
Woensdag 10 Augustus 2011
Sondag 07 Augustus 2011
Ses maande in Wellington
'n Mens kan net soveel keer 500 meter teen 'n bult op kruideniersware huis toe dra. Gister het ek net besluit tot hier toe en nie verder nie. Met die laaste groot aankope was ek net uit die bed op na 'n vreeslike maagaandoening en ek was nog swak, sekerlik nie sterk genoeg om so klomp goed te dra nie. Dit het my 'n goeie knou gegee. (Ons het een van daardie 'outannie' wielietjie sakke, maar dit help nie veel nie)
Hierdie week het ek weer 3 dae plat in die bed gele met laringitits. Vir 2 dae geen stem gehad nie. Gister is dit wasgoed was en die plek netjies kry, want vandag kom hul mos weer ons huisie skou. Daar moet ook kos gekoop word en ek skop vas soos 'n halstarige donkie. Ek gaan verseker nie weer 'n klomp goed teen die bult uit dra nie. Ek is dadelik op die internet en kyk wat gaan dit ons kos om on line te shop en dit te laat aflewer. Nou ja, ons kruideniersware is bestel en betaal en hul sal dit more aand kom aflewer vir $11.
Dit was nou nie 'n geringe takie nie. Dit het my ure geneem om deur al die produkte van Woolworths te gaan en te kies wat ek wil he, maar nou het ek 'n lys van ons gunsteling produkte. Volgende keer kan ons dit in 'n japtrap doen deur na die lys te gaan en net te kliek op die produkte wat ek weer in my trollie wil he.
Vandag is ons dus vry om te gaan doen wat ons wil, geen gedrentel in die lanings van die supermark nie. Ons het besluit om 'n uitstappie te onderneem na die kosmark by die Queen's Wharf in Wellington CBD terwyl die huis geskou word. Daar is 'n groot groentemark en allerlei ander lekkernye oa ingevoerde kase, sjokolade, varsgebakte brood en ander gebak. Daar is ook stalletjies wat hot dogs, pannekoek, hamburgers en so aan verkoop. Ons het ook al in die verlede vars vis by 'n boot by die hawe gekoop.
Dit was 'n heerlike warm sonskyn dag. Ons kan die lente begin voel in die lug. Na 3 dae in die bed was dit lekker om net uit te kom en vars lug in te asem. Ons het 'n Mc Donalds ontbyt geeet en later by 'n interessante eetplekkie elkeen 'n cocktail gedrink, want more is ons presies 6 maande in Wellington en dit moet gevier word!
Met net die nodigste lekkernye en vrugte, oa mango's ingevoer uit Mexico, in ons winkelsakke het ons die bult aangedurf na ons huis, toe 'n verwoede haelstorm uitsak en ons papnat reen (die eendag wat ek nie my duur reenjas en sambreel by my het nie). Die oomblik wat ons die voordeur oopsluit, hou dit op met reen en 'n halfuur later skyn die son weer! Ons hoop maar dis 'n voorteken dat die winter verby is.
Hierdie kersies bly my gunsteling vrug. Dit word ingevoer van USA, maar werk goedkoper uit as Suid-Afrikaanse kersies in SA sal kos.
'Gedroogde' vrugte oa kiewie, piesang, vye, mango en arbeie (meer suiker as gedroog), maar lekker, veral die piesang.
Kase van La Provence en 'n mango uit mexico
En 'n dop om 6 maande in Wellington, New Zeeland te vier, so far so good! Rialeen het 'n Independence Pie gedrink (warm 'spicy' appelsap met rum) en ek 'n Americano (Martini Roso, soda en lemoenskil). Dis die moeite werd om Wellington toe te kom vir die Independence Pie ... regtig yummy! Rialeen noem dit apple pie in 'n glas.
Donderdag 04 Augustus 2011
'n Besoek van die polsiie😟
Die vingerafdrukkery was nie my enigste kontak met die Welllingtonse polisie nie. In Junie het ons wasgoeddraad amper geen son gekry nie en omdat die wind nie waai nie, is dit 'n stryd om die wasgoed kurkdroog te kry. Aangesien dit 'n sonskyndag was het ons besluit om my en Rialeen se winterslakens te was, maar aan die einde van die dag was dit nie droog genoeg dat ons dit op ons beddens kan sit nie. Ons is net besig om die lakens in die droeer droog te maak en ek het al my ander beddgoed op 'n hoop op die vloer voor my bed gegooi toe ons 'n vreeslike gehammer aan die voordeur hoor.
Hier is nie iets soos tralies voor die deur nie en ons voordeur bestaan omtrent net uit glas. As ek die deur oopmaak is ek honderd persent gekonfronteer met die persoon voor my. Daar is nie 'n ketting of 'n loergaatjie nie. Dis nou al heel donker en die persoon klink gedetermineerd dat ons moet hoor hy klop aan die deur. In Pretoria sou ek nie eens gedroom het om die deur oop te maak nie en as ek oopgemaak het, was daar darem nog 'n traliehek tussen in.
Ek en Rialeen kyk vir mekaar, trek skouers op en toe maak ek maar die deur oop. Groot is my verbasing om 2 reuse groot polisiemanne in volle uniform te sien. Hul gee my ook nie eintlik kans nie en stap dadelik 'n tree in ons klein popspeelhuisie in. Skielik besef ek hoe klein ons ou woontstelletjie is. Hul kon maar net saggies aan die deur geklop het en ons sou dit in elke vertrek kon gehoor het.
Hul is opsoek na 'n 'een of ander naam wat vir my niks beteken nie', Ek se, nee sorry, ek is Ronel Meintjes. Kan hul bewys van identifikasie sien? En hul wil asseblief die huis deursoek. Gelukkig le my paspoort in die kamer op die kassie. Die 2 mans volg my dadelik tot in my deurmekaar kamer. Nadat hul na my paspoort gekyk het en in die ander vertrekke ingeloer het, vertel hy dat die vrou 'n voortvlugtige is en dat hul 'n leidraad gekry het dat sy hier woon. Rialeen onthou toe dat ons al pos in die posbus gekry het wat aan die vrou geadresseer is. Hul lyk heel tevrede en vra hoe lank ons al hier woon en of ons van Suid-Afrika is. Die een ou merk op dat die polisie hier nie gewapen is soos in Suid-Afrika nie. Hy wys vir my dat hul elkeen net 'n houtknuppel (Is dit die regte woord? Ek het nie 'n Afrikaanse woordeboek hier nie.) aan hul sy dra. Hul is heel vriendelik en vra omverskoning dat hul ons bedopmakery ontwrig het en daar gaan hul weer.
Die eienaar, John, het vir ons vertel dat hier voor ons 'n vrou gebly het wat hy amper nooit gesien het nie. Sy was altyd weg vir haar werk of so iets. Hendrik se hy dink John het gese sy het op 'n boot gewerk. Nou ja, wie sy is, sal ek nie weet nie en ek hoop die polisie kry haar en sluit haar op as sy dit verdien.
Wel, na die 2 episodes met die polisie is my gevolgtrekking dat die polisie hier het nie veel werk het nie en hul voel nie eintlik bedreig deur die boewe nie.
Hier verdien ek my brood en botter
Hier verdien ek my brood in die sweet van my aangesig.

Speelterrein voor die 'toddlers' se kamer
Dis nie sneeu nie, maar hael op die speelterrein van die Pre-school 2 en 3 kamers
Ek kyk elke dag teen hierdie pragtige berg vas terwyl ek werk

Daar gaan nie veel in die omgewing aan nie, behalwe 'n vulstasie, paneelklopper, 'n gordynwinkel en dan Dresssmart wat 'n aantal outlet winkels het, 'n Sushi eetplek en BB's cafe
BB's cafe
As dit warm is, kan mens hier buite op die stoep sit en die natuurskoon bewonder
Die busstop waar ek die weer elke dag moet trotseer

Woensdag 03 Augustus 2011
Sonsopkoms oor Johnsonville
Dis hoe dit gisteroggend gelyk het in Johnsonville toe ek 7h30 oppad was na die busstop om te gaan werk. Medisyne vir die gees!
Teken in op:
Plasings (Atom)










































