy gekom het, die eerste gedeelte tot by Melling gestap. Ons het dus vanoggend tot by Melling gery en daarvandaan gestap vir so negentig minute en toe omgedraai. Drie ure later het ons koffie by die Mellingstasie gekoop. Die weer het saamgespeel en ons het goeie oefening gekry!
 
Hier het ons stap begin en ge-eindig (met 'n koppie koffie)
 
 
 
 
 
 
 'n Blaaskansie by die parkie
 
 
 Oral langs die pad is huise sonder enige omheining en die agtertuin loop dus uit tot op die rivierbank.
Hier het ons besluit om om te draai en terug te stap. 'n Volgende keer sal ons weer hier begin en verder opstap tot ons by Upper Hutt uitkom.
 
 Ons het oor die brug gestap en aan die anderkant van die rivier terug gestap.
 Die rivier vanaf die brug afgeneem
 
 
 
 
 Oral langs die pad is piekniekplekke. Op die onderste foto het mense ingery tot op die droë gedeelte van die rivierbank en daar hou hul piekniek (ek dink nie dis wettig nie).
  Naby die Mellingstasie is die 'skate park' vir die kinders
 
 En terug by ons karretjie

Na 'n middagete van gisteraand se oorskietkos, het ons gestort en gaan fliek by Light House, om die draai van waar ons woon en die fliek 'The Intouchables' gesien (uitstekende fliek!). Hier kan 'n mens 'n glas/bottel wyn koop by die teater en dit drink terwyl jy fliek.  Ek het 'n glasie wyn geniet en Hendrik 'n vrugtesap (boring!). Daarna  het ons 'n pizza gaan koop by Hell.

As iemand nog wonder hoekom ek so verlief is op Wellington, moet hul maar self kom kyk en dit kom ervaar.