Donderdag 19 Julie 2012

Petone, hier kom ons!

Nou ja, stadig maar seker beweeg ons voorentoe op die paadjie wat ons vir onsself kom skep het in New Zealand. Baie Suid-Afrikaners sal sekerlik frons oor hoe ons hier leef teenoor wat ons in Suid-Afrika gehad het, maar die rus en vrede in my siel is baie meer werd as aardse goed. Ons het nie hierheen gekom om ryk te word nie, maar om kalm te word en veilig te voel.

Ons het nou 'n kar en dit maak 'n groot verskil aan ons tydsbesteding, maar aan die anderkant kry ons nou baie minder oefening. Die kar het vir ons 'n simbool geword dat ons voorentoe beweeg. Die volgende doelwit was om 'n groter blyplek te kry en nadat ons heelwat rondgekyk het, was daar twee plekke waaruit ons moes kies. Die een was perfek, maar net daardie klein bietjie buite ons begroting en ons het besluit om liewer nog steeds net babatreetjies te gee en nie te groot te hap nie.

Ons het 'n vreeslike lelike plek gekry (van buite), maar met meer ruimte as wat ons nodig het, twee slaapkamers, sitkamer en eetkamer, 'n gerieflike kombuisie met 'n spensie en 'n waskamertjie (-tjie toon aan dit gemeet is in terme van Suid-Afrikaanse standaarde). Die plekkie is regtig binne netjies met splinternuwe matte. Enige Suid-Afrikaner wat hier kom kuier of pas hier ge-arriveer het, sal sekerlik heeltemal anders daaroor voel, maar ons is baie opgewonde en kan nie wag om te trek nie.

Die eiendom is in die voorstad Petone. Petone het 'n baie meer 'innercity' gevoel teenoor Johnsonville wat voorstedelik is. Johnsonville is meer gesinsgeoriënteerd. Dit laat 'n mens dink aan Westdene in Johannesburg. Die voorstad bestaan uit baie mooi gerestoureerde ou huisies, naby aan die besigheidsgebied en industriële area, maar teenaan die strand. Ons is presies een blok van die hoofstraat, Jacksonstraat, waar al die winkels, restaurante en selfs teaters is, binne loopafstand van die strand af en 'n hanetreetjie van die grootste mall in Wellington, Queensgate. Rialeen gaan twee blokke stap tot by haar werk. Ek gaan natuurlik verder van die kleuterskole wees waar ek nou werk.

Die eiendom is op 'n pypsteelerf en bestaan uit twee wooneenhede bo-op mekaar. Ons gaan bo woon en gaan dus elke dag trappe moet klim. Onder ons woon 'n Maori paartjie wat al tien jaar daar woon saam met nog 'n man. Hulle het 'n pragtige groentetuintjie  wat my baie beïndruk het. Een van die mans werk by die Hospice se tweedhandse winkel en hy het een of ander 'truck' waarmee hy ons kan help trek.

Om op die strand te stap help  om my te kalmeer en ek sien uit om hier te kan woon.







Woensdag 18 Julie 2012

Op Heleen en Johnnie se plaas in Suid-Afrika

Op hierdie plasie, tussen Rayton en Bronkhorstspruit, is my swaer se pa 'n paar jaar gelede vermoor in sy huis wat skaars vyftig tree van die groot huis is. Hy is in die nag daar oorval en geskiet met die wapen wat hy langs sy bed gehou het om homself te kan verdedig. Hy het homself tot by die voordeur gesleep om hulp te soek en dis waar Johnnie hom vroeg die volgende oggend gekry het in 'n plasbloed.

Of dit nie genoeg was nie, het die skelms weer na twee maande daar opgedaag, al die honde gif ingegee en daarna oom Doppie (Johnnie se pa) se bakkie wat nog daar gestaan het gevat. Hul het Siebrits se motorfiets en alles wat in die huis oor was (selfs die prente teen die mure) opgelaai en is daarmee weg. Die polisie het tot nou toe niemand vir enige van die oortredings vasgetrek nie.


Perde is die Cilliers se groot voorliefde
Siebrits en Dinkie besig om die perde te roskam

Johnnie en Heleen hard besig om vir ons 'n vuur te maak

Gelukkig het hul 'n skaaphond om die rook vir ons op te pas


Die vuur is reg en dis Johnnie en Siebrits se beurt om 'n entjie op die perde te gaan ry. Hendrik sit lekker met sy handjies gevou.
Klein Rex pas die vuur vir ons op
Hierdie foto is so vyfuur in die middag geneem en dis die maan op die agtergrond
en Hendrik sit nog steeds met sy handjies gevou...
Ai, as mens kuns as 'n vak op skool het, is daar nie tyd vir ontspan nie. Jolene hard besig met haar kuns wat Maandag ingehandig moet word
Ons kat, wat Heleen-hul se kat se babatjie was. Die mamma-kat is dood toe die honde gif ingegee is en sy ook van die gif ingekry het. Ons het hierdie babatjie mooi groot gemaak en nou woon hy weer by hul op die plaas en ons in New Zealand (Ai, ek mis 'n troeteldier!)
Is klein Rex nie die mooiste brakkie in die wereld nie?

Woensdag 04 Julie 2012

My Besoek aan die Weskus - Langebaan

Na my eerste ondervinding van aaklige besoedelde lug deur die venster van die vliegtuig by O.R Tambo Lughawe en met die landing by Kaapstad se lughawe, was dit 'n verligting om te sien dat die Weskus nog ongeskonde is en dieselfde skoonlug het waaraan ek in Wellington gewoond geraak het. 


 New Zealand se wolke is asemrowend mooi, maar hier kan jul kyk na die wolkies bo Langebaan wat lyk of dit met 'n kwas geverf is - pragtig!
 Uitsig oor Langebaan
 Asemrowende sonsondergang oor Langebaan
en my swaer en skoonsus is bevoorreg om dit elke dag vanaf hul stoep te bewonder!
 Oppad terug Kaapstad toe word ek weer gekonfronteer met die realiteit van Suid-Afrika, plakkerskampe so ver jy kyk en rook oor die pragtige Tafelberg

 My swaer, Frans en skooonsus Alta by wie ek gekuier het
 'n Laaste foto deur die vliegtuig se venster en dan is ek oppad terug Gauteng toe

Sondag 01 Julie 2012

Foto's uit Suid-Afrika

 Doodmoeg saam met Sulet
 en my suster, Heleen
Hendrik en Sulet. Ai, wat 'n vreugde om haar weer te sien en te kon vashou!
Njam! Lekker ontbyt in Moreletapark
Ek het nie kleinkinders nie, maar ek het darem kleinhondjies
 Coco
Coco en Chaz
Chaz op sy ouma se skoot
My agt-en-tagtigjarige oue pa
Sulet en Philip
Saam met my skoolvriendin, Marieta van der Merwe (née Van Der Berg) wat ek na 35 jaar herontmoet het kort na my aankoms in Pretoria
 In die Staatsteater saam met Sulet om Steve Hofmeyr te gaan bekyk
Opgedress vir Phantom of the Opera
Sulet en haar peetkind
Blaas Philip, blaas!
 Lyk my hy het moed opgegee...  of is Sulet weer laat
Philip se 29ste verjaardag

Grrr

Iemand (wat in Suid-Afrika woon) het my weer hierdie week gewaarsku om nie druk op Hendrik uit te oefen om teen sy sin hierheen te kom nie en daarna vir my 'n lesing gegee oor hoe mans sukkel om werk te kry in New Zealand en dat alles nie so rooskleurig is soos ons ex-Afrikaners wil voorhou nie.

Ons storie is dat Hendrik in 2002 voorgestel het dat ons Australia toe moet immigreer. Ek sou nie in my wildste drome op daardie stadium daaraan gedink het nie, maar dit het my gepas soos 'n handskoen, aangesien ek erg stres begin beleef het agv die misdaadsituasie in Suid-Afrika. Hendrik het vir ons gesin 'n besoek gereël in Australia gedurende Maart/April 2003. Na ons terugkoms, het ek oorywerig begin om my dokumentasie agtermekaar te kry en in kontak gekom met 'n organisasie wat terapeute in Australia help werk vind. Ek het egter gou agtergekom dat Hendrik koue voete het en nie van plan is om die saak deur te voer nie. Na 'n paar onderonsies oor die onderwerp, het ek my berus by die idee dat ons nie sal gaan nie. Hoewel ek met die agentskap in kontak gebly het en op die hoogte was van die beskikbaarheid van poste in Australia.

In Januarie 2007 het hy weer begin karring. Hy het dat Rialeen 'n dag uit die skool bly en my laat afvat by die werk om 'n agent te besoek wat hom sal help om werk te kry in Australia. Hy het in ons teenwoordigheid haar R15 000 betaal om aan ons te bewys hoe ernstig hy die keer is, maar toe hy dit aan sy broer Frederik noem, vertel Frederik vir hom dat hul in die proses is om New Zealand toe te kom. Daarna het Hendrik besluit ons gaan nou nie meer Australia toe nie, maar New Zealand toe (waaroor ek beslis nie gelukkig was op daardie stadium nie, maar hom nou ewig dankbaar sal wees, want ons is, soos jul reeds weet, ongelooflik gelukkig hier). Hy het ook daar en dan begin reël dat ons verblyfsreg in New Zealand kry, wat in Mei 2010 deur gekom het.

In Oktober 2010 het Rialeen laat blyk dat sy eerder wil kyk na instansies in New Zealand waar sy verder kan studeer aangesien ons reeds residensie hier gehad het. Dit is hoe ons in Wellington beland het nadat sy toegelaat is by Victoria Universiteit. Ons het besluit dat Hendrik in Pretoria sal agterbly om ons huis te verkoop en ander sake af te handel en dan later by ons sal aansluit. Dit is hoe dit gekom het dat ons van tafel en bed geskei geraak het.

Hendrik het my en Rialeen tot in New Zealand gebring en na drie weke is hy terug Suid-Afrika toe. Ek het nie 'n werk gehad nie of geweet of 'n werk gaan kry nie. Na sewentien maande woon hy nog steeds in Suid-Afrika en ek in New Zealand. Natuurlik gaan ek druk op hom uitoefen om hierheen  te kom, want ek beplan  nie om terug te gaan nie.

Hier is baie Suid-Afrikaners in Wellington. Party kom met 'n werk hier aan, vir party was dit 'n ses maande gesoek, vir ander was dit 'n leer wat 'n hul moes klim om te kom waar hul wou wees, ander het gesettle vir iets heeltemal anders as wat hul voorheen gedoen het (soos ek) maar op die einde maak almal 'n bestaan.

Ek ken baie Suid-Afrikaners, mense wat al negentien jaar hier woon tot mense wat na my hier aangekom het. By al die skole waar ek werk, is mense uit Suid-Afrika met kinders daar, by Tawa was drie gesinne en ons was drie Afrikaansprekende personeellede, by Aotea is ten minste agt kinders uit verskillende gesinne, by Johnsonville is daar drie gesinne waarvan ek weet en 'n personeellid wat met 'n Suid-Afrikaner getroud is,  twee van ons areabestuurders kom uit Suid-Afrika, by die kerk is twee Engelssprekende gesinne, Rialeen se beste vriendin woon al meer as tien jaar hier en Rialeen werk nou vir oud-Suid-Afrikaners. Dis nie vir almal maklik nie, maar niemand wil teruggaan nie. Hul raak home sick, ja, en verlang na hul familie, maar almal is baie seker van die feit dat hul nie weer in Suid-Afrika sal kan woon nie. Niemand van hul val in die katagorie van arm nie of teer op die staat of welsynsorganisasies nie.  

Soos jul kan sien, het dit ons tien jaar gevat om die finale stap te neem. Dis nie iets wat impilsief gedoen is nie. Dit kos baie oortuiging en moed om tot op die punt te kom waar jy finaal totsiens sê aan alles wat aan jou bekend was, om familie en vriende te groet en op die vliegtuig te klim en te kom, maar hoe gouer jy dit doen, hoe gouer kan jy hier 'n nuwe lewe begin skep. Ek is net oor twee dinge spyt en dit is dat ons dit nie tien jaar gelede al gedoen het nie en dat ek nie my man saam met my gebring het nie. Verder is alles perfek in my lewe en pas die stukkies van my lewe soos 'n legkaart inmekaar. 

Saterdag 30 Junie 2012

Uiteindelik het ons vier wiele!

Ek is nou al 'n maand terug in Wellington en kan myself net so ver kry om te vertel van my besoek aan Suid-Afrika nie. Dit is die probleem as ek nie dadelik begin skryf terwyl dinge gebeur nie. Dan begin dit vervaag en raak dit moeite om al die herinneringe terug te bring. Dis nie dat ek te besig is om dit te doen nie. Ek sukkel nog om terug te kom in die gewerkery. Dis die probleem as 'n mens afloswerk doen, sodra ek weggaan, vervang hul my soos niks en vat dit 'n ewigheid om weer terug in die roetine te kom.

Ek is dus nou nie besig om my dood te werk nie, maar ons het 'n kar gesoek (wat vir my 'n groot job was) en gekoop. Ja, 'n Nissan Micra TS 1.5 outomaties (hier ry almal outomatiese karre wat vir my weird is) 2011 model met net 6010 km op. Ons is dus nou so mobiel soos kan kom en ek weet klaar nie meer hoe ons deur die winter gekom het verlede jaar sonder 'n kar nie!




Ons het ook die harde werklikheid van privaat vervoer ontmoet toe ons verlede Sondag twee ure op die state highway gestaan het (wat 'n vinnige ritjie sou wees) na Paraparauma  se strand vir 'n koppie koffie en 'n bord tjips. Daar was 'n kettingbotsing nie ver voor ons nie, gelukkig was ons op 'n gedeelte van die pad waar ons nog kon omdraai en terugry  na Paraparaumu toe ons sien dat daar ambulanse en polisievoertuie by ons begin verby skuur.

Ons besluit om by Wendys iets te gaan drink. Nie een van ons is juis honger nie, maar ons koop 'n slaai om te deel, sip elkeen aan 'n koeldrank, na 'n halfuur raak Rialeen rusteloos en wil nie langer sit nie. Ek hou die pad dop en sien daar kom nie juis karre van Wellington se kant nie, wat vir my aantoon dat die pad nog toe is, maar Rialeen voel of ons hier sit of in die kar sit, dis om met ewe. Ons pak dus maar weer die pad aan, wat 'n fout! Ons het net uit die dorp gery, toe staan ons weer, vier kilometer nader aan die dorp as die eerste keer. Hierdie keer kan ons nie omdraai nie, want daar is twee rye karre en barriers in die middel van die pad. Die mense staan langs die pad en gesels, 'n klomp jonges wat in 'n bus agter ons was het uitgeklim en staan en sing en dans en ons sit. Na 'n uur en 'n half is daar vir die eerste keer 'n bewegingkie in die verkeer!

Natuurlik voel ek ook jammer vir Rialeen wat met twee treine moet werk toe sukkel. Dit neem in die oggende omtrent 'n uur en in die aande een en 'n half uur om by die huis te kom, want dit hang af hoe laat hul die winkel se deur sluit en of sy moet wag of dadelik 'n trein kan kry in Petone. Sy moet dan ook gewoonlik op Wellingtonstasie wag om oor te klim na Johnsonville. Ek besluit dus om haar werk toe te vat die oggende wat ek nie vroeg werk nie. Sy werk tien kilometer van ons huis af en dit vat presies tien minute om haar af te laai en tien minute om terug te ry tot daar 'n ongeluk op die pad is of as dit reën, dan staan jy. Nee wat genade, ek weet nie wat is dit met die plek nie!  Daar is net nie alternatiewe roetes nie. Ek verlang skoon terug na trein en busry... maar ai, dis lekker om weer 'n kar te hê (veral so 'n potbloutjie soos ons s'n). Die lekkerste is om 'n kattebak byderhand te hê om mens se inkopies en jasse in te sit en nie alles saam met jou oral te dra nie.

Nou jaag ek weer soos in Suid-Afrika in die strate rond, laai Rialeen by die werk af, jaag terug huis toe, werk toe, etenstyd winkels toe, vanaand laai ek weer vir Rialeen op, Bar toe, huis ens. Ons probeer om nog af te stap na ons local mall in Johnsonville. Ek stap ook na Johnsonville se Kindercare toe, want dit is net een kilometer van ons huis. Ons het ook besluit om altyd met die trein in te ry stad toe, want parkering is 'n probleem in die stad en dit is vrekduur. Ons stap dan met die hawe langs tot waar ons wil wees. Ek moet net aan die beweeg bly anders gaan ek begin rol. My liggaam is nou so gewoond aan al die oefening. Ek wil net nie weer vet word nie.

Maar eintlik wou ek jul vertel van my vakansie in Suid-Afrika. Miskien moet ek begin deur 'n paar foto's op te sit, dit sal dalk help om al die herinneringe terug te bring. Ek het regtig lekker gekuier en tyd gehad om weer met Hendrik en Sulet te bond. Dit was baie lekker om my familie weer te sien en ou vriende te ontmoet en te besoek. Daar was baie hoogte punte, maar ook baie laagte punte, maar ek is bly ek het gegaan en ek is bly om terug te wees. Ek wens net nog steeds dat Hendrik hier by ons kon wees en dat daar geleenthede sou wees dat van my familie of vriende ons hier kon besoek.

Donderdag 31 Mei 2012

Terug in Suid-Afrika

Nou ja, nou is ek weer terug in Wellington na twee-en-veertig dae en Wellington voel nog steeds soos my huis. Ek moet eerstens sê dat Hendrik nie saam met my teruggekom het nie en nog steeds in Suid-Afrika sit, maar vir die wat wonder, ons is nog lief vir mekaar (al het ek hom gedreig met 'n egskeiding). Na die dreigement en 'n paar gille op hom, het hy belowe hy sal in Augustus hier wees. Ons sal nou maar sien of hy by sy woord bly die keer. Hopelik skop 'n paar familie-lede of vriende hom onder sy 'jy weet wat' om hom weg te kry daar uit Suid-Afrika. Ek dink almal daar weet nou presies hoe ek voel oor die situasie.

Ek is toe Saterdagoggend, 14 April, vroeg hier weg met die taxi lughawe toe, saam met Rialeen, om die vliegtuig te haal na Sydney en daarna na Suid-Afrika. Vir die wat nie weet nie, dit is 'n vlug van negentien ure van Wellington tot in Suid-Afrika. Dit neem drie ure om tot in Sydney te vlieg. Daar het ek vir ongeveer twee ure oorgebly om die vlug na O.R. Tambo te haal wat veertien ure lank is. Die vlieg was nie vir my so erg nie, maar die omruil van dag en nag is 'n gesukkel. As julle slaap in Suid-Afrika is dit hier dag en andersom. Suid-Afrika is tien ure agter New Zealand (in die somer elf, want ons het nou 'daylight saving' wat 'n uur is). Dit vat 'n paar dae vir jou liggaam om aan die verandering in roetine gewoond te raak. Gelukkig het Sulet my die eerste paar dae so besig gehou dat ek nie deur die dag geslaap het nie. Dit het baie gehelp, maar soms voel dit of jy nie jou oë kan oop hou nie.

Ek het Saterdagoggend 6h00 hier vertrek en het Saterdagmiddag 15h00 in Suid-Afrika geland. Dis gekompliseerd, want 'n mens vlieg 'terug' in tyd en negentien ure is verby teen die tyd wat jy in Suid-Afrika aankom. Gelukkig het die persoon wat langs my moes sit, gekanselleer en het ek ekstra spasie gehad. Ek het ook by die gang gesit en kon dus gemaklik opstaan en rondbeweeg as ek wou. Omdat ek ook die nag voordat ek lughawe toe is, wakker gebly het, het ek die grootste deel van die veertien ure omgeslaap. 

Dis hoe ek gelyk het toe ek by Sulet en Philip se woonstel aangekom het, gedaan!




Moeg gevlieg

Julle wonder seker hoe dit gevoel het om my voete op Suid-Afrikaanse bodem neer te sit. Wel... eerstens was ek geskok deur die lugbesoedeling wat sigbaar is vanuit die vliegtuig en wat oor die Oosrand hang (Wellington het geen lugbesoedeling nie), maar toe ek my voete daar neersit, was die eerste gedagte: 'Hoekom het ek hier weggegaan?' Dit voel net of ek hoort in Suid-Afrika. Ek het net so tuis gevoel, tussen my mense, 'Afrikane'. Die harde gepraat van die Suid-Afrikaners het my herinner dat ek terug is in my vaderland (Suid-Afrikaners praat vreeslik hard teenoor New Zealanders, ons moes leer om sagter te praat toe ons hier aangekom het) en dit was weird om so baie mense te hoor Afrikaans praat. Hier hoor ons ook mense Afrikaans praat in die openbaar (so af en toe) en dan is ons baie opgewonde. Ek gaan groet hul baie keer en maak 'n praatjie, maar daar in Suid-Afrika daal die besef gou op 'n mens neer, dat jy nou weer in die land van die Afrikaners is en jy kan/hoef nie elkeen te gaan groet nie.

Dan die opgewondenheid om die gesigte van jou geliefdes tussen die skare vreemdes te herken en hul vas te hou. Dis 'n vreugde wat 'n mens nie in woorde kan beskryf nie!

Ek wou alles wat ek beplan het, binne die eerste paar dae ingepas kry. Ek was net so bang dat daar goed is wat ek gaan vergeet om te doen en mense wat ek nie gaan sien nie. Gelukkig het ons gou besluit om my besoek te verleng om alles ingepas te kry en om meer tyd saam met Sulet en Hendrik te kan spandeer (die uitstel van my vliegtuigkaartjie is natuurlik 'n storie op sy eie wat ek later sal vertel). Een-en-twintig dae in Suid-Afrika het toe vinnig twee-en-veertig geword omdat ek graag die eerste kleedrepetisie wou sien van die produksie wat Sulet tans op werk nl Dawid - die Musical wat in die Staatsteater opgevoer word. Sy is verantwoordelik vir die ontwerp en maak van al honderd-en-twintig (of meer)kostuums (om sommer so 'n bietjie te brag oor my oulike kind).

Op die ou end was daar nog steeds mense wat ek wou sien en nie by uitgekom het nie, dinge wat ek wou doen, sake wat nie afgehandel is nie... Maar die belangrikste was om Sulet, Hendrik en my suster, Heleen, my pa en broers te sien, om 'n bankrekening oop te maak vir polisgeld wat uitbetaal word, om al ons ander finansiële sake af te handel en 'n nuwe testament te laat opstel. Ek kon alles op my lysie koop en nog 'n paar ander goed om saam te bring (asook 'n tas vol nuwe klere, asof hier nie klere in New Zealand is nie). Ek het koppies vol Red cappuccino en Wimpy koffie gedrink, twee keer Spur T-bones geëet, 'n Spur burger, Spur ribs, weense worsies (dis iets wat nie in New Zealand bestaan nie), Steers, koeksisters, melktert, potjiekos en braaivleis geëet. Staatsteater toe gegaan saam met Sulet vir die openingsaand van Lied van my Hart (en ge-mingle met die wie's wie van die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld), Phantom of the Opera gaan kyk (danksy Sulet se skoonma, Annatjie, wat ons genooi het om dit saam met hul te sien), Moedersdag saam met Sulet en Philip spandeer by Arts on Main in Johannesburg, my skoonsus en swaer in Langebaan besoek, gaan fliek by Brooklyn Nouveau en 'n laaaang naweek saam met Hendrik by Dullstroom spandeer. Wil gedoen wees!