Ek wou begin deur te vertel van ons kersfees in Auckland, maar daar is net teveel ander dinge in my kop aan die gang. Jul sal dus maar moet wag om te hoor van ons kersfees hier by Frederik en Andries.
Rialeen is verlief op Auckland en wil hierheen trek, maar Wellington is nou maar vir eers my huis. Dit is so dat al die mense wat ek ken uit Suid-Afrika woon hier in Auckland, maar Wellington is waar ek nuwe vriende gemaak het, werk en my voete gevind het in New Zealand. Ek kan nie nou myself ontwortel om weer hier in Auckland 'n nuwe begin te maak nie.
Ek het op die 23ste Desember die tog met die bus onderneem na Auckland om by my swaer, Frederik en sy seun, Andries te kuier. Die idee was om vir 'n week, miskien twee, hier te kuier, maar omdat ek nie betyds vir ons plek terug bespreek het nie, kan ons nou eers die 11de Januarie teruggaan. Al die vliegtuie, bus en trein is vol bespreek. Andries gaan saam met ons terug om vir 'n week in Wellington te kuier. Ons het darem nou plek op die 'scenic' trein wat ook weer 'n dagreis is tussen Auckland en Wellington, maar ons sien baie daarna uit, want ek het gehoor dit is verskriklik mooi. Dit kos ons ook meer as dubbel die prys wat ons twee weke gelede betaal het om hier te kom.
Frederik se dogter, Marnie en haar man, Barend het ook intussen hier aangekom om hul te vestig in New Zealand. Marnie is swanger met hul eerste kind. Dit gaan ook die eerste Kiwi-kleinkind wees onder ons. Frederik huur 'n gemeubileerde huis hier in Coatesville op die North Shore. Dis so entjie uit die stad uit en public transport is nou die so beskikbaar soos in Wellington nie. Hy het 'n kar, maar ek en Rialeen is mos maar gewoond om op ons eie reg te kom. Sy en Andries het ook al die busdiens hier beproef en kom heel goed oor die weg. Ons moet seker so 'n kilometer stap teen bulte en opdraendes en oor 'n groot pad gaan om by die naaste busstop uit te kom, maar ons kan onsself nou al goed help hier in Auckland. Hier is nie 'n treindiens nie en die bussdiens is maar terleurstellend teenoor Wellington veral omdat ons so ver uit die stad woon. Dit lyk of dit baie beter is in die sentrale gedeeltes.
Maar ons doen dit en het dit sover oorleef. Frederik moes ons net vanaand in die stad by die skytower kom oplaai, omdat hul van die busse gekanselleer het en daar geen busse na vyfuur North Shore se hierdie kant toe gekom het nie. Daar het toue mense by die busstop gestaan en mimmireer. Dit is al die 4de Januarie, maar omdat dit nog 'vakansie' is, het hul gedink dit is nie nodig om die express service gedurende spitsure te laat loop nie. Al die mense wat van die werk af gekom het, was dus gestrand (groot stad met klein dorpie mentaliteit).
Ons bly al amper 'n jaar in Wellington en ons het nog altyd op ons eie by die huis gekom. Die enigste keer wat ons 'n taxi moes vat, was die aand toe Rialeen uit die hospitaal gekom het en ons nege-uur in die aand nog 'n uur moes wag vir 'n bus stad toe en dan 'n trein moes haal na Johnsonville. Ons het net nie lus gehad om daardie tyd van die aand te sukkel nie. Ons het al 100km uit Wellinton gegaan na Masterton en weer terug sonder 'n oomblik se probleme.
Ek is nou maar eenmaal verlief op Wellington en sal moeilik Auckland toe trek as dit moet. Wellington is net 'n groot dorp met 350 000 mense en Auckland is 'n groot stad met meer as 'n miljoen mense. Dit is ook baie meer kosmopolitaans. 'n Mens sien amper nie 'n tipiese europese mens as jy in die strate loop in die middestad nie. Dit is dus baie meer onpersoonlik en mense maak nie sommer praatjies met 'n mens soos in Wellington nie. Meeste mense wat in groepe van twee of meer is, praat nie Engels met mekaar nie, maar in 'n ander taal.
In die bus het ons nou die dag Afrikaans gepraat, die mense voor ons het Amerikaanse Engels gepraat. Skuins voor ons het 'n swartman gesit, 'n tipiese Afrikapersoon, agter ons het mense in Frans gesit en praat en langs ons het mense Chinees gepraat. So is dit oral in die strate in die middestad. Gister het daar twee verliefdes saam met ons by die busstop gesit en Duits praat.
Ek is maar 'n bietjie gatvol na ons ervaring met die bus vandag in die middestad. Ons het twee ure daar rondgestaan en nie geweet wat aangaan nie, totdat ons besluit het om maar vir Frederik te bel om ons te kom haal. Wat doen 'n mens as jy nie iemand het om jou te kom oplaai nie? Ons woon amper 20 kilometer uit die middestad. Ek wil nie eers dink wat sou 'n taxi gekos het nie. Dit is belaglik vir so 'n modernde stad!
Nee wat, gee my maar Wellington met sy koue weer, pragtige sonskyndae en vriendelike, warm mense!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking