Donderdag 30 Junie 2011

Die winter is hier

Ek is spyt dat ek nie van die begin af als neergeskryf het nie. Nou is daar so baie wat ek wil se dat ek nie weet waar om te begin nie.

Hierdie week het ons die regte New Zeelandse winter ontmoet. Tot dusver het ons regtig lekker weer gehad. Baie anders as wat 'n Gautenger aan gewoond is en kan verdra, maar die andersheid het dit vir ons lekker gemaak.

Toe ons hier aangekom het in Februarie was dit relatief warm, so 21 grade, met lang dae. Ons was verstom dat dit tot na nege in die aand lig was (verby Hendrik se slaaptyd). Die son was warm en helder, hoewel daar tog trietserige dae was en die wind vir ons koud was. Ons het met wintersklere geloop en dan loop die Wellingtoners met hul kortbroeke en T-hempde aan. Die meisies dra broekies wat tot in hul lieste sit (soos my ouma sou se) en ek het 'n langbroek en 'n baadjie aan.

Geleidelik het die dae korter geraak, dit het meer dae begin reen, maar dit was nooit vir ons verskriklik koud soos ons verwag het nie. Ons het maar altyd 'n baadjie by ons gedra en het gou geleer dat dit eintlik warmder is op die dae wat dit reen as sonskyn dae. 'n Mens kan ook nie te warm aantrek nie, verkieslik in lae, want alles is verhit, behalwe ons huisie. Vergeet van onderhemde en sulke goed. Sodra jy in 'n winkel ingaan wil jy versmoor. Die kleuterskool waar ek werk is so verhit, almal loop met somersklere aan rond. In die middae as die kinders slaap, word hul uitgetrek dat hul net 'n doek of 'undies' (soos hul hier se) aan het. Ek voel asof ek gaan versmoor en loop heeldag en vensters oopmaak (hot flashes!) dan maak hul weer die vensters toe.

Nou trek ek maar 'n T-hemp en jeans aan, dan 'n baadjie en bo-oor 'n jas. By die werk word die buitenste lae uitgetrek dan kan 'n mens oorleef. Maar die snaakse is dat die kinders elke dag buite speel, behalwe as dit reen. As dit vir 5 minute ophou reen, moet die kinders buite speel. Almal trek hul anaraks en mussies aan en daar gaan ons. Dit vat 'n halfuur om almal aangetrek te kry, dan kom ons buite en dit begin reen en dan moet almal weer in en uittrek. Die in en uitgaan van snikhetigwarm na vriesend koud, pla hul niks nie.

Maar die week het die koue winter ons getref. Die dae het gelydelik korter geword. Nou is dit nog skemer as ek 8 uur bus toe stap en as ek halfses klaar gewerk het, is dit donker. Dit reen nou aanmekaar, nie soos in Gauteng nie, net so 'n drissel, maar dis nat. Alles is nat en klam. Daar is ook 'n koue windjie wat om die draai sny. Vir ons wat van openbare vervoer afhanklik is, is dit nogal 'n issue. Ek moet dikwels vir die bus wag vir 20 tot 30 minute na werk waar daar nie 'n afdakkie is nie. Ek moes dus 'n goeie reenjas koop, nadat ek 'n windbreaker van SA af probeer het, 'n goedkoop reenjas gekoop het wat nie wou werk nie. Dit het R500 uit my sak geruk, maar dis die enigste manier om droog te bly. 'n Sambreel werk meeste van die tye nie, die wind ruk dit uit jou hande. Maar dis lekker, die andersheid laat dit soos 'n vakansie voel.

Saterdag 25 Junie 2011

Eerste week in Wellington























Ons eerste blyplek in Wellington

 










 
 Lekker! 
 Kersies eet



Vliegvoos

Sydney Lughawe
                                        





Ons eerste foto in Wellington, doodmoeg!
                                          

Nuwe Vriende

Divina het oor die tuinmuur haarself aan my voorgestel toe ek en Rialeen nog so oorywerig was om in die tuin te werk. Daarna het ons soms met mekaar gesels terwyl ons wasgoed opgehang het. Hoe ons by die kerk of godsdiens uitgekom het, kan ek nie onthou nie. O ja, ons het soms gehoor iemand oefen op tromme in een van die kamers van hul huis. Ek het haar gevra of haar seun tromme speel en sy het my vertel dat haar man in die orkes van die Johnsonville Salvation army (JSA) speel. (Die Salvation Army is groot hier. Elke woonbuurt het groot kantore en 'n tweedehandse winkel en 'n kerksaal) Ek het toe al gesien dat hul by die JSA adverteer dat jul Sondae 10h00 'n kerkdiens daar het. Ons het op daardie stadium na die Elim Internasionale Kerk gegaan in die Wellington CBD. Dit was ver en het busgeld gekos (wat ons nie eintlik kon bekostig nie). Ek se toe vir Rialeen as hul by die JSA betrokke is, moet hul verseker christene wees. Ek het daaroor gedink en besef as ons liewer die kerkdienste hier in ons omgewing bywoon, sal ons ook mense van hierrond ontmoet.

Die volgende Sondag is ons toe na die SJA-diens toe. Daar het ons wonderlike, liefdevolle mense ontmoet van verskillende kulture, maar almal christene asook 2 gesinne wat oud-Suid-Afrikaners is. Die een gesin kom van Port Elizabeth. Die vrou, Jean, het in 'n Afrikaanse gesin groot geword, maar in Engels skool gegaan. Haar man, Neil, het in Cullinan groot geword. Sy ouers was Engelssprekend, maar hy het in Afrikaans skool gegaan. Hul woon al amper 17 jaar hier. Hul het heel verengels hier in New Zeeland. Ek dink nie hul jongste kind kan meer Afrikaans praat nie, maar Neil praat aksentlose Afrikaans. 

Die ander gesin kom van Stellenbosch. Hul is heel Engels en kan nie juis Afrikaans praat nie, hoewel hul se hul kan dit verstaan. Hul van is Visser. Hul woon al 10 jaar in New Zeeland. Albei die vrouens is onderwyseresse. Hul het ons dadelik onder hul vlerk geneem.

Maar Divina was die een wat ons eerste genooi het vir 'n eg Filipynse ete by hul huis. Haar hele gesin het hierheen geimmigreer en haar suster wat eerste gekom het, is met 'n regte kiwi getroud. Haar stokoue ma, wat nie lyk of sy Engels behoorlik kan verstaan nie, woon by hul. Hul het 5 kinders. Ons is vriendelik verwelkom deur die hele familie, 'n huis vol mense, toe ons die aand daar aankom, want een of ander kind het verjaar. Ek is nou nog nie seker of dit Divina se kind was nie.

Divina is 'n wetenskaplike wat waternavorsing doen, maar sy het vir die eerste 3 jaar wat hul hier gewoon het, by 'n supermark (Countdown) gewerk agter die till teen die minimum loon, omdat sy nie juis Engels kon praat nie en nie werk kon kry in haar rigting nie.

Die ander dag loop ek haar in die straat raak (ek haastig oppad bus toe om te gaan werk, vroeg die oggend), maar sy is lus om te praat, want hul het (soos enige goeie Afrikaner ook sou doen) besluit hul is nou nie meer gelukkig met JSA nie en ry nou Sondae Lower Hutt toe (10km hiervandaan) om dienste by 'n ander kerk te gaan bywoon. Skaars 2 Sondae gelede het hul my nog 'n lift gegee kerk toe. Nou probeer sy my oortuig om Sondae saam met hul Lower Hutt toe te ry omdat daar so baie Suid-Afrikaners is en hulle kwaad is vir die mense by JSA (klink dit bekend?) en ek wil nie my bus mis nie, want die volgende bus kom eers oor 'n halfuur en dan is ek laat vir werk.

Aan die begin van die jaar het JSA 'n nuwe 'dominee' gekry. Hy en sy vrou laat my aan goeie, konserwatiewe Afrikaners dink, maar hul praat net Engels. Ek het nou nie juis 'n probleem met hul nie en ek is nou nog nie so betrokke dat hul my pla nie, maar Divina-hul is nou baie ongelukkig oor allerlei veranderinge wat gemaak is by die gemeente en die kerkdienste ens. Ek het opgemerk dat haar man nie meer in die orkes speel nie en sy was altyd by die kinderkerk betrokke en het nie meer daaraan deelgeneem nie. Nou ja, ek moes hol vir die bus en weet nou nog nie presies wat hul probleem met die JSA is nie. Sal maar een Saterdag of Sondag 'n draai gaan maak om die hele storie uit te sorteer. Ek is nog heel happy met die JSA. Woensdae aande kan ons 'n bordkos daar gaan eet vir $2 met poeding by. Daar het ons ook nog ander mense ontmoet en ek voel heel ingeskakel en is verseker nie lus om na 'n kerk 30km hiervandaan te gaan nie.

Die oud-Suid-Afrikaners het toe ook besluit hul moet ons verwelkom en ons is een aand met die bus na Jean en Neil se huis, nie ver van waar ek werk in Tawa. Hul het nog ander Engelssprekende Suid-Afrikaners oorgenooi en ons het baie lekker die aand daar gekuier. Dit is tog lekker om met die mense te praat wat reeds deur al die emosies en praktiese probleme is waardeur ons nog gaan. Hul het allerlei praktiese idees, het simpatie en gee raad. Soms ontvang ek 'n text (soos hul hier se) om te hoor hoe dit gaan en Sondae kuier ons lekker oor 'n koppie koffie by die kerk.

Lynn, wat ek my MASH (Meals At Salvation House), Woensdae aande se etes ontmoet het, ontferm haar oor my en bel gereeld om te hoor of ek alweer siek is of gesond is. Sy en die dominee se vrou, Karen, probeer hul bes om my by hul Bybelstudiegroep, wat Donderdae 11 uur by mekaar kom, in te trek. Deesdae werk ek elke keer, maar sy bel getrou Woensdae aande om te hoor of sy my kan kom oplaai.

Nou ja, so het ons geleidelik ingeskakel geraak en kry ons ondersteuning van die mense om ons, meer as wat ek dikwels in Suid-Afrika ervaar het. Ek het baie van ander kulture geleer en besef nou dat daar baie meer christene in die wereld is as wat ek van geweet het. Die Indiervrouens kom Sondae met hul Saries aan kerk toe. Daar is Asiers en swartmense van ander Afrikalande wat dienste saam met ons bywoon. As ek terugdink aan Suid-Afrika se multikulturele gemeenskap en Sondae sit jy saam met 'n kerk vol Afrikaanssprekende witmense in die kerk. Dit maak nou net nie meer vir my sin nie.  

Vrydag 24 Junie 2011

Gevestig in Johnsonville

Dit is nou al meer as 4 maande wat ek en Rialeen hier in Wellington woon. So baie mense dink ons is vreeslik dapper, maar ons voel alles behalwe dapper. Ons het blindelings in ‘n ding ingestorm wat ons as ‘n avontuur gesien het en dit is ‘n avontuur. Hoewel ons lewens total verskil van die een wat ons in Suid-Afrika gehad het, is ons absoluut gelukkig hier. Ek moet myself nog soms knyp om te besef dat dit nie net ‘n droom is nie, maar dat dit die realiteit is. Dit is ons nuwe lewe en ek wonder hoekom het ek dit nie lank terug al gedoen nie.
Vir ons was dit nie ‘n besluit wat ons geneem het omdat ons rasiste is of omdat ons dit nie kon uithou in Suid-Afrika  nie. Natuurlik was die misdaad in Suid-Afrika ‘n groot beweegrede, maar  ons het net geweet ons het ‘n verandering in ons lewens nodig. Hoe groot die verandering sou wees, kon ons nie voor die tyd voorspel het nie. Wat hierdie kant op ons gewag het, het ons ook nie kon voorsien nie.
Maar wonder bo wonder het alles goed uitgewerk. Ons het ons lewens geminimaliseer tot ‘n een slaapkamerwoonstel met die nodigste aardse besittings en openbare vervoer. Ons het letterlik met ‘n tas vol klere hier aangekom. Als wat ons nou besit, het ons hier gekoop. Aan die begin was die geldjies maar min en ek wou nie teveel van ons fondse gebruik wat ons saamgebring het nie. Ons moes maar alles opweeg en besluit of dit ‘n absolute nodigheid is. Alles is uit nood gekoop. Toe ons begin koud kry in die nag, het ons komberse begin soek en elkeen ‘n elektriese kombers gekoop. Die reën het my gedwing om na reenjasse en sambrele te kyk, maar ek besit nou nog nie ‘n ordentlike reenjas nie, hoewel ek nou al twee maal goed natgereen het. Elke sent is omgedraai, elke item wat ons gekoop het, was goed nagevors sodat ons nie onnodige geld sal spandeer nie.
Hierdie ondervinding het my net weereens laat besef dat daar tog ‘n Hoërmag moet wees. Dinge het net vir ons so uitgewerk asof dit deur iemand beplan was. As ek terugdink hoe alles vir ons uitgewerk het. Ons het ‘n advertensie in ‘n koerant gesien wat ‘n woonstel in Johnsonville geadverteer het. Ons het nie ‘n idee gehad waar dit was nie, maar met die hulp van die internet het ons dit gevind en na die plek gaan kyk, maar was nie tevrede nie. In die proses het ons gesien dat hier ‘n groot sentrum is met al die nodige winkels, bank, dokters, tandartse ens. Dit was ook volgens die agente naby aan busroetes en die treinstasie. Min het ons besef dat daar ‘n verskeidenheid busse in verskillende rigtings hier verby kom wat ons lewens net soveel makliker maak.
Ons het by ander agente in die omgewing aangeklop en op die einde die plekkie gekry waar ons nou woon, 500 meter van die busstop, stasie en winkels. Ons het wonderlike bure, want ons bly in ‘n huis wat in 2 woonstelle verdeel is. Die bure is immigrante uit Indië, jongmense, Sulet se ouderdom, met ‘n babatjie. Die bure aan die anderkant is Fillipyne wat uit hul pad gegaan het om ons te leer ken en vriende te maak. Divina, my buurvrou, het my voorgestel aan die kerkdienste wat by die Salvation Army gehou word en so het ons ingeskakel geraak by mense van Johnsonville en het ons ander oud-Suid-Afrikanaers ontmoet.