Donderdag 04 Augustus 2011

'n Besoek van die polsiie😟

Die vingerafdrukkery was nie my enigste kontak met die Welllingtonse polisie nie. In Junie het ons wasgoeddraad amper geen son gekry nie en omdat die wind nie waai nie, is dit 'n stryd om die wasgoed kurkdroog te kry. Aangesien dit 'n sonskyndag was het ons besluit om my en Rialeen se winterslakens te was, maar aan die einde van die dag was dit nie droog genoeg dat ons dit op ons beddens kan sit nie. Ons is net besig om die lakens in die droeer droog te maak en ek het al my ander beddgoed op 'n hoop op die vloer voor my bed gegooi toe ons 'n vreeslike gehammer aan die voordeur hoor.

Hier is nie iets soos tralies voor die deur nie en ons voordeur bestaan omtrent net uit glas. As ek die deur oopmaak is ek honderd persent gekonfronteer met die persoon voor my. Daar is nie 'n ketting of 'n loergaatjie nie. Dis nou al heel donker en die persoon klink gedetermineerd dat ons moet hoor hy klop aan die deur. In Pretoria sou ek nie eens gedroom het om die deur oop te maak nie en as ek oopgemaak het, was daar darem nog 'n traliehek tussen in.

Ek en Rialeen kyk vir mekaar, trek skouers op en toe maak ek maar die deur oop. Groot is my verbasing om 2 reuse groot polisiemanne in volle uniform te sien. Hul gee my ook nie eintlik kans nie en stap dadelik 'n tree in ons klein popspeelhuisie in. Skielik besef ek hoe klein ons ou woontstelletjie is. Hul kon maar net saggies aan die deur geklop het en ons sou dit in elke vertrek kon gehoor het.

Hul is opsoek na 'n 'een of ander naam wat vir my niks beteken nie', Ek se, nee sorry, ek is Ronel Meintjes. Kan hul bewys van identifikasie sien? En hul wil asseblief die huis deursoek. Gelukkig le my paspoort in die kamer op die kassie. Die 2 mans volg my dadelik tot in my deurmekaar kamer. Nadat hul na my paspoort gekyk het en in die ander vertrekke ingeloer het, vertel hy dat die vrou 'n voortvlugtige is en dat hul 'n leidraad gekry het dat sy hier woon. Rialeen onthou toe dat ons al pos in die posbus gekry het wat aan die vrou geadresseer is. Hul lyk heel tevrede en vra hoe lank ons al hier woon en of ons van Suid-Afrika is. Die een ou merk op dat die polisie hier nie gewapen is soos in Suid-Afrika nie. Hy wys vir my dat hul elkeen net 'n houtknuppel (Is dit die regte woord? Ek het nie 'n Afrikaanse woordeboek hier nie.) aan hul sy dra. Hul is heel vriendelik en vra omverskoning dat hul ons bedopmakery ontwrig het en daar gaan hul weer.

Die eienaar, John, het vir ons vertel dat hier voor ons 'n vrou gebly het wat hy amper nooit gesien het nie. Sy was altyd weg vir haar werk of so iets. Hendrik se hy dink John het gese sy het op 'n boot gewerk. Nou ja, wie sy is, sal ek nie weet nie en ek hoop die polisie kry haar en sluit haar op as sy dit verdien. 

Wel, na die 2 episodes met die polisie is my gevolgtrekking dat die polisie hier het nie veel werk het nie en hul voel nie eintlik bedreig deur die boewe nie.

Geen opmerkings nie: