Saterdag 07 Junie 2014

Vakansie in Dunedin

Gelukkig het ek mos nou 'n voltydse werk en is ek geregtig op betaalde vakansieverlof. Omdat ek vir 'n Dagsorgsentrum werk, kry ons nie skoolvakansies af soos wanneer jy vir die onderwysdepartement se kindergartens werk nie. Ek probeer soveel moontlik van my dae spaar vir 'n besoek aan Suid-Afrika volgende jaar, maar ons het 'n besluit om die tradisie om 'n paar dae rondom my verjaardag weg te gaan, voort te sit. My verjaardag val saam met die Koningin se verjaardag (Queen's Birthday) wat 'n openbare vakansiedag is op die eerste Maandag van Junie. Ek het die Dinsdag verjaar en ek hoef mos darem net vier dae verlof in te sit vir nege dae verlof. Dis my verjaardsdaggeskenk. Ons het dus vroegtydige begin bespreek om op my verjaardag (na die langnaweek) af te vlieg Suid-Eiland toe. Dis 'n lang vlug, want ons moes in Christchurch oorklim op 'n kleiner vliegtuig na Dunedin.

In die meer as drie jaar wat ek hier in New Zealand woon, het ek herhaaldelik gehoor hoe mooi dit is daar onder aan die suidpunt van die Suid-Eiland en ons was nie teleurgestel nie. Ons is verras met heerlike sonskynweer en geen reën nie. Dit het die vorige week lekker gesneeu hier in die Otago-streek waar Dunedin geleë is. Hendrik het vir ons elkeen 'n sneeubaadjie gekry by die hospice winkel nadat die slimmense ons vertel het hoe koud ons gaan kry. Wonder bo wonder was dit glad nie koud nie en ons het nooit eintlik 'n behoefte gehad om sneeubaadjies te dra nie. Die sneeu wat ons gesien het was ook maar bittermin.  

Uitsig oor die Middestad
Dis warm sonskynweer toe ons Dinsdag daar aankom. Ons het binne loopafstand van die strand af in 'n motel oorgebly.
St Kilda Beach
Dis nie sneeu nie, maar sneeuwit sand op die strand




 Hardloop! Daar kom die brander...
Hendrik sê die Suidpool lê agter daardie eilandjie.
My sexy man, Hendrik :)


... en branderplankryers

Ons het al langs die Otago Peninsula gery na die Larnach Kasteel en later na die Royal Albatros Centre. Ek het natuurlik honderde foto's geneem, maar sal jul nie daarmee verveel nie.
 Larnach Castle




 Die koningin op haar troon
 Heerlike lemoen-sjokolade koek in die luukse cafe
 Cheese...










Daar is nie 'n grieseltjie stres in jou oor as jy al hierdie natuurskoon beleef het en al die varslug ingeasem het nie! Wow! Ons is so bevoorreg en geseënd om so 'n vakansie te kan bekostig en ervaar.

Zealandia

In Wellington is ons bevoorreg dat meeste van die toeriste aantreklikhede geen toegangsfooi vra nie. Ons kan dus wonderlike museums soos die Te Papa, The Dowse kunsmuseum in Lower Hutt en Pataka in Porirua weer en weer gaan besoek. Daar word egter 'n toegangsfooi gevra by die dieretuin, Zealandia en Staglands waar dit oor natuurbewaring gaan en die instandhoudingskostes baie hoog is.

Een keer per jaar is daar 'n Sondag wat almal gratis toegang kan kry tot hierdie besienswaardighede deur 'n klein donasie vir liefdadigheid te gee. Dit word die 'Gold Coin Day' genoem. Hierdie jaar het ons besluit om Zealandia toe te gaan. Ons wou nog altyd gaan, maar agv die toegangsfooi het ons bly uitstel.

Dit het ge-eindig in groot pret met public transport, wat ek mos nie meer eintlik gebruik vandat ek 'n kar het nie. Daar word aanbeveel dat jy nie jou kar gebruik op die dag nie agv 'n gebrek aan parkering. Ons is mos nou nie meer geoefen met die oorklimmery van treine na busse nie en het so baie tyd vermors in 'n rut wat ons twintig minute kon neem met die kar. Eerstens het ons die trein met 'n paar sekondes verpas en moes 'n halfuur wag vir die volgende trein. Toe ons in die stad kom, mis ons die bus met 'n paar minute en moet weer daar twintig minute sit en wag. Dit het ons omtrent een-en-halfuur gevat om daar uit te kom. Daar aangekom, is daar 'n oorvloed van parkering, want almal kom met die bus daar aangery. 

Zealandia is 'n 'wildlife eco-sanctuary' en 'n groot toeriste aantreklikheid (nie ver van waar ek werk nie) in Karori. Dit bestaan uit 'n omheinde en beskermde area van 225 ha waar die natuurlike biodiversiteit van die omgewing herwin word. Die ekosisteem van New Zealand is versteur toe landdiere ingebring is. Deur die omheining word alle uitheemse diere soos muise, rotte, possums en ander knaagdiere uitgehou en kan die plantegroei herstel en die inheemse voëls, reptiele en ander insekte in vrede aanteel (soos ek dit verstaan).

Omdat ons nie die dag kon kies nie, was dit maar 'n woeste winderige dag en reën was voorspel, maar gelukkig het die reën nooit gearriveer nie. Dit was plek-plek maar erg modderig agv reën gedurende die vorige dae, maar ons het dit baie geniet en die dag afgesluit met 'n toebroodjie, vrugteslaai en 'n koffie by die cafe. Daarna het ons die langpad huis toe aangepak en was meer suksesvol met die rut terug. Die trein- en busry laat dit voel of ek op vakansie is en bly dus maar pret vir my, iets wat ons nie in Suid-Afrika kon doen nie.

Little Shag/Kawau paka

 Takahē, 'n voël wat nie kan vlieg nie en in daar is gedink dat dit uitgesterf het, maar in 1948 is dit herontdek naby een van die mere op die Suid-Eiland.



 Kaka, New Zealandse papegaai

















Maandag 10 Februarie 2014

Drie Jaar in New Zealand!

Nou ja, ons het die drie jaar mylpaal bereik, ek en Rialeen. Ek wil nie sê, ons is nou goed ingeburger nie, maar ons gaan stappie vir stappie voorentoe. Ek dink Rialeen is meer gevestig as ek en Hendrik. Dit is seker makliker vir 'n jongmens om aan te pas en in te 'blend' as op my ouderdom. 

Rialeen het 'n permanente werk in die stad by die 'General Practitioner' as 'n sjef. Hul is bekend as 'n 'premium gastropub' en bedien  'A La Carte pub food' en het al verskeie New Zealandse pryse gewen vir hul kos. Bars/pubs is nie iets wat Suid-Afrikaners eintlik ken nie, maar is dit baie algemeen in New Zealand. Meeste bars bedien 'craft beer' en ander hardehout wat nie in cafés of ander eetplekke bedien word nie.

Die naam van die Restaurant verwys na die geskiedenis van die gebou waarin hul is. Die gebou is in 1902 deur Dr Henry Pollen opgerig wat 'n algemene praktisyn was. Dit is 'n drieverdieping gebou wat hy as sy spreekkamer en huis gebruik het. Die grondvloer was die spreekkamer en hy en sy gesin het bo gewoon.

Rialeen klink heel gelukkig met haar nuwe werk. Dit is maar 'n stappie in die regte rigting vir haar. Sy het uiteindelik haar neering gevind en dit verskaf haar groot plesier. Sy en Tim is ook nog saam en lyk baie gelukkig. Sy praat nou 90% van die tyd Engels en het al 'n goeie Kiwi-aksent aangeleer. Sy praat net Afrikaans as sy alleen by ons is, as Tim by is, praat almal Engels. Sy het baie planne en drome vir haar toekoms, maar sy besef dat sy onder moet begin.

Soos jul seker al weet, het ek ook uiteindelik in 'n permanente werk gevestig geraak. Dit gaan nog stadig, maar seker. Dis nou presies 'n maand gelede wat ek begin het, maar omdat ek so lank daar afgelos het, voel dit baie langer. Ek het net geen administratiewe verpligtinge gehad terwyl ek afgelos het nie. Ek was nie deel van die beplanning of voorbereiding nie. Ek het elke dag net ingestap, my werk gedoen en huis toe gegaan. Ek het so bietjie tyd spandeer aan idees vir aktiwiteite en gereeld boeke by die biblioteek uitgeneem om voor te lees, maar ek hoef nooit 'n vergadering na werk by te gewoon het of iets op papier neer te geskryf het nie. Dit is nog 'n stresvolle proses vir my om hieraan gewoond te raak. Omdat die organisasie vir wie ek werk so groot is en kleuterskole in al die groot stede van New Zealand het, is daar baie papierwerk om sogenaamd die gehalte van die onderrig te kontroleer. Dit is maar 'window dressing' wat my betref.

Ek geniet die werk baie. Dit is 'n uitlating vir my kreatiewiteit en natuurlik geniet ek die kinders baie. Ek is maar kort van draad en kwaai soos Suid-Afrikaanse juffrouens maar is. Hier kan hul vreeslik mooi praat en redeneer met die kinders. Ons het nie so grootgeword nie en ek vind dit nog baie moeilik. Party kinders is maar moeilik, omdat hul in kleuterskole grootword en soggens vroeg afgelaai word en op die laaste nippertjie weer opgelaai word. Hul soek dus aandag al is dit negatiewe aandag. Die weer is ook 'n faktor, want daar is gedurig dae wat die kinders vir lang tye nie buite kan speel nie, soms vir 'n hele dag. Die binneruimte is beperk en dan begin die kinders stry en knou mekaar af. Dan is daar natuurlik die verpligte uur rustyd na middagete wat meeste kinders van 4 jaar nie waardeer nie. Hul kyk hoe ver hul jou kan dryf met allerlei geluide, aanhoudende gevraery om toilet toe te gaan, rondgooi van hul kussings of beddegoed ens. 'n Mens se geduld word dus maar soms beproef.

Ons is dus nou goed gevestig hier in Wellington. Rialeen woon net om die hoek van ons af en het 'n mooi groente tuin wat sy goed versorg. Ons huur nog 'n woonstel, maar die eienaar is hard besig om dit op te knap. Op die oomblik is hul besig om die dak te herstel en die buitekant te verf. Ons is baie gelukkig hier (soos ek al baie gesê het). Dis sentraal, loopafstand van al die nodigste besighede, flieks, eetplekke en die strand. Die busstop is om die draai en die stasie bietjie verder. Ons kan boerewors en biltong koop by die winkel waar Rialeen voorheen gewerk het en dit is twee blokke van ons af. Wat wil ons meer hê?

Ons is ook nou gevestig by 'Arise Church' wat 'n onafhanklike kerk in die stad is. Hul beskryf hulself as 'n studente bediening, maar daar is baie 'ou'mense soos ons. Hul het so pas 'n stuk grond hier in Petone gekoop, binne loopafstand van ons af, waar hul hul eerste kerkgebou gaan oprig. Op die oomblik hou hul dienste in die teaters in die middestad. Dit is 'n baie groot en lewendige bediening. Iets wat my in Suid-Afrika nie baie aangestaan het nie, maar hul het my van my voete afgeslaan met hul meelewendheid en warmte. Hul het ons nie 'n groot keuse gegee nie en ons is onwetend ingetrek en nou wil ons nie meer daar uitkom nie. Ons geniet die dienste en ander byeenkomste baie. My Amerikaanse kollega, Emily, wat met 'n Suid-Afrikaanse man getroud is (wat SA verlaat het en Amerika toe is toe hy 9 jaar oud was en nou nog vlot Afrikaans praat) het ons genooi om 'n diens daar by te woon saam met hul en nou ja, die res is geskiedenis.

Hendrik is ook nog besig met volunteerwerk by die Hospice winkel hier in Petone. Hy het daar ook goeie vriende gemaak en so ingeskakel geraak in die gemeenskap. Hy doen op die oomblik vir hul afloswerk in die plek van sy vriend, Ian, wat op verlof is en toe 'n beentjie in sy voet gebreek het. Hy sal dus vir 'n langer tydperk afwesig wees as beplan. Hendrik het dus hierdie week sy eerste 'pay cheque' gekry wat handig te pas gekom het na die onbetaalde vakansiebreuk wat ek gehad het in Desember. Sulet se kuier het ook bygedrae tot 'n paar ekstra uitgawes. Gelukkig is ek nou permanent aangestel en is geregtig op betaalde verlof.

Soos jul kan sien, skryf ek ook minder op my blog, want die lewe gaan aan en die vakansie gevoel is nou verby. Hierdie is nou ons lewe en ons moet sorg dat daar kos in die kaste is, en die krag, telefoon en huur betaal word. Ons lewens is dus nou weer in die 'rat race' vasgevang en ons moet probeer om te oorleef. Gelukkig is ons kinders groot en is dit net ons twee waarvoor ons hoef te sorg. Behalwe vir die weer, is New Zealand 'n fees! Nie een van ons sal ooit weer permanent in Suid-Afrika gaan woon nie. Ek is net dankbaar dat ons die groot stap geneem het. Elke oomblik se stres en elke sent wat ons spandeer het, was die moeite werd!