Saterdag 10 November 2012

Ons lewe in die Hutt Valley

Terwyl ek hier sit en skryf (tik), luister ek na klappers en ander vuurwerke van die bure, want dis mos weer Guy Fox Day (een of ander tyd). So gaan dit nou voort tot na Nuwe Jaar. Hier is vuurwerke nie verbied soos in baie ander lande nie. Dit is maar 'n frustrasie en ek kry die diere jammer. Gisteraand toe dit begin het, het ek 'n kat gehoor wat aanhoudend geskree het. Vanaand is hy seker toegemaak, want hy is stil. Pauline het ook verlede jaar gekla oor haar kat wat totaal angsbevange raak as die vuurwerke begin en sy moet haar 'n kalmeermiddel ingee.

Ek moet sê, Hendrik se koms maak so groot verskil aan ons lewens. Hy werk mos nie en hou darem die huis aan die kant, was die klere en skottelgoed, dra die vuilgoed uit en help met die kosmakery. Dit moes ek alles doen voor hy gekom het. Dis ook vir ons lekker om weer ons lewens met hom te deel en dinge saam met hom te doen. Tot nou het ek elke Maandag gewerk en dis Rialeen se afdag en sy kon dit saam met haar pa spandeer.

Hierdie week het Hendrik begin om klas te draf by die Weltech om homself besig te hou, tussen mense te kom en om sy kanse vergroot om so gou as moontlik werk te kry. Hy doen 'n somerkursus in IT en Projekbestuur. Hy klink heel opgewonde na sy eerste week se klasdraf. Dis 'n 12 weke kursus en eindig in die middel van Februarie.

Vir my lyk Hendrik gelukkig en ontspanne. Hy beweeg rond met die hulp van 'public transport' (soos ons ook in die begin gedoen het) of stap om te kom waar hy wil wees. Hy gaan gereeld na die biblioteek in Petone en lees die koerante daar en neem op bestelling vir ons boeke uit of neem boeke terug. Hy gaan ook na die Wellington biblioteek in die stad met die trein. Mc Donalds is om die hoek en hy kan daar koffie en 'n appelpastei of koffie en 'n muffin vir $5 koop. Hy gaan haal vir ons fonteinwater by die fontein hier in Petone of stap Pack n Save (ons Pick n Pay) toe om die daaglikse melk, brood en ander benodighede te koop. Dan doen hy ook meeste van die takies by die huis. Hy lees baie en het al klomp van die wandelpaaie hier in die omgewing gestap. Dis die voordeel van Wellington. Hier is altyd iets om te doen, dis gratis en veilig. Die museums, kunsgallerye, parke, botaniese tuine, natuurreservate ens vra geen toegangsfooi. Dis net by die dieretuin en Zealandia waar 'n toegangsfooi betaal word. Niemand kan kla dat hul verveeld is hier in Wellington nie.

Vanoggend het ons besluit om langs die Hutt Rivier te gaan stap. Die Hutt Rivier vloei vanaf Wellingtonhawe hier in Petone (wat ek Petone beach noem) vir ses-en-vyftig kilometer tot verby Upper Hutt. Die area waar ons woon is bekend as die Hutt Valley en is verdeel in Lower en Upper Hutt wat deel vorm van die Groter Wellington. Petone is 'n voorstad van Lower Hutt. Die hele gedeelte lê langs die Hutt Rivier. Daar is 'n wandelpad wat langs die rivier loop vanaf die strand by Petone tot Upper Hutt, altesaam seker dertig kilometer in totaal. Hendrik en Rialeen het een oggend, kort nadat hy gekom het, die eerste gedeelte tot by Melling gestap. Ons het dus vanoggend tot by Melling gery en daarvandaan gestap vir so negentig minute en toe omgedraai. Drie ure later het ons koffie by die Mellingstasie gekoop. Die weer het saamgespeel en ons het goeie oefening gekry!
 
Hier het ons stap begin en ge-eindig (met 'n koppie koffie)
 
 
 
 
 
 
 'n Blaaskansie by die parkie
 
 
 Oral langs die pad is huise sonder enige omheining en die agtertuin loop dus uit tot op die rivierbank.
Hier het ons besluit om om te draai en terug te stap. 'n Volgende keer sal ons weer hier begin en verder opstap tot ons by Upper Hutt uitkom.
 
 Ons het oor die brug gestap en aan die anderkant van die rivier terug gestap.
 Die rivier vanaf die brug afgeneem
 
 
 
 
 Oral langs die pad is piekniekplekke. Op die onderste foto het mense ingery tot op die droë gedeelte van die rivierbank en daar hou hul piekniek (ek dink nie dis wettig nie).
  Naby die Mellingstasie is die 'skate park' vir die kinders
 
 En terug by ons karretjie

Na 'n middagete van gisteraand se oorskietkos, het ons gestort en gaan fliek by Light House, om die draai van waar ons woon en die fliek 'The Intouchables' gesien (uitstekende fliek!). Hier kan 'n mens 'n glas/bottel wyn koop by die teater en dit drink terwyl jy fliek.  Ek het 'n glasie wyn geniet en Hendrik 'n vrugtesap (boring!). Daarna  het ons 'n pizza gaan koop by Hell.

As iemand nog wonder hoekom ek so verlief is op Wellington, moet hul maar self kom kyk en dit kom ervaar.

Saterdag 27 Oktober 2012

Dis ons lewe... Labour weekend 2012

Hendrik het uiteindelik hier by ons aangesluit! Vir ons gaan die lewe nou rustig voort hier in Petone. Dis maar 'n normale lewe met alledaagse roetines, werk, kosmaak en huisskoonmaak. Ek het al minder die behoefte om verslag te gee van ons doen en late hier in New Zealand, maar ek weet daar is familie en vriende wat graag my blog volg om op die hoogte te bly met wat in ons lewens aangaan.

Ek was net aanmekaar siek vandat ons hier ingetrek het. Omdat ek nie 'n permanente aanstelling het nie, is ek nie geregtig op betaalde verlof of siekverlof nie. Die wet bepaal dat hul my agt persent meer moet betaal om te kompenseer vir die verlofsvoordele wat ek verbeur. Dit bly maar hard, want ek werk die heel week, dokter myself en rus naweke. Ek het twee naweke, voordat Hendrik gekom het, letterlik om geslaap van die Vrydagmiddag tot Sondag met koors en pyn. Dit beteken dat ek nie by my blog uitkom nie.

Dit gaan beter met my gesondheid, maar ek hoes nou al vir ses weke. Dit lyk of dit kinkhoes kan wees. Een kind by Tawa het kinkhoes (en natuurlik sal ek dit aansteek), maar die dokter dink dit kan ook net 'n nagevolg wees van die lang gesukkel met boonste lugwegontsteking of asma. Sy het 'n 'inhaler' voorgeskryf, maar het nie oortuig geklink dat dit asma is nie, ek ook nie. Ek was vir jare (tot ek omtrent 30 geword het) 'n asmalyer, maar het vir jare nie enige simptome gehad nie. Ek ken dus asma en glo ook nie dat dit asma is nie. Ek voel nie meer so siek nie, dis net die irriterende hoesbuie wat my klaar maak en in die nag wakker maak.

Hendrik se koms was ook vir my stresvol. Ek het nie geweet of ons mekaar sal kan vind na so 'n lang tyd appart nie. Dit was moeilik om gewoond te raak aan iemand in my persoonlike ruimte die hele tyd en snorkend in my bed. Ons het aanvanklik ook net 'n enkelbed gehad. Na dae se rondloop en soek na die regte bed, na die voorskrif van die chiropraktisyn wat ek sien en binne ons budget, het ons darem 'n dubbelbed. Hendrik het vir 'n week vir sy broer, Frederik, in Auckland gaan kuier, met sy terugkeer gaan dit beter en leef ons weer soos altyd saam in een huis.

Dit is lekker dat als vir hom nou weer nuut is. Dit sit die vakansie gedeelte voort vir ons hier in New Zealand. Die kar dra ook daar toe by dat ons kan ry na plekke waar ek en Rialeen nog nie was nie. Hierdie naweek was 'n langnaweek. Ons wou eers Napier toe ry en daar oorslaap, maar die weervoorspelling was nie baie rooskleurig vir die naweek nie en ons het daar teen besluit. Ons het op die einde Sondag Masterton se kant toe gery. Ek en Rialeen was al daar met die trein, maar ons was lus om op die dorpies tussen in te stop. Na alles was die weer nie sleg nie, net winderig die tyd van die jaar. Ons kon net sowel maar Napier toe gery het.

In Greytown het hul 'n Kunstefees aangehad en ons het daar rondgehang. Dis 'n pragtige toeriste dorpie. Ons was baie beïndruk met die plekkie. Daarna is ons Masterton toe en het hoofsaaklik tyd in die Queen Elizabeth Park spandeer. Ons het met die Wairarapa pad teruggery en in Martinborough gestop. Dit is hierdie omgewing se wynroete. Daar het ons 'n baie lekker laatmiddagete geniet, wyn geproe en olyfolie gekoop. volgende keer sal ons 'n dag daarvan maak en die wyn- en olyfplase self besoek.

Ek is besig om vir elke pos wat hul hier in ons omgewing adverteer, aansoek te doen. Hendrik is ook heeldag op die rekenaar om werksmoontlikhede te ondersoek. Hy is by twee agentskappe op en het darem al een onderhoud gehad, maar intussen hou hy nog vakansie, leer die kultuur en mense ken.

Ons het gelukkig Maori-bure wat baie vriendelik is. Die een het 'n mooi groente tuin en Hendrik het ons komposmaker gaan haal by die huis in Johnsonville. So, die twee het darem iets om oor te gesels. Die ander ou werk by St Vincent se 'opshop'. Hendrik het hom ook al daar raakgeloop en hy sal vir ons uitkyk vir 'n boekrak. Hier is 'previously loved' baie gewild: tweedehandse klere, boeke, meubels, kombuisware ens word deur almal gekoop. Hier is ten minste vyf 'charity' winkels en vier antieke winkels net in Jackson street.
Greytown 

 Ek (soos gewoonlik) besig op my foon - gesels met Hannetjie in Auckland. Gelukkig is die doodskis leeg en deel van 'n kunsuitstalling waarna ons gekyk het in die dorp se burgersentrum. Lyk vir ons soos skoolkuns.








 Koek en tee in die tuin van 'n oulike café met die heerlikste gebak.

Masterton
Queen Elizabeth Park




 'n Foefie-slide vir die kinders










Martinborough 


Lyk ons nie gelukkig nie?
Heerlike laatmiddagete geniet in Café Medici met 'n glasie heerlike New Zealandse wyn