Sondag 07 Augustus 2011

Ses maande in Wellington

'n Mens kan net soveel keer 500 meter teen 'n bult op kruideniersware huis toe dra. Gister het ek net besluit tot hier toe en nie verder nie. Met die laaste groot aankope was ek net uit die bed op na 'n vreeslike maagaandoening en ek was nog swak, sekerlik nie sterk genoeg om so klomp goed te dra nie. Dit het my 'n goeie knou gegee. (Ons het een van daardie 'outannie' wielietjie sakke, maar dit help nie veel nie)

Hierdie week het ek weer 3 dae plat in die bed gele met laringitits. Vir 2 dae geen stem gehad nie. Gister is dit wasgoed was en die plek netjies kry, want vandag kom hul mos weer ons huisie skou. Daar moet ook kos gekoop word en ek skop vas soos 'n halstarige donkie. Ek gaan verseker nie weer 'n klomp goed teen die bult uit dra nie. Ek is dadelik op die internet en kyk wat gaan dit ons kos om on line te shop en dit te laat aflewer. Nou ja, ons kruideniersware is bestel en betaal en hul sal dit more aand kom aflewer vir $11.

Dit was nou nie 'n geringe takie nie. Dit het my ure geneem om deur al die produkte van Woolworths te gaan en te kies wat ek wil he, maar nou het ek 'n lys van ons gunsteling produkte. Volgende keer kan ons dit in 'n japtrap doen deur na die lys te gaan en net te kliek op die produkte wat ek weer in my trollie wil he.

Vandag is ons dus vry om te gaan doen wat ons wil, geen gedrentel in die lanings van die supermark nie. Ons het besluit om 'n uitstappie te onderneem na die kosmark by die Queen's Wharf in Wellington CBD terwyl die huis geskou word. Daar is 'n groot groentemark en allerlei ander lekkernye oa ingevoerde kase, sjokolade, varsgebakte brood en ander gebak. Daar is ook stalletjies wat hot dogs, pannekoek, hamburgers en so aan verkoop. Ons het ook al in die verlede vars vis by 'n boot by die hawe gekoop.

Dit was 'n heerlike warm sonskyn dag. Ons kan die lente begin voel in die lug. Na 3 dae in die bed was dit lekker om net uit te kom en vars lug in te asem. Ons het 'n Mc Donalds ontbyt geeet en later by 'n interessante eetplekkie elkeen 'n cocktail gedrink, want more is ons presies 6 maande in Wellington en dit moet gevier word!

Met net die nodigste lekkernye en vrugte, oa mango's ingevoer uit Mexico, in ons winkelsakke het ons die bult aangedurf na ons huis, toe 'n verwoede haelstorm uitsak en ons papnat reen (die eendag wat ek nie my duur reenjas en sambreel by my het nie). Die oomblik wat ons die voordeur oopsluit, hou dit op met reen en 'n halfuur later skyn die son weer! Ons hoop maar dis 'n voorteken dat die winter verby is.

Hierdie kersies bly my gunsteling vrug. Dit word ingevoer van USA, maar werk goedkoper uit as Suid-Afrikaanse kersies in SA sal kos.
 'Gedroogde' vrugte oa kiewie, piesang, vye, mango en arbeie (meer suiker as gedroog), maar lekker, veral die piesang.
 Kase van La Provence en 'n mango uit mexico
En 'n dop om 6 maande in Wellington, New Zeeland te vier, so far so good! Rialeen het 'n Independence Pie gedrink (warm 'spicy' appelsap met rum) en ek 'n Americano (Martini Roso, soda en lemoenskil). Dis die moeite werd om Wellington toe te kom vir die Independence Pie ... regtig yummy! Rialeen noem dit apple pie in 'n glas.


Donderdag 04 Augustus 2011

'n Besoek van die polsiie😟

Die vingerafdrukkery was nie my enigste kontak met die Welllingtonse polisie nie. In Junie het ons wasgoeddraad amper geen son gekry nie en omdat die wind nie waai nie, is dit 'n stryd om die wasgoed kurkdroog te kry. Aangesien dit 'n sonskyndag was het ons besluit om my en Rialeen se winterslakens te was, maar aan die einde van die dag was dit nie droog genoeg dat ons dit op ons beddens kan sit nie. Ons is net besig om die lakens in die droeer droog te maak en ek het al my ander beddgoed op 'n hoop op die vloer voor my bed gegooi toe ons 'n vreeslike gehammer aan die voordeur hoor.

Hier is nie iets soos tralies voor die deur nie en ons voordeur bestaan omtrent net uit glas. As ek die deur oopmaak is ek honderd persent gekonfronteer met die persoon voor my. Daar is nie 'n ketting of 'n loergaatjie nie. Dis nou al heel donker en die persoon klink gedetermineerd dat ons moet hoor hy klop aan die deur. In Pretoria sou ek nie eens gedroom het om die deur oop te maak nie en as ek oopgemaak het, was daar darem nog 'n traliehek tussen in.

Ek en Rialeen kyk vir mekaar, trek skouers op en toe maak ek maar die deur oop. Groot is my verbasing om 2 reuse groot polisiemanne in volle uniform te sien. Hul gee my ook nie eintlik kans nie en stap dadelik 'n tree in ons klein popspeelhuisie in. Skielik besef ek hoe klein ons ou woontstelletjie is. Hul kon maar net saggies aan die deur geklop het en ons sou dit in elke vertrek kon gehoor het.

Hul is opsoek na 'n 'een of ander naam wat vir my niks beteken nie', Ek se, nee sorry, ek is Ronel Meintjes. Kan hul bewys van identifikasie sien? En hul wil asseblief die huis deursoek. Gelukkig le my paspoort in die kamer op die kassie. Die 2 mans volg my dadelik tot in my deurmekaar kamer. Nadat hul na my paspoort gekyk het en in die ander vertrekke ingeloer het, vertel hy dat die vrou 'n voortvlugtige is en dat hul 'n leidraad gekry het dat sy hier woon. Rialeen onthou toe dat ons al pos in die posbus gekry het wat aan die vrou geadresseer is. Hul lyk heel tevrede en vra hoe lank ons al hier woon en of ons van Suid-Afrika is. Die een ou merk op dat die polisie hier nie gewapen is soos in Suid-Afrika nie. Hy wys vir my dat hul elkeen net 'n houtknuppel (Is dit die regte woord? Ek het nie 'n Afrikaanse woordeboek hier nie.) aan hul sy dra. Hul is heel vriendelik en vra omverskoning dat hul ons bedopmakery ontwrig het en daar gaan hul weer.

Die eienaar, John, het vir ons vertel dat hier voor ons 'n vrou gebly het wat hy amper nooit gesien het nie. Sy was altyd weg vir haar werk of so iets. Hendrik se hy dink John het gese sy het op 'n boot gewerk. Nou ja, wie sy is, sal ek nie weet nie en ek hoop die polisie kry haar en sluit haar op as sy dit verdien. 

Wel, na die 2 episodes met die polisie is my gevolgtrekking dat die polisie hier het nie veel werk het nie en hul voel nie eintlik bedreig deur die boewe nie.

Hier verdien ek my brood en botter

Hier verdien ek my brood in die sweet van my aangesig.





Speelterrein voor die 'toddlers' se kamer
Dis nie sneeu nie, maar hael op die speelterrein van die Pre-school 2 en 3 kamers

Ek kyk elke dag teen hierdie pragtige berg vas terwyl ek werk

Daar gaan nie veel in die omgewing aan nie, behalwe 'n vulstasie, paneelklopper, 'n gordynwinkel en dan Dresssmart wat 'n aantal outlet winkels het, 'n Sushi eetplek en BB's cafe



BB's cafe
As dit warm is, kan mens hier buite op die stoep sit en die natuurskoon bewonder




Die busstop waar ek die weer elke dag moet trotseer

Woensdag 03 Augustus 2011

Sonsopkoms oor Johnsonville

Dis hoe dit gisteroggend gelyk het in Johnsonville toe ek 7h30 oppad was na die busstop om te gaan werk. Medisyne vir die gees!



Sondag 31 Julie 2011

Polisieklaering en vingerafdrukke

Ek moes 'n nuwe polisieklaering kry om saam met my aansoek by die New Zealand Teachers Council in te handig. Hulle was nie tevrede met die een wat ons gekry het vir ons  residensie nie. Dit was te oud. Ek sit toe mos nou reeds hier in Wellington en het eerstens nie 'n clue hoe om 'n so iets te kry van hier uit die vreemde nie.

Hendrik bel die die polisie hoofkantoor in Pretoria, maar hul is van mening dat ek in Suid-Afrika moet wees om daarvoor aansoek te doen. Theo, Hendrik se broer wat in Holland woon, vertel toe dat hy in Singapoer was toe hul aansoek gedoen het om Holland toe te gaan. Hy het na die ambassade gegaan en hul het sy vingerafdrukke en alles daar gedoen.

Eerstens werk ek op daardie stadium elke dag agt ure (+ een uur verpligte ete). Daar is nie 'n manier dat ek gedurende kantoorure by die konselaat kan uitkom nie, maar ek en Rialeen kyk op die internet vir die adres en telefoonnommer. Ek probeer hul herhaaldelik gedurende my etensuur bel, maar heellaas geen antwoord nie. Een Maandag werk ek nie en ek sit af na die adres wat ons op die internet gekry het.

Daar aangekom, sien ek geen aanduiding dat die Suid-Afrikaanse konselaat in die Vodafone gebou is nie en op die vlak wat hul aangee, is net 'n parkade. Ek sms Rialeen by die universiteit, maar sy is besig en ek moet 'n halfuur wag. Sy google weer vir my en verseker my dat dit moet in daardie gebou wees. Ek gaan op na 'n vlak waar ek sien daar word aangetoon dat daar prokureurs ens is. Die ontvangsdame daar verseker my dat die konselaat nie in daardie gebou is nie.

Rialeen se ek moet wag sy kom help my nadat haar klas verby is. Ek stap maar biblioteek toe en wag daar vir haar. Sy google weer en vind tog 'n tweede adres. Ons twee is op die einde saam daarheen en sien darem die Suid-Afrikaanse vlag voor 'n gebou en is daarin. Heellaas is die kantore daar, maar dit is toe. Ons ruk en pluk aan die deure, maar nee, dit is gesluit. 'n Hele oggend daarmee heen!

Terwyl ons vir die hysbak voor die kantore staan en wag, sien ek iets wat vir my lyk soos 'n interkom. Ek druk die knoppie en wragtig, iemand antwoord aan die anderkant ( hierdie is New Zeeland nie Suid-Afrika nie. Jul hoef nie die deur te sluit nie). Woeps gaan die deur oop en ons kan ingaan. Dankie tog! Nee, se die dametjie agter glasvensters, hul doen nie vingerafdrukke by die konselaat nie. Sy sal vir my die link email waar ek die nodige vorms kan kry en dan kan ek na die polisiekantore gaan om my vingerafdrukke te laat maak.

Jippie! Nou weet ek ten minste wat om te doen. Ek druk die vorms uit en voltooi dit, maar die res van die week spandeer ek weer my nege ure elke dag by die werk en ek kan eers Saterdagoggend na die Johnsonville polisiekantore gaan. Daar aangekom, so in die omgewing van tienuur, sien ek die deure is toe. Ek sien weereens iets wat lyk soos 'n interkom en ek druk die knoppie. Dit begin lui soos wanneer 'n mens 'n nommer op 'n foon sou bel. Iemand antwoord aan die anderkant, konstabel 'somebody' by die Wellington polisiestasie. Ongelukkig is die polisiekantore net tussen nege en vier uur oop, Maandag tot Vrydag. Hhrrrr!! Ek wil slange vang.

Die volgende week werk ek veertig ure en kan nie tussen nege en vier by die polisie 'n draai maak nie. Rialeen google weer en sien dat in Wellington CBD is die polisiestasie 24/7 oop. Sondag na kerk is ons op die bus stad toe. Nee sorry, hul kan dit nie oor die naweek doen nie, hul het nie genoeg personeel aan diens nie. Ek moet in die week kom gedurende kantoorure.

Nou al goed gatvol, drie weke is nou al verby en ek wil my aansoek in kry by die NZTC, vra ek by die werk om Dinsdag so 'n bietjie later in te kom, sodat ek net gou na nege by die polisiekantore in Johnsonville kan gaan om my vingerafdrukke te maak. Maar moenie glo nie, toe ek daaraan kom, moet ek hoor dat ek 'n afspraak moet maak, want daar is net twee personeellede aan diens en hul doen dit net elke tweede Dinsdag. Ek moet dus twee weke wag voordat ek kan kom om dit te laat doen.

Die mense by die werk lag te lekker en se: "Don't worry, you'll get there" (New Zeelanders se manier van se "more is nog 'n dag".) Wel, na twee weke het ek daar ge-get en is my vingerafdrukke gemaak en my vorms is na Hendrik gepos in Pretoria. Hy het dit na 'n week gekry en gaan ingee en ek wag nou nog vir my polisieklaering. Gelukkig het die vrou by die NZTC gese my aansoek sal in Augustus voor die raad kom al is my polisieklaering nie daar nie. Hul sal net nie my sertifikaat uitreik voordat hul nie die polisieklaering ontvang het nie.

Jul moet dus verstaan dat die polisie hier nie baie werk het nie. Klink my daar is ook nie veel polisiemanne nie. Daar is soos stokou tannies wat jou help by die toonbank. By die Johnsonville kantore het die stokou tannie (sekerlik al in die tagtig) vir my gesê sy is net 'n vrywilliger. Toe ek vir haar se ek sal haar seker weer in twee weke sien as ek my vingerafdrukke kom maak, sê sy sy dink nie so nie. Daar sal seker iemand anders daardie dag werk. Ja sure, ek dink sy was nie seker of sy nog 'met ons sal wees' nie.