Woensdag 05 Desember 2012

Prins Charles en Camilla se besoek aan Wellington

As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dat ek al die pad met 'n trein sou inry stad toe en 'n kilometer of twee met die hawe langs sou stap om Prins Charles en Camilla te sien, sou ek my doodgelag het, maar ek en Hendrik het dit gedoen.

Een Dinsdagaand het Hendrik doodluiters gevra of ek al weet of ek môre werk. Op daardie stadium het ek veertig ure 'n week gewerk en dit was onwaarskynlik dat ek nie sou werk nie. Daarna het hy opgemerk as ek nie werk nie, dink hy ons moet ingaan stad toe, want Prins Charles en Camilla sal in Wellington wees vir sy sestigste verjaardag. Dis hoe dit begin het... en hoekom nie... ons is hier om nuwe dinge te ervaar. Die rustige lewe in New Zealand doen dit aan 'n mens!

Woensdagoggend het ek gewag, maar geen sms of telefoon wat lui nie en dis toe dat ons uit die bed spring en begin regmaak vir 'n oggend se gewag in die stad om die Prins en Camilla te sien. Daar was gelukkig 'n paar goedjies wat ek in die stad wou gaan doen. Ons is dus vroeg in stad toe met die trein om 'n oog te hou op die invloei van mense na die hawe waar langs die Prins sou beweeg.


Nadat ek my inkopies in die stad gedoen het, het ons rustig hawe toe beweeg. Ver aan die linkerkant staan al reeds 'n tou mense, maar ons gaan eers rustig koffie drink en 'n 'wild pig pie' eet by die Te Papa Museum.
 Die weer speel saam en dit is 'n pragtige windlose sonskyndag.
Die skare lyk nog nie teveel nie en ons gaan eers rustig 'n roomys eet by Kaffee Eis.
Dan begin ons soek na staanplek waar ons 'n goeie uitsig oor die gebeure sal hê. Ek is maar aan die kortkant en ek wil nie 'n klomp langes voor my hê nie.
Nou is ons reg vir die wag en kan ons die mense begin aanstaar en bekyk. Die twee polisiemanne is die sekuriteit vir die groot gebeure, geen ander in sig nie. As jy mooi kyk is daar net 'n tou gespanne by die voete as 'n skeiding tussen die Prins en die skare.
Dan begin die groot vertoning van Wellington se vloot...


Die skare begin geleidelik aangroei namate Prins Charles en Camilla nader aan ons beweeg.
Sommiges het so bietjie 'opgedress' vir die okasie.
En dan die groot oomblik... Prins Charles is ook maar net 'n bleskop omie soos enige ander man van sy ouderdom (baie korter as wat ek my voorgestel het).
Gelukkig en tevrede breek die skare op om hul dagtaak te gaan voortsit.Die tou word opgerol
en ons kan die hawe verder gaan verken.


'n Maori waka (kano) het die paartjie vergesel van waar hul begin stap het langs die hawe langs tot waar hul weggedraai het om na hul voertuie terug te beweeg.
'n Laaste foto van Camilla waar sy in die wagtende voertuig klim.

En dan stap ons terug stasie toe om 'n trein te haal. Ons lag maar in die mou vir onsself, maar dit was 'n pragtige dag om buite te wees en 'n sal 'n mooi herinnering vir die toekoms wees. Ek besef maar net weereens dat adelikes net mense soos ons is en ek is bly dit is nie my job om ander mense se hande te skud die heeldag lank nie.


Geen opmerkings nie: