Woensdag 09 November 2011

Botaniese tuine, Wellington

Pragtige uitsig oor Wellington vanaf die Bontaniese Tuine
Oktober 2011






Saam met Hendrik Februarie 2011
Toustaan vir die kabelkarretjie om op te gaan na die botaniese tuine

 Weereens die pragtige uitsig oor Wellington vanaf die botaniese tuine





































Saterdag 05 November 2011

Sulet se besoek (2)

Ons het vir weke voor Sulet gekom het, die weer dopgehou en gehoop dat ons goeie weer sal hê, maar dit was ons nie beskore nie. Die eerste dag wat Sulet hier aangekom het, het dit gesous. Ons het beplan om haar na my werk toe te vat en Dresssmart oorkant die straat en dan Porirua toe na die mall daar. Dit het so gereën toe ons by Dresssmart uitkom dat ons dadelk die bus Porirua toe gevat het en ek het haar dus nooit gaan voorstel aan die mense by my werk nie, want ons het nooit weer tyd gehad om na daardie kant toe te gaan nie. Ons was net te besig en daar was net teveel wat ons wou doen.

Sulet het Dressmart (wat 'n outlet sentrum is) en Porirua se klerewinkels leeggekoop. Sy kon nie glo hoe goedkoop klere hier is nie. Ek het vir haar voor die tyd gesê om nie teveel klere te bring nie, want ek ken haar en weet hoe 'n mens is as jy oorsee gaan. Mens wil vir elkeen ietsie koop en 'n tas vol aandenkinge terugvat, maar sy het nie geluister nie en moes op die einde 'n klomp van haar ou klere hier los om al die nuwe klere ingepak te kry.

Die Woensdag het Rialeen vroeg klas gehad en ek en Sulet het gewag vir ons online shopping om afgelewer te word. Daarna is ons na die Queen's Wharf. Teen daardie tyd was Rialeen klaar met haar klasse en is sy saam met ons. Die weer was effens beter. Dit het darem nie gestortreën nie, maar dit was bewolk met 'n motreëntjie so nou en dan.

Ons het iets geëet en drink by die Te Papa-Museum en Sulet en Rialeen het een vloer deurgestap.
Lawwigheid met die Te Papa se tegnologie 

Daarna het ons al met die strand langs gestap na Oriëntal Bay en by die Fishermans Table 'n tafel bespreek om die aand daar te eet. Ons het teruggestap na waar die meeste winkels in die CBD is en Sulet kon verder haar verwonder aan die goedkoop klere en nog 'n paar rand aan geskenke en aandenkings spandeer.














Laat middag is ons terug na die Fishermans Table om daar te eet. Gelukkig het 'n vriendelike waitress 'n foto van ons drie saam geneem.



Afrika is nie meer vir my nie

Misdaad is die belangrikste rede hoekom ek Suid-Afrika wou  verlaat. Ons is van die gelukkige mense wat nie regtig deur misdaad in Suid-Afrika geraak is nie. Ek is een keer jare gelede deur 'n man my in Natal langs die see aangeval wat my met 'n mes teen my keel in die rivierloop probeer insleep het. Ek het niks by my gehad wat hy kon vat nie. As daar nie twee stokhoring oumense aangestap gekom het nie, sou hy my sekerlik verkrag het, maar met die genade van bo het ek sonder 'n skraap aan my lyf daarvan afgekom. Sulet en haar vriendin, Suretha is ook in Natal op die strand aangeval deur 'n man met 'n vlymskerp mes. Hy het daarop aangedring dat hul hul Billabongsak wat hul by hul gehad het met beursies, selfone ens aan hom oorhandig. Dit terwyl daar nie ver van hul nie, mense besig was om in die see te swem en op die strand te speel. Hy het self verwag dat Suretha die aangesteekte sigaret wat sy in haar hand gehad het, aan hom gee. 

Ongelukkig ken ek baie ander mense wat nie so gelukkig soos ons is nie. Die eerste keer wat ons begin dink het om Suid-Afrika te verlaat, was in 2001 nadat hul in Rialeen se boesemvriendin-hul se huis ingebreek het en haar veertienjarige suster gegang rape is deur vier of vyf mans. Kort daarna is Sulet se beste vriend voor die skool by die robot (verkeerslig - mense in ander lande lag vir die woord robot) doodgery deur 'n minibus-taxi wat nie by die rooilig gestop het nie.

Aanvanklik het ons besluit om Australia toe te gaan. In 2003 het ons vir 'n vakansie deur Australia getoer, maar toe ons terugkom, het ek gesien Hendrik wil dit nie regtig doen nie. Ek het voortgegaan met die proses om al my dokumente gereed te kry en het inkontak gebly met 'n agentskap wat paramediese personeel in Australia en New Zealand plaas aangesien ek as 'n spraakterapeut in SA gewerk het. Toe Hendrik hoor dat sy broer hul besluit het om aansoek te doen vir verblyfsreg in New Zealand, het hy weereens begin met die idee dat ons liewer hierheen moet kom. Ons het dus begin met die hele proses om aansoek te doen vir ons  verblyfsreg.

Intussen het daar net 'n reeks van wreedaardige aanvalle voorgekom op familie, kollega's, vriende en bure. Hendrik se neef is in Rustenburg koelbloedig voor sy kinders en vrou doodgeskiet deur 'n inbreker, 'n kollega met wie ek nou kontak gehad het, is in hul huis deur inbrekers aangehou saam met haar ma wat al diep in die tagtigs was. Haar seun was in die slaapkamer en die inbrekers het dit nie besef nie. Hy het vir 'n vriend 'n sms gestuur en die was slim genoeg om die polisie te bel, maar die skelms het oor die agtermuur gespring toe die polisie voor die huis gestop het en is nooit gevang nie. 'n Ander kollega se duim is afgeskiet in 'n high jacking. 

My suster se skoonpa is op hul plaas tussen Rayton en Bronkhorstspruit doodgeskiet met sy eie wapen wat hy vir sy beskerming by sy bed gehou het. Sy huis is minder as vyftig meter van my suster-hul s'n. My swaer het sy pa die volgende oggend vroeg voor die deur in die sitkamer gekry, waarheen hy homself in sy gewonde toestand gesleep het in 'n poging om hulp te kry voordat hy daar sy laaste asem uitgeblaas het. Twee maande later het hul teruggekom, al die honde gif gegee, die bakkie gevat wat by die huis gestaan het, my suster se seun se motorfiets en alles wat nog in die huis oor was (tot die skilderye van die mure af) daarop gelaai. Die bakkie met al die goed op is in 'n padblokkade teruggekry, maar die helfte van die goed is by die polisiestasie gesteel voordat my swaer dit gekry het.

'n Oudkollega van my wat reeds 'n paar jaar afgetree was, is in hul huis aangeval. Sy was agt-en-sestig jaar oud en drie mans het haar gegang rape. Sy was vir maande in 'n totale depressiewe toestand en moes weke in Denmar deurbring vir intensiewe behandeling. 'n Oudleerling van Waterkloofhoërskool is 'n paar maal in haar pa se huis, in ons woonbuurt, nie ver van waar ons gewoon het nie, geskiet deur inbrekers wat niks uit die huis uitgevat het nie. Sy het pas Graad 12 met agt onderskeidings geslaag en het beplan om Medies te gaan swot. Ek het haar nie geken nie, maar dit was hartverskeurend om net van dit op die radio te hoor en in die koerante te sien. Dit het net al nader aan ons gekom en die vrees dat so iets met ons kon gebeur, het my teen die mure uitgedryf.

Meeste mense dink sulke goed kan nie met hul gebeur nie en as dit met jou gebeur, fluister hul agter hul hand oor hoe onverskillig jy was... jou kar se deur was nie gesluit nie, hul het nie eens 'n alarm in hul huis nie, ek neem die pa kwalik, hy moes dit of dat gedoen het om sy kind te beskerm ens ens. Ek het al baie van die stories gehoor. Toe die man my aangeval het, het ander gesê ek moes nie op 'n Sondagmiddag alleen op die strand geloop het nie (in Wellington kan ek in die middel van 'n Sondagnag op die strand gaan loop en die kanse is skraal dat iemand my gaan aanval). Sulet-hul is ook verwyt omdat 'n man uit die bosse op die strand gekom het net toe hul oppak om huis toe te gaan... hul het te ver van die ander mense op die strand gesit en moes vroeër begin oppak het... Sulet-hul sê hul was binne sigafstand van die ander mense. Dis altyd jou skuld en nie die misdadiger s'n nie. Ons moet in tronke woon terwyl die skelms vry op die strate loop.

Ek kon ongelukkig nie sit en wag dat hierdie vreeslike dinge met my of my kind gebeur nie. 'n Mens kan nie vir ander kies nie en elkeen moet doen wat vir hom goed is. My oudste kind, Sulet, is getroud en sy verkies om in Suid-Afrika te bly. Hendrik, my man het besluit om nie saam met ons te kom nie, omdat hy die sekuriteit wil hê van sy inkomste tot ek 'n vaste inkomste hier kan genereer en hy seker is van 'n werk hier. Dit is hulle keuse. Ek en Rialeen wou nie langer wag nie.

Rialeen het 'n beurs gehad om by die Openwindow in Centurion te swot. Sy het een jaar daar voltooi in Graphic Desigh, maar het besluit om aansoek te doen vir toelating by Victoria Universiteit in Wellington om van vooraf te begin met Industrial Design. Toe ons aan die einde van verlede Oktober hoor sy is toegelaat, het ek dadelik kennis gegee by my werk en begin oppak. Ons het reeds ons residensie in New Zeeland in Mei 2010 ontvang en kon dus sonder moeite oorkom.

Op daardie stadium het ek as 'n spraak- en taalterapeut/oudioloog by Filadelfia Secondary School in Soshanguve ('n township noord van Pretoria) gewerk. Dit is 'n hoërskool vir gestremde kinders, doof, visueel gestremd, fisies gestremd en met CP. Die kinders kom van oral oor Suid-Afrika uit veral die plattelandse gebiede. Dit was 'n verreikende ervaring wat my baie hoop gegee het vir die toekoms van Suid-Afrika. Ek het wonderlike vriende gemaak met jong swartmense en swartmense van my ouderdom, 'n verpleegsuster, onderwysers, 'n arbeidsterapeut, koshuistannies en skoonmakers. Hul is intense gelowige mense met hoë waardes. Hul het my laat besef dat Afrika nou aan die mense van Afrika behoort. Hul sien ook misdaad soos ons en is meestal al meer as ons daardeur geraak, maar hul het uiteindelik geluk in die Nuwe Suid-Afrika gevind. Hul kinders het 'n beter toekoms as die vorige geslagte. Hul wil vir hul kinders die beste gee net soos ons vir ons kinders. Hulle hou nie van Zuma en wat hy verteenwoordig met sy baie vrouens en rondslapery nie, maar dit bly vir hul duisend maal beter as apartheid.

Ek het maar net almeer besef dat die dae van die Afrikaner is getel in Suid-Afrika. Daar was net nie meer plek vir my in Afrika nie, maak nie saak hoe lief ek Afrika het nie, hoe lief ek my taal het nie, hoe lief ek die mense het wat ek daar agtergelaat het nie.

Aan die begin van Februarie 2011 het ek, Hendrik en Rialeen dus die groot uittog na Wellington, New Zeeland aangepak, elkeen met net 'n tas vol klere en Rialeen se Mac-rekenaar. Hendrik het na drie weke weer teruggegaan toe hy seker was dat ons 'n blyplek en die nodigste aardse besittings het en redelik aangepas is in ons nuwe omgewing. 

Dit is hoe die idee van 'n blog ontstaan het, want ek het familie, vriende en oudkollega's wat wil weet hoe dit met ons hier gaan en ek kan nie elkeen altyd persoonlik op die hoogte hou van ons doen en late nie. Min het ek geweet dat daar 'n groot aantal onbekendes (van oral oor die wêreld) gaan wees wat al my gebrabbel wil lees nie.

Vrydag 04 November 2011

Sulet se kuier (1)

Nou ja, Sulet se kuier is nou al twee week verby. Ek is weer in die gewone roetine van werk en Rialeen het vakansie. Ek werk nou al vir weke lank 40 ure 'n week omdat daar vakatures by Kindercare is, maar ek is nog nie lus om permanent te werk nie. Ek sou nie twee weke kon afvat vir Sulet se kuier as ek permanent aangestel was nie. Dit laat my voel ek is nog my eie baas. Dis nie asof ek meer gaan verdien as nou nie. Ek wil ook na ander opsies kyk veral na werksgeleenthede by 'Kindergartens', dit is kleuterskole wat onder die Ministry of Education val en as jy vir hulle werk, word jy deur die onderwysdepartement betaal. Ek sal later eendag meer daaroor vertel.

Dit was ongelooflik om Sulet na so 'n langtyd weer te sien. 'n Mens kan daardie vreugde nie in woorde beskryf nie. Dit is die langste wat ons nog ooit van mekaar weg was, 8 maande. Ons het elke oomblik wat sy hier was, goed probeer benut. Ek het nie gaan werk nie, vir Rialeen was dit moeilik, want sy het die eerste week wat Sulet hier was nog klas gehad en dit was die tyd wat sy haar projekte moes voltooi en ingee. Maar ek dink ons almal het elke oomblik van Sulet se kuier geniet.

Dis net irriterend dat die vliegtuig in die middel van die nag hieraan kom en vertrek voor sonsopkoms, met die teruggaan. Dit was omtrent 'n georganiseerdery om Sulet op die lughawe te kry en weer te gaan afsien. Sy het die Maandagnag twaalfuur geland. Daardie tyd van die nag is daar nie meer busse of treine nie en Taxi's is ongelooflik duur. Almal by die werk het raad gegee en ek het selfs oorweeg om 'n kar te huur. Op die einde het ek en Rialeen die laaste trein gehaal wat inry Wellingtonstasie toe. Dit het so elfuur vertrek van die stasie in Johnsonville. Ons het toe 'n taxi gekry by die stasie wat ons lughawe toe gevat het. Op die manier het ons 'n paar dollar gespaar.

Die tonnel oppad na die lughawe was gesluit en ons moes met 'n ompad ry. Ek was dus dankbaar dat ek nie 'n kar gehuur het nie. Ons sou dalk nie by die lughawe uitgekom het nie. Gelukkig is daar altyd taxi's by die stasie en vir die terugkom saam met Sulet was dit nie moeilik om 'n taxi by die lughawe te kry nie. Die vliegtuig het ook vroeër geland as wat ons verwag het (waaroor ek dankbaar was) en Sulet het ons lekker verras. Toe ek weer sien staan sy hier langs ons. Dit was so 'n vreugdevolle oomblik! Ek sal dit vir altyd en altyd onthou. Sulet het in trane uitgebars en die ander mense wat daar rond gesit of staan het, het almal ge-oo en aa in 'n koor. Dis net die wonderlikste gevoel om jou kind na so 'n lang tyd weer te kan vashou!

Ons moes natuurlik voor die tyd organiseer en herrangskik om 'n ekstra slaapplek te organiseer in ons woonstelletjie. Ons het reeds toe Hendrik nog hier was 'n goeie kwaliteit opblaasmatras gekoop met 'n pomp. Die het ons in my kamer gesit en Rialeen se kamer is weer ingerig as 'n 'sitkamer' met die een bed daar. Sulet was veronderstel om daar op die bed te slaap en Rialeen by my op die matras. Sulet wou graag by my slaap en Rialeen moes nog vroeg opstaan om klas toe te gaan. Die twee het op die einde afwisselend by my geslaap, want hul het gekla dat daar koue van onder af op die opblaasmatras kom en het dus beurte gemaak om koud te kry. Ons het 'n mat onder gesit en 'n flennie laken onder die paslaken gesit, maar dit het nie baie gehelp nie. 'n Warmwatersak was maar die beste oplossing en Sulet se skoonma se thermo-onderklere wat sy saam met Sulet gestuur het, was hul redding.

Vir die teruggaan, het ons 'n taxi voor die tyd gereël om ons halfvier in die oggend te kom oplaai en lughawe toe te vat. Dit was die kortste 2 ure wat ons nog in ons lewe beleef het. Voor ons ons oë kon uitvee, moes sy in die vertreklokaal ingaan. Die afskeid was die pynlikste oomblik van my lewe. 'n Mens kan dit nie in woorde beskryf nie. Dis asof iemand my hart uit my borskas ruk en ek het vir ure lank gevoel of ek wil braak van die pyn.

    'n Laaste foto op die lughawe

Ek en Rialeen het ontbyt geëet op die lughawe en toe 'n bus gevat tot op die stasie. Ons moes 'n uur wag vir die trein (Sondagoggend dou voor dag) en het besluit om met die Queens Wharf af te stap. Ek het 'n ver stap nodig gehad om die pyn te verdryf. Ons kon geen plek vind wat so vroeg op 'n Sondagoggend oop was waar ons kon koffie drink nie. Ons is later meer in na die Wilisstraat se kant toe en het daar 'n Starbucks gekry wat net oopgemaak het. Rialeen het te lekker in een van hul stoele gelê en slaap. Ons is eers na nege uit Starbucks om op die einde 'n bus te vang huis toe.

Rialeen in Starbucks se sitkamerstoel
Toe ons uit Suid-Afrika hierna toe gekom het en afskeid geneem het, was dit nie so erg nie. Daar het 'n groot avontuur aan die anderkant vir ons gewag. Ons was opgewonde en kon nie wag vir ons nuwe lewe hier in die 'vreemde' nie. 'n Mens besef nie die finaliteit daarvan nie en dink as dit sleg gaan sal jy maar net teruggaan 'huis' toe. Nou is ons ongelooflik gelukkig hier en 'n mens besef die komplikasies oor die langtermyn. Daar gaan nog baie sulke hartseer 'good byes' wees en alles wat daarmee gepaard gaan, want daar is nie 'n manier hoe ek ooit weer sal teruggaan Suid-Afrika toe nie om in 'n tronk te gaan woon nie, agter diefwering en traliehekke nie, elke dag in vrees dat jy die volgende slagoffer van verkragting, moord, 'n high jacking ens gaan wees nie.

Die warmte van die New Zealanders maak op vir die koue weer en ten minste kan ons dag en nag op busse en treine ry, vry in die strate loop, vergeet om ons deur te sluit en hoef ons nie mense met agterdog te beheen nie. Die dae wat die sonskyn is dit so ongelooflik mooi dat 'n mens vergeet van die ander dae wat dit bewolk is of reën.