Nou ja, stadig maar seker beweeg ons voorentoe op die paadjie wat ons vir onsself kom skep het in New Zealand. Baie Suid-Afrikaners sal sekerlik frons oor hoe ons hier leef teenoor wat ons in Suid-Afrika gehad het, maar die rus en vrede in my siel is baie meer werd as aardse goed. Ons het nie hierheen gekom om ryk te word nie, maar om kalm te word en veilig te voel.
Ons het nou 'n kar en dit maak 'n groot verskil aan ons tydsbesteding, maar aan die anderkant kry ons nou baie minder oefening. Die kar het vir ons 'n simbool geword dat ons voorentoe beweeg. Die volgende doelwit was om 'n groter blyplek te kry en nadat ons heelwat rondgekyk het, was daar twee plekke waaruit ons moes kies. Die een was perfek, maar net daardie klein bietjie buite ons begroting en ons het besluit om liewer nog steeds net babatreetjies te gee en nie te groot te hap nie.
Ons het 'n vreeslike lelike plek gekry (van buite), maar met meer ruimte as wat ons nodig het, twee slaapkamers, sitkamer en eetkamer, 'n gerieflike kombuisie met 'n spensie en 'n waskamertjie (-tjie toon aan dit gemeet is in terme van Suid-Afrikaanse standaarde). Die plekkie is regtig binne netjies met splinternuwe matte. Enige Suid-Afrikaner wat hier kom kuier of pas hier ge-arriveer het, sal sekerlik heeltemal anders daaroor voel, maar ons is baie opgewonde en kan nie wag om te trek nie.
Die eiendom is in die voorstad Petone. Petone het 'n baie meer 'innercity' gevoel teenoor Johnsonville wat voorstedelik is. Johnsonville is meer gesinsgeoriënteerd. Dit laat 'n mens dink aan Westdene in Johannesburg. Die voorstad bestaan uit baie mooi gerestoureerde ou huisies, naby aan die besigheidsgebied en industriële area, maar teenaan die strand. Ons is presies een blok van die hoofstraat, Jacksonstraat, waar al die winkels, restaurante en selfs teaters is, binne loopafstand van die strand af en 'n hanetreetjie van die grootste mall in Wellington, Queensgate. Rialeen gaan twee blokke stap tot by haar werk. Ek gaan natuurlik verder van die kleuterskole wees waar ek nou werk.
Die eiendom is op 'n pypsteelerf en bestaan uit twee wooneenhede bo-op mekaar. Ons gaan bo woon en gaan dus elke dag trappe moet klim. Onder ons woon 'n Maori paartjie wat al tien jaar daar woon saam met nog 'n man. Hulle het 'n pragtige groentetuintjie wat my baie beïndruk het. Een van die mans werk by die Hospice se tweedhandse winkel en hy het een of ander 'truck' waarmee hy ons kan help trek.
Om op die strand te stap help om my te kalmeer en ek sien uit om hier te kan woon.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking