Sondag 30 Desember 2012

Taupo

Taupo is die dorpie waar ons die nag oorgeslaap het oppad na Auckland. Dit is bekend vir die grootste meer in New Zealand en die warmwaterbronne in die omgewing. Taupō-nui-a-Tia is die Maori naam van die dorp en beteken "The great cloak of Tia", Tia is die naam van die persoon wat die meer by Taupo ontdek het. Die water in die meer is louwarm wat vir my 'n verrassing was. In 2009 het Taupo die prys gewen vir die beste dorp in New Zealand. Hier woon ongeveer 23000 mense. In New Zealand word daar dikwels na sulke dorpe verwys as 'n stad. Nelson is die ander plek wat as 'n stad beskou word en daar woon ongeveer 35000 mense in die hele distrik.Taupo is net so mooi. Ek kon nie ophou foto's neem met my nuwe kamera wat Hendrik vir my vir Kersfees gekoop het nie. Woorde kan net nie hierdie mooiheid beskryf nie. So, kyk maar rustig na die foto's en geniet die Skepper se handewerk.

Dis natuurlik die vakansieplek van die rykes en hier is die pragtigste huise langs die meer. Ek en Hendrik het laatmiddag langs die meer langs gestap tot by die Jolly Good Fellows waar ons elkeen 'n bier geniet het.
Op die onderste foto is 'n huis op sy eie heuweltjie met 'n lang ry trappe af na die meer.
 Dis 'n verskeidenheid voëls wat so al langs die water sit en sover ons langs die meer gestap het, was daar eende en swane met hul babatjies (kuikentjies).




 
Ons het die twee 'ooms' raakgeloop en lekker met hul gesels. Die een aan die linkerkant het 'n sterk Yorkshire aksent (waar hy vandaan kom), maar hy woon al van die sewentiger jare hier in New Zealand. Die ander een kom van London en woon ook al meer as twintig jaar hier. Die twee woon al sewe jaar hier in Taupo en stap elke oggend vroeg om die eende te voer. Die eende ken hul as so goed dat hul aangedraf kom uit die water as hul die twee gewaar.
 
En natuurlik strom al die kinders ook nader om te kom kyk. Die Yorkshire oom groet elke kind met die hand en maak praatjies met almal (en dis hoe die mense in die algemeen hier in New Zealand is, vriendelik en ontspanne, altyd reg vir 'n geselsie). 
Die Taupo meer het 'n oppervlakte van 616 vierkante meter en 'n omtrek van 193 kilometer en is die tweede grootste varswater meer in Australasia. 


Hendrik het twee seuns lank gesit en dophou met hul hond en 'n afstandbeheerde helikopter. Hy wou graag sien as die helikopter in die sand in duik, maar die outjie het goeie beheer oor dit gehad.
Toe ons die volgende oggend vroeg uit die motel kom, wag die pragtige toneel op ons aan die oorkant van die meer. Die vorige dag was die vulkaniese berg (Mount Tauhara) nie sigbaar nie, maar agv die pragtige helder sonskyndag, is ons verras met hierdie asemrowende toneel, die berg met sy laag sneeu op. Om dit te sien, is soos 'n spirituele ervaring. Jou asem slaan weg!





 Nadat ons in die dorp gaan ontbyt eet het, het ons deur die pragtige tuine gestap met die mooiste roostuin en speelpark vir oud en jonk. Alles is net so skoon, netjies en versorg.


 'n Treintjie vir die kinders

Vir my is New Zealand soos 'n Eden of Hemel op aarde!

Geen opmerkings nie: