Woensdag 18 Julie 2012

Op Heleen en Johnnie se plaas in Suid-Afrika

Op hierdie plasie, tussen Rayton en Bronkhorstspruit, is my swaer se pa 'n paar jaar gelede vermoor in sy huis wat skaars vyftig tree van die groot huis is. Hy is in die nag daar oorval en geskiet met die wapen wat hy langs sy bed gehou het om homself te kan verdedig. Hy het homself tot by die voordeur gesleep om hulp te soek en dis waar Johnnie hom vroeg die volgende oggend gekry het in 'n plasbloed.

Of dit nie genoeg was nie, het die skelms weer na twee maande daar opgedaag, al die honde gif ingegee en daarna oom Doppie (Johnnie se pa) se bakkie wat nog daar gestaan het gevat. Hul het Siebrits se motorfiets en alles wat in die huis oor was (selfs die prente teen die mure) opgelaai en is daarmee weg. Die polisie het tot nou toe niemand vir enige van die oortredings vasgetrek nie.


Perde is die Cilliers se groot voorliefde
Siebrits en Dinkie besig om die perde te roskam

Johnnie en Heleen hard besig om vir ons 'n vuur te maak

Gelukkig het hul 'n skaaphond om die rook vir ons op te pas


Die vuur is reg en dis Johnnie en Siebrits se beurt om 'n entjie op die perde te gaan ry. Hendrik sit lekker met sy handjies gevou.
Klein Rex pas die vuur vir ons op
Hierdie foto is so vyfuur in die middag geneem en dis die maan op die agtergrond
en Hendrik sit nog steeds met sy handjies gevou...
Ai, as mens kuns as 'n vak op skool het, is daar nie tyd vir ontspan nie. Jolene hard besig met haar kuns wat Maandag ingehandig moet word
Ons kat, wat Heleen-hul se kat se babatjie was. Die mamma-kat is dood toe die honde gif ingegee is en sy ook van die gif ingekry het. Ons het hierdie babatjie mooi groot gemaak en nou woon hy weer by hul op die plaas en ons in New Zealand (Ai, ek mis 'n troeteldier!)
Is klein Rex nie die mooiste brakkie in die wereld nie?

Woensdag 04 Julie 2012

My Besoek aan die Weskus - Langebaan

Na my eerste ondervinding van aaklige besoedelde lug deur die venster van die vliegtuig by O.R Tambo Lughawe en met die landing by Kaapstad se lughawe, was dit 'n verligting om te sien dat die Weskus nog ongeskonde is en dieselfde skoonlug het waaraan ek in Wellington gewoond geraak het. 


 New Zealand se wolke is asemrowend mooi, maar hier kan jul kyk na die wolkies bo Langebaan wat lyk of dit met 'n kwas geverf is - pragtig!
 Uitsig oor Langebaan
 Asemrowende sonsondergang oor Langebaan
en my swaer en skoonsus is bevoorreg om dit elke dag vanaf hul stoep te bewonder!
 Oppad terug Kaapstad toe word ek weer gekonfronteer met die realiteit van Suid-Afrika, plakkerskampe so ver jy kyk en rook oor die pragtige Tafelberg

 My swaer, Frans en skooonsus Alta by wie ek gekuier het
 'n Laaste foto deur die vliegtuig se venster en dan is ek oppad terug Gauteng toe

Sondag 01 Julie 2012

Foto's uit Suid-Afrika

 Doodmoeg saam met Sulet
 en my suster, Heleen
Hendrik en Sulet. Ai, wat 'n vreugde om haar weer te sien en te kon vashou!
Njam! Lekker ontbyt in Moreletapark
Ek het nie kleinkinders nie, maar ek het darem kleinhondjies
 Coco
Coco en Chaz
Chaz op sy ouma se skoot
My agt-en-tagtigjarige oue pa
Sulet en Philip
Saam met my skoolvriendin, Marieta van der Merwe (née Van Der Berg) wat ek na 35 jaar herontmoet het kort na my aankoms in Pretoria
 In die Staatsteater saam met Sulet om Steve Hofmeyr te gaan bekyk
Opgedress vir Phantom of the Opera
Sulet en haar peetkind
Blaas Philip, blaas!
 Lyk my hy het moed opgegee...  of is Sulet weer laat
Philip se 29ste verjaardag

Grrr

Iemand (wat in Suid-Afrika woon) het my weer hierdie week gewaarsku om nie druk op Hendrik uit te oefen om teen sy sin hierheen te kom nie en daarna vir my 'n lesing gegee oor hoe mans sukkel om werk te kry in New Zealand en dat alles nie so rooskleurig is soos ons ex-Afrikaners wil voorhou nie.

Ons storie is dat Hendrik in 2002 voorgestel het dat ons Australia toe moet immigreer. Ek sou nie in my wildste drome op daardie stadium daaraan gedink het nie, maar dit het my gepas soos 'n handskoen, aangesien ek erg stres begin beleef het agv die misdaadsituasie in Suid-Afrika. Hendrik het vir ons gesin 'n besoek gereël in Australia gedurende Maart/April 2003. Na ons terugkoms, het ek oorywerig begin om my dokumentasie agtermekaar te kry en in kontak gekom met 'n organisasie wat terapeute in Australia help werk vind. Ek het egter gou agtergekom dat Hendrik koue voete het en nie van plan is om die saak deur te voer nie. Na 'n paar onderonsies oor die onderwerp, het ek my berus by die idee dat ons nie sal gaan nie. Hoewel ek met die agentskap in kontak gebly het en op die hoogte was van die beskikbaarheid van poste in Australia.

In Januarie 2007 het hy weer begin karring. Hy het dat Rialeen 'n dag uit die skool bly en my laat afvat by die werk om 'n agent te besoek wat hom sal help om werk te kry in Australia. Hy het in ons teenwoordigheid haar R15 000 betaal om aan ons te bewys hoe ernstig hy die keer is, maar toe hy dit aan sy broer Frederik noem, vertel Frederik vir hom dat hul in die proses is om New Zealand toe te kom. Daarna het Hendrik besluit ons gaan nou nie meer Australia toe nie, maar New Zealand toe (waaroor ek beslis nie gelukkig was op daardie stadium nie, maar hom nou ewig dankbaar sal wees, want ons is, soos jul reeds weet, ongelooflik gelukkig hier). Hy het ook daar en dan begin reël dat ons verblyfsreg in New Zealand kry, wat in Mei 2010 deur gekom het.

In Oktober 2010 het Rialeen laat blyk dat sy eerder wil kyk na instansies in New Zealand waar sy verder kan studeer aangesien ons reeds residensie hier gehad het. Dit is hoe ons in Wellington beland het nadat sy toegelaat is by Victoria Universiteit. Ons het besluit dat Hendrik in Pretoria sal agterbly om ons huis te verkoop en ander sake af te handel en dan later by ons sal aansluit. Dit is hoe dit gekom het dat ons van tafel en bed geskei geraak het.

Hendrik het my en Rialeen tot in New Zealand gebring en na drie weke is hy terug Suid-Afrika toe. Ek het nie 'n werk gehad nie of geweet of 'n werk gaan kry nie. Na sewentien maande woon hy nog steeds in Suid-Afrika en ek in New Zealand. Natuurlik gaan ek druk op hom uitoefen om hierheen  te kom, want ek beplan  nie om terug te gaan nie.

Hier is baie Suid-Afrikaners in Wellington. Party kom met 'n werk hier aan, vir party was dit 'n ses maande gesoek, vir ander was dit 'n leer wat 'n hul moes klim om te kom waar hul wou wees, ander het gesettle vir iets heeltemal anders as wat hul voorheen gedoen het (soos ek) maar op die einde maak almal 'n bestaan.

Ek ken baie Suid-Afrikaners, mense wat al negentien jaar hier woon tot mense wat na my hier aangekom het. By al die skole waar ek werk, is mense uit Suid-Afrika met kinders daar, by Tawa was drie gesinne en ons was drie Afrikaansprekende personeellede, by Aotea is ten minste agt kinders uit verskillende gesinne, by Johnsonville is daar drie gesinne waarvan ek weet en 'n personeellid wat met 'n Suid-Afrikaner getroud is,  twee van ons areabestuurders kom uit Suid-Afrika, by die kerk is twee Engelssprekende gesinne, Rialeen se beste vriendin woon al meer as tien jaar hier en Rialeen werk nou vir oud-Suid-Afrikaners. Dis nie vir almal maklik nie, maar niemand wil teruggaan nie. Hul raak home sick, ja, en verlang na hul familie, maar almal is baie seker van die feit dat hul nie weer in Suid-Afrika sal kan woon nie. Niemand van hul val in die katagorie van arm nie of teer op die staat of welsynsorganisasies nie.  

Soos jul kan sien, het dit ons tien jaar gevat om die finale stap te neem. Dis nie iets wat impilsief gedoen is nie. Dit kos baie oortuiging en moed om tot op die punt te kom waar jy finaal totsiens sê aan alles wat aan jou bekend was, om familie en vriende te groet en op die vliegtuig te klim en te kom, maar hoe gouer jy dit doen, hoe gouer kan jy hier 'n nuwe lewe begin skep. Ek is net oor twee dinge spyt en dit is dat ons dit nie tien jaar gelede al gedoen het nie en dat ek nie my man saam met my gebring het nie. Verder is alles perfek in my lewe en pas die stukkies van my lewe soos 'n legkaart inmekaar. 

Saterdag 30 Junie 2012

Uiteindelik het ons vier wiele!

Ek is nou al 'n maand terug in Wellington en kan myself net so ver kry om te vertel van my besoek aan Suid-Afrika nie. Dit is die probleem as ek nie dadelik begin skryf terwyl dinge gebeur nie. Dan begin dit vervaag en raak dit moeite om al die herinneringe terug te bring. Dis nie dat ek te besig is om dit te doen nie. Ek sukkel nog om terug te kom in die gewerkery. Dis die probleem as 'n mens afloswerk doen, sodra ek weggaan, vervang hul my soos niks en vat dit 'n ewigheid om weer terug in die roetine te kom.

Ek is dus nou nie besig om my dood te werk nie, maar ons het 'n kar gesoek (wat vir my 'n groot job was) en gekoop. Ja, 'n Nissan Micra TS 1.5 outomaties (hier ry almal outomatiese karre wat vir my weird is) 2011 model met net 6010 km op. Ons is dus nou so mobiel soos kan kom en ek weet klaar nie meer hoe ons deur die winter gekom het verlede jaar sonder 'n kar nie!




Ons het ook die harde werklikheid van privaat vervoer ontmoet toe ons verlede Sondag twee ure op die state highway gestaan het (wat 'n vinnige ritjie sou wees) na Paraparauma  se strand vir 'n koppie koffie en 'n bord tjips. Daar was 'n kettingbotsing nie ver voor ons nie, gelukkig was ons op 'n gedeelte van die pad waar ons nog kon omdraai en terugry  na Paraparaumu toe ons sien dat daar ambulanse en polisievoertuie by ons begin verby skuur.

Ons besluit om by Wendys iets te gaan drink. Nie een van ons is juis honger nie, maar ons koop 'n slaai om te deel, sip elkeen aan 'n koeldrank, na 'n halfuur raak Rialeen rusteloos en wil nie langer sit nie. Ek hou die pad dop en sien daar kom nie juis karre van Wellington se kant nie, wat vir my aantoon dat die pad nog toe is, maar Rialeen voel of ons hier sit of in die kar sit, dis om met ewe. Ons pak dus maar weer die pad aan, wat 'n fout! Ons het net uit die dorp gery, toe staan ons weer, vier kilometer nader aan die dorp as die eerste keer. Hierdie keer kan ons nie omdraai nie, want daar is twee rye karre en barriers in die middel van die pad. Die mense staan langs die pad en gesels, 'n klomp jonges wat in 'n bus agter ons was het uitgeklim en staan en sing en dans en ons sit. Na 'n uur en 'n half is daar vir die eerste keer 'n bewegingkie in die verkeer!

Natuurlik voel ek ook jammer vir Rialeen wat met twee treine moet werk toe sukkel. Dit neem in die oggende omtrent 'n uur en in die aande een en 'n half uur om by die huis te kom, want dit hang af hoe laat hul die winkel se deur sluit en of sy moet wag of dadelik 'n trein kan kry in Petone. Sy moet dan ook gewoonlik op Wellingtonstasie wag om oor te klim na Johnsonville. Ek besluit dus om haar werk toe te vat die oggende wat ek nie vroeg werk nie. Sy werk tien kilometer van ons huis af en dit vat presies tien minute om haar af te laai en tien minute om terug te ry tot daar 'n ongeluk op die pad is of as dit reën, dan staan jy. Nee wat genade, ek weet nie wat is dit met die plek nie!  Daar is net nie alternatiewe roetes nie. Ek verlang skoon terug na trein en busry... maar ai, dis lekker om weer 'n kar te hê (veral so 'n potbloutjie soos ons s'n). Die lekkerste is om 'n kattebak byderhand te hê om mens se inkopies en jasse in te sit en nie alles saam met jou oral te dra nie.

Nou jaag ek weer soos in Suid-Afrika in die strate rond, laai Rialeen by die werk af, jaag terug huis toe, werk toe, etenstyd winkels toe, vanaand laai ek weer vir Rialeen op, Bar toe, huis ens. Ons probeer om nog af te stap na ons local mall in Johnsonville. Ek stap ook na Johnsonville se Kindercare toe, want dit is net een kilometer van ons huis. Ons het ook besluit om altyd met die trein in te ry stad toe, want parkering is 'n probleem in die stad en dit is vrekduur. Ons stap dan met die hawe langs tot waar ons wil wees. Ek moet net aan die beweeg bly anders gaan ek begin rol. My liggaam is nou so gewoond aan al die oefening. Ek wil net nie weer vet word nie.

Maar eintlik wou ek jul vertel van my vakansie in Suid-Afrika. Miskien moet ek begin deur 'n paar foto's op te sit, dit sal dalk help om al die herinneringe terug te bring. Ek het regtig lekker gekuier en tyd gehad om weer met Hendrik en Sulet te bond. Dit was baie lekker om my familie weer te sien en ou vriende te ontmoet en te besoek. Daar was baie hoogte punte, maar ook baie laagte punte, maar ek is bly ek het gegaan en ek is bly om terug te wees. Ek wens net nog steeds dat Hendrik hier by ons kon wees en dat daar geleenthede sou wees dat van my familie of vriende ons hier kon besoek.

Donderdag 31 Mei 2012

Terug in Suid-Afrika

Nou ja, nou is ek weer terug in Wellington na twee-en-veertig dae en Wellington voel nog steeds soos my huis. Ek moet eerstens sê dat Hendrik nie saam met my teruggekom het nie en nog steeds in Suid-Afrika sit, maar vir die wat wonder, ons is nog lief vir mekaar (al het ek hom gedreig met 'n egskeiding). Na die dreigement en 'n paar gille op hom, het hy belowe hy sal in Augustus hier wees. Ons sal nou maar sien of hy by sy woord bly die keer. Hopelik skop 'n paar familie-lede of vriende hom onder sy 'jy weet wat' om hom weg te kry daar uit Suid-Afrika. Ek dink almal daar weet nou presies hoe ek voel oor die situasie.

Ek is toe Saterdagoggend, 14 April, vroeg hier weg met die taxi lughawe toe, saam met Rialeen, om die vliegtuig te haal na Sydney en daarna na Suid-Afrika. Vir die wat nie weet nie, dit is 'n vlug van negentien ure van Wellington tot in Suid-Afrika. Dit neem drie ure om tot in Sydney te vlieg. Daar het ek vir ongeveer twee ure oorgebly om die vlug na O.R. Tambo te haal wat veertien ure lank is. Die vlieg was nie vir my so erg nie, maar die omruil van dag en nag is 'n gesukkel. As julle slaap in Suid-Afrika is dit hier dag en andersom. Suid-Afrika is tien ure agter New Zealand (in die somer elf, want ons het nou 'daylight saving' wat 'n uur is). Dit vat 'n paar dae vir jou liggaam om aan die verandering in roetine gewoond te raak. Gelukkig het Sulet my die eerste paar dae so besig gehou dat ek nie deur die dag geslaap het nie. Dit het baie gehelp, maar soms voel dit of jy nie jou oë kan oop hou nie.

Ek het Saterdagoggend 6h00 hier vertrek en het Saterdagmiddag 15h00 in Suid-Afrika geland. Dis gekompliseerd, want 'n mens vlieg 'terug' in tyd en negentien ure is verby teen die tyd wat jy in Suid-Afrika aankom. Gelukkig het die persoon wat langs my moes sit, gekanselleer en het ek ekstra spasie gehad. Ek het ook by die gang gesit en kon dus gemaklik opstaan en rondbeweeg as ek wou. Omdat ek ook die nag voordat ek lughawe toe is, wakker gebly het, het ek die grootste deel van die veertien ure omgeslaap. 

Dis hoe ek gelyk het toe ek by Sulet en Philip se woonstel aangekom het, gedaan!




Moeg gevlieg

Julle wonder seker hoe dit gevoel het om my voete op Suid-Afrikaanse bodem neer te sit. Wel... eerstens was ek geskok deur die lugbesoedeling wat sigbaar is vanuit die vliegtuig en wat oor die Oosrand hang (Wellington het geen lugbesoedeling nie), maar toe ek my voete daar neersit, was die eerste gedagte: 'Hoekom het ek hier weggegaan?' Dit voel net of ek hoort in Suid-Afrika. Ek het net so tuis gevoel, tussen my mense, 'Afrikane'. Die harde gepraat van die Suid-Afrikaners het my herinner dat ek terug is in my vaderland (Suid-Afrikaners praat vreeslik hard teenoor New Zealanders, ons moes leer om sagter te praat toe ons hier aangekom het) en dit was weird om so baie mense te hoor Afrikaans praat. Hier hoor ons ook mense Afrikaans praat in die openbaar (so af en toe) en dan is ons baie opgewonde. Ek gaan groet hul baie keer en maak 'n praatjie, maar daar in Suid-Afrika daal die besef gou op 'n mens neer, dat jy nou weer in die land van die Afrikaners is en jy kan/hoef nie elkeen te gaan groet nie.

Dan die opgewondenheid om die gesigte van jou geliefdes tussen die skare vreemdes te herken en hul vas te hou. Dis 'n vreugde wat 'n mens nie in woorde kan beskryf nie!

Ek wou alles wat ek beplan het, binne die eerste paar dae ingepas kry. Ek was net so bang dat daar goed is wat ek gaan vergeet om te doen en mense wat ek nie gaan sien nie. Gelukkig het ons gou besluit om my besoek te verleng om alles ingepas te kry en om meer tyd saam met Sulet en Hendrik te kan spandeer (die uitstel van my vliegtuigkaartjie is natuurlik 'n storie op sy eie wat ek later sal vertel). Een-en-twintig dae in Suid-Afrika het toe vinnig twee-en-veertig geword omdat ek graag die eerste kleedrepetisie wou sien van die produksie wat Sulet tans op werk nl Dawid - die Musical wat in die Staatsteater opgevoer word. Sy is verantwoordelik vir die ontwerp en maak van al honderd-en-twintig (of meer)kostuums (om sommer so 'n bietjie te brag oor my oulike kind).

Op die ou end was daar nog steeds mense wat ek wou sien en nie by uitgekom het nie, dinge wat ek wou doen, sake wat nie afgehandel is nie... Maar die belangrikste was om Sulet, Hendrik en my suster, Heleen, my pa en broers te sien, om 'n bankrekening oop te maak vir polisgeld wat uitbetaal word, om al ons ander finansiële sake af te handel en 'n nuwe testament te laat opstel. Ek kon alles op my lysie koop en nog 'n paar ander goed om saam te bring (asook 'n tas vol nuwe klere, asof hier nie klere in New Zealand is nie). Ek het koppies vol Red cappuccino en Wimpy koffie gedrink, twee keer Spur T-bones geëet, 'n Spur burger, Spur ribs, weense worsies (dis iets wat nie in New Zealand bestaan nie), Steers, koeksisters, melktert, potjiekos en braaivleis geëet. Staatsteater toe gegaan saam met Sulet vir die openingsaand van Lied van my Hart (en ge-mingle met die wie's wie van die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld), Phantom of the Opera gaan kyk (danksy Sulet se skoonma, Annatjie, wat ons genooi het om dit saam met hul te sien), Moedersdag saam met Sulet en Philip spandeer by Arts on Main in Johannesburg, my skoonsus en swaer in Langebaan besoek, gaan fliek by Brooklyn Nouveau en 'n laaaang naweek saam met Hendrik by Dullstroom spandeer. Wil gedoen wees!

Vrydag 13 April 2012

Aotea

 The glen (in die voorstad Aotea) is soos 'n village in Suid-Afrika (daar word dit 'n security village genoem) sonder enige elektriese omheining en sekuriteitswagte. Aotea bestaan uit verskeie sulke villages. Dis ook die rykmense wat hier woon in huise wat $600 000 (R4 miljoen) of meer kos
 My nuwe werksplek
 Die pragtige berge waaroor ek elke dag vanaf die speelterrein kyk
 Die berge vanaf die busstop


 Oral waar jy kyk is berge!



 Oorkant die straat van my werksplek is die park met 'n gymapparaat en al! Terwyl jy oefen kan jy oor die pragtige berge kyk (en niemand kom steel dit om die staal te verkoop nie)

 En 'n elektriese braaiplek, jy druk net 'n knoppie en dan word dit warm en dis gratis
Die kinders kan ook die uitsig geniet terwyl hul baljaar in die parkie


Sondag 08 April 2012

Ready, steady ...

Ek is nou nog nie by die 'go' nie, maar dit kom vinnig nader. Ek is so opgewonde dat ek vlinders op my maag het, iets wat ek seker as 'n student laas ervaar het. Alles is gereed. Ek het so baie kleingoedjies vir al die familie in Suid-Afrika gekoop dat ek nie plek vir klere gaan hê nie. Sulet moet net weet ek bring niks saam wat sy reeds het nie en wat sy nie het nie, sal ek gaan koop (met Hendrik se geld). Ek moet ook genoeg plek in my tas hê vir alles wat ek weer vir my en Rialeen wil terugbring.

Rialeen wil (soos gewoonlik) nie veel hê nie (sy dink Wellington se winkels hou alles aan wat ons nodig het) behalwe Lipton Red Ice Tea. Ons kry al die ander geure hier, maar nie Red nie. Sy is ook lus vir 'n Red Cuppuccino, maar dit kan ek nie vir haar bring nie. Hul verkoop Red Esspresso in Ontrays, maar as 'n mens dit self maak, proe dit net anders. Madelene het vir my gesê dat die café by Paraparauma se lughawe wel Red Cuppuccino verkoop, maar nou ja, dis 'n busrit na Tawa en dan 50 minute met die trein tot in Paraparauma vir ons. Ek sal vir Rialeen saamsleep as ek weer vir haar gaan kuier dan kan Madelene ons vat vir 'n Red Cuppuccino by hul lughawe café. Madelene, wat minder as 'n jaar gelede New Zealand toe gekom het, het vir die eerste keer in haar lewe 'n Red Cuppuccino by die café gedrink en kon dus nie sê of dit dieselfde proe nie.

Ek is nou maar 'n 'oumens' (of ek dit nou wil erken of nie), so, ek het baie goetertjies wat ek wil saambring uit Suid-Afrika. New Zealand se goetertjies is net nie altyd dieselfde nie of ons weet nie waar om dit te kry nie. In Auckland is om elke hoek en draai 'n Suid-Afrikaanse winkel en daar is dus baie meer allerlei uit Suid-Afrika beskikbaar, maar hier het ons net Ontrays (wat 'n 'food emporium' is) en Springbok Butchery (wat 'n slaghuis is). Ander alledaagse goed is dus nie hier so beskikbaar nie.

Watse goetertjies? Goeie vraag ... nou kan ek nie meer so lekker onthou nie ... hmm... eerste op die lys is seker Blue Berry kougom van Dentyne. New Zealand se kougom is sulke stafies en is nie 'sugar coated' nie. Bactroban salf, Linctagon-C bruistablette (hier moet ek pelargonium sidoides, wat die aktiewe bestandeel van Linctogon is, in 'n botteltjie met 'n drupper koop by 'n gesondheidswinkel en dis bitterlik sleg). Linctagon-C is hier heeltemal onbekend. Dit gee 'anti-viral and antibacterial support' en voorkom infeksies, inflammasie, kongestie en allergië. Ek het hope van dit nodig agv my werk by die kleuterskool en die snotneuse wat ek heeldag moet afvee.

Ek is nie juis 'n Marmite eter nie en Marmite is hier beskikbaar, maar hul gebruik 'n ander resep. Suid-Afrikaanse Marmite proe dus heeltemal anders en as jy lus het vir Marmite wil jy Marmite eet wat soos Marmite proe. Vegemite, wat 'n Australiese produk is, kry hier groot aftrek. Dis nie bad nie, Sulet en Rialeen eet dit graag, maar dis nie Marmite nie. 

Ek soek room vir voetskimmel, want agv die feit dat ek baie buite loop as dit nat is, dra ek soms vir 'n hele dag klam skoene en hier kon ek nog nie iets kry wat regtig vir voetskimmel werk nie. In Checkers kan 'n mens allerlei produkte van die rak af koop. As ek hier in die apteek vra, sal hul seker een of ander duur produk hê wat ek nie kan bekostig nie.

Onderlaag en maskara is vir my vrekduur hier. Hulle het ook net sulke fancy modelle maskara met allerlei weird borsels en die goed is nie waterdig genoeg vir my nie. Ek sal tien teen een daar in Pretoria gaan kyk en sien dit is net so duur en het net sulke borsels, maar nou ja, vir eers is dit ook op my lys. Maar ek sal jul nie verder verveel met my kleinlikheid nie. Alles is hier in die winkels beskikbaar en 'n mens raak maar gewoond aan goed wat anders proe, lyk of werk. Dis net dat ek nou die kans het om my hunkeringe te bevredig wanneer ek my voete daar in my vaderland gaan neersit.

Taspak is dus volgende op die agenda. Ek werk volgende week elke dag agt ure (plus een uur ete) en spandeer dan meer as twee ure op en tussen busse. Dit beteken tussen elf en twaalf ure weg van die huis. Daar gaan nie veel tyd wees vir 'n gewassery van klere nie. Al die klere wat ek gaan inpak, gaan definief nie eens skoon wees nie (ek weet nie of Sulet nou al 'n wasmasjien het nie, dalk was hul nog by skoonma), maar nou ja, dis Pretoria se bekommernis. Ek moet net sorg dat ek Saterdagoggend vieruur wakkerskrik vir die taxi na die lughawe en dat my tasgepak is met al die geskenkies wat ek wil saamvat. Die res koop ek daar in Pretoria of leen ek by Sulet.

Nog ses slapies! My vliegkaartjie lê reg met my paspoort, ID boek (hier het hulle nie ID nommers of boekies nie - weird!) en Suid-Afrikaanse bestuurderslisensie.

Wrede wrede herinneringe

Die jaar 2000 was nie 'n goeie jaar vir my nie en my lewe het daarna onomkeerbaar verander. Hierdie was die eerste van 'n reeks tragedies wat een na die ander om my afgespeel het. Die gesin van een van Rialeen se jare lange vriendinne is deur hierdie wrede gebeure geraak. Ek was plat op die aarde, maar hul kon opstaan en aangaan met hul lewens. Ek was net 'n toeskouer, maar my sensitiewe geaardheid kon dit nie begryp nie. Dit het die 'skrywer' in my wakker gemaak en ek het die terapeuteise waarde van skryf in my eie lewe begin ervaar, want ek kon nie wegkom van die vrees dat so iets met my gesin ook kan gebeur nie. Dis hierdie vrees wat my uit Suid-Afrika gedryf het.

DEUR U VERLAAT

Het U hul verlaat
daardie nag
toe die duiwels vir hul sit en wag?
Net hul alleen
en U is nie daar om op te steun.

Ek onthou nog daardie dag.
Ons het oor die nuus gehoor.
Veertienjarige dogter deur vyf inbrekers verkrag.
Was dit U wil, Heer?
Waarom het U hul nie gekeer?

My hart voel uitmekaar geskeur.

Ek het amper kop verloor.
Wanneer staan die donders voor my deur
om my kinders leed aan te doen?
Ek wou links en regs begin moor.

Jul pyn het my hart gebreek.
Ek wou jul met liefde omvou
deur my hande na jul uit te steek.
Ek weet nie hoe julle die pyn binne hou
en op God bly vertrou.

My hart was van God verlaat.
Ek het Hom gehaat.
Hoe kon U dit doen?
Hoe kan U hierdie wreedheid
met U liefde versoen?

Hul pyn is onbeskryflik groot,
maar hulle dra dit met soveel hoop.
Hoop wat ek nie kan verstaan,
my hart is soos lood.
Ek weet nie meer waar ek met U staan.

Sal ek ooit weer ‘n loflied kan sing?
My kop is deurmekaar.
Ek wil die vlaktes invaar
om my pyn en woede te laat bedaar.
Sal God ooit weer vir my vrede bring?

Maar as ek na julle kyk
weet ek êrens moet daar vrede wees.
Vrede wat my nog ontwyk,
want jul is reeds genees
van daardie wrede nag
wat miskien op my gesin ook wag.


Ronél Louw  Meintjes 2000

Saterdag 07 April 2012

Oppad 'huis' toe

Baie jare gelede toe ek nog geworstel het met die dood van my eerste man, Nico, het Henk Zeeman, wat toe ons predikant was, aanbeveel dat ek 'n dagboek hou of net al my gevoelens en gedagtes neerskryf. Op daardie stadium wou die woorde nie kom nie, maar later in my lewe het ek dit begin regkry om te skryf oor gebeure wat my ontstel en ek het begin besef wat die terapeutiese waarde van skryf is. Niemand hoef dit ooit te lees nie, maar dit gee 'n mens 'n kans om jou kop uit te sorteer.

'n Blog is 'n baie openbare manier om mens se kop uit te sorteer en almal kan dit nie doen nie of wil dit nie doen nie (om hul wasgoed in die openbaar te was nie), maar vir my help dit baie. Dit lei tot gesprekke met mense wat vir my omgee. Sulke gesprekke help my weer om my opinies, waarnemings en belewenisse vanuit 'n ander perspektief te sien. Dit gee ook mense wat ver van my is, 'n kans om te sien wat in my lewe aangaan en hul hoef nie deur hoorsê tot gevolgtrekkings te kom nie.

Dit is nou maar so dat daar foto's geneem word van gelukkige oomblikke en 'n mens skryf oor die lekker dinge in jou lewe. Daarom dink ek soms my blog gee 'n baie idilliese idee van wat in ons lewens aangaan. Daar is baie ander worstelinge wat moeiliker is om in woorde uit te druk, maar die dinge waarmee ek worstel, het my gelukkig nog nie ondergekry nie. Daar was baie laagte punte rondom kersfees, in so mate dat ek eendag (gedurende die tyd wat Rialeen weg was Auckland toe) in trane uitgebars het by die werk en ontroosbaar gehuil het oor Hendrik wat nie sy mind kan opmaak nie en dink omdat ons gelukkig is in New Zealand, het ons hom nie hier nodig nie (net 'n man kan so redeneer!). Dit was net 'n slegte sameloop van omstandighede op 'n baie emosionele tyd. Dit het verseker nog steeds nie beteken ek is nie gelukkig hier nie. Dit beteken net ek mis my man en wil hom hier by my hê, maar mans dink met hul breins en nie met hul harte soos vrouens nie.


Vroeg in Januarie het ek en Sulet 'n vreeslike uitval gehad omdat sy nie kon  vrede maak met die feit dat ek nou hier woon en nie van plan is om binnekort terug te gaan Suid-Afrika toe nie. Sy voel erg verwerp en mis my baie. Ek het op daardie stadium baie gesukkel met werk, want na die tyd wat ek in Auckland gekuier het, was daar net nie afloswerk beskikbaar by Tawa nie en ek kon nie 'n inkomste gegenereer kry nie. Die laaste ding wat ek in my lewe nodig gehad het. was om met my kind in 'n gestryery betrokke te raak. Daar was ook ander onderonsies met familie oor goed wat ek op facebook gesê of nie gesê en wat hul tussen die lyne in my blog gelees het ens ens. Dis hoekom Hendrik toe skielik vinnig op die vliegtuig gespring het om te kom kuier (waaroor ek baie bly is), maar 'n kuier is nie genoeg nie. Ek wil my man hier hê!

Rialeen het ook intussen haar studies opgeskop. Sy het met 'n beurs een jaar by die Openwindow in Pretoria grafiese ontwerp geswot (en nie daarvan gehou nie) en toe 'n jaar in Wellington by die Victoria Universiteit industruele ontwerp gedoen (en ook nie daarvan gehou nie). Hoewel sy 'n A+ student is, kan sy nie haar mind opmaak nie en alles verveel haar. Sy het besluit om maar liewer 'n jaar af te vat, groot te word, haarself te vind en dan te besluit wat sy met haar lewe wil doen. Sodra ons twee jaar in New Zealand is, kan sy 'n rentevrye lening van die staat kry asook 'n studentetoelaag om van te lewe, as sy weer gaan swot. As sy dus eendag besluit het wie sy is en wat sy met haar lewe wil doen, kan sy dit sonder ons hulp doen.

Intussen werk sy nou by Ontrays in Petone ook bekend as die Suid-Afrikaanse winkel. Hulle verskaf ingevoerde kosse, vanuit veral Europese lande en Afrika, aan restaurante en ander groot verspreiders soos supermarkte. Hul het 'n groot stoor en 'n winkel waar produkte herverpak word vir verspreiding. Hul spesialiseer veral in kosher produkte en verkoop natuurlik Biltong, droëwors, boerewors, mieliemeel en beskuit aan Suid-Afrikaners. Die eienaars kom van Suid-Afrika. Stephan is van Poolse agtergrond en leer haar goeie 'business skills' wat haar in die toekoms handig te pas sal kom.


Nederige voorkoms, maar duisende dollars gaan daagliks deur hierdie winkel
(Dit is 'n Suid-Afrikaanse vlag wat daar wapper!)


Ek glimlag natuurlik breed, want die ekstra inkomste maak ons lewens baie makliker en sy kan 'n tas vol geld spaar vir wanneer sy weer gaan swot. Sy dink weer sy gaan die tas vol geld gebruik om oorsee te gaan reis, maar nou ja, dis haar geld, sy kan daarmee maak wat sy wil. Solank sy net haar lewe geniet.

Intussen het ek ook gatvol geraak vir die klomp by Tawa wat nie vir my genoeg werk kan gee nie. Daar gaan 'n centre van Kindercare hier by ons oopmaak in Johnsonville, vyftien minute se stap vanaf ons huis af, maar dit word toe uitgestel en ek is desperaat. Op aanbeveling van die manager by Tawa, kontak ek toe Kindercare Aotea. Ek het saam met die onderwysers en manager van Aotea my noodhulpkursus voltooi en ek ken dus meeste van die personeel reeds. Sommige van hul het ook as relief teachers gewerk by Tawa en die een het haar prakties daar gedoen terwyl sy 'n student was. Coral, die bestuurder, was baie bly om te hoor ek wil vir hul kom werk en nou ja, nou werk ek by hulle. Dit beteken egter, ek moet met 'n bus ry tot by Porirua stasie en daar oorklim op 'n ander bus na Aotea. Maar Gelukkig hou Coral my goed besig en is  ek permanent op hul rooster vir tussen 30 en 35 ure per week, wat vir my 'n vaste inkomste beteken en ure elke dag op die pad wat gepaard gaan met baie frustrasies. Ek verslind boeke gedurende hierdie ritte en gewag by busstoppe (gelukkig is die biblioteek vol van die nuutste boeke en dit kos my nie 'n sent nie).

Rialeen moet nou weer van een trein oorklim na 'n ander. Die oorklimmery veroorsaak baie probleme, want dikwels verpas jy die tweede trein/bus met 'n minuut of twee en moet jy sit en wag vir die volgende bus/trein. Dit is dus glad nie die ideale omstandighede nie. Ek moes  volgende week van 7h30 werk, maar kan dit nie doen nie omdat die eerste bus eers 7h10 hier uit Johnsonville vertrek na Porirua en dit neem amper 'n uur om by my eindbestemming uit te kom (wat 20 minute met 'n kar sou wees). Arme Coral moes toe op Goeie Vrydag rondbel om iemand te kry om in my plek vroeg te begin sodat ek eers 8uur kan begin. 'n Kar is dus ons voorland. As ek terugkom van Suid-Afrika, gaan ek 'n kar koop en die volgende ding is dat ons na 'n groter woonstel gaan begin soek. Jippie!

Maar ek is baie gelukkig by Aotea. Coral is 'n gebore New Zealander wat nadat sy haar studies voltooi het, Australia toe gegaan het, daar met 'n man getroud is wat van Duitse herkoms is. Hul het die laaste nege jaar in Duitsland gewoon. Haar man en een seun is ook nog in Duitsland en sy en die ander seun is in Wellington (nadat sy besluit het dis tyd om 'huis' toe te kom). Haar kinders en man het Australiese burgerskap. Sy het dus baie begrip vir my situasie en ken al die stuiptrekkings van in 'n ander land woon. Sy is ook nader aan my ouderdom en ons kommunikeer net beter as wat dit by Tawa gegaan het met die nuwe manager daar, wat net 26 jaar oud was.

Soos jul kan sien, het daar baie dinge in ons lewens verander, maar dit hou die lewe interessant. Ek werk nou in een van die mooiste voorstede van Welllington en ry elke dag by die Porirua hawe verby oppad na my werk en terug. Rialeen ry elke dag langs die see met die trein. Dit is soos medisyne vir die gees. Ek word vervul met die ongelooflikste streslose gevoel as ek by die busstop staan en letterlik omring is met die pragtige berge.


Maar soos jul reeds weet, is ek oppad Suid-Afrika toe. Volgende week hierdie tyd is my tasgepak en gaan ek slaap sodat ek vieruur in die oggend kan opstaan om met 'n taxi lughawe toe te ry, 6h40 vertrek ek na Sydney. Daar bly ek vir twee ure oor op die lughawe en dan volg die laaang sit van veertienure (of so iets). Daarna sien ek nie baie uit nie, maar dit is nou my lot wat ek gekies het toe ek besluit het om in New Zealand te kom woon.

Ek kan verseker nie sê dat ek nooit weer in Suid-Afrika sal gaan woon nie, maar as 'n mens kyk na die voordele wat ons hier het, sal ek twee maal dink voordat ek dit opgee. Die kwaliteit van ons lewens het net so verander, want vir my as 'n oorsensitiewe en emosionele mens is daar net soveel minder stres en emosionele bagasie. Ek het energie vir die dinge wat belangriker is as om my te kwel oor my gesin se veiligheid. Ons lewens is nie gejaag nie en daar is nie soveel sosiale druk op ons nie. Mense het hier net soveel meer verdraagsaamheid teenoor mekaar, kulture, godsdienste, alternatiewe lewenstyle en sienswyses. Daar is nie 'n kompenterende gees soos in Suid-Afrika nie omdat die bevolking soveel kleiner is en daar genoeg werksgeleenthede vir almal is. Die onderskeid tussen arm en ryk is kleiner en hier sien jy nie mense op die hoeke van strate wat bedel nie. Toe Wellington se alombekende 'blanket man' (ons boemelaar wat aan almal in New Zealand bekend was) dood is in Januarie, was dit hoofopskrifte in die koerante en op tv. Daar was vir 'n week lank elke dag 'n berig oor hom en sy geskiedenis in die koerante. Hul het selfs vir hom 'n openbare roudiens gehou in een van die parke in die middestad.

As enige iemand my nog kwalik neem dat ek liewer hier wil woon, moet hulself hierheen kom om dit te ervaar, dan praat ons weer. Vir nou gaan ek dus net kuier in Suid-Afrika en ek sien uit daarna om almal weer te sien en vas te hou, maar ek gaan met baie trane en hartseer terugkom hierheen waar my huis nou is.