Wat 'n voorreg om hierdie pragtige stad te besoek! 'n Skoolvriend en sy vrou wat ek weer op facebook herontmoet het, het ons genooi om by hul te gaan kuier in die tuinstad van New Zealand. Ons het mekaar seker laas gesien toe ons sestien was. Baie dankie, Paul en Linda Fourie, vir jul gasvryheid!
Soos jul seker weet is 'The Hobbit' groot nuus hier in New Zealand. Hierdie foto's is op die lughawe in Wellington geneem die oggend van ons vertrek.
Die weer wou aanvanklik nie saamspeel nie en dit was so bietjie koud en bewolk toe ons Vrydagoggend daaraan kom. Linda het ons op die lughawe gekry en vir 'n toer deur die middestad gevat oa die botaniese tuine, die Mona Vale Homestead en die Riccarton House and bush. Die tuine is ongelooflik mooi en oral is die pragtigste rose.
Oral is tekens van die heropbou van die stad na die aarbewings wat hul in 2010/11 getref het. Dit is hartverskeurend om uit die monde van mense wat dit deurleef het, te hoor hoe hul dit ervaar het en waardeur hul moes gaan, sonder water en krag. Padwerke het ons telkens omdraaie laat ry, brue wat herstel word, geboue wat gesloop is en rommel wat weggery moet word, maar dit bly 'n ongelooflike mooi plek.
Toe die Maori's in New Zealand aangekom het, het hul begin om die natuurlike woud uit te roei en toe die Engelse hier aangekom het, het hul daarmee voortgegaan. Daar is dus min van die natuurlike plantegroei oor. Hierdie is 'n stukkie ongerepte plantegroei wat bewaar gebly het. In Wellingtonse botaniese tuine is daar ook gedeeltes waar hul weer aangeplant het om dit te omskep (herwin) in so 'n woud.
Selfs in die voorstede het mense die mooiste tuine en die pragtigste rose. Ek en Hendrik het so 'n bietjie op ons eie voetgeslaan daar in die omgewing. Soos jul my nou al ken, kon ek nie ophou foto's neem nie. Christchurch is plat soos 'n pannekoek teenoor Wellington wat tussen die berge geleë is.
Saterdag het ons meer na die strande se kant toe gery. Die weer was darem besig om op te klaar en die sonnetjie het begin skyn.
Ek het nog nie eintlik vlieërs in Wellington gesien nie, maar in Auckland sien mens dit ook op al die strande soos hier in Christchurch, hoewel Wellington eintlik bekend is vir sy wind.
Hendrik en Paul op die pier
Prentjie mooi! Christchurch se berg...
Ons loop toe 'n straatmark raak met hierdie oulike see-toneel
en die Salvation Army se orkes
Daar teen Christchurch se berg kan ons 'n foto neem van die pragtige uitsig oor die stad (nie so mooi op die foto nie)
en Linda neem gou 'n foto van ons twee
Iewers by 'n ander strand oortuig Paul ons om die heerlike (koue) seewater uit te probeer
Soos jul kan sien, lyk ek maar effens verkluimd. Hendrik hou homself vreeslik braaf. Paul loop met 'n kortbroek en hemp rond, maar ai nee, New Zealand is nog bietjie koud vir my. Hul woon al ses jaar hier en is meer aangepas as ons.
Dit was 'n volmaakte naweek. Sondag was dit heerlik warm en sonskyn. Paul het twee keer vir ons gebraai en Linda het ons baie bederf tussen hul besige program deur. Sondagmiddag het ons binne vyf-en-dertig minute teruggevlieg na die bekende winderige Wellington toe en Paul sou die aand na 'n kongres vertrek in Taiwan.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking