Dit het ons lank gevat om aansoek te doen vir New Zealandse burgerskap, maar op 14 Februarie 2019 het ons dit uiteindelik ontvang tydens 'n seremonie in die stadsaal in Lower Hutt. Baie water het in die see geloop sedert ons op 9 Februarie 2011 twaalfuur in die nag, voet aan wal gesit het op Wellington se lughawe. Ons het deur 'n wonderlike tyd van euforie gegaan tot die donkerste tye waar ek gevoel het ek staan teen 'n muur, 'n tweestryd tussen jou geboorte land en die land wat jy aangeneem het. Immigrasie is definitief nie vir sissies nie. Ek het myself nog nooit as dapper beskou nie, maar om hier in die vreemde te kom vestig, is sekerlik die dapperste ding wat ek nog ooit gedoen het.
Ek en Hendrik het besluit om ons Suid-Afrikaanse burgerskap te behou en aangesien ons paspoorte verval, moes ons ingaan na die Suid-Afrikaanse konselaat om dit daar te laat hernu. Op die 18de September is ons in na Wellingtonstad om dit te gaan doen. Dit was 'n pragtige sonskyndag, ideaal om langs die Queens Wharf te stap soos ons baie gedoen het toe ons nog nuut was in Wellington. Ek besluit toe ons moet gaan koffie drink by die café waar ons die heel eerste oggend na ons aankoms koffie gedrink het. Hendrik het vanuit Suid-Afrika op die internet vir ons 'n bankrekening geopen en geld daarop inbetaal, maar ons moes die bankrekening aktiveer sodra ons hier aangekom het ten einde toegang tot die geld te kry. Ek, Hendrik en Rialeen het daardie eerste oggend in 2011 in die stegie oppad na die bank, koffie gedrink terwyl ons gewag het vir die bank om oop temaak.
Deur die venster van die konselaatskantore in Wellingtonse middestad
n Skoenlapper in my koffie #baristaart
Ons was vroeg by die konselaat en is vinnig en vriendelik gehelp, vingerafdrukke gedoen en daarna het ons deur die stad na Cubastraat gestap en Courtney Place. Daar het ons iets geëet vir middagete, maar ons het geweet ons kan nie te lank vertoef nie, want ek het 'n afspraak met 'n Mond, Kaak en Gesigspesialis by die Hutt Hospitaal se 'Dental Clinic' gehad vir twee-uur.
Dit was so lekker om al die ou herinneringe terug te bring van daardie eerste agtien maande toe ek en Rialeen alleenig hier in Wellington gewoon het, sorgloos soos 'n lang vakansie. Ons het alles in die stad kom doen, want daar is niks in Johnsonville nie, net die basiese winkels, geen flieks of teaters nie. Ons het selfs na 'n internasionale kerk in die middestad gegaan en 'n huisdokter daar gehad. Die goeie ou dae!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking