Saterdag 25 Junie 2011

Nuwe Vriende

Divina het oor die tuinmuur haarself aan my voorgestel toe ek en Rialeen nog so oorywerig was om in die tuin te werk. Daarna het ons soms met mekaar gesels terwyl ons wasgoed opgehang het. Hoe ons by die kerk of godsdiens uitgekom het, kan ek nie onthou nie. O ja, ons het soms gehoor iemand oefen op tromme in een van die kamers van hul huis. Ek het haar gevra of haar seun tromme speel en sy het my vertel dat haar man in die orkes van die Johnsonville Salvation army (JSA) speel. (Die Salvation Army is groot hier. Elke woonbuurt het groot kantore en 'n tweedehandse winkel en 'n kerksaal) Ek het toe al gesien dat hul by die JSA adverteer dat jul Sondae 10h00 'n kerkdiens daar het. Ons het op daardie stadium na die Elim Internasionale Kerk gegaan in die Wellington CBD. Dit was ver en het busgeld gekos (wat ons nie eintlik kon bekostig nie). Ek se toe vir Rialeen as hul by die JSA betrokke is, moet hul verseker christene wees. Ek het daaroor gedink en besef as ons liewer die kerkdienste hier in ons omgewing bywoon, sal ons ook mense van hierrond ontmoet.

Die volgende Sondag is ons toe na die SJA-diens toe. Daar het ons wonderlike, liefdevolle mense ontmoet van verskillende kulture, maar almal christene asook 2 gesinne wat oud-Suid-Afrikaners is. Die een gesin kom van Port Elizabeth. Die vrou, Jean, het in 'n Afrikaanse gesin groot geword, maar in Engels skool gegaan. Haar man, Neil, het in Cullinan groot geword. Sy ouers was Engelssprekend, maar hy het in Afrikaans skool gegaan. Hul woon al amper 17 jaar hier. Hul het heel verengels hier in New Zeeland. Ek dink nie hul jongste kind kan meer Afrikaans praat nie, maar Neil praat aksentlose Afrikaans. 

Die ander gesin kom van Stellenbosch. Hul is heel Engels en kan nie juis Afrikaans praat nie, hoewel hul se hul kan dit verstaan. Hul van is Visser. Hul woon al 10 jaar in New Zeeland. Albei die vrouens is onderwyseresse. Hul het ons dadelik onder hul vlerk geneem.

Maar Divina was die een wat ons eerste genooi het vir 'n eg Filipynse ete by hul huis. Haar hele gesin het hierheen geimmigreer en haar suster wat eerste gekom het, is met 'n regte kiwi getroud. Haar stokoue ma, wat nie lyk of sy Engels behoorlik kan verstaan nie, woon by hul. Hul het 5 kinders. Ons is vriendelik verwelkom deur die hele familie, 'n huis vol mense, toe ons die aand daar aankom, want een of ander kind het verjaar. Ek is nou nog nie seker of dit Divina se kind was nie.

Divina is 'n wetenskaplike wat waternavorsing doen, maar sy het vir die eerste 3 jaar wat hul hier gewoon het, by 'n supermark (Countdown) gewerk agter die till teen die minimum loon, omdat sy nie juis Engels kon praat nie en nie werk kon kry in haar rigting nie.

Die ander dag loop ek haar in die straat raak (ek haastig oppad bus toe om te gaan werk, vroeg die oggend), maar sy is lus om te praat, want hul het (soos enige goeie Afrikaner ook sou doen) besluit hul is nou nie meer gelukkig met JSA nie en ry nou Sondae Lower Hutt toe (10km hiervandaan) om dienste by 'n ander kerk te gaan bywoon. Skaars 2 Sondae gelede het hul my nog 'n lift gegee kerk toe. Nou probeer sy my oortuig om Sondae saam met hul Lower Hutt toe te ry omdat daar so baie Suid-Afrikaners is en hulle kwaad is vir die mense by JSA (klink dit bekend?) en ek wil nie my bus mis nie, want die volgende bus kom eers oor 'n halfuur en dan is ek laat vir werk.

Aan die begin van die jaar het JSA 'n nuwe 'dominee' gekry. Hy en sy vrou laat my aan goeie, konserwatiewe Afrikaners dink, maar hul praat net Engels. Ek het nou nie juis 'n probleem met hul nie en ek is nou nog nie so betrokke dat hul my pla nie, maar Divina-hul is nou baie ongelukkig oor allerlei veranderinge wat gemaak is by die gemeente en die kerkdienste ens. Ek het opgemerk dat haar man nie meer in die orkes speel nie en sy was altyd by die kinderkerk betrokke en het nie meer daaraan deelgeneem nie. Nou ja, ek moes hol vir die bus en weet nou nog nie presies wat hul probleem met die JSA is nie. Sal maar een Saterdag of Sondag 'n draai gaan maak om die hele storie uit te sorteer. Ek is nog heel happy met die JSA. Woensdae aande kan ons 'n bordkos daar gaan eet vir $2 met poeding by. Daar het ons ook nog ander mense ontmoet en ek voel heel ingeskakel en is verseker nie lus om na 'n kerk 30km hiervandaan te gaan nie.

Die oud-Suid-Afrikaners het toe ook besluit hul moet ons verwelkom en ons is een aand met die bus na Jean en Neil se huis, nie ver van waar ek werk in Tawa. Hul het nog ander Engelssprekende Suid-Afrikaners oorgenooi en ons het baie lekker die aand daar gekuier. Dit is tog lekker om met die mense te praat wat reeds deur al die emosies en praktiese probleme is waardeur ons nog gaan. Hul het allerlei praktiese idees, het simpatie en gee raad. Soms ontvang ek 'n text (soos hul hier se) om te hoor hoe dit gaan en Sondae kuier ons lekker oor 'n koppie koffie by die kerk.

Lynn, wat ek my MASH (Meals At Salvation House), Woensdae aande se etes ontmoet het, ontferm haar oor my en bel gereeld om te hoor of ek alweer siek is of gesond is. Sy en die dominee se vrou, Karen, probeer hul bes om my by hul Bybelstudiegroep, wat Donderdae 11 uur by mekaar kom, in te trek. Deesdae werk ek elke keer, maar sy bel getrou Woensdae aande om te hoor of sy my kan kom oplaai.

Nou ja, so het ons geleidelik ingeskakel geraak en kry ons ondersteuning van die mense om ons, meer as wat ek dikwels in Suid-Afrika ervaar het. Ek het baie van ander kulture geleer en besef nou dat daar baie meer christene in die wereld is as wat ek van geweet het. Die Indiervrouens kom Sondae met hul Saries aan kerk toe. Daar is Asiers en swartmense van ander Afrikalande wat dienste saam met ons bywoon. As ek terugdink aan Suid-Afrika se multikulturele gemeenskap en Sondae sit jy saam met 'n kerk vol Afrikaanssprekende witmense in die kerk. Dit maak nou net nie meer vir my sin nie.  

Geen opmerkings nie: