Vrydag 04 November 2011

Sulet se kuier (1)

Nou ja, Sulet se kuier is nou al twee week verby. Ek is weer in die gewone roetine van werk en Rialeen het vakansie. Ek werk nou al vir weke lank 40 ure 'n week omdat daar vakatures by Kindercare is, maar ek is nog nie lus om permanent te werk nie. Ek sou nie twee weke kon afvat vir Sulet se kuier as ek permanent aangestel was nie. Dit laat my voel ek is nog my eie baas. Dis nie asof ek meer gaan verdien as nou nie. Ek wil ook na ander opsies kyk veral na werksgeleenthede by 'Kindergartens', dit is kleuterskole wat onder die Ministry of Education val en as jy vir hulle werk, word jy deur die onderwysdepartement betaal. Ek sal later eendag meer daaroor vertel.

Dit was ongelooflik om Sulet na so 'n langtyd weer te sien. 'n Mens kan daardie vreugde nie in woorde beskryf nie. Dit is die langste wat ons nog ooit van mekaar weg was, 8 maande. Ons het elke oomblik wat sy hier was, goed probeer benut. Ek het nie gaan werk nie, vir Rialeen was dit moeilik, want sy het die eerste week wat Sulet hier was nog klas gehad en dit was die tyd wat sy haar projekte moes voltooi en ingee. Maar ek dink ons almal het elke oomblik van Sulet se kuier geniet.

Dis net irriterend dat die vliegtuig in die middel van die nag hieraan kom en vertrek voor sonsopkoms, met die teruggaan. Dit was omtrent 'n georganiseerdery om Sulet op die lughawe te kry en weer te gaan afsien. Sy het die Maandagnag twaalfuur geland. Daardie tyd van die nag is daar nie meer busse of treine nie en Taxi's is ongelooflik duur. Almal by die werk het raad gegee en ek het selfs oorweeg om 'n kar te huur. Op die einde het ek en Rialeen die laaste trein gehaal wat inry Wellingtonstasie toe. Dit het so elfuur vertrek van die stasie in Johnsonville. Ons het toe 'n taxi gekry by die stasie wat ons lughawe toe gevat het. Op die manier het ons 'n paar dollar gespaar.

Die tonnel oppad na die lughawe was gesluit en ons moes met 'n ompad ry. Ek was dus dankbaar dat ek nie 'n kar gehuur het nie. Ons sou dalk nie by die lughawe uitgekom het nie. Gelukkig is daar altyd taxi's by die stasie en vir die terugkom saam met Sulet was dit nie moeilik om 'n taxi by die lughawe te kry nie. Die vliegtuig het ook vroeër geland as wat ons verwag het (waaroor ek dankbaar was) en Sulet het ons lekker verras. Toe ek weer sien staan sy hier langs ons. Dit was so 'n vreugdevolle oomblik! Ek sal dit vir altyd en altyd onthou. Sulet het in trane uitgebars en die ander mense wat daar rond gesit of staan het, het almal ge-oo en aa in 'n koor. Dis net die wonderlikste gevoel om jou kind na so 'n lang tyd weer te kan vashou!

Ons moes natuurlik voor die tyd organiseer en herrangskik om 'n ekstra slaapplek te organiseer in ons woonstelletjie. Ons het reeds toe Hendrik nog hier was 'n goeie kwaliteit opblaasmatras gekoop met 'n pomp. Die het ons in my kamer gesit en Rialeen se kamer is weer ingerig as 'n 'sitkamer' met die een bed daar. Sulet was veronderstel om daar op die bed te slaap en Rialeen by my op die matras. Sulet wou graag by my slaap en Rialeen moes nog vroeg opstaan om klas toe te gaan. Die twee het op die einde afwisselend by my geslaap, want hul het gekla dat daar koue van onder af op die opblaasmatras kom en het dus beurte gemaak om koud te kry. Ons het 'n mat onder gesit en 'n flennie laken onder die paslaken gesit, maar dit het nie baie gehelp nie. 'n Warmwatersak was maar die beste oplossing en Sulet se skoonma se thermo-onderklere wat sy saam met Sulet gestuur het, was hul redding.

Vir die teruggaan, het ons 'n taxi voor die tyd gereël om ons halfvier in die oggend te kom oplaai en lughawe toe te vat. Dit was die kortste 2 ure wat ons nog in ons lewe beleef het. Voor ons ons oë kon uitvee, moes sy in die vertreklokaal ingaan. Die afskeid was die pynlikste oomblik van my lewe. 'n Mens kan dit nie in woorde beskryf nie. Dis asof iemand my hart uit my borskas ruk en ek het vir ure lank gevoel of ek wil braak van die pyn.

    'n Laaste foto op die lughawe

Ek en Rialeen het ontbyt geëet op die lughawe en toe 'n bus gevat tot op die stasie. Ons moes 'n uur wag vir die trein (Sondagoggend dou voor dag) en het besluit om met die Queens Wharf af te stap. Ek het 'n ver stap nodig gehad om die pyn te verdryf. Ons kon geen plek vind wat so vroeg op 'n Sondagoggend oop was waar ons kon koffie drink nie. Ons is later meer in na die Wilisstraat se kant toe en het daar 'n Starbucks gekry wat net oopgemaak het. Rialeen het te lekker in een van hul stoele gelê en slaap. Ons is eers na nege uit Starbucks om op die einde 'n bus te vang huis toe.

Rialeen in Starbucks se sitkamerstoel
Toe ons uit Suid-Afrika hierna toe gekom het en afskeid geneem het, was dit nie so erg nie. Daar het 'n groot avontuur aan die anderkant vir ons gewag. Ons was opgewonde en kon nie wag vir ons nuwe lewe hier in die 'vreemde' nie. 'n Mens besef nie die finaliteit daarvan nie en dink as dit sleg gaan sal jy maar net teruggaan 'huis' toe. Nou is ons ongelooflik gelukkig hier en 'n mens besef die komplikasies oor die langtermyn. Daar gaan nog baie sulke hartseer 'good byes' wees en alles wat daarmee gepaard gaan, want daar is nie 'n manier hoe ek ooit weer sal teruggaan Suid-Afrika toe nie om in 'n tronk te gaan woon nie, agter diefwering en traliehekke nie, elke dag in vrees dat jy die volgende slagoffer van verkragting, moord, 'n high jacking ens gaan wees nie.

Die warmte van die New Zealanders maak op vir die koue weer en ten minste kan ons dag en nag op busse en treine ry, vry in die strate loop, vergeet om ons deur te sluit en hoef ons nie mense met agterdog te beheen nie. Die dae wat die sonskyn is dit so ongelooflik mooi dat 'n mens vergeet van die ander dae wat dit bewolk is of reën.

Geen opmerkings nie: