Woensdag 22 Januarie 2014

Sulet se besoek: Auckland

Nou ja, so kom Sulet se kort kuiertjie tot 'n einde. Ons kon net so hier en daar grond raak in Auckland, want daar is so baie om te sien, ons het nie geweet wat om te kies nie. Sulet wou graag die middestad gedeelte sien en dit is dus waar ons begin het. Ons het met die bus ingery en die dag in die stad deurgebring, koffie gedrink, toe Sushi geëet en met die Skytower opgegaan.




Die uitsig vanaf die Skytower is fantasties, maar dit maak nou nie eintlik mooi foto's nie.





Die volgende dag is ons Mount Eden toe om vir Sulet 'n vulkaniese krater te gaan wys.



Pa en dogter
'Oupa en ouma'... haha  (lyk nie of ons ooit 'n oupa en ouma gaan word nie)
Takapuna Beach met die vulkaniese Rangitoto Eiland op die agtergrond.

Ma en dogter :)
Lake Pupuke in Takapuna is hartvormig en gevorm deur 'n vulkaniese krater wat oor jare met varswater gevul geraak het.




'n Pukeko of 'swamphen', 'n  inheemse voël van New Zealand
Dit was die laaste foto's wat ons geneem het van Sulet se besoek. Ons het Oujaarsaand stil saam met die res van die Meintjes in Auckland spandeer en twee-uur die middag op Nuwejaarsdag het Sulet terugvertrek Suid-Afrika toe. My hart is gebreek. Die kuier was net te kort! Daar is nog so baie wat ek vir haar wou vertel, baie om te wys, baie om na te luister en ek wou haar nog langer teen my vashou, maar dit is nou maar die keuse wat ons gemaak het en haar keuse om in Suid-Afrika te bly. Na drie jaar is dit nog steeds die moeilikste ding om mee saam te leef. Ons is so gelukkig hier... Ons lewens sou volmaak gewees het as..., maar dit gebeur net in die movies. Ek moet vrede maak daarmee en daarmee saamleef. Hopelik kan ons binnekort weer Suid-Afrika toe gaan.


Maandag 20 Januarie 2014

Sulet se besoek: Oppad Auckland toe

Die tyd het net té vinnig verby gegaan. Daar was net soveel meer wat ons nog in Wellington wou doen, maar Sulet sou van Auckland Lughawe terug vlieg Suid-Afrika toe. Rialeen en Tim was oppad na sy ma se plaas naby Napier. Rialeen wou graag 'n dag in Napier saam met Sulet spandeer en ons het dus op 27 Desember die tog aangepak Auckland toe. Ons plan was om 'n nag in Napier oor te bly en 'n nag in Tãupo. Dit sou ons twee dae in Auckland gee voor Sulet se vertrek op Nuwe Jaarsdag.

Ons het verlede jaar ook in Napier oorgeslaap oppad huis toe van Auckland. Ons het die Pebble Beach Motel geslaap en het eintlik net daardie gedeelte langs die strand verken en foto's daar geneem. NapierRialeen en Tim kom gereeld in Napier as hul vir sy ma gaan kuier op die plaas. Rialeen en Tim het dus heelwat plekkies gehad wat hul vir Sulet wou gaan wys.

Napier
'Fish and chips on the beach New Zealand style'
 Sulet het besluit sy is lus vir vis en chips vir aandete. Ons het sommer by 'n winkeltjie naby aan die strand gekoop. In die somer gaan die son mos eers teen 9 uur in die aand onder. Hierdie foto is seker so 8 uur geneem.
Napier strand



Die middestad







Dan is dit tyd vir die twee om te groet, Sulet oppad Auckland toe om terug te vlieg Suid-Afrika toe en Rialeen oppad plaas toe saam met Tim.


upo
En ons sit ons tog voort na Tãupo. Verlede jaar het ons hier oorgebly oppad na Auckland en ek wou dit graag vir Sulet wys. Dit is net so mooi en ons kon die vulkaniese berg duidelik sien die volgende oggend. Ek het honderde foto's geneem, maar hierdie jaar reën dit en dis koud. Als bederf!
Ons motelkamer
met die uitsig oor die Taupo Meer
Daar was 'n spesiale bad in ons kamer waarin ons warmbronwater direk uit die aarde kon intap en heerlik kon ontspan.
Ons wou Sulet vir 'n stappie langs die meer vat, maar sy het verkluim en vinnig omgedraai terug motel toe.

Rotorua
Rotorua is bekend vir warmwaterbronne en borrellende modderpoele. Ons moes dus daarom ry om vir Sulet te wys, maar dit is ook bederf deur stortende reën. Sulet kon net vinnig uitspring en pose vir 'n vinnige fotot. Wat 'n teleurstellling!
Stomende water
Borrellende modderpoele

Ons het maar skuiling gaan soek in die toeriste winkel in die dorp en 'n paar Maori-kunswerke bestudeer.

Die rut na Auckland was maar emosioneel vir my, want die besef dat Sulet se besoek tot 'n einde kom, was die hele tyd in my gedagte. Maar nou ja, alle goeie dinge kom tot 'n einde! Ek onthou net hoe pynvol daardie oomblik vir my was toe ek haar vir die laaste keer sien wegstap het op die lughawe toe sy in 2011 hier kom kuier het. 'n Mens wens net tyd kan gaan stilstaan en die kuier kan net aan hou en aan hou, maar dit gebeur ongelukkig net in drome.

Sondag 19 Januarie 2014

Sulet se besoek aan Wellington

Twee weke se kuier is net te min! Sulet het Dinsdag 17 Desember om 23h45 in Auckland geland nadat sy vir 4 dae in Singapore oorgebly het. Frederik (Hendrik se broer) was so vriendelik om haar te gaan oplaai en weer betyds op die lughawe te hê om 14h00 Woensdag Wellington toe te vlieg. Ek het nog gewerk tot die Vrydag en Sulet het nog gesukkel met vlugvoosheid. So, ons kuiertjie het maar stadig begin.

Sy en Hendrik het dus die eerste twee dae saam spandeer terwyl ek en Rialeen nog gewerk het. Rialeen het net kom inloer om te groet en Sulet het by Rialeen gaan inloer om Tim te ontmoet. Saterdag het die twee tyd saam spandeer in die stad. Rialeen het lank uitgesien om allerlei plekkies vir haar suster te gaan wys.

Sondag was dus uiteindelik my en Sulet se dag saam. Ons is vroeg kerk toe na 'n diens van Arise Church in die Michael Fowler Centre. Daarna het ons na die mark gegaan by die Queens wharf en later in Cuba straat iets gaan eet.
Queens Wharf 



Oukersaand
Gelukkig het ons mos nou 'n sjef in die gesin. Rialeen se panforte ('n Italiaanse vrugtekoek) wat sy vir ons gebak het in die plek van 'n tradisionele vrugtekoek.
  
Rialeen en Tim besig om my te treiter terwyl ek probeer om 'n foto van hul te neem.
 

 Ons gesin uiteindelik saam vir die eerste keer in 3 jaar.
Kersdag
Rialeen en Tim was nie saam met ons vir Kersdag nie en ons het besluit om sommer net rond te ry in die Wellington-omgewing, plekke waarvan ek al baie foto's geneem het en graag vir Sulet wou wys.

Wainuiomata Beach




 
Kaitoke Regional Park
Net voor die park is hierdie opgaardamme waar Wellington se water vandaan kom.

Na 'n piekniek hier in die park, wat bestaan het uit die oorskiet van die oukersaand, het Hendrik besluit om 'n middagslapie te vat en ek en sulet het bietjie rondgestap in die park. Die park hou 'n besondere bekoring vir my in. Dis die eerste plek wat my regtig geroer het toe ons hier in Wellington aangekom het. Kersdag was bietjie van 'n teleurstelling, want gewoonlik is daar nie baie mense nie en dit is dus regtig vreedsaam. Kersdag was dit vol kampeerders met tente, campervans ens en hul het musiek gespeel en daar was oral kinders besig om krieket te speel of balle rond te skop. Die rustigheid was dus versteur.



 Avalon Park
Oppad huis toe wou Hendrik gou vir Sulet die eendjies by ons gunsteling park gaan wys.

Die somer is dit maar koud en winderig. Sulet het verkluim veral na die 4 dae wat sy in Singapore se hitte deurgebring het. Soos jul kan sien het ons ook maar langbroeke en moue aan, maar mens raak die laer temperature gewoond. Ek haat net die wind! Selfs as ons in die Kaap gekom het of Natal toe gegaan het, het die wind my mal gemaak. Hier dryf die stormsterkte winde ons die jaar teen die mure uit.

Maandag 02 September 2013

Een jaar in Wellington vir Hendrik

Binnekort sal Hendrik 'n jaar hier in New Zealand wees. Die tyd het gevlieg! Ek is net bly dat ons nou weer saam is. Ons lewens hier is totaal anders as wat ons aan gewoond was in Suid-Afrika. Natuurlik is daar laagte punte, maar oor die algemeen gaan dit goed met ons. Ons het 18 maande appart van mekaar gewoon en ons huwelik het dit oorleef. Nou worstel ons weer met die feit dat Hendrik nog nie 'n werk kon kry nie, maar dit sal ons nie onderkry nie. Ek werk en ons oorleef op my inkomste. Nog 'n inkomste sal welkom wees, maar ons is darem nie heeltemal armlastig nie.

Ek sukkel maar met die leë-nes-sindroom vandat Rialeen die huis verlaat het. Ek en Hendrik is baie gelukkig so op ons eie, maar 'n mens mis jou kinders. Rialeen drafklas in die dag en werk daarna by die Te Papa Museum se restaurant in die kombuis, soms tot 2 uur in die oggend. Ek sien haar baie min al woon sy net so 200 meter hier van ons af. Sy kom gereeld hier by Hendrik 'n draai maak terwyl ek by die werk is. Sy loop hier verby na die busstop toe. Vrydae het sy nie klas nie, dan kom sy soms hier ontbyt maak vir hulle.

Hendrik hou hom besig deur volunteerswerk by die Hospice Shop hier in Jacksonstraat te doen. Die ou tannies daar benut hom goed. Dinsdae ry hy saam met Ian met die lorrie en laai hul goed op wat geskenk word om in die winkel te verkoop of laai hul goed af wat mense gekoop het. Dit gee hom goeie geleentheid om sy Engels te oefen en hy ken die Hutt Valley nou al van hoek tot kant. Die tannies gee darem altyd vir hom tee en koek as hy daar is. As ek daar 'n draai maak, vertel die vrouens altyd hoe dankbaar hul vir sy hulp is.

Verder hou hy die huis aan die kant en was die wasgoed. Dit maak my lewe soveel makliker, want ek spandeer my dae by die werk en is net te dankbaar dat ek my nie daaroor ook nog hoef te kwel nie. Ek pak net my klere weg, kook kos en bak koekies en beskuit as ek lus het. Ons doen saam al ons kruideniersaankope. Hy stap darem soms supermark toe deur die dag om 'n paar goed wat ons dringend nodig het, te koop . Hy is ook besig om 'n Meintjes-familiestamboom saam te stel en sit heeldag voor sy rekenaar en werk.

Hy het darem nou 'n goeie agent gekry wat hard besig is om hom in Auckland te bemark, soos sy sê. Hy bly met haar inkontak en werk gedurig aan sy CV vir spesifieke poste en kyk maar self ook rond na moontlikhede op die internet, maar die ekonomie is maar swak. Ons hoor gedurig op die nuus van mense wat afgedank word. Hy het darem onlangse Auckland toe gevlieg vir 'n onderhoud en hul het hom tot op nommer 99 laat glo dis sy job, maar nou ja, op die einde het hy dit nie gekry nie. Dit was die ideale posisie by 'n Amerikaanse maatskappy wat kantore hier in New Zealand het.

Hy voel maar soms moedeloos. Ek troos hom maar daarmee dat hy vir baie jare vir my en die kinders gesorg het, nou is dit ons beurt om na hom te kyk. Rialeen is onafhanklik. Sy studeer met geld wat sy rentevry leen van die regering se studentefonds en kry 'n 'student grand' om haar verblyf- en reiskostes te dek. Sy verdien genoeg om vir haarself te sorg en sy verwag niks van ons nie. 

Die grootste frustrasie is dat 'n mens gevestig wil raak en dit kan ons nie doen nie. Ons weet nie of ons hier in Wellington gaan bly nie. Ons aanvaar dat Hendrik waarskynlik nie hier werk gaan kry nie. Ons lewens hang dus in die lug. As hy 'n werk kry, kan ons gevestig raak en begin dink om 'n huis te koop. Alles nou is dus net tydelik. 

Ons woon baie lekker hier in Petone. Dit is ruim, sentraal en naby aan die strand, maar dit is nie die beste omgewing nie. Dit is maar soos 'n woonstelgebied in Suid-Afrika in die ou dae was. Meeste plekke word uitgehuur en word nie wonderlik instand gehou nie. Die plek waar ons woon, is in 'n taamlike goeie kondisie, maar dit kort aandag. Die eienaar is in die proses om dit so bietjie op te gradeer, maar dit gebeur maar stadig. Ons is gewoond om ons eie plek te hê en mens verlang daarna. Ons sal graag weer 'n troeteldier wil aanhou, maar hier laat meeste eienaars wat uitverhuur dit nie toe nie. 'n Hondjie sou Hendrik goed gedoen het, maar ons kan dit net nie nou doen nie.

Ek mis vir Sulet baie, maar hul plekke is bespreek vir Desember. Hul sal Singapore om vlieg en 'n paar dae daar by Theo en Elaine (Hendrik se broer en skoonsuster) kuier en dan tot in Auckland vlieg. Dit werk so bietjie goedkoper uit. Dit is baie duur om in Desember hierheen te kom, maar dis al tyd wat Philip kan. Hulle kantore maak daardie tyd van die jaar toe. Ons sien baie uit daarna en ek is opgewonde om my kind weer in my arms te kan vashou. 

My een kollega, Malinda, is tans in Suid-Afrika. Dis die eerste keer in meer as tien jaar wat hul terug is vir 'n besoek. Hul kon dit nog nooit bekostig nie en kan dit nou ook nie bekostig nie, maar haar skoonpa is baie siek en hul is in 'n haas hier weg met geleende geld. Ek kan nie wag om van haar te hoor nie. Hulle kom van Kaapstad af.  Hul het hierheen gekom na 'n hijack-episode en kort daarna is haar kinders by die kleuterskool as gyselaars aangehou deur misdadigers wat oor die muur van die skool gespring het, terwyl die polisie jaggemaak het op hulle.

Malinda raak baie melancholies as sy oor Suid-Afrika of haar familie praat. Hulle het nog nooit New Zealandse burgerskap aanvaar nie en in haar kop gaan sy nog eendag teruggaan. Haar kinders is groot en is ware Kiwi's. Hul ken Suid-Afrika glad nie en haar jongste seun praat net Engels. Die dogter verstaan darem nog Afrikaans. Ek kan nie sien dat hul dit ooit sal doen nie.

So het elke Afrikaner hier 'n storie. Almal het 'n familie in Suid-Afrika. Elkeen het 'n een of ander tyd misdaad aan hul lyf gevoel of iemand baie na aan hul. Iemand het my vertel hoe sy haar bure in die hospitaal besoek het wat die vorige nag papgeslaan was deur inbrekers. Sy kon vir weke nie 'n oog toemaak daarna nie en binne 3 maande was hul hier asof hul op vakansie kom. Sy het 'n werkspermit gekry nadat hul hiergekom het en verblyfsreg daarna. Vir niemand is dit lekker om hul familie agter te laat nie. Sommiges is gelukkig hul kan gereelde besoeke bekostig en hul familie kan hierheen kom, maar vir baie is dit nie so nie. Party is bloot net te bang om terug te gaan uit vrees dat hul weer so iets moet beleef. Ek en Hendrik sal beslis weer teruggaan om te kuier as ons dit kan bekostig. Ons het 'n kind daar en ons wil ons familie bittergraag weer sien.

Werk of nie werk nie, Hendrik voel so seker soos ek, dat ons nie sal teruggaan om in Suid-Afrika  te woon nie. 'n Mens nie weet die toekoms inhou nie en miskien is daar omstandighede wat ons terugdwing. Ek weet nie of Rialeen ooit weer sal gaan nie, nie eens vir 'n besoek nie, miskien eenkeer om vir Tim te gaan wys. 

Ons kan nooit kry in Suid-Afrika wat ons hier kry nie. Hier word na ons gekyk. As ons tien jaar hier woon en ouer as 65 jaar oud is, is ons geregtig op 'n staatspensioen wat genoeg is om van te leef. Ons albei behoort aan Kiwisaver wat 'n spaarplan van die staat is om jou pensieon aan te vul. Sodra jy aansluit, betaal die staat $1000 in jou rekening. Jou werkgewer dra 3% van jou inkomste by en jy kan kies om vanaf 2 tot 4% van jou inkomste by te dra. As jy $1100 in 'n jaar uit jou inkomste inbetaal, gee die staat vir jou $500. Die geld kan net onttrek word as jy vir die eerste keer 'n huis koop of as jy 65 jaar oud is. Ek, Hendrik en Rialeen het dus $3000 gekry toe ons aangesluit het. Ek en Rialeen het elke jaar meer as $1100 inbetaal en elkeen weer $500 gekry. Oor die langtermyn is dit 'n klomp geld!

As ek siek is, gaan ek na 'n opleidingshospitaal hier in ons omgewing en dit kos my niks nie. Dis skoon en netjies en die mense is beleefd. Ek gaan gewoonlik na-ure en moet wag wat irriterend is, maar met 'n boek in my handsak, oorleef ek dit. Ek betaal 'n bybetaling van $5 op 'n voorskrif. Ek word jaarliks herinner om my cholestrol te laat toets en dit kos my niks nie. Hendrik het 'n probleem ondervind met medikasie wat hy geneem het toe hy hier by ons gekuier het. Hy moes elke dag sy bloed laat toets en die dokter sien. Dit alles was gratis.

Enige besering wat as 'n ongeluk beskou word ingesluit motorongelukke, word deur die Accident Compensation Company gedek. Alle mediese behandeling, terapie ens wat hierop volg, word deur die ACC betaal. Dit is wat gebeur het toe Rialeen die spier van haar duim afgesny het met 'n NT-cutter. Dis in die teater geheg. Sy het 'n paar spalke en handterapie gekry vir weke. Dit het ons nie 'n sent gekos nie.

Hier is nie inflasie nie. Toe ons hier gekom het, het 'n koppie koffie by 'n cafe $4 gekos. Dit kos nou nog $4. Piesangs kos $2.99 behalwe as dit op special is. Brood, melk en vleis kos nog steeds dieselfde. In die winter word tamaties ongelooflik duur, maar as die somer kom, is dit weer spotgoedkoop teen dieselfde somerpryse. 

En natuurlik die belangrikste van alles, ons hoef nie agter slot en grendel te woon nie. Ons kan vrylik in die nag in die straat stap. Rialeen werk dikwels tot laat in die nag. As dit na middernag is, betaal die Te Papa vir 'n taxi. Anders haal sy 'n bus en stap vanaf die busstop huis toe. Sy het nog nooit bedryg gevoel nie. Sy kla soms oor 'n paar te vrolike jongmense op die bus wat haar irriteer, maar hul het haar nog nooit bedryg laat voel nie.

Deur die lang storie probeer ek sê dat alles nie net rooskleurig is nie. Daar is trane, verlange, depressie, angs ..., maar nooit twyfel of ek die regte ding gedoen nie. Maak nie saak wat nie, ek weet ek kan nooit weer teruggaan nie. Hierdie is nou my lewe. Rialeen het getwyfel of Hendrik ook so voel en ek het hom gevra. Hy het sonder om te twyfel gesê, hy is gelukkig hier en hy sal nie teruggaan nie. Hy is nie spyt dat hy gekom het nie, maar hy sal dit oorweeg om eendag in Australia te gaan woon en werk 😊