Saterdag 18 April 2020

Hierdie week was 'n bedrywige week. Net Vrydag het ek en die dieetkundige besluit om die voedingsbuis in te hou vir nog  twee weke, maar die buis het 'n  mind van sy eie gehad. Maandagoggend terwyl ek stort val die  skielik uit. Dit was 'n groot skok vir my. Ek het dit mos nie verwag nie. Nadat ek met die District's Nurse gepraat het, is ons reguit ongevalle toe. Dis skaars tienuur in die oggend en daar is reeds toue mense daar. Terwyl ons daar sit en wag, kom die idee op om 'n  boodskap te stuur aan die dieetkundige en haar op die hoogte te bring van gebeure. Sy kom ook sommer dadelik af na ongevalle. Nadat ons 'n  lang gesprek gehad het, het ek besluit om nie die voedingsbuis te vervang nie. Ek was reeds so verlig om sonder dit in my keel te wees, dat al my vrese verdwyn het dat ek nie genoeg sal kan eet nie. Nou ja, nou moet ek eet om te oorleef! 

Donderdag het ek 'n afspraak gehad by die radiologie afdeling by Wellington hospitaal.  Die hele span was daar om my te sien, selfs die plastiese chirurg wat my operasie gedoen het. Dit was 'n lekker verrasing om haar weer te sien. Almal was baie tevrede met my vordering en hul onderneem om vir my 'n afspraak by die oudioloë te reël vir 'n  gehoortoets. Ek het ook 'n  nuwe swelling aan die regterkant van my nek wat my bekommer. Daarvoor sal ook 'n skan gereël word.

Ek voel positief na die besoek, maar is uitgeput en slaap die middag om toe ek by die huis kom.  Hannetjie, my skoonsuster van Auckland, was oppad om te kom kuier. Sy moet haar Suid-Afrikaanse paspoort laat hernu hier in Wellington en sal twee aande by ons oorslaap. Ek sien baie uit na die kuiertjie. 

Sondag 01 Maart 2020

Hendrik is kankervry

Hierdie week het Hendrik vir sy laaste kolonoskopie gegaan en het hy die goeie nuus gekry dat daar geen teken van kanker in sy kolon is nie. Dis nou al meer as vyf jaar gelede wat hy gediagnoseer was met kolonkanker. Dis 'n groot verligting en ons kan dit nou agter ons plaas.

Nou moet ons net fokus op my sodat ek deur hierdie herstelperiode kan kom. Ek is darem meer aktief hier in die huis en beweeg meer rond. Ek was nog net eenkeer weg van die huis om ons huisdokter te besoek. Verder besoek almal my by die huis om om te sien na my mediese behoeftes. 

Ek het nog die voedingsbuis deur my neus. Vrydag was die dieetkundige hier en ons het besluit om die voeding met die helfte te verminder, aangesien ek twee kilogram opgetel het in die twee weke sedert sy my laas gesien het. Ek weeg nou weer dieselfde as die dag toe ek vir die groot operasie ingegaan het. Dis verseker nie as gevolg van eet nie, maar al die kalorieë wat in die nag in my maag gepomp word. Almal is trots op my omdat ek my gewig behou het, maar ek dink nie dis iets wat ek gedoen het nie. Dis maar hoe my liggaam  reageer. Ek het nie beheer daaroor nie.

Ek sukkel nog baie om te eet omdat ek nie eetlus het nie, maar dit is normaal vir iemand in my situasie. Dit is die nagevolg van die bestraling. My dieët is ook beperk tot kos waarvan ek die smaak en tekstuur kan verdra. Alles moet in Klein stukkies gesny word sodat ek dit tussen my tande kan kry om te kou. Ek sal die voedingsbuis vir ten minste nog twee weke inhou. Ek is baie angstig om sonder dit te wees, want ek kan nie sien dat ek sal kan oorleef op die bietjie wat ek eet nie.

Die grootste terugslag is dat ek 'n gehoorverlies ontwikkel het. Ek is nie doof nie, maar ek kan nie tv kyk sonder onderskrifte nie en almal moet skree as hul met my praat. Die onkoloog het my na 'n  Oor, Neus en Keel Spesialis verwys. Ek weet nie wanneer ek 'n afspraak by hom sal kry nie. Dis nou weer wag. Gehoorapparate is verseker deel van my toekoms. Hul het my gewaarsku dat 'n gehoorverlies 'n  newe-effek van die chemo is, maar dit het my oornag oorval, twee weke nadat die chemo afgehandel was. Nou ja, nog iets waarmee ek moet saamleef. Kanker is nie vir die pieperiges nie, maar as Hendrik dit kon doen, kan ek ook.

Dinsdag 11 Februarie 2020

Ek is nog in die land van die lewendes

Dis al meer as 'n maand wat ek iets geskryf het. Ek was net te siek gedurende die laaste twee weke van my behandeling en is nou in die herstelperiode. Klink maklik om te skryf, maar dit verg baie konsentrasie wat ek nie op die oomblik het nie. Ek wil net slaap en sukkel om op enige iets anders te fokus.  Ek beweeg net tussen die badkamer en die bank, waar dit ingerig is soos 'n hospitaalkamer. Daar is 'n voedingsbuis deur my neus na my maag, aangesien ek geen eetlus het nie. Deur die nag word ek gevoed met die hulp van 'n klein pompie wat 'n sak met 'kos' stadig in my maag in pomp. Kos het geen smaak nie, wat 'n  newe-effek is van die bestraling, en skep dus nie 'n begeerte om te eet nie. Ek geniet darem nou so af en toe 'n koppie soet koffie, Rooibostee en 'n glasmelk. Dis ongelukkig nie genoeg om my aan die lewe te hou nie

Daar is net nie genoeg woorde om te beskryf wat ek deurgemaak het gedurende die laaste maand nie, maar ek begin nou stadig maar seker die lig aan die anderkant van die tonnel sien. Ek wil nie in teveel detail gaan nie, want ek het nie genoeg energie om 'n lang relaas te skryf nie. Ek wil liewer net genoeg sê, dat almal sal weet, ek stry nog die stryd. Soos ek sterker word, sal ek hopelik weer lekker kan gesels, maar vir nou wil ek net sê, ek is nog in die land van die lewendes.

Hoe ek hierdie pad sou gestap het sonder Hendrik,  weet ek nie. Hy het die laaste twee weke met soveel toeweiding na my omgesien. Ek het soos 'n dooie mens op die bank gelê en Hendrik het gesorg dat ek my medikasie neem, gekyk dat ek genoeg vloeistof inkry, my wonde versorg, gehelp om te stort, omgesien na alles wat in die huis gedoen moet word ensovoorts. Daar is net teveel om op te noem. Ek kan sien hoe hy gewig verloor omdat hyself nie genoeg eet nie. (Ek moet sê, hy het vinnig geleer om vir homself te kook😉) Dis wanneer mens deur so 'n marteling gaan, dat jy besef wat liefde is. Hendrik hoef nooit weer in sy lewe vir my 'n aardse geskenk te gee nie, hy het sy liefde aan my dubbel en dwars bewys gedurende die laaste maande. In die nag het ek gesien hoe hy kom loer het om te sien dat ek okay is. Nou is hy weer terug werk toe en sover gaan dit goed met my hier op my eie. 

Ek moet net weer sê, ek haal my hoed af vir die mediese versorging wat ons in New Zealand kry. Alles is so georganiseerd en ons hoef nie veel van ons kant af te doen nie.. Nou dat my behandeling verby is, is ek weer onder die versorging van die Hutt Hospitaal.  Ek was skaars by die huis na my laaste bestraling sessie, toe kontak my Cancer Nurse Coordinator my en die volgende dag besoek sy my om te sien hoe dit met my gaan en wat my behoeftes is. As ek haar nodig het, is sy hier. Sy het my weer en weer besoek nadat ek vir dae lank aanhoudend opgegooi het. Die verpleegsters van die distrikskliniek kom ook gereeld om na my wonde te kyk. Al om my nek het ek 'n wond gehad wat soos 'n brandwond was as gevolg van die bestraling. Hendrik het dit versorg, maar die verpleegsters hou 'n oog oor dit om te sien dat nie geinfekteerd raak nie en voorsien alles wat ons nodig het om die wond te versorg. My Mental Health Nurse het my besoek, die dieetkundige het 'n afspraak om my te besoek die week en die psigiater kom vir 'n  tuisbesoek volgende week. Ek moet nou net vasbyt en my oog op die lig aan die einde van die tonnel hou.

Woensdag 08 Januarie 2020

Wat 'n horribale dag!

Hoeveel van hierdie dae lê nog vir my voor? Nog een finale chemosessie volgende Maandag wat soos 'n nagmerrie voor my lé. Dit is die groot oorsaak van al hierdie ellendes. Sover het die bestraling my redelik simpatiek behandel, die naar en brakery is die gevolg van die chemo. Braak is wat my onder kry en lyk my nie, ek kan dit vermy nie. Na vyf dae in die hospitaal gedurende die eerste twee weke as gevog van naar en braaking, het ek 'n goeie week gehad laas week, in so 'n mate dat ek teen Vrydag minder naarmedikasie gevat het as voorgeskryf. Die gevolg was dat ek uit die bloute Saterdagoggend begin braak het. So leer mens maar jou les.

Ek het gestres oor wat Maandag gaan gebeur tydens die chemo,  maar ek het nie verwag dat die naarheid my so gou gaan oorval nie. Nadat ek my vyf ure by Wellington Hospitaal gesit het met vloeistof en chemo wat deur my are vloei, was ek skielik naar. Die verpleegster het dadelik 'n paar pille gebring, wat ek geglo het, sal werk voor ek met die bestralingsessie, tien minute later, sou begin. Verkeerd! Die terapeute het my vasgeskroef met die masker op my gesig en begin met die beplanning van die behandeling, toe voel ek, hier kom die braak. Ek het dapper probeer om dit in te hou, want om op jou rug te lê, vasgeskroef aan 'n bed, kan lei tot verstikking met erge nagevolge. Net toe hul begin met die behandeling,  besef ek, ek moet daar uitkom. Met 'n geswaai van my hande, het ek die terapeute se aandag gekry, hul het met 'n spoed teruggekom om my te bevry van die masker. Ek het skaars opgesit, toe begin ek braak. Wat 'n nagmerrie ondervinding wat ek nie my grootste vyand toe wens nie.

Ek kan net met lof praat van die mediese personeel hier in New Zealand.  Daar is net soveel deernis en toegewydheid by hierdie mense. Dokters is van 'n ander stoffasie, maar die verpleegsters, terapeute en hospitaalassistente is mense met wêreldse geduld en empatie. Iets wat ek in 'n mindere mate in Suid-Afrika ervaar het.

Hier mag jy vier-en-twintig uur van die dag 'n familielid of iemand van jou keuse by jou hê, om jou te ondersteun.  Niemand word dus huis toe gestuur as die nag neerdaal nie en besoekers kom en gaan heeldag. Snags sien jy mense slaap op elke bank in die sitkamers en verpleegsters kom en gooi komberse oor hul. Families sit daar deur die dag saam en eet KFC of ander wegmeemkos. Voor kersfees het families tafels bymekaar gestoot, feestelik versier en 'n kersmaaltyd saam met hul siek familielid geniet met tuisgekookte kos wat die gaste gebring het. 

Jy hoef ook nie heeldag in jou bed te lê nie. Pasiënte word aangemoedig om aan te trek en uit te gaan na die café, in die hospitaal, om koffie te drink of om in die tuin te gaan ontspan. Party pasiënte wat gesond en sterk genoeg is, gaan saam vriende en familie na eetplekke naby die hospitaal en kom terug, trek pajamas aan en klim terug in die bed. Iets wat ek verseker nie lus was om ooit te doen nie. Ek beweeg tans net tussen die huis en hospitaal. Jy sal my nêrens anders sien nie. Inkopies word on line bestel of Hendrik of Sulet moet dit doen. Ek is net te swak en siek om enige iets anders te doen. Om terug te kom na vandag se nagmerrie ondervinding, toe ons teruggekom het by die huis, het Hendrik dié oulike klein krimpvarkie voor ons huis op die sypaadjie gekry, gereed om die straat te probeer kruis.
Ek het myself lam geskrik toe Hendrik dit vir my wys. Sulet het ook 'n sprong gegee, maar nadat Hendrik ons verseker het dit is 'n onskuldige diertjie wat ons niks sal aandoen nie,  kon ons die oomblik geniet.  Weg is al die dag se sorge! Na al ons "ooo's" en "aa's" en fotonemery, het Hendrik dit weer veilig gaan terugsit in die natuurresrvaat wat agter aan ons eiendom grens. Wat 'n opgewondenheid na 'n horribale dag. Die nag was ook nie veel beter nie, hoewel ek nie gebraak het nie, was ek die heel nag naar en het my nag op die bank deurgebring, tussen slaap en wakker. Hopelik is vandag 'n beter dag😊

Saterdag 04 Januarie 2020

Vasbyt!

Ek kry soveel boodskappe wat my prys omdat ek so dapper is, maar ek is nie dapper nie, ek het nie 'n keuse nie.  Ek kan kies om nie deur hierdie behandeling te gaan nie en sit en wag om dood te gaan, maar as ek nog 'n paar jaar tot my lewe wil toevoeg, moet ek deurdruk. Dit is nie maklik nie, maar ek moet positief bly. 

Ek het die keuse gemaak om my storie te vertel aan almal wat belangstel. Dit stel my baie bloot, maar die doel is om kennis te versprei en moontlik hoop aan ander te gee wat iemand ken in dieselfde posisie as ek. Kennis is mag. Kop en nekkanker neem toe en deur bewus te wees van die eerste tekens,  kan ek ander help om nie maande te wag, soos ek, om mediese hulp te kry nie. Vroeë diagnose het 'n beter uitkoms.

In my geval het ek deur 'n episode van major depressie gegaan en hoewel ek elke dag bewus was dat ek myself raakbyt en nie die mondulkus gesond kon kry op my eie nie, het die depressie my gekeer om by die tandarts uit te kom. Toe ek wel daar uitgekom het, het die tandarts dit nie herken as 'n kankerulkus nie. Eers toe ek my huisdokter besoek het, is die diagnose gemaak. Teveel water het in die see geloop voordat ek by die spesialiste uitgekom het. Gelukkig was daar net verspreiding van my mond na die limfkliere in my nek en nie na die ander organe van my liggaam nie. Dit maak prognose soveel beter,  maar maak nie dit wat ek moet deurmaak makliker nie.

Deur die feit dat ek my storie so openbaar maak, kry ek ongelooflike ondersteuning van uit alle oorde. Dit gee my die krag om deur te druk en nie moed op te gee nie. Dit is definitief nie maklik nie en stel hoë eise aan my en my familie, wat saam met my deur hierdie beproewing moet gaan. Hendrik het baie begrip, aangesien hyself deur 'n nagmerrie ondervinding gegaan het met kolonkanker.  'n Mens kan nie help om te vra, hoekom moet dit weer met ons gebeur nie? Ons wat 'n relatiewe gesonde lewe lei, gesond eet, min alkohol, rook nie, matige oefening ensovoorts. Wat het ons gedoen om dit te verdien? Ek probeer my kop skoon hou van allerlei gedagtes wat my in kringe laat dink. Ek wil nie oor goed top waarvoor ek nie antwoorde het nie. Ek moet net positief bly en glo dat ek die kanker kan oorwin. 

Ek  is nou by die drie weke merk, my behandeling strek oor drie-en-dertig dae, vyftien daarvan is afgehandel. Dit word moeiliker, want die bestraling veroorsaak mondsere, in my geval in my keel, wat sluk baie moeilik maak. Dit lyk soos 'n apteek hier by ons, alles om my aan die eet te hou. Ek is weer terug op Nutribullet etes😉, want kou is moeilik en met 'n seer in my keel, is sluk ook 'n nie maklik nie. Ek is ook doodsmoeg en slaap almeer deur die dag, maar ek moet elke dag, behalwe Saterdag en Sondag,  aanmeld by die hospitaal vir 'n bestralingsessie. Dit is nie maklik nie, maar ek moet net deurdruk! Die einde van die behandeling kom nou in sig, dan 'n ses weke hersteltyd en hopelik kan ek daarna weer iets van die ou Ronel in myself raaksien.