Orale kanker het my baie nuwe dinge geleer wat ek hopelik kan toepas in my lewe, as ek gespaar word. Daar is net soveel stereotipes wat ingeprint word van 'n jong ouderdom en wat die manier waarop ons die lewe sien, beïnvloed asook hoe ons reageer op moeilike situasies soos ek tans deurmaak. Op hierdie stadium agiteer dit my dat ek gekondisioneer is om voor te hou dat:
- alles okay is,
- dinge nie so erg is nie,
- God jou die krag sal gee om die laste wat op jou pad gebring is te kan dra,
- die Here niks op jou pad sal bring wat jy nie kan dra nie,
- ek moet fokus op die positiewe,
- deur te glo alles verseker goed sal afloop, jy gesond sal word omdat ander mense vir jou bid.
Dis alles bull shit!
- Alles is nie okay nie.
- Dinge is baie erger as wat ek my voorgestel het.
- Ek weet nie of alles goed gaan afloop nie.
- Die Here het alreeds meer op my pad gebring as wat ek kon dra (daarom het ek deur 'n episode van major depressie gegaan).
- As 'n mens siek is soos ek en deurgemaak het wat ek die laaste jaar deurgemaak het, is daar min positiewe goed om op te fokus.
- Ek kan baie mense op noem wat doodgegaan het, hoewel ander vir hul gebid het. Gebed is geen versekering dat jy gesond gaan word nie.
Al wat ek kan sê, is dat ander se gebede my dra en krag gee om dit deur te maak wat op die oomblik met my gebeur. Ek dink nie ek sou dit kon doen sonder die onderskraging van familie, vriende en medegelowiges nie. Maar ek is moeg om te maak of dit wat besig is om met my gebeur, maklik is, dat ek sterk is en dat ek die las van die kanker op my liggaam en gees kan dra. Dit is nie maklik nie en om weer slegte nuus te kry, is soos 'n doodsvonnis!
Ja, nog slegte nuus! Daar is weer 'n geswelde limfklier in my nek, onder my oor, drie sentimeter in deursnit. Woensdag het ek gegaan vir die maak van my masker om te dra tydens bestraling. Daarna is daar weer 'n CT scan gedoen met die masker op my gesig, vasgeskroef aan die bed. Donderdag het die radiologie onkoloog my gebel en gesê, daar is 'n donker ronde kol op die uitslae van die skandering wat moontlik 'n kankeragtige limfklier kan wees. Vrydag het ek vir 'n nood biopsie gegaan. Dinsdag moet ek weer vir 'n CT scan van my longe gaan. Deja vu! Nimmer eindigend!
Maak nie saak hoeveel keer ek vir myself gesê het, alles is okay nie of ander mense my probeer verseker het dat ek die krag sal kry om weer hierdeur te gaan. Ek wil nie weer teater toe te gaan nie en weer deur die herstel periode gaan nie. Al ons beplanning is omver gegooi. Hendrik het net soveel dae verlof en een van ons moet werk. Sulet sou hier wees terwyl ek deur bestraling en chemo gaan, om te help om by die hospitaal te kom elke dag. Wat nou? Alles is nou deurmekaar en onseker. Ons moet wag vir die nuwe week om te hoor wat die uitslag van die biopsie is. Die gewag maak 'n mens mal!
Al wat ek vra, is om my die ruimte te gee om te treur oor my geskende gesig, maak nie saak of dit beter lyk as wat almal verwag het nie, my ingesluit. Ek word met die wonde gekonfronteer elke keer wat ek in die spieël kyk. Ek moet 'n bib dra soos 'n kind as ek eet, want kos loop uit waar ek nie die nodige spierkrag het om my lippe te sluit nie. Eet in die openbaar is 'n verleentheid. Moenie vir my sê, dit sal beter word nie, want nie eens die dokter weet of dit gaan beter word nie.
Ek vra vir empatie, vir woorde wat my sal help om dit wat ek werklik voel te erken. Soms wil ek net huil en wens dit het nooit met my gebeur nie of myself jammer kry, want ek het rede om myself jammer te kry. Ek wil weet, ek mag maar sê, dit gaan nie goed nie, want dit wat besig is om met my te gebeur, is meer as wat ek kan dra. Moet my nie vertel dat dit goed sal verloop nie en dat ek anderkant sal uitkom nie. Sê liewer dat dit wat my liggaam deurgaan, is hel, dat jy dit nie jou grootste vyand toewens nie, want dit is hel! Wat van die ou Ronel oor gaan wees aan die einde van die reis, weet ek nie, miskien ses voet onder die grond, want dit lyk almeer dat daar 'n goeie kans vir dit is. Ek en my familie moet ons voorberei vir dit. Dit help nie ek steek my kop in die sand soos 'n volstruis nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking