Saterdag 12 Januarie 2013

Okura Estuary Scenic Reserve

Die dag wat ons Browns Bay toe gestap het, het ons gesien daar is 'n Suid-Afrikaanse winkel in die dorp. Hul verkoop ysterpotte en ander produkte waarin ons belanggestel het. Ons het nie lus gehad om die goed al die pad terug te dra na Frederik-hul se huis nie. Ons is dus op Oujaarsdag weer dorp toe met die kar om bier en vonkelwyn (bubbles, soos dit hier genoem word) te koop by die supermark asook die ysterpot, Oumabeskuit, Chakalaka, stampmielies, Jungle Oats bars en braaivleisspeserye by die Suid-Afrikaanse winkel. Na ons klaar was met ons inkopies, het Hendrik die kaart bestudeer om te besluit waarmee ons onsself die res van die dag besig sal hou. Dis hoe ons toe (weer onvoorbereid) by die Okura Estuary Scenic Reserve beland.
Toe ons daar stop, sien ek almal wat daar uitklim het stapklere, rugsakke en waterbottels by hul, maar nou ja, ons gaan mos maar net kyk...
Voordat jy die wandelpad betree moet jy jou skoensole spuit en afskuur op die staalhorkies om te voorkom dat die Kauri Dieback spore versprei word wat die dood van die Kauri bome in die Auckland streek veroorsaak. Dit is 'n New Zealandse fungie-siekte wat al duisende bome in die Auckland omgewing doodgemaak het. Daar is nog geen behandeling daarteen gevind nie. 

Die roete begin by die brug
oor die rivier. 
Tot ons verbasing is dit nie net honde wat vir 'n stappie deur die bos gevat word nie. Die bok met sy hondmaatjie is deur twee vrouens uit 'n kar gelaai wat voor ons parkeer het. Hul het vertel dat die bok en die hond soos boetie en sussie is en gereeld saam met hul op 'walkies' gaan in die Auckland omgewing.


Manuka heuning is die produk van die blomme van die Red Tea Tree (ook bekend as die Manuka boom). Die heuning word ten duurste verkoop omdat' anti bacterial healing powers' daaraan toegeskryf word. Dit het ook 'n baie hoë anti-oksidant-inhoud. 
Verskillende bome in die woud is op dieselfde wyse gemerk.
Goed uitgelegde pad toon die rigting aan.
Trappe af
trappe op


Na ten minste 4.5 km besluit ons om maar moed op te gee, want ons is weereens nie voorbereid vir die langstap nie. Ons het nie eens water by ons nie en ek weet as ek honger raak, gaan ek nie weer by die beginpunt uitkom nie. Ons draai by die punt om nadat ek mense wat oppad terug was, uitgevra het. Hendrik het na die tyd op die internet gaan kyk en die roete is 8 km lank dus 16 km heen-en-weer. Ook net betyds omgedraai.


Terug by die brug waar ons begin het en soos jul kan sien het ek nou nie stapklere aan soos die ander mense wat ons langs die pad gekry het nie. Ons sou mos net gou winkel toe gaan...

Sondag 06 Januarie 2013

Mount Victoria

Mount Victoria (in Maori bekend as Takarunga) is die hoogste vulkaniese berg op die 'North Shore' van Auckland. Dit is sewe-en-tagtig meter hoog en is na Queen Victoria vernoem. Die panoramiese uitsig kan nie in woorde beskryf word nie. Ons het gelukkig 'n sonskyndag gekies om hier op te gaan en kon pragtige foto's neem. Hierdie keer het ek hard vasgeskop om daar op te loop en ons is met die kar boontoe. Na die laaste paar dae se gestap, het ek nie kans gesien om teen 'n berg op te stap terwyl die son my halfdood brand nie.
 'n Lugfoto van Mt Victoria wat ek in die Devonportmuseum afgeneem het. Die sirkelpad is wat ons sou gestap het om bo te kom.
 Maak nie saak waar 'n mens op die berg staan nie, jy het die ongelooflikste uitsig oor Auckland.





 


Ons het besluit om maar van die uitkykpunt sonder enige omheining weg te bly. Dit is die dak van 'n ondergrondse weermagbunker wat in 1880 opgerig is, wat nou dien as 'n klubhuis van die 'Devonport Folk Club'.
Hierdie 'disappearing gun' is op die berg opgerig in 1880 om Auckland teen moontlike aanvalle van die USSR te beskerm. Dit word uitgelig om aan te val en sak terug om weer gelaai te word. Verskeie van hul kan gevind word op berge in New Zealand.
Die kanon van onder gesien met die betonbunkers.
Hierdie is nie stoeltjies (soos die toeriste dink nie), maar ventilasie openinge van die ondergrondse bunkers af.
 

'n Hele paar Jakaranda bome was sigbaar hier van bo af en ek kon nie help om 'n paar foto's van dit te neem nie.
Ons vakansie is nog lank nie verby nie en daar is nog baie foto's van baie ander plekke wat ons besoek het. Ek kan nie help om so baie foto's te neem nie. Miskien sal ek eendag afgestomp raak en sal hierdie asemrowende mooi net deel van my daaglikse lewe word.

Donderdag 03 Januarie 2013

Ons vakansie in Auckland gaan nog voort: Devonport

Devonport het 'n groot aantrekking vir toeriste agv die groot hoeveelheid antieke winkels, eetplekke, geskenk- en boekwinkels. Daar is 'n ferry wat toeriste hierheen vervoer vanaf die middestad. Die Devonport Food and Wine Festival wat jaarliks hier gehou word, lok ook baie mense. Ons het ook die museum hier besoek en teen Mount Victoria uitgery (daarvan vertel ek later).

Hendrik wou graag hierheen kom. Ek het nie besef hoe (weereens) asemrowend mooi dit hier is nie. Ek hoef nie veel verder te sê oor Devonport nie, want die foto's spreek vanself en soos jul kan sien, hoef 'n mens nie vir 'n oomblik verveeld te wees in New Zealand nie.

Hendrik staan en bewonder die mooi toneel wat jul op die volgende paar foto's sal sien.






Onderste foto: "This stone on the King Edward Parade was laid on August 9th 1902 in commemoration of Peace in South Africa by E.W. Alison, Mayor"





Die museum vertel kortliks die geskiedenis van Devonport en bestaan uit oudhede wat deur inwoners van die area geskenk is.
Devonport uit die lug op 'n foto in die museum. Links voor is die vulkaniese berg, Mount victoria
Hierdie stuk hout is 'n slagterstafel wat gebruik is om vleis te verwerk. 
 Ek wil net wys ek was darem ook daar (in die tuin van die museum).