Maandag 23 September 2019

Kanker tref ons weer

Op die 18de September 2014 is Hendrik uit die hospitaal ontslaan nadat hy met kolonkanker gediagnoseer is, 'n groot deel van sy kolon verwyder is en hy twee weke in die hospitaal spandeer het om te herstel.
Hendrik net voor hy die hospitaal verlaat het, opgedress en reg om huis toe te gaan

Die lewe is vol ironie en so het die ironie ons ook weer getref. Op 18 September 2019, vyf jaar nadat Hendrik die hospitaal verlaat het, word ek gediagnoseer met kanker.

Na my en Hendrik se besoek aan die Suid-Afrikaanse konselaat Woensdag, het ek 'n afspraak by 'n Mond, Kaak en Gesigspesialis gehad om 'n biopsie te doen van 'n seer in my mond wat nie wil gesond word nie. Ek het reeds geweet wat die diagnose sal wees, want ons huisdokter het dit nie van my weggesteek nie. Nou ja, die spesialis, wat toevallig ook Afrikaans is, het 'n biopsie gedoen, my gestuur vir bloedtoetse en verwys vir 'n CT scan om te bepaal of die kanker versprei het.

Vrydagoggend nege-uur moes Hendrik by die radiologie afdeling van die Hutt Hospitaal wees om sy laaste CT scan te kry. Hy is nou vyf jaar skoon van kanker en kan dit agter hom plaas. 

Twee-uur op dieselfde dag moes ek by dieselfde plek wees om my eerste CT scan te laat doen om my pad met kanker te begin. Dit was 'n Vrydagmiddag en ek het geweet dat ek eers in die volgende week die uitslae sou kry. Dis 'n lang, uitmergelende naweek!

Nou wag ons vir die uitslae van al die toetse en Maandag vroeg het ek 'n afspraak by 'n Oor-, Neus- en Keelarts om 'n biopsie te neem van 'n knoop (node) wat onder my kakebeen ontwikkel het. Dis 'n angswekkende gewag!

Hoe gouer hul opereer hoe beter, maar hier is daar geen haas nie. Ons huisdokter, Magda Erasmus, het 'n maand lank gesukkel om my by spesialiste in te kry dat die diagnose gemaak kan word en ek na 'n onkoloog en chirurg verwys kan word. Die gewag maak my klaar, want ek kan voel en sien hoe die seer in my mond groei. Daar is ook 'n knoop onder my kakebeen wat elke dag groter en seerder word, maar ek weet ons sal daar uitkom... geduld! 

In Afrika is dit afrikatyd, op 'n eiland is dit eilandtyd. Ek behoort gewoond te wees daaraan, maar as dit by mens se gesondheid kom, wil jy nie wag nie. My geduld word beproef! 'But eventually we'll get there', soos die Kiwi's sĂȘ. Intussen sal ek maar bolletjies rol en bid vir die beste.

Geen opmerkings nie: