Saterdag 31 Maart 2012

Ek's terug!

Julle dink seker ek het van die aardbol af verdwyn, maar nee, ek is nog hier, net baie besig. Besig is 'n 'goeie' woord. Dit beteken ek verdien geld. Vandat Hendrik kom kuier het, het ek net nie kans gehad om by julle uit te kom nie. Dit het so woes gegaan terwyl Hendrik hier was, want ek het net by die nuwe daycare centre begin werk (ja, ek werk nou by 'n ander 'skool') en met Hendrik hier, was daar net nie tyd om te blog ook nie. Sederdien het ons lewens net totaal verander en tussen busry, werk, kosmaak, wasgoedwas en probeer om die huis skoon te hou en in die winkels drentel (om geskenkies te koop vir die familie in SA, want ek gaan binnekort kuier), is daar nie eintlik tyd of energie vir baie ander dinge nie.

My kop was maar leeg en dis net of ek nie geweet het wat om te sê nie, veral as mens agterkom dat die mense vir wie ek eintlik skryf, nie juis die moeite doen om my blog te lees nie en ander gedagtes tussen die reëls lees wat tot konfrontasies lei. Nou ja, in ander woorde, ek was 'n bietjie afgesit om te blog, omdat ek mense na aan my ontstel met dit wat ek skryf en hulle tot die gevolgtrekking gekom het, dat dit nie eintlik só goed met my gaan in New Zealand as wat ek probeer voorgee nie.

Maar ek kan jul verseker dit gaan só goed met my. Ek dink nie ek het al ooit in my lewe so goed gevoel nie! Ek werk hard en het nie tyd om te top en dink oor nonsens nie, maar ons maak nog tyd om uit te kom en dinge te doen wat vir ons lekker is. Ek verslind boeke, want ek spandeer nou twee ure elke dag op busse en by busstoppe (lekker leestyd en die biblioteek is vol van die nuutste en beste boeke. Kos my nie 'n sent nie!). Daar is laagtepunte, maar dit voel vir my of ons vorentoe begin beweeg, ingeburger raak en die lewe voel nie meer die hele tyd soos 'n vakansie nie maw Wellington word nou waarlik soos 'ons tuiste'. Dit voel nie meer soos iets tydelik wat verby sal gaan en dan moet ons 'huis toe' gaan nie. 'Huis' is nou hier, nie soos in, Cortina Avenue, Johnsonville nie, maar New Zealand en spesifiek op die stadium Wellington. Ek gaan binnekort in Suid-Afrika kuier. Daar is geen gevoel van 'huis toe gaan' nie, want ek het nie meer daar 'n huis nie en gaan 'n gas wees by familie en vriende. Hendrik woon by sy broer in Krugersdorp en ander mense woon in ons huis. So, 'ons huis' is nou verseker hier.

Hier waar die gedreun van die wasmasjien, die geraas van busse in die straat, die bure se gepraat in Hindi, hul baba wat huil en die gepiep van die mikrogolf (om my te roep as ek nie betyds daar is om my opgewarmde koffie daaruit te haal nie). Ander nuwe geluide en reuke, meubels, huisgereedskap ens waaraan ons gewoond moes raak en wat nou die bekende is, ons geluide, ons reuke, ons besittings, my en Rialeen s'n.

Dit bly natuurlik die minder lekker deel van ons lewe in New Zealand. Dis die deel wat uit my hande is en wat ek nie kan verander nie. Ek het alles probeer, maar Sulet bly nog in Pretoria en Hendrik het kom kuier (om ons te troos), maar het nog nie 'n plan om hierheen te kom nie. Hoewel hy elke kort-kort laat deurskemer dat hy wil kom, maar die vraag bly 'wanneer' en hoe lank kan 'n mens so aangaan en dit nog 'n huwelik noem? Dit is die onbeskryflikste, magtelose gevoel, maar ons lewe gaan aan hier in New Zealand.

Sulet het daarmee vrede gemaak. Sy gun my nou die geluk wat ek hier ervaar, al is dit vir haar moeilik dat ek so ver van haar is. Ons chat, sms, email en praat soms op die foon. Die afstand tussen ons het ons tog op 'n weird manier nader aan mekaar gebring. Ons waardeer mekaar meer, 'n mens praat ook soms makliker in geskrewe woorde (wou se op papier, maar ons skryf nie meer op papier nie, maar op skerms).

Ek is nie 'n vreeslike sosiale mens nie en dit vat my jare gewoonlik jare om mense wat ek ontmoet, vriende te noem. Hier het dit my verstom hoe gou 'n mens so in die vreemde hegte vriendskappe smee met mense wat eens op 'n tyd in dieselfde bootjie as ons was (oor kultuurgrense) of ook nuwe inwoners van New Zealand is. Almal wil hul ervaringe met jou deel, het empatie, gee raad, bied hulp aan ens. Ek het vriende gemaak met mense wie ek nooit in Suid-Afrika mee sou vriende wees nie agv die manier hoe ons na die lewe kyk, maar hier het ons iets anders ingemeen wat ons bymekaar uitbring.

Op die oomblik leef ek vir die dag wat ek op die vliegtuig klim om almal vir die eerste keer in meer as veertien maande te sien, om die warm Afrika-son op my te voel, te luister na donderweer in die nag, omring te wees deur die miljoene mense van Afrika, op besige paaie te ry en groot malls te besoek. Ek wil 'n reuse groot Spur T-bone gaan eet (New Zealanders weet nie hoe om vleis gaar te maak nie!), 'n red cuppaccino drink, sushi gaan eet (om seker te maak of New Zealand s'n regtig lekkerder is), natuurlik 'n Wimpy koffie drink en ek kan nie wag om 'n tjoppie te eet wat Philip vir ons op die vuur gebraai het nie.

Sondag 29 Januarie 2012

'n Terugblik op ons eerste jaar in Wellington

Op die agste Februarie sal ons 'n jaar in New Zealand wees en ek kan met alle sekerheid sê, ons lewe in New Zealand is bo-normaal gelukkig. Ek dink nie ek kon soveel vreugde gedurende 2011 in Suid-Afrika ervaar het nie. New Zealand is vir my soos 'n groot vakansie-oord wat ek moet eksploreer en wat ek ten volle wil geniet. Elke dag het iets nuuts ingehou om te doen, te ondek en die euforie in my wakkker te hou. Dis soos 'n nuwe liefde in jou tienerjare. Elke oomblik daarvan word deur al my sintuie beleef. Miskien is ons nog in die 'honeymoon' fase (soos sommiges dit noem) en sal ons meer realisties raak met verloop van jare, verliefdheid kan oorgaan in ware liefde of ontnugtering. Dit kan ons nie nou al voorspel nie.

2011 was gevul met allerlei nuwighede waaraan ons nie gewoond was nie en waarby ons moes aanpas. Daar was nuwe geluide asook onbekende stiltes. Hier hoor ons nie honde blaf nie, want as jou hond blaf en die bure kla, word jy beboet en jou hond weggevat en in pleegsorg geplaas. Ons hoor nie donderweer nie en die geluid van harde reën wat heel nag val nie. Ons moes gewoond raak aan nuwe voëlgeluide, busse wat in ons straat ry, boy racers wat in die nag in die strate jaag en die geluide van die Wellington wind wat teen stormsterkte waai. Oral waar jy kom en op die bus en trein, praat mense in vreemde tale, tale uit die ooste, Spaans, Samoan, Hindi, Frans, Hollands, Duits, Kiwi Engels en Engels met ander aksente. Hier sien jy wat reënboognasie werklik beteken, mense van alle kulture en uit elke land van die wêreld wat in absolute harmonie met mekaar leef.

Lekker eet, bly maar lekker! Hier kry jy kosse van oor die wêreld, Thai, Malaysian, Indies, Sushi en Chinese kos om elke hoek en draai, Franse Cafés, Italiaanse restaurante, Irish pubs (bar, soos hul dit hier noem), Duitse bakkerye, Hollandse kaaswinkels en natuurlik die tipiese, alom bekende New Zealandse cafés wat almal die beste koffie ooit bedien! En New Zealandse wyne, bier, ciders en egte gemmerbier is absoluut voortreflik. Suid-Afrikaanse boerewors kan jy oral koop, sommer in ons local supermark, Countdown. Biltong en droëwors koop ons by Springbok Butchery in Tawa, nie ver van my werk af nie of by Ontrays (die Suid-Afrikaanse winkel) in Petone, daar is geen verskoning om nie lekker te eet in New Zealand nie behalwe dat dit 'n arm en 'n been se prys kos om uit te eet soos seker in enige ander land. Maar ons weet al waar om 'n bargain te kry en gelukkig het hul geen probleem hier dat ons geregte deel nie, hoewel 'doggy bags' 'n vreemde begrip is ('n plastiese bakkie in die handsak kom in sulke gevalle handig te pas). En natuurlik spotgoedkoop vis, salmon en prawns het 'n stapelvoedsel geword vir ons. Gluten free is hier groot en is dus oral beskikbaar in die vorm van hamburgers, pitzas, brood en ander gebak. Vir Rialeen, wat gluten onverdraagsaam is, is dit 'n blessing en sy het 'n paar kilogram aan haar petite lyfie aangesit  (waaroor sy baie bly is) vandat sy meer stysel eet.

In die winter het dit vir die eerste keer in dekades gesneeu in Wellington. Vir ons was dit 'n totale nuwe ervaring. Ek wou net snoesig onder my komberse lê, maar Rialeen het elke oomblik van dit geniet en my uit die bed geruk om die volheid daarvan te ervaar. Die warmder nagtemperature en koue dagtemperature in die winter was vir ons 'n nuutjie. Ek het 'n paar keer goed natgereën omdat ons van openbare vervoer afhanklik is. Die winter het ook allerlei siektes, vir my veral, gebring en ek het dae in die bed spandeer om ontslae te raak van die New Zealandse virusse waaraan my liggaam gewoond moes raak, asook die simptome van tonsilitis en maaggriep.

Party dae waai die wind jou van jou voete af en soms reën dit dae aanmekaar. Dan het ons weer weke van helder, windstil dae ervaar met die pragtigste diepblou, wolkelose hemel. New Zealand is beeldskoon mooi! Dit is soos 'n groot park, van hoek tot kant. Jy kan nie ophou kyk nie. Dis nie net groen nie, maar bottelgroen, die hemel is nie net blou nie maar koningsblou. Die son is nie net helder nie, maar verblindend helder. Ons het geleer om die son te waardeer en ons sit soos die europeërs met ons kaalbene  en arms uitgestrek in die son elke oomblik wat ons kan. Hier kan jy die son geniet sonder die intense hitte in Suid-Afika. 

Die warmte en vermoë van die New Zealanders om mens tuis te laat voel in hul land, was vir my ongekend. Ek word nog elke dag oorweldig deur die ervaring van opregte omgee, tyd en 'n oor om te luister, deernis, empatie, bereidheid om hulp te verleen en verdraagsaamheid teenoor ander kulture, godsdiens en mense met ander leefstyle.

Betroubare, veilige en effektiewe publieke vervoer is definitief ook hoog op my lys. Ons het vir 'n hele jaar sonder 'n kar oor die weggekom en ons het Wellington nou al van hoek tot kant deursoek en bekyk, was af na die Suid-Eiland en op na Auckland, alles met busse, treine en ferries. 

En dan natuurlik die ervaring van veiligheid! Hier is ook misdaad. Daar was twee moorde hierdie jaar in Wellington :-) (dis waar!) Die een, in 'n huis so tweehonderd meter oorkant die straat van ons af (in die eerste week wat ons hier ingetrek het). Klink vir my soos 'n gay-loversdriehoek. Die moordenaar het voor 'n trein ingespring en is ook dood. Die ander moord was in Desember, 'n joernalis wat vyfuur in die oggend van sy kantoor in die middestad gestap het na sy huis, is aangeval deur twee jongmans en oor die kop geslaan (ek dink nie hul het bedoel om hom dood te slaan nie) en sy beursie is gesteel. Die skuldiges is ook binne twee weke gevang. Maar die euforie van veiligvoel, is onbeskryflik. Die kans dat iemand in jou huis gaan inkom en jou goed steel, aanrand, martel, verkrag of doodskiet, is omtrent nul. 

Maar daar was ook pyn, die mees intenste pyn wat ek nog in my lewe ervaar het. Dit het niks met New Zealand te doen nie of met ons lewe hier nie, maar met die feit dat ek my kind en my man in Suid-Afrika agtergelaat het. Sulet se besoek aan ons was die absolute hoogtepunt van die jaar! Maar die oggend toe ons haar moes afsien op die lughawe was die pynlikste ervaring van my lewe. Ek het nooit geweet dat 'n mens 'n emosie as 'n fisiese pyn kan ervaar nie, maar kan nou daarvan getuig. As ek nie beter geweet het nie, sou ek gedink het, ek kry 'n hartaanval so intens was die hartseer.

Dan is daar natuurlik die stryd wat elke vrou met 'n man het. As jy by hom is, weet jy nie altyd wat in sy kop aangaan nie wat nog as jy duisende kilometers van hom af is. Hul mag mos nie oor emosies praat nie en is altyd in beheer van sake. Ek kan nie die magteloosheid beskryf wat ek in hierdie jaar ervaar het in my verhouding met Hendrik nie. In Desember het ek absolute verlatenheid begin ervaar. Ek het gewens dat ek kon vergeet dat ek 'n man het wat in Suid-Afrika woon en dat ek net kon aangaan met my lewe en beplan asof hy die deel daarvan is nie, maar dit is onmoontlik. Ek kon nie van die verlange ontslae raak nie, maak nie saak hoeveel keer ek myself probeer oortuig het dat alles okay is nie. Als was nie okay nie. Die verlange verander in pyn en woede. Hy het beloftes aan ons gemaak en dit verbreek. Dan was daar stiltes en later het ons ook nie meer veel vir mekaar te sê nie, want ons leef in twee verskillende wêrelde. Ek kan syne nie meer verstaan nie en hy weet niks van myne nie, behalwe wat ek hom vertel en wat hy hier lees.

Twee mense het belangrike opmerkings gemaak oor my en Hendrik se verhouding. Iemand het eendag vir my gesê dat ons nie so iets sou aangepak het as ons nie 'n rotsvaste verhouding gehad het nie en Pauline het eendag vir my gevra of ons christene is. Sy het toe opgemerk dat sy verstaan hoekom ons verhouding so 'n afstand kan oorleef. En dan is daar natuurlik liefde. Ek het nog nooit getwyfel oor Hendrik se liefde vir my nie en ek sou nie soveel pyn ervaar het as ek nie regtig lief was vir hom nie. As ek ooit daaroor getwyfel het, was hierdie jaar 'n bevestiging van ons liefde vir mekaar. Ons wag met opgewondeheid na sy koms aan die einde van Maart, maar daar is ook die vrees dat ons albei so verander het dat ons dit nie kan maak werk nie, dat hy nie gaan aanpas nie en gelukkig gaan wees soos ons in New Zealand nie, maar dit is deel van 2012 se beplanning en probleme.

Intussen geniet ek nog die sorgloosheid en onafhanklike lewe sonder 'n man in my lewe (deurnag op my laptop, laatslaap,  ronddrentel in pajamas tot die son al warm skyn, doen en gaan waar ek wil, wanneer ek wil, brood en roereier eet vir aandete as ek wil), Wellingtonse heerlike, reënlose 'somer'-dae met baie wind en sonskyn en temperature wat wissel tussen 15 en 21 grade, ons klein, sonnige huisie, vriendelike bure, die vryheid om veilig in die strate te stap, dag en nag met busse en treine te ry, die layback attitude van die New Zealanders (don't worry, you'll get there maw more is nog 'n dag) en om te probeer oorleef op 'n 'luimens' se  inkomste. 

Dinsdag 10 Januarie 2012

Nog hier en daar in Auckland


CBD van Auckland







'n Reuse boot in die hawe
Voor die skytower
The world's freakiest Santa Clause (soos aangewys deur 'n Amerikaanse webblad)
Ponsonby Road


Western Park in Ponsonby Road



Honde is welkom in alle parke, tel net asb self hul drolle op, tot sakkies word verskaf





Saterdag 07 Januarie 2012

Hier en daar in Auckland


Sonsondergang toe ek Auckland ingery kom met die bus, geneem deur die busvenster met my selfoon 
My eerste dag in Auckland
en die enigste met bietjie blouhemel



Kersfees het ons by die huis met hierdie deur deurgebring in Ellerslie. Ons het die hondjies opgepas terwyl Mildie-hul Australia toe was vir 'n paar dae.
Ons kersfeesete
Kyk na die uitdrukking op Andries se gesig ...
 met 'n skerpsinnige opmerking laat hy ons skater ...

Marnie en Barend se aankoms op die lughawe

'n Park naby die Auckland Museum

'n Wandelpad in die middel van Aucklandstad
Eers seker maak ons is nog op die regte pad
Deur 'n tonnel na ons bestemming in Parnell

Ek, Rialeen en Andries het Tintin gaan kyk by die St Luke Street Mall, maar hierdie foto's is in die sky tower geneem

Burgerfuel maak die heerlikste burgers van beesvleis wat ingevoer word van Japan. Die beeste word daaglik ge-'massage', bier gevoer en klassieke musiek word vir hul gespeel sodat hul die beste vleis kan gee. Dis nie gewone chips nie, maar kumara fries (kumara is wat Suid-Afrikaners 'n patat noem)