Vandag 'n week gelede, hierdie tyd, het ek in die teater gelΓͺ. Dit voel soos 'n ewigheid gelede. Soveel goed het gebeur in een week, maar die belangrikste is dat ek wakker geword het in die intensiewe eenheid en nie die hemel nie. Nie dat ek sou omgee as ek in die hemel was nie, maar ek wil liewer nog meer tyd by my geliefdes spandeer en dit is wat ek die Here gevra het
Net na die operasie in die intensiewe eenheid
Twee dae na die operasie
Aisling se eerste besoek op die derde dag na die operasie en ek moet haar wen met skaapspeletjies.
Om aan buise gekoppel te wees deur elke gaatjie en ledemaat, is verseker nie 'n lekker ondervinding nie, maar ek is net te dankbaar dat ek die teater oorleef het. Alles is net so goed georganiseerd en al die dienste is gratis. Die Hutt Valley Hospitaal is 'n opleidingshospitaal en 'n span chirurge in opleiding besoek my elke dag asook 'n dieetkundige, fisio- en spraakterapeut. 'n Maatskaplike werker kom elke tweede dag. Die dag wat hul die tracheabuis uitgehaal het, waardeur ek asemgehaal het, was daar 'n kamer vol mense wat kom observeer het hoe dit gedoen word.
Ek vorder bo verwagting goed. Al die buise is uitgehaal, behalwe vir die buis wat deur my neus na my maag gaan, maar ek kan vry rondbeweeg sonder drade en pype. Van gisteraand mag ek slukkies water gedrink het en vanaand het ek my eerste 'kos' gekry wat bestaan het uit helder hoendersop, jellie, suurlemoen ysblok en vrugtesap. Intussen kry ek nog ontbyt, middag- en aandete en my laataand versnappering deur die buis. Dit bestaan uit botteltjies nagamaakte smoothies wat al die nodige voedingswaardes bevat om my aan die lewe te hou.
Nou weet jul almal hoe dit met my gaan en dat ek stap een, die chirurgie, kan afmerk van my lys af. Daar is vyf weke se hersteltyd en dan begin ek met fase twee naamlik ses weke, vyf dae 'n week se bestraling. Die dokters wag nog vir die uitslae van toetse wat op die kanker gedoen moet word, wat sal bepaal of ek chemoterapie ook sal kry. Dit is gelukkig 'n ander dag se prbleem. Vir nou moet ek net aan die eet kom en my kragte opbou vir fase twee.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking