Donderdag 05 Januarie 2012

Busrit na Auckland

Frederik en Andries se aankoms in Auckland het ons darem van 'n eensame kerstyd gespaar. Soos ek reeds vertel het, het Rialeen so 3 weke gelede Auckland toe gekom om by hulle te kuier. Ek het ook op die 23ste Desember die Intercity bus gehaal en die elf ure tog hierheen onderneem. Ons kon vir dieselfde prys vlieg (wat seker nie langer as 'n uur sou gewees het nie), maar dan sien 'n mens niks van die land nie.

New Zealand is die ongelooflikste mooi plek! Ek kon nie slaap op die bus nie, ek was te bang om iets te mis. Ek het soos gewoonlik 'n klomp foto's deur die venster van die bewegende bus geneem of as ons gestop het om mense op te laai. Omdat dit so naby aan kersfees was, was die bus natuurlik voller as gewoonlik en baie meer mense het op en afgeklim. Elke keer moet die busbestuurder afklim, bagasie aflaai en oplaai. Ons het dus amper twaalf ure gereis en dit is nogal vermoeiend, maar die moeite werd.

Ons beplan om die 11de Januarie weer terug te gaan met die 'scenic train'. Suzanne (die Duitse student wat saam met my gewerk het) het vir my gese dat sy al op verskeie plekke in die wereld sulke 'scenic' treinritte onderneem het en dat hierdie tog tussen Wellington en Auckland die mooiste is wat sy nog ooit gesien het. Hulle werk ongelukkig aan die treinspoor tussen kersfees en nuwe jaar, eintlik tot die 8ste Januarie. Dis hoekom ons eers so laat in Januarie terug sal gaan Wellington toe.

'n Paar foto's van interessanthede langs die pad:






Ek het nog nooit soveel oumense gesien soos hier in New Zealand nie. As jy 'n gebore New Zealander is, het jy 'n goeie kans om 83 jaar of ouer te word. Niks keer hul nie, ons sien hul in die aand by die flieks, op busse en treine, oral in die stad, besig om kruideniersware te koop ens. Hier is 'n ou tannie besig om op die Intercity bus te klim oppad Auckland toe.




'n Huisie langs die grootste meer in New Zealand
en 'n karavaanpark



En soos altyd is die natuur asemrowend mooi. Foto's deur 'n busvenster is nou nie die beste manier op die af te wys nie, maar dit is ongelukkig al wat ek het op hierdie stadium.

New Zealand is net die ongelooflikste groen stuk aarde! Dis soos een groot park van hoek tot kant.

'n Vulkaniese berg by Dessert Road

Die grootste meer in New Zealand







En so gaan dit aan en aan ... ek kan jul verveel met 200 foto's (alles deur 'n busvenster geneem en steeds asemrowend mooi), maar jul kan nou maar jul verbeelding verder gebruik. Hier is die bus waarmee ons gery het en waar ons middagete geeet het.





Iemand maak lekker geld by die eetplek op 'n plaas tussen nêrens en êrens. Al die Intercity busse stop hier vir middagete. Al wat daar is, is 'n klein Cafe en 'n paar tafeltjies soos die op die foto buite en binne. Daar staan toue mense om kos en drinkgoed te koop en nog langer rye by die drie toilette wat daar is. Binne dertig minute moet almal weer terug op die bus wees. Dit gee nogal 'n gejaag af.


Frederik het het my 20h45 by die skytower in die middestad van Auckland gekry. My onmiddelike reaksie was om baie van Auckland te hou, want dit is regtig mooi. Wellington was glad nie aan die begin vir my mooi nie, dit het op my gegroei. Die ander ding is dat dit so warm was toe ek van die bus afklim teenoor Wellington. In Wellington het ons nog amper nie somersklere gedra nie. Dit is baie afwissellend tussen warm sonskyndae (altyd koel in die oggend en aand) en reënerige dae, maar Auckland is soos Durban, drukkend warm. Wellington  het altyd 'n windjie om mens koel te hou. Dit is ook soos 'n groot dorp teenoor Auckland wat regtig 'n stad is. Ek sien baie uit om hierdie groot stad te verken en te leer ken.

Geen opmerkings nie: