Misdaad is die belangrikste rede hoekom ek Suid-Afrika wou verlaat. Ons is van die gelukkige mense wat nie regtig deur misdaad in Suid-Afrika geraak is nie. Ek is een keer jare gelede deur 'n man my in Natal langs die see aangeval wat my met 'n mes teen my keel in die rivierloop probeer insleep het. Ek het niks by my gehad wat hy kon vat nie. As daar nie twee stokhoring oumense aangestap gekom het nie, sou hy my sekerlik verkrag het, maar met die genade van bo het ek sonder 'n skraap aan my lyf daarvan afgekom. Sulet en haar vriendin, Suretha is ook in Natal op die strand aangeval deur 'n man met 'n vlymskerp mes. Hy het daarop aangedring dat hul hul Billabongsak wat hul by hul gehad het met beursies, selfone ens aan hom oorhandig. Dit terwyl daar nie ver van hul nie, mense besig was om in die see te swem en op die strand te speel. Hy het self verwag dat Suretha die aangesteekte sigaret wat sy in haar hand gehad het, aan hom gee.
Ongelukkig ken ek baie ander mense wat nie so gelukkig soos ons is nie. Die eerste keer wat ons begin dink het om Suid-Afrika te verlaat, was in 2001 nadat hul in Rialeen se boesemvriendin-hul se huis ingebreek het en haar veertienjarige suster gegang rape is deur vier of vyf mans. Kort daarna is Sulet se beste vriend voor die skool by die robot (verkeerslig - mense in ander lande lag vir die woord robot) doodgery deur 'n minibus-taxi wat nie by die rooilig gestop het nie.
Aanvanklik het ons besluit om Australia toe te gaan. In 2003 het ons vir 'n vakansie deur Australia getoer, maar toe ons terugkom, het ek gesien Hendrik wil dit nie regtig doen nie. Ek het voortgegaan met die proses om al my dokumente gereed te kry en het inkontak gebly met 'n agentskap wat paramediese personeel in Australia en New Zealand plaas aangesien ek as 'n spraakterapeut in SA gewerk het. Toe Hendrik hoor dat sy broer hul besluit het om aansoek te doen vir verblyfsreg in New Zealand, het hy weereens begin met die idee dat ons liewer hierheen moet kom. Ons het dus begin met die hele proses om aansoek te doen vir ons verblyfsreg.
Intussen het daar net 'n reeks van wreedaardige aanvalle voorgekom op familie, kollega's, vriende en bure. Hendrik se neef is in Rustenburg koelbloedig voor sy kinders en vrou doodgeskiet deur 'n inbreker, 'n kollega met wie ek nou kontak gehad het, is in hul huis deur inbrekers aangehou saam met haar ma wat al diep in die tagtigs was. Haar seun was in die slaapkamer en die inbrekers het dit nie besef nie. Hy het vir 'n vriend 'n sms gestuur en die was slim genoeg om die polisie te bel, maar die skelms het oor die agtermuur gespring toe die polisie voor die huis gestop het en is nooit gevang nie. 'n Ander kollega se duim is afgeskiet in 'n high jacking.
My suster se skoonpa is op hul plaas tussen Rayton en Bronkhorstspruit doodgeskiet met sy eie wapen wat hy vir sy beskerming by sy bed gehou het. Sy huis is minder as vyftig meter van my suster-hul s'n. My swaer het sy pa die volgende oggend vroeg voor die deur in die sitkamer gekry, waarheen hy homself in sy gewonde toestand gesleep het in 'n poging om hulp te kry voordat hy daar sy laaste asem uitgeblaas het. Twee maande later het hul teruggekom, al die honde gif gegee, die bakkie gevat wat by die huis gestaan het, my suster se seun se motorfiets en alles wat nog in die huis oor was (tot die skilderye van die mure af) daarop gelaai. Die bakkie met al die goed op is in 'n padblokkade teruggekry, maar die helfte van die goed is by die polisiestasie gesteel voordat my swaer dit gekry het.
'n Oudkollega van my wat reeds 'n paar jaar afgetree was, is in hul huis aangeval. Sy was agt-en-sestig jaar oud en drie mans het haar gegang rape. Sy was vir maande in 'n totale depressiewe toestand en moes weke in Denmar deurbring vir intensiewe behandeling. 'n Oudleerling van Waterkloofhoërskool is 'n paar maal in haar pa se huis, in ons woonbuurt, nie ver van waar ons gewoon het nie, geskiet deur inbrekers wat niks uit die huis uitgevat het nie. Sy het pas Graad 12 met agt onderskeidings geslaag en het beplan om Medies te gaan swot. Ek het haar nie geken nie, maar dit was hartverskeurend om net van dit op die radio te hoor en in die koerante te sien. Dit het net al nader aan ons gekom en die vrees dat so iets met ons kon gebeur, het my teen die mure uitgedryf.
Meeste mense dink sulke goed kan nie met hul gebeur nie en as dit met jou gebeur, fluister hul agter hul hand oor hoe onverskillig jy was... jou kar se deur was nie gesluit nie, hul het nie eens 'n alarm in hul huis nie, ek neem die pa kwalik, hy moes dit of dat gedoen het om sy kind te beskerm ens ens. Ek het al baie van die stories gehoor. Toe die man my aangeval het, het ander gesê ek moes nie op 'n Sondagmiddag alleen op die strand geloop het nie (in Wellington kan ek in die middel van 'n Sondagnag op die strand gaan loop en die kanse is skraal dat iemand my gaan aanval). Sulet-hul is ook verwyt omdat 'n man uit die bosse op die strand gekom het net toe hul oppak om huis toe te gaan... hul het te ver van die ander mense op die strand gesit en moes vroeër begin oppak het... Sulet-hul sê hul was binne sigafstand van die ander mense. Dis altyd jou skuld en nie die misdadiger s'n nie. Ons moet in tronke woon terwyl die skelms vry op die strate loop.
Ek kon ongelukkig nie sit en wag dat hierdie vreeslike dinge met my of my kind gebeur nie. 'n Mens kan nie vir ander kies nie en elkeen moet doen wat vir hom goed is. My oudste kind, Sulet, is getroud en sy verkies om in Suid-Afrika te bly. Hendrik, my man het besluit om nie saam met ons te kom nie, omdat hy die sekuriteit wil hê van sy inkomste tot ek 'n vaste inkomste hier kan genereer en hy seker is van 'n werk hier. Dit is hulle keuse. Ek en Rialeen wou nie langer wag nie.
Rialeen het 'n beurs gehad om by die Openwindow in Centurion te swot. Sy het een jaar daar voltooi in Graphic Desigh, maar het besluit om aansoek te doen vir toelating by Victoria Universiteit in Wellington om van vooraf te begin met Industrial Design. Toe ons aan die einde van verlede Oktober hoor sy is toegelaat, het ek dadelik kennis gegee by my werk en begin oppak. Ons het reeds ons residensie in New Zeeland in Mei 2010 ontvang en kon dus sonder moeite oorkom.
Op daardie stadium het ek as 'n spraak- en taalterapeut/oudioloog by Filadelfia Secondary School in Soshanguve ('n township noord van Pretoria) gewerk. Dit is 'n hoërskool vir gestremde kinders, doof, visueel gestremd, fisies gestremd en met CP. Die kinders kom van oral oor Suid-Afrika uit veral die plattelandse gebiede. Dit was 'n verreikende ervaring wat my baie hoop gegee het vir die toekoms van Suid-Afrika. Ek het wonderlike vriende gemaak met jong swartmense en swartmense van my ouderdom, 'n verpleegsuster, onderwysers, 'n arbeidsterapeut, koshuistannies en skoonmakers. Hul is intense gelowige mense met hoë waardes. Hul het my laat besef dat Afrika nou aan die mense van Afrika behoort. Hul sien ook misdaad soos ons en is meestal al meer as ons daardeur geraak, maar hul het uiteindelik geluk in die Nuwe Suid-Afrika gevind. Hul kinders het 'n beter toekoms as die vorige geslagte. Hul wil vir hul kinders die beste gee net soos ons vir ons kinders. Hulle hou nie van Zuma en wat hy verteenwoordig met sy baie vrouens en rondslapery nie, maar dit bly vir hul duisend maal beter as apartheid.
Ek het maar net almeer besef dat die dae van die Afrikaner is getel in Suid-Afrika. Daar was net nie meer plek vir my in Afrika nie, maak nie saak hoe lief ek Afrika het nie, hoe lief ek my taal het nie, hoe lief ek die mense het wat ek daar agtergelaat het nie.
Aan die begin van Februarie 2011 het ek, Hendrik en Rialeen dus die groot uittog na Wellington, New Zeeland aangepak, elkeen met net 'n tas vol klere en Rialeen se Mac-rekenaar. Hendrik het na drie weke weer teruggegaan toe hy seker was dat ons 'n blyplek en die nodigste aardse besittings het en redelik aangepas is in ons nuwe omgewing.
Dit is hoe die idee van 'n blog ontstaan het, want ek het familie, vriende en oudkollega's wat wil weet hoe dit met ons hier gaan en ek kan nie elkeen altyd persoonlik op die hoogte hou van ons doen en late nie. Min het ek geweet dat daar 'n groot aantal onbekendes (van oral oor die wêreld) gaan wees wat al my gebrabbel wil lees nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking