Hendrik het uiteindelik hier by ons aangesluit! Vir ons gaan die lewe nou rustig voort hier in Petone. Dis maar 'n normale lewe met alledaagse roetines, werk, kosmaak en huisskoonmaak. Ek het al minder die behoefte om verslag te gee van ons doen en late hier in New Zealand, maar ek weet daar is familie en vriende wat graag my blog volg om op die hoogte te bly met wat in ons lewens aangaan.
Ek was net aanmekaar siek vandat ons hier ingetrek het. Omdat ek nie 'n permanente aanstelling het nie, is ek nie geregtig op betaalde verlof of siekverlof nie. Die wet bepaal dat hul my agt persent meer moet betaal om te kompenseer vir die verlofsvoordele wat ek verbeur. Dit bly maar hard, want ek werk die heel week, dokter myself en rus naweke. Ek het twee naweke, voordat Hendrik gekom het, letterlik om geslaap van die Vrydagmiddag tot Sondag met koors en pyn. Dit beteken dat ek nie by my blog uitkom nie.
Dit gaan beter met my gesondheid, maar ek hoes nou al vir ses weke. Dit lyk of dit kinkhoes kan wees. Een kind by Tawa het kinkhoes (en natuurlik sal ek dit aansteek), maar die dokter dink dit kan ook net 'n nagevolg wees van die lang gesukkel met boonste lugwegontsteking of asma. Sy het 'n 'inhaler' voorgeskryf, maar het nie oortuig geklink dat dit asma is nie, ek ook nie. Ek was vir jare (tot ek omtrent 30 geword het) 'n asmalyer, maar het vir jare nie enige simptome gehad nie. Ek ken dus asma en glo ook nie dat dit asma is nie. Ek voel nie meer so siek nie, dis net die irriterende hoesbuie wat my klaar maak en in die nag wakker maak.
Hendrik se koms was ook vir my stresvol. Ek het nie geweet of ons mekaar sal kan vind na so 'n lang tyd appart nie. Dit was moeilik om gewoond te raak aan iemand in my persoonlike ruimte die hele tyd en snorkend in my bed. Ons het aanvanklik ook net 'n enkelbed gehad. Na dae se rondloop en soek na die regte bed, na die voorskrif van die chiropraktisyn wat ek sien en binne ons budget, het ons darem 'n dubbelbed. Hendrik het vir 'n week vir sy broer, Frederik, in Auckland gaan kuier, met sy terugkeer gaan dit beter en leef ons weer soos altyd saam in een huis.
Dit is lekker dat als vir hom nou weer nuut is. Dit sit die vakansie gedeelte voort vir ons hier in New Zealand. Die kar dra ook daar toe by dat ons kan ry na plekke waar ek en Rialeen nog nie was nie. Hierdie naweek was 'n langnaweek. Ons wou eers Napier toe ry en daar oorslaap, maar die weervoorspelling was nie baie rooskleurig vir die naweek nie en ons het daar teen besluit. Ons het op die einde Sondag Masterton se kant toe gery. Ek en Rialeen was al daar met die trein, maar ons was lus om op die dorpies tussen in te stop. Na alles was die weer nie sleg nie, net winderig die tyd van die jaar. Ons kon net sowel maar Napier toe gery het.
In Greytown het hul 'n Kunstefees aangehad en ons het daar rondgehang. Dis 'n pragtige toeriste dorpie. Ons was baie beïndruk met die plekkie. Daarna is ons Masterton toe en het hoofsaaklik tyd in die Queen Elizabeth Park spandeer. Ons het met die Wairarapa pad teruggery en in Martinborough gestop. Dit is hierdie omgewing se wynroete. Daar het ons 'n baie lekker laatmiddagete geniet, wyn geproe en olyfolie gekoop. volgende keer sal ons 'n dag daarvan maak en die wyn- en olyfplase self besoek.
Ek is besig om vir elke pos wat hul hier in ons omgewing adverteer, aansoek te doen. Hendrik is ook heeldag op die rekenaar om werksmoontlikhede te ondersoek. Hy is by twee agentskappe op en het darem al een onderhoud gehad, maar intussen hou hy nog vakansie, leer die kultuur en mense ken.
Ons het gelukkig Maori-bure wat baie vriendelik is. Die een het 'n mooi groente tuin en Hendrik het ons komposmaker gaan haal by die huis in Johnsonville. So, die twee het darem iets om oor te gesels. Die ander ou werk by St Vincent se 'opshop'. Hendrik het hom ook al daar raakgeloop en hy sal vir ons uitkyk vir 'n boekrak. Hier is 'previously loved' baie gewild: tweedehandse klere, boeke, meubels, kombuisware ens word deur almal gekoop. Hier is ten minste vyf 'charity' winkels en vier antieke winkels net in Jackson street.

Greytown
Ek (soos gewoonlik) besig op my foon - gesels met Hannetjie in Auckland. Gelukkig is die doodskis leeg en deel van 'n kunsuitstalling waarna ons gekyk het in die dorp se burgersentrum. Lyk vir ons soos skoolkuns.
Koek en tee in die tuin van 'n oulike café met die heerlikste gebak.
Masterton
Queen Elizabeth Park
'n Foefie-slide vir die kinders
Martinborough
Lyk ons nie gelukkig nie?
Heerlike laatmiddagete geniet in Café Medici met 'n glasie heerlike New Zealandse wyn