Dit is nou al meer as 4 maande wat ek en Rialeen hier in Wellington woon. So baie mense dink ons is vreeslik dapper, maar ons voel alles behalwe dapper. Ons het blindelings in ‘n ding ingestorm wat ons as ‘n avontuur gesien het en dit is ‘n avontuur. Hoewel ons lewens total verskil van die een wat ons in Suid-Afrika gehad het, is ons absoluut gelukkig hier. Ek moet myself nog soms knyp om te besef dat dit nie net ‘n droom is nie, maar dat dit die realiteit is. Dit is ons nuwe lewe en ek wonder hoekom het ek dit nie lank terug al gedoen nie.
Vir ons was dit nie ‘n besluit wat ons geneem het omdat ons rasiste is of omdat ons dit nie kon uithou in Suid-Afrika nie. Natuurlik was die misdaad in Suid-Afrika ‘n groot beweegrede, maar ons het net geweet ons het ‘n verandering in ons lewens nodig. Hoe groot die verandering sou wees, kon ons nie voor die tyd voorspel het nie. Wat hierdie kant op ons gewag het, het ons ook nie kon voorsien nie.
Maar wonder bo wonder het alles goed uitgewerk. Ons het ons lewens geminimaliseer tot ‘n een slaapkamerwoonstel met die nodigste aardse besittings en openbare vervoer. Ons het letterlik met ‘n tas vol klere hier aangekom. Als wat ons nou besit, het ons hier gekoop. Aan die begin was die geldjies maar min en ek wou nie teveel van ons fondse gebruik wat ons saamgebring het nie. Ons moes maar alles opweeg en besluit of dit ‘n absolute nodigheid is. Alles is uit nood gekoop. Toe ons begin koud kry in die nag, het ons komberse begin soek en elkeen ‘n elektriese kombers gekoop. Die reën het my gedwing om na reenjasse en sambrele te kyk, maar ek besit nou nog nie ‘n ordentlike reenjas nie, hoewel ek nou al twee maal goed natgereen het. Elke sent is omgedraai, elke item wat ons gekoop het, was goed nagevors sodat ons nie onnodige geld sal spandeer nie.
Hierdie ondervinding het my net weereens laat besef dat daar tog ‘n Hoërmag moet wees. Dinge het net vir ons so uitgewerk asof dit deur iemand beplan was. As ek terugdink hoe alles vir ons uitgewerk het. Ons het ‘n advertensie in ‘n koerant gesien wat ‘n woonstel in Johnsonville geadverteer het. Ons het nie ‘n idee gehad waar dit was nie, maar met die hulp van die internet het ons dit gevind en na die plek gaan kyk, maar was nie tevrede nie. In die proses het ons gesien dat hier ‘n groot sentrum is met al die nodige winkels, bank, dokters, tandartse ens. Dit was ook volgens die agente naby aan busroetes en die treinstasie. Min het ons besef dat daar ‘n verskeidenheid busse in verskillende rigtings hier verby kom wat ons lewens net soveel makliker maak.
Ons het by ander agente in die omgewing aangeklop en op die einde die plekkie gekry waar ons nou woon, 500 meter van die busstop, stasie en winkels. Ons het wonderlike bure, want ons bly in ‘n huis wat in 2 woonstelle verdeel is. Die bure is immigrante uit Indië, jongmense, Sulet se ouderdom, met ‘n babatjie. Die bure aan die anderkant is Fillipyne wat uit hul pad gegaan het om ons te leer ken en vriende te maak. Divina, my buurvrou, het my voorgestel aan die kerkdienste wat by die Salvation Army gehou word en so het ons ingeskakel geraak by mense van Johnsonville en het ons ander oud-Suid-Afrikanaers ontmoet.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking