Woensdag 02 Januarie 2013

Takapuna

Ons besoek aan Takapuna hou 'n lang en ingewikkelde storie in wat daar toe gelei het dat ons tien kilometer gestap het daardie dag (seker maar my skuld). Ons het darem baie goeie oefening gekry. Ons dagstappie het daar waar die twee toringgeboue op die eerste foto is, begin en die omdraaippunt was waar die park (in die voorste groen, sirkelarea) is. Tot by die park was dit vyf kilometer en die terugpad was dus ook vyf kilometer (onbeplan). Nou ja, tien kilometer later het ons doodhonger by ons beginpunt gearriveer, maar dit was die moeite werd (volgens my. Hendrik swyg nog daaroor).

Die foto het ons die volgende dag vanaf Mount Victoria geneem in Devonport. Die park was duidelik sigbaar van die top van die berg af.
Die kaart toon die roete en afstande aan wat ons gestap het.
Toe ons verlede jaar in Auckland was, het ek, Rialeen en Andries Takapuna 'n paar keer besoek. Die busse loop hier deur na die CBD en ons kon maklik afspring en weer opspring. Ek wou dit graag vir Hendrik gaan wys, maar in my kop was daar 'n baie mooi park in die rigting van Devonport. Nou ja, na vyf kilometer se stap, het ons geweet die park is net in my kop (later het ek uitgevind die park is in Ponsonby en nie Takapuna nie). Gelukkig het ons die kaart gekry by dié park wat wel in Takapuna is. Dit het aan ons getoon hoe ver ons reeds geloop het en die terugroete aangetoon. Ons het gelukkig die beste van 'n slegte saak gemaak en die dag baie geniet. Ons kon darem water en sap koop by 'n BP vulstasie en vrugte by 'n stalletjie oppad. Daarna het ons die roete terug gevolg en baie foto's geneem. Die wandelpad loop langs die see en die skytower en ander hoë geboue in die CBD is kort-kort insig.

Die park het nie veel ingehou behalwe die eienaardige kunswerk nie (wat ons nie kon waardeer nie) en die pragtige uitsig oor die stad.

Dan begin die goed uitgelegde wandelpad met duidelike aanwysings om te volg.

 Koning Hendrik op sy troon

 Hier spandeer ouers baie tyd saam met hul kinders. 'n Mens sien oral gesinne op fietse, in parke, by eetplekke en op die strande.



Hierdie twee toringgeboue op die onderste foto is weer in Takapuna se middedorp.


Oral was bordjies soos die, om die roete aan te toon. Hendrik dra ons vrugte wat ons by 'n stalletjie langs die pad gekoop het, in die rooi sak
'n Blaaskansie en ek moet darem wys ek was ook daar.
Daar is soos aangetoon op die kaart 'n speelparkie met skoon toilette op die roete.
Dan stap ons maar weer voort.


'n Pragtige eendjie by 'n pannetjie water langs die pad en
'n Pukekuo (New Zealand swamp hen), dit is 'n inheemse spesie wat floreer hier in New Zealand
Die eendjies is so besig om kos te soek dat ek hul nie met hul koppe bo die water gevang kon kry nie.

Gedeeltes van die pad stap 'n mens deur die woonbuurt. Die 3 privets voor die huis was vir my te oulik
Die tekens op die sypaadjie toon aan waar langs die kinders van die skool af stap.

Moeg en honger kom ons weer by die middedorp aan. Nadat ons geeët het, begin die soektog na ons kar. Ons kom op die kunswerk af  
en die seetoneel.
Na 'n lang gesoek vind ons die kar en kom agter ons kon net deur 'n stegie gestap het van die cafe waar ons geeët het. Asof ons nog nie genoeg gestap het vir een dag nie!

Dinsdag 01 Januarie 2013

Muriwai Beach Regional Park

Muriwa Beach Regional Park strek oor 50 kilometer van die Tasmaniese kus tot by die mond van die Kaipara hawe. Dit is bekend vir die swartsand wat veroorsaak is deur die hoë ysterinhoud as gevolg van volkane in die gebied eeue gelede. Dit is die tuiste van 'n groot kolonie 'Australasian Gannets' (Sula Serrator) wat hier broei. Dit is wat ons na die strand gelok het. Min het ons geweet ons gaan ses kilometer moet stap om die kuikens te sien! Die gps het ons na die reservaat gevat en nie na die strand die naaste aan die voëls nie. Nie dat ek en Hendrik omgee om te stap nie. Dit was so 'n misreëndag en dus glad nie warm nie. New Zealand se uv is net so hoog omdat hier nie besoedeling is nie en die sonnetjie het ons dus goed bygekom.

Soos altyd was daar 'n kaart om die roete aan te toon en al die belangrikste punte uit te wys.
Ons karretjie is ook honderd persent veilig hier op sy eie.
Dan begin die stap.
4x4 voertuie word hier toegelaat op die strand.
Frederik het darem soos altyd sy hoed op en die twee gesels lekker met hul voete in die water.
Ons het gelukkig 'n bottel water in die kar gehad.
 Hendrik het al diep spore in my lewe getrap hier in New Zealnd :-). Dis lekker om sy voetspoor so in die sand te sien, 'n bewys dat dit nie net 'n droom is nie.

Die voëls begin sigbaar word op die koppie voor ons.
Eers weer skoene aantrek voordat ons die rotse aandurf.
En dan begin ons die teen die berg opstap.
 

'n Blaaskansie terwyl die manne die kaart bestudeer.
Ek neem 'n paar foto's van gebeure onder ons.


Dan is dit weer klimtyd!
Uiteindelik by die uitkykpunt!




Gelukkig is daar 'n cafe net weg van die strand met 'n speelpark en skoon toilette. Ek is dood van die honger, na 'n broodjie en koffie, sien ek weer kans vir die terugpad.



'n Karavaanpark as jy wil oorbly.

'n Uitkykpunt om die hele gebied op die strand dop te hou vir ongevalle of nood.
Perde word ook toegelaat op die strand (maar daar is nie sakkies vir hulle mis nie. Die honde s'n moet mens optel)


'n Netjiese toilet by die eindpunt waar ons kar geparkeer is.