Op 8 Februarie 2013 was dit twee jaar gelede wat ons hier in Wellington van die vliegtuig afgeklim het. Hendrik is drie weke daarna weer terug Suid-Afrika toe en ek en Rialeen het begin watertrap. Ek trap maar nog steeds water. Rialeen is gelukkig en gevestig. Maar dit was vir haar ook maar 'n pad om te stap.
Rialeen het in 2011 begin met 'n kursus in Industrial Design by Victoria University in Wellington. Sy het die jaar deur geworstel, hoewel sy A+ behaal het, was sy verveeld met die inhoud van die kursus. In Februarie 2012 het sy by Ontrays (ook bekend as die South African shop) begin werk, 'n deli hier in Petone waarvan die eienaars oud-Suid-Afrikaners is. Hier het sy die liefde in haar lewe ontmoet, Tim, en die twee is verlief en baie gelukkig saam.
Die jaar by Ontrays het haar ook tot die besef gebring dat sy in die voedselbedryf wil werk. Sy het dit reeds op skool oorweeg en toe daarteen besluit. In die deli het sy van die bekendste sjefs in Wellington ontmoet en baie oor die bedryf en kos geleer. Sy het verlede maand begin met 'n culinary kursus by die Weltech en voel sy het uiteindelik haar roeping gevind. Naweke werk sy by 'n kettinggroep, Moore Wilson's, wat 'n aantal deli en huisware winkels hier in Wellington het. Sy het ook pas gehoor dat sy werk gekry het in die kombuis van die Te Papa Museum. Sy sal daar op kontrak werk as hul funksies aanbied. Haar beker loop oor en haar lewe hier in Wellington is gevestig. Die staat gee vir haar 'n rentevrye lening van $6000 per jaar om haar studies te betaal asook 'n student allowance om haar reis en verblyfkostes te dek.
Tim is 'n gebore New Zealander wat aan die Weskus, noord van Auckland, grootgeword het. Hy is 'n eksentrieke wese wat meer as tien jaar ouer as Rialeen is, 'n geharde oujongkêrel en 'n vegetariër. Hy is 'n dosent in IT by die Weltech wat net om die draai is van waar ons woon. Hy is 'n foody en is een van Ontrays se oudste kliënte. Hy snuffel op kosmarkte en deli's rond vir organiese en vegetariese kosse en nou is hy verlief op my 'baba'. Die twee lyk regtig gelukkig en pas goed bymekaar. Ons moet natuurlik nou Engels praat as Tim in die geselskap is en dis weer 'n nuwe ding om aan gewoond te raak. Hy neem nie aanstoot as ons met Rialeen in Afrikaans praat nie, maar ons voel net dit is ongeskik en sluit hom uit.
Ses maande gelede het Hendrik hier aangekom, nadat ek verlede jaar terug is Suid-Afrika toe om hom te gaan oortuig dat ons kan oorleef op my inkomste totdat hy werk kry. Sy grootste vrees was dat hy nie hier werk sal kry nie. Hy het ook tot nou nog nie werk gekry nie, maar ons oorleef. Ons lewens standaard is baie anders as in Suid-Afrika, maar ons is gelukkig.
Ek wou tot nou nie 'n permanente pos aanvaar nie, aangesien my omstandighede so onseker was. Ek doen relief werk by kleuterskole, wat ek baie geniet. Daar is 'n groot aanvraag vir relief teachers hier (iets wat ons nie in Suid-Afrika ken nie). Ek verdien dieselfde inkomste as wat ek in 'n permanente pos sou kry, maar dit beteken, 'no work, no pay', wat 'n probleem is gedurende vakansie tye en bank holidays en die dae wat ek nie werk kry nie. Ek hoef nooit enige voorbereiding om admin te doen nie en woon nie na-ure vergaderings by nie. Wat 'n pluspunt is. Ek is in aanvraag (omdat ek 'n goeie job doen en betroubaar is 😜... haha) en ek werk dus amper elke dag. Ek werk hoofsaaklik vir 'n daycare groep, Kindercare en vir die Ministry of Education se Kindergartens.
Hendrik vind my werkomstandighede baie stresvol, maar ek is gewoond daaraan en dit pla my nie eintlik nie. Ek sien die voordele daarvan in, maar ek weet, ek kan nie 'n dag afvat om 'n dokter te gaan sien of het nie betaalde siekverlof nie. Ons het gereken, ons sal wag tot Hendrik 'n werk kry en ons meer gevestig is voordat ek vir 'n permanente werk begin soek. In die laaste tyd het ek net besef dat Hendrik beter sal slaap as ek 'n vaste inkomste kan hê. Daar is nou 'n moontlikheid by 'n christian daycare centre so sewe kilometer van waar ons woon, maar dan is daar ook vir Hendrik moontlikhede in Christchurch en Dunedin. Hy het telefoniese onderhoude by maatskappye daar gehad en ons wag om terugvoer te kry.
Intussen gaan ek nou maar voort met die afloswerk en verken ons nog steeds Wellington met al sy klein dorpies as ons tyd en geld het.
Intussen gaan ek nou maar voort met die afloswerk en verken ons nog steeds Wellington met al sy klein dorpies as ons tyd en geld het.
Ek wil nie 'n vaste werk aanvaar en moet dan na 'n maand of twee weer bedank nie. Dis hoekom ek voel, ons trap maar nog water. Ek sal voel ons is gevestig sodra ons omstandighede so is dat ons weer 'n huis van ons eie kan koop, maar ons moet eers weet of ons hier in Wellington gaan woon of ons erns anders heen moet verhuis waar Hendrik werk kan kry.
Die onsekerhede kry ons nie onder nie, maar Hendrik raak verveeld. Mans sukkel mos maar om hulself besig te hou. Aan die begin het hy 'n vakansiekursus by die Weltech gedoen in projekbestuur, maar vandat dit in Februarie klaar gemaak het, is hy maar alleen hier by die huis. Hy probeer hard om positief te bly en doen al die huiswerk (hier is nie huishulpe nie en met 'n twee slaapkamerwoonstel het ons nie een nodig nie), soek werk, lees, stap oor al die berge hier in die omgewing en versorg sy vensterbanktuin. Hy oorweeg volunteerwerk by 'n hospice winkel in Jacksonstraat, net om die draai van ons. Dit sal hom tussen ander mense bring terwyl ek by die werk is.
Ek het van die begin af besluit om ons koms hier na New Zealand soos 'n lang vakansie te hanteer. Ek wou dit nie stresvol maak en te ernstig opneem nie. Ons is nou nie meer kinders nie. Ons het 'n goeie lewe in Suid-Afrika gehad. Dit moet soos 'n semi-aftrede wees. Ons het geld wat belê is vir wanneer ons nie meer kan werk nie. Ons huis is nog nie verkoop in Pretoria nie en ons verhuur dit. Daar is goed wat ons wil doen terwyl ons nog gesond en vol lewe is en daarvoor het ons geld nodig. Ek sal Suid-Afrika nog gereeld wil besoek. Sulet woon nog daar en dit kos geld. Daarom is dit belangrik dat Hendrik 'n werk kry. Ons wil nie net op die broodlyn lewe nie.
Ons hou ons lewe hier in Wellington interessant deur dinge te doen wat ons nie in Suid-Afrika gedoen het nie of nie meer kon doen nie agv veiligheidsredes. Ons stap baie meer in ons omgewing rond, gaan fliek in die aand of gaan mall toe, stap strand toe en winkels toe. Ons gebruik public transport en koop al ons groente en vrugte by die River Bank Market in Lower Hutt of in die stad by die Queens Wharf. New Zealand is so mooi en daar is altyd iets om te doen in die omgewing wat nie geld kos nie.
Dit is lekker dat Hendrik die tyd het om dinge saam met my te doen. Daar was nooit tyd in ons vorige lewe nie. Dit was maar net 'n gejaag om alles te doen en genoeg te verdien om alles te betaal. Nou is alles betaal, ons lewe is afgeskaal, ons kinders is groot en sorg vir hulself en ons het tyd vir mekaar. Ons kon dit seker in Suid-Afrika ook gedoen het, maar niemand kan dit verstaan voordat hul nie hier kom woon het nie. Die lewe is net soveel rustiger. Al my stres en depressie is weg. Ek slaap deur die nag, kyk nooit oor my skouer nie, sluit nie deure nie, klou nie my handsak vas nie, asem skoon onbesoedelde lug in, drink gratis fonteinwater uit 'n fontein hier in ons omgewing en lewe in vrede tussen mense van alle tale, kulture, gelowe en velkleure. Niemand haat my omdat ek wit is, middelklas is, van Suid-Afrika is of 'n ander taal praat nie. Mense het net soveel meer verdraagsaamheid teenoor ander en hoewel baie mense hier nie gelowig is nie, toon hul baie meer liefde vir hul medemens as wat ek dikwels in Suid-Afrika ervaar het.
Afrikaners is hier eksoties (en daar woon duisende van ons hier). Die New Zealanders love ons aksent en dit pla hul min of jy goeie of vrot Engels praat, solank hul jou kan verstaan, is hul gelukkig. Hier is soveel immigrante en elkeen het sy eie aksent en baie kan nog minder Engels praat as van die Afrikaansprekendes wat hier aanland kom. Ons het ten minste Engels as tweede taal in ons land en het dit op skool geleer al het party dit nie veel gepraat in Suid-Afrika nie. Baie van die ander immigrante kom leer Engels hier. En natuurlik blend ons meer in met ons Europese voorkoms en ons nasate is maar op die ou end net Kiwi's (en hier is baie Suid-Afrikaners wat al in die 1990"s hier aangekom het). Hier is ook 'n groot aantal kleurlinge uit die Kaap wat gedurende die apartheidsjare hierheen gekom het. In Porirua is 'n groot gemeenskap kleurlinge en as ek na KMart gaan in die mall daar, hoor jy mense wat regte Kaapse Afrikaans praat.
Afrikaners is hier eksoties (en daar woon duisende van ons hier). Die New Zealanders love ons aksent en dit pla hul min of jy goeie of vrot Engels praat, solank hul jou kan verstaan, is hul gelukkig. Hier is soveel immigrante en elkeen het sy eie aksent en baie kan nog minder Engels praat as van die Afrikaansprekendes wat hier aanland kom. Ons het ten minste Engels as tweede taal in ons land en het dit op skool geleer al het party dit nie veel gepraat in Suid-Afrika nie. Baie van die ander immigrante kom leer Engels hier. En natuurlik blend ons meer in met ons Europese voorkoms en ons nasate is maar op die ou end net Kiwi's (en hier is baie Suid-Afrikaners wat al in die 1990"s hier aangekom het). Hier is ook 'n groot aantal kleurlinge uit die Kaap wat gedurende die apartheidsjare hierheen gekom het. In Porirua is 'n groot gemeenskap kleurlinge en as ek na KMart gaan in die mall daar, hoor jy mense wat regte Kaapse Afrikaans praat.
Na twee jaar kan ek met volle oortuiging sê dat ek nie vir een oomblik spyt is dat ons die sprong geneem het nie en dat ek geen begeerte het om terug te gaan Suid-Afrika toe om daar te woon nie. Ek mis my familie! My hart is dikwels verskeurd oor Sulet en ek gaan deur intense emosies met tye omdat ek haar so baie mis. Sy het my dikwels nodig en ek kan nie daar wees vir haar nie en dit is baie, baie hard! Maar dit is die realiteit van ons lewens vandag. Baie ouers het kinders wat Suid-Afrika verlaat het en in dieselfde posisie as ons sit. Sulet en Philip het gekies om daar te bly en ek kon nie langer daar woon nie. Ons wou vir ons kinders beter geleenthede skep, Rialeen het die geleentheid aangegryp, maar Sulet het daarteen besluit.
Die weer in New Zealand is ook nie so erg soos 'n mens dink nie. Dit is baie meer op en af as in Pretoria, maar nie meer as in Kaapstad of aan die Suid-kus nie. Dit is 'n winterreënstreek wat vir ons Gautengers maar vreemd is. Die winters is nat, maar nie so koud nie. Ons het tans groot droogte hier met waterbeperkings. Dit was regtig warm die somer en die son het ons goed gebrand agv die hoër uv. Die feit dat die temperature nie so hoog is nie, maak dat mens meer buite wil wees en kan rondstap.
Ek het regtig lief geword vir Wellington en sy mense. As Hendrik werk kry op 'n ander plek, sal swaar wees om hier weg te trek, maar ons moet gaan waar daar werk is. Ek sal seker maar weer daar ook aanpas. Rialeen sal natuurlik nie saamgaan nie. Sy is nou 'n Wellingtonian en Tim is hier, sy werk is hier. Maar mens kan seker nie jou kinders vir altyd in jou nessie hou nie. Dit is nou maar die verloop van die lewe.
Ek kan maar net vir elkeen wat dit oorweeg om Suid-Afrika te verlaat, sê, vir my was dit elke sent, elke traan, elke oomblik van stres, werd. Die kwaliteit van ons lewens hier is net soveel beter! Enige een wat dit oorweeg, kan vandag maar hul tassies begin pak en kom op my aanbeveling.
Natuurlik gebeur slegte goed ook hier met mense en met oud-Suid-Afrikaners. Ons hoor van mense wat kanker kry, 'n kind wat op 'n fiets doodgery word, mynongelukke, motorongelukke, egskeidings en natuurlik die aardbewings in Christchurch, maar dit hang nie soos 'n swaard oor jou kop nie. Elkeen van die gebeure kry groot aandag in die media, hoe gering ook al (anders is hier nie nuus nie, behalwe vir sport). Niemand gaan verewig lewe nadat hul Suid-Afrika verlaat het nie. 'n Mens kan net hier soveel meer uit die lewe kry vir die tyd wat jy nog op aarde gegun is.