Sondag 23 Junie 2013

My ?!ste verjaardag in Picton

Een van die eerste goed wat ons gedoen het toe Sulet in 2011 hier kom kuier het, was om met die ferry oor te gaan na die Suid-Eiland. As jul kan onthou, het ons met 'n Intercity bus gery tot in Nelson en die naweek daar deurgebring en Maandag weer die langtog terug aangepak.

Dit was een van Hendrik se begeertes om ook met die ferry na Picton te vaar. Ons wou dit eintlik oor die Paasnaweek gedoen het, maar hoewel die ferry nie vol bespreek was nie, kon ons nie oornagplek in Picton kry daardie tyd van die jaar nie. Ons het natuurlik weer soos gewoonlik op nommer nege-en-negentig besluit om dit te doen.

Toe ons sien dat my verjaardag op die koningin se verjaardag (Queen's Birthday) val wat op 'n Maandag is en dus vir ons 'n langnaweek gee, het ons dadelik besluit om weer te probeer bespreek. Die keer was ons gelukkig en kon oornagplek in die middel van die dorp kry by 'n motel. Ons het aanvanklik gedink om die naweek net in Picton deur te bring aangesien dit te duur is om die kar vir so 'n kort tydperk oor te vat. Daar is heelwat staproetes in die omgewing wat ons wou verken. Ek het egter longontsteking opgedoen kort voor ons vertrek en was nog aan die herstel. Hendrik het toe besluit dat ons liewer 'n kar sal huur om in die omgewing rond te ry.

Ons het die Saterdagmiddag nadat ons daar aangekom het, Blenheim toe gery en Sondag Nelson toe. Ek het natuurlik weer honderde foto's geneem. Ek kan net nie help nie. Dis net so mooi dat ek nie kan ophou nie.

Ons moes vroeg die oggend al op die ferry wees en kon dus die pragtige sonopkoms oor Wellington aanskou.





En dan laat ons Wellington agter om oor die oopsee te vaar deur Cook Strait wat beskou word as die wêreld se gevaarlikste en mees onvoorspelbare waters, 'n vaart van 70 km wat omtrent 4 ure duur.

Ons verken eers die binnekant van die ferry



en eet 'n Engelse ontbyt.
Dan verken ons die see en die buitedek van die ferry.

Moeg rondgestaan!
Hendrik besig om rugby of krieket scores op sy selfoon te kyk (miskien beplan hy die res van die naweek deur op die internet rond te kyk)
 
'n Dop in die bar op die ferry
Sneeuberge op die Suid-eiland van ver af insig
 
Dan begin ons in die Queen Charlotte Sound (see-end) invaar en Picton se hawe begin sigbaar raak. Daar is groot opgewondenheid, almal wil foto's neem vanaf die buitedek. Die Queen Charlotte sound is bekend vir kalmwaters en dus 'n veilige seilplek.








Die Gateway Motel waar ons oornag het en op die voorgrond die kar wat ons gehuur het.



Pragtige eende!

Ons slaan gou voet deur die toeriste dorpie met sy rykmanshuise en seilbote.






Laatmiddag het ons hierdie foto's vanaf 'n uitkykpunt geneem van 'n ferry wat by die Queen Charlotte Sound ingevaar kom.
Die ferry draai om en vaar dan agteruit in voordat dit geanker word.


Ek sal maar later nog foto's opsit van die naweek se rondryery. Ek weet foto's kan maar boring raak, maar vir my is die blog soos 'n foto-album of 'n dagboek. Al kyk niemand anders daarna nie, kan ek altyd teruggaan eendag en daarna kyk.

Sondag 14 April 2013

Forward in Faith

In Upper Hutt waar ek soms werk, is 'n x-Zimbabwêer, Florence, wat daar 'n onderwyseres is. Ons twee kom baie goed oor die weg, hoewel ons van twee verskillende lande kom, het ons Afrika ingemeen. Ek dink ek verstaan haar kultuur beter as die New Zealanders en sy waardeer dit baie. Sy verstaan natuurlik ook die hele proses om in 'n nuwe land aan te pas, wat weer vir my baie beteken.

So ruk gelede lees ek van 'n kerk wat deur x-Zimbabwêers begin is hier naby ons in Naenae, Forward in Faith Ministries International. Dit is deur Dr Guti in Zimbabwe begin en hul het nou gemeentes in 120 lande van die wêreld oa Australia en New Zealand. Hier is gemeentes in al die groot stede: Auckland, Christchurch, Palmerston North, Wellington en Dunedin. Hul lei mense op in Zimbabwe wat dan weer uitgestuur word om gemeentes te begin in ander lande. Die pastoor van die gemeente hier in Naenae is 'n wit Australiander wat getroud is met 'n vrou van Sri Lanka wat ook in Zimbabwe opgelei is as 'n pastoor.

As ek na die gesing van die Tonga-mense in die kerkie hier agter ons luister, verlang ek na die natuurlike ritme, dans en gesing van die swartmense van Afrika waaraan ek blootgestel was by die skole waar ek in Suid-Afrika gewerk het en natuurlik ook as 'n kind, want my pa was 'n sendingpredikant in die Gereformeerde kerk en ons het dikwels saam met hom Mamelodie toe gegaan vir kerkdienste.

Om 'n lang storie kort te maak. Die week het ek weer in Upper Hutt saam met Florence gewerk. Ek vra haar toe of hulle lidmate van die kerk in Naenae is en sy nooi my dadelik om Sondag die diens daar te gaan bywoon. Dit vat toe ook nie veel om Hendrik te oortuig om saam met my te gaan nie. Wat 'n ervaring! Natuurlik 'n bietjie teveel vir ons wit suid-Afrikaners. 

Toe ons teen 9h30 daar aankom, loop ons Florence in die parkeerterrein raak en sy moet ons dadelik aan almal gaan voorstel. In die kerk is daar reeds 'n groot gesing aan die gang. Ons vind toe ook uit dat daar 'n pastoor en sy pastoor vrou van Zimbabwe kom vir 'n besoek aan die gemeente en dat hul 'n groot partytjie gaan hou vir die twee. Almal is so gasvry en vriendelik en kom om ons te groet en te gesels. Ek en Hendrik voel meer lus om in ons kar te spring en weg te hardloop, maar daarvoor is daar nou nie meer 'n kans nie.

Ons word saam met die eregaste welkom geheet, genooi om saam te eet, aan elke pastoor daar persoonlik voorgestel en op die einde geniet ons onsself gate uit! Ons ontmoet 'n kleurlingvrou en haar kinders van Kaapstad wat al tien jaar in New Zealand bly, 'n man en vrou albei van Zimbabwe, maar hul het mekaar hier ontmoet, getrou en woon al twaalf jaar in Auckland, 'n man van Hamilton wie se vrou vir immigrasie werk en mense help om werk te vind hier in New Zealand en Florence se man, John, wat 'n skoonmaakdiens hier in Wellington het. Daar is ook mense van Samoa en Tonga wat gemeentelede is. Ons ontmoet ook 'n man wat van Christchurch hierheen verhuis het. Na die aardbewings daar het die fabriek waar hy gewerk het, toegemaak en is hy hierheen oorgeplaas. Hy kom van een van die eilande tussen Samoa en Tonga. Hy vind aanklank by die Afrika ritme en sang in die gemeente. Sy vrou sien nie daarvoor kans nie. Sy tienerjarige dogter was saam met hom, maar sy het ook nie baie gemaklik gelyk nie.

Almal toon empatie met Hendrik se werksoekery en gee raad, eposadresse word uitgeruil en John vra of hy en Florence eendag by ons 'n koppie tee kan kom drink. Teen 14h30 is ek en Hendrik poegaai geëet en gekuier en besluit ons om huiswaarts te keer, maar ons word terug geroep vir nagereg. Toe ons uiteindelik regkry om ons weg te skeur, word ons geroep om die pastore met die hand te groet en Florence bring vir ons 'n reuse stuk koek om saam te vat huis toe. Ons is seker die klomp het nog tot laatmiddag gekuier, want soos Florence sê, kerkhou is hul lewe.

Hier word nie kerkgehou in tipiese kerkgeboue nie. Hoewel hier baie ou kerke is wat aan die Anglikane, Katolieke, Methodiste en Baptiste behoort, gebruik die moderne, meer charismatiese gemeentes sommer 'n winkel in 'n sentrum en rig dit as 'n oudiotorium in. Die Salvation Army het hul eie geboue met kantore, oudiotorium en oppshop. Die oudiotorium word vir etes, allerlei funksies, troues ens gebruik.

Die gemeente in Naenae het 'n ou vervalle gebou gekoop by 'n winkelsentrum waarin voorheen 'n Countdown Supermark was. Binne 'n jaar het hul meer as $1.5 miljoen ingesamel om die gebou te koop en verbeteringe aan te bring. Hul het net 100 lidmate, maar hul het dit gedoen deur 'n boumaatskappy  te skep om te voldoen aan die bouregulasies hier en deur die skills van hul lidmate te gebruik. Wys net wat kan gedoen word as mense saamstaan en saamwerk!

Tafels is gedek en die ouditorium is versier vir die besoekers
'Welcome to the overseers' op die digitale bord
Die wit pastoor (met die kind) van die gemeente en sy vrou (heel regs) van Sri Lanka.
Die twee pastore in die middel is die besoekers van Zimbabwe.
 Die Wellington gemeentelede verwelkom die besoekers met koorgesang
 Die kamera- en klankman
Wat 'n positiewe Afrika-ervaring in die middel van Wellington, New Zealand!

Donderdag 11 April 2013

Kaitoke Regional Park

Ons woon baie lekker hier in Wellington, "the coolest little capital in the world" (volgens Lonely Planet Best in Travel 2011). Wellington is ook die mees suidelikste hoofstad in die wêreld.  Hier woon ongeveer 400 000 mense, daar is dus nie sprake van oorbevolking nie. Wellington is bekend vir sy prentjiemooi hawe, groen heuwels met rye en rye koloniale villas.

Ons woon in die Hutt Valley wat Lower Hutt en Upper Hutt insluit. Die gedeeltes is geleë al langs die Hutt rivier. Die Hutt rivier vloei vanaf die Tararua Ranges vir 56 km tot by die hawe hier in Petone waar ons woon. Kaitoke Regional Park is geleë langs die rivier en die drinkwater vir Wellington kom hiervandaan.

Hierdie park is een van die eerste plekke wat ek en Hendrik in 2011 besoek het voordat hy terug is Pretoria toe. Rialeen het ook al hier vir 'n naweek gekampeer saam met 'n vriendin en die se verloofde. Dit het die hele naweek gereën en die een tent het gelek en hul 3 het op die einde in een tent geslaap, maar sy het die naweek baie geniet.

As jy hier wil kampeer, sit jy jou geld in 'n koevert en dan in die bussie wat by die kiosk voorsien word, slaan jou tent op en geniet jouself!


Die betaalboksie waar jy jou koevert in moet sit, is skuinsagter Hendrik.









Die kombuis
'n Braaiplaat, jy druk net 'n knoppie dan gaan die krag aan vir 15 minute, heeltemal gratis.

en silwerskoon toilette met toiletpapier in!
Die Kaitoke Cafe en motel is nie in die park nie, maar net om die draai