Woensdag 25 September 2019

Depressie vs Kanker

Aan die begin van die jaar het ek deur 'n episode van 'major depression' gegaan (dis weer 'n storie vir 'n ander dag). Ek was platgeslaan met angs en depressie en kon vir drie maande glad nie funksioneer of werk nie. Dit was 'n skrikwekkende ervaring wat ek nie weer wil beleef nie. Ek het baie dae gewens ek het liewer kanker gekry, want niemand is skaam om oor kanker te praat nie, maar as jy mental health issues het, word daar agter die hand daaroor gefluister.

Nou ja, nou het ek kanker en ek kan jul verseker, ek het baie vinniger hulp gekry toe ek gaan aanklop het met depressie by die vier-en-twintig uur krisis kliniek van die Hutt Valley Hospitaal. Van die oomblik wat ek die noodnommer geskakel het, tot ek 'n psigiater gesien het, het daar seker nie meer as twee tot drie ure verloop nie.

In Januarie hierdie jaar, terwyl ons by Hannetjie en Frederick gekuier het in Auckland, het ek bewus geword van 'n plekkie op een van my kiestande. Met my tong het dit gevoel soos 'n klein gaatjie. Aan die begin van April het ek uiteindelik by die tandarts uitgekom. Hy sê, dis net 'n tjip, maar hy sal dit opvul. Na 'n paar weke word ek bewus dat ek die binnekant my wang gedurig raakbyt met die tand waaraan gewerk is.

Ek moan en groan by Hendrik dat ek wil teruggaan na die tandarts om sy brouwerk reg te maak, maar ek doen dit nooit nie. Ek is in 'n stryd met depressie en is net gefokus daarop om uit die donkergat te kom. Tandartse is nie op my lysie nie.

In Julie is ek weer amper my ouself en werk ek weer toe ek 'n briefie van die tandarts in die pos kry; dis tyd vir my twee jaarlikse roetine ondersoek. Teen daardie tyd is die seer in my wang seker so een sentimeter in deursnee.

Die tandarts bekyk die seer en wys dit vir my met haar spieëltjie. Dis die eerste keer dat ek dit behoorlik kan sien onder die helder ligte en ek besef dit is baie erger as wat ek gedink het. Sy vyl die onderste en boonste kiestande aan die wang se kant af om te voorkom dat ek myself opeet☺ Sy sê, ek moet net aanhou om my mond met soutwater te spoel, wat ek reeds gedoen het. Die seer behoort vinnig te herstel, maar as dit nie in twee weke beter is nie moet ek terugkom. Sy kan nie x-strale neem vir die roetine ondersoek nie voor die seer genees het nie. Die tien minute by haar kos my $160.

In New Zealand is mediese versorging gratis, maar dit sluit ongelukkig nie tande en brille in nie behalwe as jy mediese versekering het. Ons betaal maar vir ons brille en tandartsbesoeke. Dit kos nog steeds minder as om versekering uit te neem. Gelukkig het ons albei gesonde tande.

Behalwe vir die baie geld wat ek moes betaal, is ek gelukkig en seker my mondwond gaan nou gesond word... min wetende wat die toekoms vir my gaan inhou. Hoe gelukkig is ons dat ons nie in die toekoms kan sien nie

Nou ja, dis die begin van my storie oor my kanker. Oor die depressie sal ek op 'n anderkeer praat, want dit is so, om oor depressie te praat is baie moeiliker, komplekser en emosioneel, maar dit is net so dodelik soos kanker.

Geen opmerkings nie: