Sondag 01 Julie 2012

Grrr

Iemand (wat in Suid-Afrika woon) het my weer hierdie week gewaarsku om nie druk op Hendrik uit te oefen om teen sy sin hierheen te kom nie en daarna vir my 'n lesing gegee oor hoe mans sukkel om werk te kry in New Zealand en dat alles nie so rooskleurig is soos ons ex-Afrikaners wil voorhou nie.

Ons storie is dat Hendrik in 2002 voorgestel het dat ons Australia toe moet immigreer. Ek sou nie in my wildste drome op daardie stadium daaraan gedink het nie, maar dit het my gepas soos 'n handskoen, aangesien ek erg stres begin beleef het agv die misdaadsituasie in Suid-Afrika. Hendrik het vir ons gesin 'n besoek gereël in Australia gedurende Maart/April 2003. Na ons terugkoms, het ek oorywerig begin om my dokumentasie agtermekaar te kry en in kontak gekom met 'n organisasie wat terapeute in Australia help werk vind. Ek het egter gou agtergekom dat Hendrik koue voete het en nie van plan is om die saak deur te voer nie. Na 'n paar onderonsies oor die onderwerp, het ek my berus by die idee dat ons nie sal gaan nie. Hoewel ek met die agentskap in kontak gebly het en op die hoogte was van die beskikbaarheid van poste in Australia.

In Januarie 2007 het hy weer begin karring. Hy het dat Rialeen 'n dag uit die skool bly en my laat afvat by die werk om 'n agent te besoek wat hom sal help om werk te kry in Australia. Hy het in ons teenwoordigheid haar R15 000 betaal om aan ons te bewys hoe ernstig hy die keer is, maar toe hy dit aan sy broer Frederik noem, vertel Frederik vir hom dat hul in die proses is om New Zealand toe te kom. Daarna het Hendrik besluit ons gaan nou nie meer Australia toe nie, maar New Zealand toe (waaroor ek beslis nie gelukkig was op daardie stadium nie, maar hom nou ewig dankbaar sal wees, want ons is, soos jul reeds weet, ongelooflik gelukkig hier). Hy het ook daar en dan begin reël dat ons verblyfsreg in New Zealand kry, wat in Mei 2010 deur gekom het.

In Oktober 2010 het Rialeen laat blyk dat sy eerder wil kyk na instansies in New Zealand waar sy verder kan studeer aangesien ons reeds residensie hier gehad het. Dit is hoe ons in Wellington beland het nadat sy toegelaat is by Victoria Universiteit. Ons het besluit dat Hendrik in Pretoria sal agterbly om ons huis te verkoop en ander sake af te handel en dan later by ons sal aansluit. Dit is hoe dit gekom het dat ons van tafel en bed geskei geraak het.

Hendrik het my en Rialeen tot in New Zealand gebring en na drie weke is hy terug Suid-Afrika toe. Ek het nie 'n werk gehad nie of geweet of 'n werk gaan kry nie. Na sewentien maande woon hy nog steeds in Suid-Afrika en ek in New Zealand. Natuurlik gaan ek druk op hom uitoefen om hierheen  te kom, want ek beplan  nie om terug te gaan nie.

Hier is baie Suid-Afrikaners in Wellington. Party kom met 'n werk hier aan, vir party was dit 'n ses maande gesoek, vir ander was dit 'n leer wat 'n hul moes klim om te kom waar hul wou wees, ander het gesettle vir iets heeltemal anders as wat hul voorheen gedoen het (soos ek) maar op die einde maak almal 'n bestaan.

Ek ken baie Suid-Afrikaners, mense wat al negentien jaar hier woon tot mense wat na my hier aangekom het. By al die skole waar ek werk, is mense uit Suid-Afrika met kinders daar, by Tawa was drie gesinne en ons was drie Afrikaansprekende personeellede, by Aotea is ten minste agt kinders uit verskillende gesinne, by Johnsonville is daar drie gesinne waarvan ek weet en 'n personeellid wat met 'n Suid-Afrikaner getroud is,  twee van ons areabestuurders kom uit Suid-Afrika, by die kerk is twee Engelssprekende gesinne, Rialeen se beste vriendin woon al meer as tien jaar hier en Rialeen werk nou vir oud-Suid-Afrikaners. Dis nie vir almal maklik nie, maar niemand wil teruggaan nie. Hul raak home sick, ja, en verlang na hul familie, maar almal is baie seker van die feit dat hul nie weer in Suid-Afrika sal kan woon nie. Niemand van hul val in die katagorie van arm nie of teer op die staat of welsynsorganisasies nie.  

Soos jul kan sien, het dit ons tien jaar gevat om die finale stap te neem. Dis nie iets wat impilsief gedoen is nie. Dit kos baie oortuiging en moed om tot op die punt te kom waar jy finaal totsiens sê aan alles wat aan jou bekend was, om familie en vriende te groet en op die vliegtuig te klim en te kom, maar hoe gouer jy dit doen, hoe gouer kan jy hier 'n nuwe lewe begin skep. Ek is net oor twee dinge spyt en dit is dat ons dit nie tien jaar gelede al gedoen het nie en dat ek nie my man saam met my gebring het nie. Verder is alles perfek in my lewe en pas die stukkies van my lewe soos 'n legkaart inmekaar. 

Geen opmerkings nie: