Vandag is my pa se agt-en-tagtigste verjaardag! Hy woon die laaste paar jaar in Bronkhorstspruit in 'n ouetehuis, Ons Herberg. Hy is nog blakend gesond, hoor net nie so goed nie en is maar vreeslik vergeetagtig. Hy glo dat Hendrik saam met my in Australia is, maak nie saak hoeveel keer Heleen vir hom sê net ek en Rialeen woon in Wellington, New Zealand nie. Baie geluk pa! Hoop dat jy die tyd wat oor is in goeie gesondheid kan deurbring en ook net suutjies in jou slaap kan gaan, soos ouma Bettie en ouma Maria.
Op 'n meer ligsinnige noot wil ek eers vir jul 'n ordentlike foto van ons landlord se 'truck' wys. Toe ek en Rialeen eendag hier by die huis aankom, staan sy 'truck' in ons inrypad. Ek kyk toe mooi en sien dit is 'n Subaru 4x4. Dit was vir my so snaaks, ek moes net 'n foto neem om vir jul te wys. 'n Truck bly maar vir my 'n groot voertuig wat goedere tussen Durban en Johannesburg vervoer.
Maar glo my, ons boemelaar landlord met sy rooi Subaru 4x4, is 'n baie welgestelde man met miljoene dollars se grond en masjienerie op sy naam. Hy doen ontwikkelings oral oor Wellington, maar die ekonomiese krisis waarin die hele wêreld is, het hom ook geraak en hy sit met 'n kontantvloei probleem. Hy woon net om die draai van ons af in 'n nederige huis met 'n wilde tuin. Ek het nog nie sy vrou gesien nie, maar Rialeen het haar eendag hier by ons huis ontmoet en sy is 'n ware dame. Sy dogter het die huis waarin ons woon uit sy bankrotboedel gekoop en hy is besig met hofsake om sy besittings te red, want soos hy sê, dit wat hy besit, is sy kinders se erflating en hy gaan dit nie so maklik laat gaan nie. Ek voel baie jammer vir hom, hy is regtig 'n goeie mens.
Op die oomblik sit ek stoksielalleen hier in Wellington, Rialeen kuier by Frederik en Andries (Hendrik se broer en sy seun) in Auckland. Hul het so tien dae gelede in Auckland aangekom. Hul het al 'n jaar voor ons hul verblyfsreg gehad, maar het net langer as ons gevat om die finale stap te neem. Hul dogter, Marnie en haar man, Barend, kom die einde van Desember en Hannetjie een of ander tyd volgende jaar. Ons het darem nou ook familie hier in New Zealand.
Rialeen het Maandagoggend die Intercity bus gehaal vanaf die Wellingtonstasie. Dit is 'n elfuur lange rit tot in Auckland. Hier is die spoedgrens 100km/uur en deur elke dorpie moet jy 50km per uur ry. Auckland is nie verder as 600km van Wellington af nie. Hul het twee keer gestop vir ete en het mense opgelaai op verskillende punte. Ek het ook 'n kaartjie gekoop vir Vrydag, 23 Desember en ons vier sal Kersfees saam spandeer. Ons sal seker nog 'n week saam by Frederik-hul kuier en dan besluit of ons met die bus wil terugkom of ons liewer wil vlieg.
Intussen moet ek myself besig hou. Ek is maar 'n alleenmens en het nie ander mense nodig om my besig te hou nie. Ek werk in die dag en in die aand drentel ek gou deur Woolworths om 'n paar goed te koop, stap huis toe, eet, bad en dan werk ek aan my blog, lees 'n boek of ek sit en brei terwyl ek tv kyk, want Marnie is swanger en gaan haar babatjie hier in New Zealand kry en grootmaak. So, ek brei vir haar iets.
Donderdag het ek besluit om na werk Porirua toe te gaan, want hier is die winkelsentrums Donderdae-aande laat oop. Johnsonville is ook Vrydae laat oop. Die ander aande maak alles behalwe Countdown, Woolworths en die Warehouse al halfses toe. Die sentrum was so besig met almal wat kersinkopies doen. Dis my hierdie jaar gespaar! Dankie Vader!
Ek en Rialeen het vir ons elkeen vir ons 'n naweektas gekoop vir kersfees en 'n elektriese ketel vir Rialeen, want ons het so 'n model gekoop wat 'n mens op die plaat van die stoof sit (met 'n fluit, wat baie handig is) aan die begin van die jaar. Die ding het my net begin frustreer en Hendrik het ons gewaarsku dat dit baie meer krag gebruik. Ek het 'n toaster gekry. Die een wat ons gekoop het het begin vashak en dan verbrand die brood. Ek het een oggend amper die huis afgebrand met die toaster wat nie wil uitpop nie. Ons rookalarm wat ons landlord kom insit het, gaan af as ons water kook, maar toe die huis toe gerook is van die brood wat tot houtskool verbrand (terwyk ek in die badkamer is), doen die ding niks nie. Hendrik moet maar kom kyk na die ou toaster en dan kan Rialeen dit weer gebruik as sy op haar eie gaan woon.
Maar om terug te kom na my besoek aan Porirua. Ek soek 'n klein simpel ding, 'n druphouer vir messe en vurke om by die wasbak te sit. In Suid-Afrika sal dit in elke winkel wees, maar hier kry mens nie so iets nie. Na my ronddrentel in die winkels het ek halfagt na die stasie gestap, daar 'n bus gekry Johnsonville toe. By ons local sentrum het ek 'n hamburger geëet by Mc Donalds en seker na nege alleen terug gestap huis toe.
Skielik het ek net weer daardie vry gevoel ervaar! En ek weet nou, dit is die ding wat my aantrek van 'public transport'. In Suid-Afrika sou ek nooit daaraan dink om daardie tyd van die aand na 'n stasie te loop, 'n bus te haal en alleen (of selfs 'n groep mense) huis toe te loop nie. Dis net die ongelooflikste gevoel van absolute vryheid. Daar is 'n huppel in my stap en 'n lied in my hart! (Vir die wat wonder of ek darem gelukkig is in New Zealand).
Vrydag het ek na die hoofbiblioteek in Wellingon CBD gegaan. Ek lees 'n outobiografie 'Black, White and Jewish' van Rebecca Walker. Ek het nie geweet wie sy is nie, maar die titel het my aangegryp toe ek dit in die biblioteek sien. Time magazine het haar aangewys as 'one of the fifty future leaders under age forty'. Hoe verder ek die boek gelees het, hoe meer het ek gewonder wie is haar ma, want sy vertel die hele tyd van haar ma wat dink sy kan die wêreld verander met die stories wat sy skryf. Ek google toe en sien haar ma is die skrywer van 'The Color Purple', Alice Walker. Nou ja, toe moet ek dit ook lees. Ek het die fliek gesien, maar nog nooit die boek gelees nie.
Ek het by die Queens Wharf gesit en koffie drink. Daarna het ek na die Paramount teater gestap al langs die hawe en 'n dokumenter, 'Last Train Home', gaan kyk wat handel oor die chinese migrasie van miljoene werkers van die platteland na die stede en almal wil weer vir hul nuwe jaar met die trein huis toe gaan. Dit was aangrypend en laat 'n mens weer al die voorregte waardeer wat ons in die lewe het. Ek verstaan ook nou beter hoekom Vivienne, wat saam met my werk, op twintig China verlaat het om op haar eie na New Zealand te kom, terwyl sy nie 'n woord Engels kon praat nie.
Die fliek het na sewe uitgekom en ek het weer met die hawe langs gestap tot by die stasie, met die trein tot in Johnsonville gery en huis toe gestap. Die koeler klimaat van Wellington maak dit natuurlik ook gemakliker om te stap. In Suid-Afrika is dit net te warm. Hier is die uv baie hoog en 23 grade voel soos 30 in Suid-Afrika, maar dit bly net baie lekkerder om buite te wees (wanneer dit nie reën nie). Wellington het dus vir my 'n simbool van vryheid geword, teenoor Suid-Afrika, waar ek altyd ingehok was agter elektriese omheining, tralies en alarms. En ek weet, al sit ek hier stoksielalleen en ver van al my geliefdes, is ek 'n gelukkige mens en kan ek my blessings tel. Natuurlik sou ek liewer almal vir wie ek lief is, hier by my wou hê, maar die lewe is nie altyd so eenvoudig nie. Ek dink 'n mens moet net die beste maak van elke oomblik van jou lewe en hierdie is die beste wat ek kan hê op hierdie oomblik in my lewe. Ek geniet my werk en op 'n weird manier geniet ek die alleen wees, die tyd om in my diepste wese rond te grawe en te dink oor die sin van my lewe.
Ek weet Rialeen geniet haar gate uit by Andries terwyl hul Auckland verken. Sulet is gelukkig getroud en is tans gelukkig in haar werksituasie. Sy het haar vriende en baie familie naby haar. Hendrik is die een wat ek die graagste hier wil hê, maar ek weet dat hierdie skeiding net 'n tydelike reëling is en ek moet myself gereeld herinner aan die voordele wat ons almal daaruit kry.
Maar voor ek jul almal tot trane dryf, sal ek liewer vir jul 'n paar foto's opsit wat ek Vrydagaand langs die hawe geneem het.
'n Plesierboot met 'n klomp wat die nag om gaan party
'n Polisie boot staan reg vir enige moeilikheid
Die stasie se pragtige gebou