Sondag 17 Julie 2016

Twee Jaar Later

Kanker is 'n skrikwekkende woord en dis wat op Hendrik en my pad gekom het en daartoe gelei het dat ek nie die krag gehad het om my blog vol te hou nie. Daar is tye wat mens ook nie als wat in jou lewe aangaan met almal wil deel nie. Tyd bring heeling en dan kan mens meer objektief terugkyk na gebeure. Vir my is praat en skryf heeling, om met ander my emosies en gedagtes te deel, is terapie. 

Daar het so baie in twee jaar gebeur. Ek het gedink dit is al baie langer sedert ek die laaste inskrywing gemaak het en was verstom om te sien dit was net twee jaar. Maar as ek terugkyk weet ek dit was stresvol, maar twee goeie jare. Wonderlike dinge het met ons gedurende die tyd gebeur. Ons was oorval met gebede nadat kanker by Hendrik gediagnoseer is wat hom die krag gegee het om kanker te oorwin. Rialeen het aangekondig dat sy swanger is en ons het 'n kleindogter, Aisling Yew Morris, ryker geword. Ons het ook ons eerste huisie in Wellington gekoop. Ek en Rialeen is ook nou al langer as vyf jaar hier en kan aansoek doen vir burgerskap. Hendrik se broerskind Carel, sy vrou Cheney en klein Carter, het by ons aangesluit in Wellington. Nou het ons darem ook familie net om die draai van ons.  Ek is gevestig in 'n permanente pos en het 'n wonderlike kollega, Doug Tristran, met wie ek agt ure elke dag van die week by die werk deel. Waarvoor meer kan ek vra?

Hierdie is vir my 'n lekker manier om met almal te gesels wat in ons lewens belangstel. Hier kan elkeen sien wat gebeur met ons, die laagte punte en die hoogte punte. Ek kan ons foto's deel en terselfdertyd skep ek vir ons 'n dagboek en foto-album. Dis 'n verwysing vir ons kinders of kleinkinders in die toekoms as hul begin wonder oor gebeure in ons lewens. Vir my is dit 'n lekker  manier om deel te bly van die lewens van die mense wat nou ver van my af woon in ander lande en met wie ek graag nog lang persoonlike gesprekke sou wou voer. Dit is ook 'n beskikbaar vir ander wat dit mag oorweeg om Suid-Afrika te verlaat as 'n bewys dat mens aanpasbaar is en 'n nuwe lewe êrens anders kan begin. Dis nie 'n maklike besluit nie, maar die uitkoms is vir ons goed en ons sal nooit terugkyk nie.

Ek het oorweeg om in Engels te skryf aangesien ek nou gemaklik is in Engels en baie van my vriende net Engels verstaan, maar ek besef dat ek vir die na aan my skryf en hul is Afrikaners. Dit sal net te onnatuurlik wees om oor my persoonlike lewe in Engels te praat. Gelukkig kan die Engelssprekendes, wat belangstel om dit te lees, die 'translater' gebruik.

My laaste inskrywing was in Junie 2014. Op daardie stadium het Hendrik alreeds baie gewig verloor, maar ons het aangeneem dit is as gevolg van die meer aktiewe lewe wat ons hier lei. Teen einde Augustus het hy begin siek word en na verskeie besoeke aan die huisdokter en die noodeenheid by die Hutt Hospitaal, is kolonkanker gediagnoseer. Hy is dadelik in die hospitaal opgeneem en die volgende dag is hy teater toe om 'n groot deel van die kolon te verwyder waar die fase vier kanker gediagnoseer is. Teen die tyd wat hy die hospitaal verlaat het, het hy net ses-en-vyftig kilogram geweeg.


Die laaste foto van Hendrik in Junie tydens ons besoek in Dunedin
Die dag wat Hendrik die hospitaal verlaat het

Dit was die begin van 'n agtien maande stryd om kanker te oorwin en terug te keer na 'n normale lewe. Dis 'n opdraende pad, maar ons albei was positief en het die stryd gestry, vasgebyt en heel anderkant uitgekom. Ons het soveel liefde en ondersteuning van almal gekry en van oral oor is daar vir Hendrik gebid.

Vir meer as 'n jaar moes Hendrik 'n stomasak dra en chemoterapie kry, maar genadiglik het die dokter besluit om die stoma om te keer in Oktober en van daar af kon ons lewens terugkeer na normaal. Hendrik moes nog herstel en sy krag herwin, maar in Desember het hy die krag gehad om Suid-Afrika te besoek. Hy het 'n intense behoefte gehad om sy familie en vriende weer te sien. Ons huis in Moreletapark is ook verkoop en hy het die geleentheid gebruik om ons finansies daar te gaan uitsorteer en geld oor te plaas om ons instaat te stel om ons eerste huis hier in Wellington te koop.

Vandag is Hendrik skoon van kanker en ons het soveel om voor dankbaar te wees. Ons sien uit na die toekoms hier in Wellington, New Zealand waar ons nou ingeburger is.

Sondag 01 Mei 2016

Aisling Yew Morris

Dit was 'n groot verrassing toe Rialeen en Tim ewe formeel 'n afspraak met ons maak, net nadat Hendrik uit die hospitaal ontslaan is, om ons in te lig dat sy swanger is. Sy het dit toe al vir 'n geruime tyd geweet, maar wou nie die goeie nuus met ons deel nie agv Hendrik se siekte. Sy het nie gevoel die tyd is geleë daarvoor nie. Ek was geskok! Rialeen is my babatjie en sy was net 23 jaar oud. Ek kon net nie indink dat sy op so 'n vroeë ouderdom al 'n mamma moet word nie, maar ek het geleer om my kinders se keuses te respekteer. Tim is heelwat ouer as Rialeen en sy het al dikwels gesê dat hul nie lank gaan wag om kinders te hê nie, maar nou ja, vir my is sy my baba. Hendrik is 'n ander mens en hy was onmiddelik baie opgewonde. Ek moes eers bietjie knaag aan die gedagte om 'n ouma te word, maar as daai gogga jou eers gebyt het, is daar geen keer nie en ons kon nie wag dat die baba kom nie.

Vir Hendrik het dit iets gegee om voor te leef en het hom meer gemotiveerd gemaak om so gou as moontlik te herstel sodat hy sterk genoeg sal wees om die klein mensie te kan geniet. Intussen moes Hendrik leer om met 'n stomasak saam te leef en chemoterapie ondergaan. Hy spandeer ure in hospitale, wagkamers en spreekkamers om bloedtoetse en ander mediese ondersoeke te ondergaan. Sy lewertellings is te hoog en 'n biopsie word gedoen en hy moet roetine kolonoskopieë ondergaan om seker te maak dat die kanker nie weer groei nie. Maar ons weet daar groei 'n klein mensie in Rialeen en ons sien met vreugde uit na die geboorte. Ons almal was oortuig dit is 'n seuntjie.

In Desember kom Sulet kuier om haar siek pa en swanger suster te sien. Dit was nie 'n vrolike tyd nie, maar 'n belangrike tyd vir ons as 'n gesin om saam te spandeer en vir Sulet om haarself te verseker dat dit goed gaan met ons hier onder moeilike omstandighede.



Rialeen se klein liggaampie begin ook wys dat daar 'n mensie in dit groei wanneer sy ons vertel dat sy beplan om in hul huis te kraam. Dis 'n angswekkende gedagte vir my as die ma, maar niks wat ek sê, kan haar oortuig om van besluit te verander nie en dit beteken dat ek my ook daarvoor moet voorberei. Dis haar en Tim se besluit. Hier is die ambulansdiens effektief en die vroedvrou wat haar sal bystaan, het baie ervaring. Rialeen het baie vertroue in haar en sy oortuig my dat dit die regte besluit is vir haar en Tim en hul baba.

Net as die opwinding in mens se lewe begin afneem, moet daar mos altyd nog iets gebeur. Dieselfde tyd wat ons begin wag vir daai klein mensie om haarself aan te kondig, kry ons
die slegte nuus dat Sulet in Pretoria in die hospitaal opgeneem is met 'n dodelike Kolitis. Sy was 'n geruime tyd al siek en onder doktersbehandeling, in die hospitaal en weer uit, maar die keer is sy dodelik siek. Sy het teveel bloed verloor en die medikasie wat sy gebruik bring geen verligting nie. Wat 'n stresvolle tyd! Sy ontvang 6 eenhede bloed en spandeer 2 weke in die hospitaal. Ek is in drie geskeur met Hendrik se siekte, Rialeen wat moet kraam en Sulet in 'n kritiese toestand in die hospitaal. Die een dag wil ek Suid-Afrika toe vlieg, maar ons wag vir die baba wat by die huis gebore gaan word. Dan bly ek weer. Ek berus my op die einde by die feit dat Sulet in goeie hande is en baie ondersteuning van familie en vriende kry. My swaer, Johannes, hou my ook daagliks op die hoogte van sake via Skype.

Tot op die dag wat ons kleine Aisling gebore is, het Rialeen nie een keer 'n dokter gesien nie. Alles word deur 'n vroedvrou hanteer, al die konsultasies, ondersoeke en geboorte. Sy het een keer vir 'n sonar gegaan, maar wou nie die geslag van die baba weet nie. Rialeen het verkies dat ek nie by is met die geboorte nie. Sy het vir Tim daar gehad en ek en Tim sou definitief nie 'n goeie span uitmaak nie. Ek sal nooit vergeet toe sy my na een die oggend van die 2de Mei 2015 gebel het om te sê dit is 'n dogtertjie (gewig ens) net voor twaalf op 1 Mei gebore. Als het normaal verloop en babatjie is gesond. Wat 'n verligting! Ons kon nie wag dat die son opkom om ons kleindogter te gaan ontmoet nie en te hoor dat sy Aisling Yew Morris genoem sal word.


Rialeen se klein maer swanger lyfie
'n Dag voor die geboorte
Ons eerste ontmoeting

Saterdag 12 Julie 2014

Ingeburger in Wellington

Vandag het ek skielik lus gekry om my blog, vanaf die eerste inskrywing, weer te lees. Dit is lekker om te besef hoeveel meer ons hier ingeburger is, hoeveel meer mense ons ken en hoe gelukkig ons nog steeds hier is. Daar was baie laagte punte, veral toe Hendrik nog in Suid-Afrika was en dit is nog steeds swaar met Sulet so ver van ons af, maar aan die anderkant is Rialeen so gelukkig hier en sy herinner my gereeld daaraan dat sy baie dankbaar is dat ons die groot stap geneem het.

Verlede Saterdag het ons by 'n vrou gaan kuier wat Hendrik by die hospice winkel ontmoet het. Sy kom van George af en woon al 13 jaar hier in Wellington saam met haar een seun. Haar man en ander seun het teruggegaan Suid-Afrika toe. Haar man kon nie sy voete hier vind nie en hul is nou geskei. Haar seuns het albei hul skoolloopbaan hier voltooi en naskool hier studeer, maar haar man het heen-en-weer tussen Suid-Afrika en New Zealand getrek vir tienjaar en toe besluit om terug te gaan. Die seun wat hier woon, is nou verloof aan 'n Kiwi-meisie.

Jossie is 'n verpleegster en werk nagskof by die hospice en doen volunteer werk by die winkel saam met Hendrik. Dit is lekker om met mense te praat wat al so lank hier woon. Dit help 'n mens om te besef, dat dit 'n baie lang proses is om ten volle gevestig te raak en dat dit eintlik die volgende geslag is wat egte New Zealanders word. Ons oumense bly maar immigrante. Daar is definitief baie te leer uit ander mense se stories en ervarings.

Daar is so baie dinge wat my dankbaar maak dat ons hierheen gekom het, hoewel ek vreeslik vasgeskop het toe Hendrik begin praat het om New Zealand toe te kom. Ek het ook gedink dit is aan die gatkant van die wêreld en wie wil nou hier kom woon? Ek en Rialeen het drie-en-'n-half jaar gelede vir die avontuur gekom, maar ek het van die begin af besluit, as ek kom, gaan ek hier bly. Ek het nie vir myself die keuse gegee, dat as ek nie gelukkig is nie, sal ek teruggaan nie.Ek wou suksesvol hier vestig. Die lewe in Suid-Afrika was net té stresvol vir my geaardheid. 

Daarom bly so baie goed vir my 'n voorreg hier in New Zealand: om met die trein in te ry stad toe, om in die donkeraand in die straat loop, om die voordeur wawyd oop te los (sonder 'n traliehek), om by die venster sonder diefwering uit te kyk, om op te staan in die nag en nie te worry dat 'n alarm sal afgaan nie, die pragtig natuurskoon wat jou asem wegslaan, die see oral waar 'n mens gaan, skoon lug, asemrowende sonskyndae, vriendelike, aardse mense en die diverse, mengelmoes van mense wat in vrede saamleef in hierdie klein landjie.

Hier in New Zealand het ek vinnig geleer, almal is maar net mense, maak nie saak wat die kleur van jou vel is, wat jou kultuur of godsdiens is nie. Ons almal het dieselfde behoeftes en ambisies. Almal wil vir hul kinders 'n beter lewe gee en meeste mense probeer hard om hul kinders ordentlik op te voed. Ek het ook geleer dat daar baie meer christene in die wêreld is as wat ons van bewus is in Suid-Afrika. By die kerk is daar mense van al die kulture, tale en velkleure in New Zealand, wat saam met ons aanbid en dienste bywoon. Ek verstaan nou baie beter wat dit beteken om jou naaste lief te hê soos jouself. 

Ons lag lekker as ons sien watse soort stories haal die voorblad van die koerante hier. Dan besef 'n mens hoe anders die lewe hier is. My kollega en kerkgenoot, wat van Amerika af kom, sê ook dat dit een van eerste dinge was wat hul, met vier kinders, oortuig het om aansoek te doen vir permanente residensie in New Zealand. Sy beskou dit as die ideale plek om kinders groot te maak nadat hul al in ander lande ook gewoon het.

Ons woon nou al twee jaar in die woonstel in Petone. Ek is baie dankbaar dat ek en Rialeen besluit het om hierheen te trek. Ek werk nou wel net vyftien minute se stap van waar ons voorheen gewoon het en sit party oggend veertig tot sestig minute in die verkeer oppad werk toe (wat net nege kilometer van ons woonplek is), maar dit is soveel droeër, warmder, sonniger en minder wind in die omgewing. Ek sien ook die see elke dag en ons is vyfhonderd meter van die strand af. Wat meer wil 'n mens hê!

Die vakansie-fase is verby en ek is nou 'n hardwerkende New Zealandse inwoner. Ons het die week ons finale visums in ons paspoorte gekry, wat ons die reg gee om in en uit die land te gaan soos ons wil. Dit het ons 'n bietjie langer geneem, omdat Hendrik die hoofaansoeker is en hy eers later gekom het.

Rialeen het haar studies voltooi met 'n rentevrye-lening van die staat wat sy terugbetaal nou dat sy werk. Sy is baie gelukkig in haar werk as 'n sjef, al werk sy onmenslike ure. Maar nou ja, Sulet werk net sulke onmenslike ure daar in Suid-Afrika. Ek weet nie wat dit is met ons kinders nie! 

Hier in New Zealand trou al minder van die mense. Hier praat almal van hul 'partner' en het hul twee of drie kinders saam. Party trou eers nadat hul 'n string kinders gehad het. Ander trou nooit nie. Dit word wetlik aanvaar en die partye het dieselfde regte as 'n getroude paartjie. Rialeen en Tim woon nou saam en het 'n 'partnership' onderteken. Hul is in die proses om die huis te koop waar hul woon. Die huis is oud en vervalle en nie veel werd nie. Dit is in 'n industriële gebied hier in Petone. Tim woon al vier jaar daar. Hul beplan om 'n paar jaar daar te woon en dit dan as 'n besigheidserf te verkoop. Dit maak my en Hendrik baie gelukkig dat sy so gelukkig is. Sy en Tim is nog steeds baie verlief en vul mekaar goed aan. Sy het ook 'n goeie verhouding met sy familie. Ons kou maar nog langtand aan Tim en sy eksentrisiteite, maar ons  weet dat hul vir mekaar gemaak is. Ons sal sekerlik met tyd mekaar beter verstaan.

Ons huis in Pretoria word nog verhuur en al ons geld is nog daar. Ons leef dus op wat ons hier verdien. Hendrik is in die proses om geld oor te bring hierheen. Vir tyd en wyl sal ons nog die huis daar hou. Ons sukkel nie juis met huurders en instandhouding nie en dit gee 'n bietjie van 'n inkomste. Hendrik het 'n goeie agent daar. Ons sit geen druk op onsself wat dit betref nie. Ek het ook nog 'n inkomste uit 'n polis daar. Dis 'n neseier vir wanneer ons vir 'n besoek Suid-Afrika toe wil gaan.

Ek is nie juis 'n sosiale mens nie, maar ons het goeie verhoudinge begin met mense waarmee ons saam werk, by die kerk ontmoet het en deur die hospice ken. Hendrik is ook nou 'n lid van die Petone Workermen's club. Hy het 'n vriend wat 'n afgetrede matroos :) is, saam met wie hy soms by die club 'n bier gaan drink en wat hier by hom 'n koppie tee kom drink, as ek werk. Hy het ook sy vriend, Ian en sy vrou Ann, saam met wie ons soms kuier en rugby gaan kyk. 

Wellington is maar soos 'n groot dorp. Die mense is ongelooflik gasvry en Afrikaanssprekendes sal maklik 'n geselsie aanknoop as hul ons hoor Afrikaans praat. Oral loop ons mense raak wat ek ken van die kleuterskole waar ek relief het. Ons het 'n vriendelike Maori buurman wat ook na Arise church in die stad gaan soos ons.

Ons het begin rondkyk om 'n huis te koop, maar toe weer opgegee. Ons moet maar eers deur die proses gaan om ons geld hierheen te bring. Ons sal wel 'n bydrae maak tot die huis wat Rialeen en Tim gaan koop. Ons woon lekker in die woonstel en sal graag iets meer wil koop met 'n groter stuk grond by. Hier is dit veilig om op 'n plaas te woon of 'n 'lifestyle property' (kleinhoewe). Dis Rialeen se droom, dat ons saam 'n plasie kan koop eendag, maar ons sal dit eers kan doen as ons op pensioenouderdom is en nie meer werk nie. Daar is net nie werk op klein dorpies nie, maak nie saak waar mens in die wêreld woon nie.

Die weer waaroor almal so aangegaan het in Suid-Afrika, is glad nie so erg nie. 'n Mens raak maar net daaraan gewoond en daar is baie meer mooi, warm dae hier as winderige, reën dae. Natuurlik is daar dae wat 'n mens onderkry, maar in Pretoria was daar warm dae wat my ook ondergekry het. Ysige oggende in die winter in Pretoria is nou vervang met matige agt/nege grade oggende in Wellington. Ons weet nou, die wintersdae is pragtig as dit nie reën nie of bewolk is nie. Die lente en vroegsomer is koud en winderig, maar vanaf Januarie tot September het ons heerlike weer wat mens uit die huis dryf in die natuur in. Ek spandeer baie meer tyd buite as in Suid-Afrika. Die matige weer hier maak dit net soveel lekkerder buite. Ons kleredrag is aangepas vir die weer hier en dit is makliker om 'n mens warm te hou as om in die hitte te oorleef. Ek weet nou dat my wortels vanuit Europa is. Ek is gemaak vir dié weer en het net soveel meer energie hier.

Die lewe in New Zealand het nou ons lewe geword. Emosies, verlange en herinneringe vervaag met tyd en 'n mens bou nuwe verwysings, nuwe herinneringe en aanvaar die vreemde as alledaags. 

Sondag 08 Junie 2014

Dunedin (vervolg)

Dunedin is die sewende grootste stad in New Zealand met 'n populasie van net oor die honderd-en-twintig-duisend. Amper 'n kwart van die bevolking bestaan uit jongmense onder vyf-en-twintig wat aan die Universiteit van Otago en ander tersiêre institusies studeer. Dunedin het begin groei rondom 1852, die tydperk wat goud daar ontdek is, tot die grootste stad in New Zealand.Teen 1900 het ander stede op die Noord-Eiland vinniger begin groei, maar die studente getalle in Dunedin het bly toeneem wat dit vandag as 'n akademiese, historiese en kultuurstad laat bekend staan. Die middestad bestaan uit ongelooflike mooi argitektuur uit die Victoriaanse en Edwardian tydperkte. Dit het museumstukke geword wat nog steeds ingebruik is. So word die geskiedenis van hierdie pragtige stad bewaar. 

Ons het gelukkig maklik goedkoop parkering in die stad gekry en toe voetgeslaan om na al die mooi geboue te kyk. Moet my nou nie uitvra wat die geboue voor gebruik word of wat die geskiedenis daarvan is nie. Ek het dit net bewonder en foto's geneem. Die stasiegebou is die enigste een wat ons kon uitken en iets van weet.
Dunedin Middestad








 Die Stasiegebou
Die mees gefotografeerde gebou in New Zealand is in 1904 gebou en die eerste steen is op my verjaardag, 3 Junie gelê (nie dat ek al gebore was nie). Dis in die Renaissance Revival argitektuurstyl gebou met 'n kloktoring wat sigbaar is in die grootste deel van sentrale gedeelte van die stad. Die stasie is nog steeds ingebruik.

 Binne die stasiegebou: Dis asemrowend mooi!

Ons het vis en tjips vir middagete hier by die Wig 'n' Pen Restaurant in die Law Courts Hotel geniet.
 Die binneversiering van die restaurant en kroeg is so klassiek uit die oudae en die kos ... wel, baie gemiddeld, maar tipies Engels.
 Otago Settlers Museum
Iemand het gedink dis 'n goeie idee om die museum se uitstalruimte te vergroot deur hierdie ultra-moderne glas-ingangsportaal, cafe en gift shop aan die bestaande ou gebou te bou.
 Die res van die museum lyk so :)
 Moderne meubels in die gedeelte van die gebou met die antieke stoomlokomotief op die agtergrond.
'n Paar interessanthede wat vir my uitgestaan het:
Een van die eerste petrolmotors in New Zealand
 
'n Motorfiets
 en 'n karavaan 
 'n Mac's Sassy Red na 'n lang en besige dag
by Stuart St Brew Bar in die middestad 
Nadat ons die stad verken het, het ons besluit om die volgende dag 'n sirkelroete te ry na Alexandra wat so twee ure se ry van Dunedin is. Die dorpie is bekend vir sy buitengewone warm somers teenoor ander dele van New Zealand. Dit sou ons so bietjie nader aan die Alpe bring, waar ons gehoop het om sneeu te sien. Ons het deur talle klein dorpies gery, in Lawrence koffie gedrink en in Alexandra middagete geniet. Wat 'n ervaring! Die foto's spreek vanself, ek hoef nie veel te sê nie.
Lake Waihola
So 40 km buite Dunedin kom ons op die pragtige meer af.


 Die water is so stil en letterlik spieëlglad. Dit lyk of die vier eendjies op 'n spieël sit.


Lawrence
'n Klein dorpie met ongeveer 500 inwoners, maar die eerste dorp in New Zealand met gratis WiFi  internet vir almal in die dorp.
 

 En 'n lekker koppie koffie by die quirky cafe.


 
Dan die eerste sneeu op die berge.
 
 Roxburgh
'n Dorpie met 600 inwoners en 'n hydro-elektriese dam in die Clutha Rivier wat daar verby loop. Daar is ook 'n cinema wat in 1898 geopen is en nog steeds in gebruik is. Dit kan 285 mense huisves en word ook vir live shows gebruik.


 Ons het nou nie Villa Rosa nie, maar wel Villa Rose :)
 

Alexandra
 Middagete by die Rock Bar en Restaurant.
 
Binne die restaurant kry ons die Harley-Davidson vir Hendrik om te bewonder.
 
 Net 'n bewys dat daar nog skape in New Zealand is.



 Die perde in New Zealand dra jassies om hul te beskerm teen velkanker.
'n Laaste foto by die Dunedin lughawe terwyl Hendrik die huurkar terugvat.
Haha... you wish... wat is die kans? Maar nou ja, 'n mens weet nooit :)
  'n Laaste smoothie by die cafe op die lughawe en dan is dit terug na Wellington.
Wat 'n heerlike ervaring! Dis so mooi! Dit voed die siel en bring 'n mens nader aan jou Skepper. Daar is nie genoeg woorde om dit te beskryf nie. Ek hoop elkeen wat hierna gekyk het, kry 'n nuwe begrip van die skepping en die wonders daar agter. Wat 'n voorreg!

Ons lewe hier in New Zealand is nederig met net een inkomste, maar ek besef net elke dag weer hoe bevoorreg ons is om hier te mag woon, in 'n land wat nie ons geboorteland is nie, 'n land wat omtrent geen misdaad het nie, nie oorbevolk is nie en met die asemrowenste mooi natuurtonele. 'n Plek wat jou so na aan jou Skepper bring dat dit 'n vrede oor jou bring wat alle verstand te bowe gaan.