Maandagoggend het ek 'n afspraak by Wellington Hospitaal gehad met die spraakterapeut, dieetkundige en radioloog wat verantwoordelik gaan wees vir my tydens die bestraling. Dit was my eerste uitstappie vandat ek uit die hospitaal ontslaan is. Hendrik het my gehelp om my hare oor die bad te was en ek het dit mooi droog geblaas, grimering aangesit en my serp om my nek gesit om my wonde te bedek, gereed om die wêreld in die oë te kyk.
Dit was 'n goeie geleentheid om vir die eerste keer in die openbaar iets te eet en koffie te drink, want die hospitaal het 'n goeie cafe. Daar sit altyd ander pasiënte rond wat afkom van hul kamers, saam met familie of vriende, om koffie te drink en iets anders as hospitaalkos te eet. Ek het dus geweet niemand gaan in my belangstel of na my staar nie. Daar is ook 'n verskeidenheid van sagte kos en smoothies om te geniet. Hendrik het 'n geurige hoenderkerrie geëet en ek 'n amandel en klappermelk nagereg. Niemand het hul aan my gesteur nie en die uitstappie het my goed gedoen. In my kop was die doel van die besoek net om almal te ontmoet, maar ek was verkeerd en ons het 'n groot deel van die oggend daar spandeer.
Vir die wat dink 'n spraakterapeut is net verantwoordelik vir spraakterapie, wag daar 'n verrassing. Ek het gelukkig baie kennis in dié verband omdat ek 'n gekwalifiseerde spraakterapeut is. Ek het net gekies om met kinders te werk en die opset in 'n hospitaal is onbekend aan my. Ek het darem jare gelede op Universiteit hiervan geleer en het dus akademiese kennis. Ek het 'n nagraadse diploma in kleuteronderwys en het gekies om in New Zealand te kom werk as 'n kleuteronderwyser.
Die spraakterapeut is verantwoordelik om toe te sien dat ek behoorlik kan kou en sluk en dat ek nie trismus in my kaak ontwikkel nie (jawlock), want dit kan probleme met voeding veroorsaak asook mondhigiëne, tandarts besoeke en ander sktiwiteite waar dit nodig is om my mond oop te maak. Die spraakterapeut het dus vanoggend allerlei waarnemings en metings gemaak om te sien waartoe ek instaat is, sodat sy dit kan dophou tydens bestraling. Sodoende kan probleme in die verband voorkom word. Sy het ook vir my 'n klomp oefeninge gegee om elke dag te doen. So nou het ek iets om my mee besig te hou as ek verveeld raak😊
Die dieetkundige het weer bevestig hoe belangrik 'n gebalanseerde dieët is aangesien eet tydens bestraling baie moeilik word. Meeste mense ontwikkel mondsere, probleme om te sluk en net 'n algemene afname in die behoefte om te eet. Dit lei daartoe dat hul baie gewig verloor, vyftien tot twintig kilogram, in ses weke. Hul word dus baie moeg en sukkel om te herstel na die bestraling. Die dieetkundige was baie tevrede met wat ek eet op die stadium. Ek probeer dit gebalanseerd hou deur groente smoothies en vrugte smoothies met yoghurt, advokado peer of grondboontjiebotter (vir proteïen inname) met piesangs, dadels en bessies. Dit help vir die soettand ook. Ek eet ook saggekookte groente met roomkaas, maelvleis of vis en saggekookte eiers met advokado. Ek drink melk en eet gerasperde kaas gesprinkel oor kos.
Die radioloog het weer met die slegte nuus gekom oor die newe-effekte van bestraling en alles wat ek reeds weet. Ek het ook nuwe inligting gekry. Ek moet volgende week Woensdag by Wellington Hospitaal wees vir die maak van die masker wat ek tydens die bestraling moet dra. Daar gaan ook weer 'n CT scan gedoen word. Ek moet dus voor die tyd vas en dan word 'n kontrasmiddel binne-aars toegedien. Dit sal die are en organe meer sigbaar maak. Om die CT scan te kan doen, moet my wonde genees wees, my hoes opgeklaar het en sooibrand onder beheer wees. Ek het dus gister ons huisdokter besoek en sy het na my wonde gekyk en na my longe geluister en sy is seker dat ek teen volgende week, Woensdag, gereed sal wees vir al die prosedures.
Vanoggend het een van die radioloë my gebel en 'n afspraak met my gereël om die onkoloog volgende week Dinsdag te sien Hy sal al die opsies van my behandeling met ons bespreek. Hoewel die chirurg gesê het, sy dink, ek sal nie chemo ook kry nie, is die onkoloog van opinie dat ek wel chemo sal moet kry tydens die ses weke wat ek bestraling kry. Die rede hiervoor is, dat die kanker na die limfkliere versprei het. Dis deur die limfsisteem wat kanker na ander organe versprei. Deur chemo te gee, word die moontlike verspreiding gestop, anders pop die kanker een of ander tyd weer êrens anders uit. Bestraling is lokaal gefokus op die dele in my gesig en nek waar die kankerselle verwyder is.
So my dae word gevul met doktersbesoeke en verpleegsters wat my wonde behandel. Vaoggend het ek die psigiater en my mental health nurse gesien. Dit is baie naby aan ons kerk en ek en Hendrik het iets gaan eet en koffie gedrink by die cafe by ons kerk. Hul bedien Ripe Coffee en Rialeen werk vir die eienaars van die Ripe Coffee Roasters. Ek ondersteun hul dus graag en het 'n voorliefde vir hul koffie ontwikkel. Ek begin stadigaan meer selfvertroue ontwikkel om met my geskende gesig uit te gaan en om die openbaar te eet en drink.
Dis hoe ek vanoggend gelyk het nadat ek my mooi gemaak het vir die besoek aan die psigiater |
Na dit is ek na die kerkkantoor om almal te groet en met een van die pastore te praat, sy het vir my gebid en nou kan ek die naweek met nuwe moed aanpak. Vandag is Vrydag en dit was 'n besige week, maar volgende week gaan nog besiger wees en hoë eise gaan gestel word aan my gees.
Gelukkig kan ek rapporteer dat my pyn baie minder is en dat ek 'n afspraak gekry het met 'n fisio by die Hutt Hospitaal vir volgende week. Ek is gevul met dankbaarheid dat die staat so mooi na my omsien. Al hierdie ingrype en behandeling kos ons nie 'n sent nie en ek hoef niks self te reël nie. Alles gebeur op die agtergrond. Die datums van al my verskillende afsprake is op die rekenaarstelsel sigbaar vir almal wat by my behandeling betrokke is. So kan hul al die afsprake koördineer dat dit nie bots nie en ek word net gebel om ingelig te word wie ek wanneer en waar sien. Ek is dus net baie dankbaar vir die New Zealanders wat ons aangeneem het as landsburgers van die wonderlike land.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking