Saterdag 15 Desember 2012

Ons besoek aan Christchurch

Wat 'n voorreg om hierdie pragtige stad te besoek! 'n Skoolvriend en sy vrou wat ek weer op facebook herontmoet het, het ons genooi om by hul te gaan kuier in die tuinstad van New Zealand. Ons het mekaar seker laas gesien toe ons sestien was. Baie dankie, Paul en Linda Fourie, vir jul gasvryheid!
 
Soos jul seker weet is 'The Hobbit' groot nuus hier in New Zealand. Hierdie foto's is op die lughawe in Wellington geneem die oggend van ons vertrek.


Die weer wou aanvanklik nie saamspeel nie en dit was so bietjie koud en bewolk toe ons Vrydagoggend daaraan kom. Linda het ons op die lughawe gekry en vir 'n toer deur die middestad gevat oa die botaniese tuine, die Mona Vale Homestead en die Riccarton House and bush. Die tuine is ongelooflik mooi en oral is die pragtigste rose.





 








Oral is tekens van die heropbou van die stad na die aarbewings wat hul in 2010/11 getref het. Dit is hartverskeurend om uit die monde van mense wat dit deurleef het, te hoor hoe hul dit ervaar het en waardeur hul moes gaan, sonder water en krag. Padwerke het ons telkens omdraaie laat ry, brue wat herstel word, geboue wat gesloop is en rommel wat weggery moet word, maar dit bly 'n ongelooflike mooi plek.

Toe die Maori's in New Zealand aangekom het, het hul begin om die natuurlike woud uit te roei en toe die Engelse hier aangekom het, het hul daarmee voortgegaan. Daar is dus min van die natuurlike plantegroei oor. Hierdie is 'n stukkie ongerepte plantegroei wat bewaar gebly het. In Wellingtonse botaniese tuine is daar ook gedeeltes waar hul weer aangeplant het om dit te omskep (herwin) in so 'n woud.


Selfs in die voorstede het mense die mooiste tuine en die pragtigste rose. Ek en Hendrik het so 'n bietjie op ons eie voetgeslaan daar in die omgewing. Soos jul my nou al ken, kon ek nie ophou foto's neem nie. Christchurch is plat soos 'n pannekoek teenoor Wellington wat tussen die berge geleë is.

 
 
 


 Saterdag het ons meer na die strande se kant toe gery. Die weer was darem besig om op te klaar en die sonnetjie het begin skyn.
 Ek het nog nie eintlik vlieërs in Wellington gesien nie, maar in Auckland sien mens dit ook op al die strande soos hier in Christchurch, hoewel Wellington eintlik bekend is vir sy wind.

 
Hendrik en Paul op die pier

Prentjie mooi! Christchurch se berg...

 
Ons loop toe 'n straatmark raak met hierdie oulike see-toneel 
en die Salvation Army se orkes
Daar teen Christchurch se berg kan ons 'n foto neem van die pragtige uitsig oor die stad (nie so mooi op die foto nie)

en Linda neem gou 'n foto van ons twee
Iewers by 'n ander strand oortuig Paul ons om die heerlike (koue) seewater uit te probeer
Soos jul kan sien, lyk ek maar effens verkluimd. Hendrik hou homself vreeslik braaf. Paul loop met 'n kortbroek en hemp rond, maar ai nee, New Zealand is nog bietjie koud vir my. Hul woon al ses jaar hier en is meer aangepas as ons.

Dit was 'n volmaakte naweek. Sondag was dit heerlik warm en sonskyn. Paul het twee keer vir ons gebraai en Linda het ons baie bederf tussen hul besige program deur. Sondagmiddag het ons binne vyf-en-dertig minute teruggevlieg na die bekende winderige Wellington toe en Paul sou die aand na 'n kongres vertrek in Taiwan.
 

Woensdag 05 Desember 2012

Prins Charles en Camilla se besoek aan Wellington

As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dat ek al die pad met 'n trein sou inry stad toe en 'n kilometer of twee met die hawe langs sou stap om Prins Charles en Camilla te sien, sou ek my doodgelag het, maar ek en Hendrik het dit gedoen.

Een Dinsdagaand het Hendrik doodluiters gevra of ek al weet of ek môre werk. Op daardie stadium het ek veertig ure 'n week gewerk en dit was onwaarskynlik dat ek nie sou werk nie. Daarna het hy opgemerk as ek nie werk nie, dink hy ons moet ingaan stad toe, want Prins Charles en Camilla sal in Wellington wees vir sy sestigste verjaardag. Dis hoe dit begin het... en hoekom nie... ons is hier om nuwe dinge te ervaar. Die rustige lewe in New Zealand doen dit aan 'n mens!

Woensdagoggend het ek gewag, maar geen sms of telefoon wat lui nie en dis toe dat ons uit die bed spring en begin regmaak vir 'n oggend se gewag in die stad om die Prins en Camilla te sien. Daar was gelukkig 'n paar goedjies wat ek in die stad wou gaan doen. Ons is dus vroeg in stad toe met die trein om 'n oog te hou op die invloei van mense na die hawe waar langs die Prins sou beweeg.


Nadat ek my inkopies in die stad gedoen het, het ons rustig hawe toe beweeg. Ver aan die linkerkant staan al reeds 'n tou mense, maar ons gaan eers rustig koffie drink en 'n 'wild pig pie' eet by die Te Papa Museum.
 Die weer speel saam en dit is 'n pragtige windlose sonskyndag.
Die skare lyk nog nie teveel nie en ons gaan eers rustig 'n roomys eet by Kaffee Eis.
Dan begin ons soek na staanplek waar ons 'n goeie uitsig oor die gebeure sal hê. Ek is maar aan die kortkant en ek wil nie 'n klomp langes voor my hê nie.
Nou is ons reg vir die wag en kan ons die mense begin aanstaar en bekyk. Die twee polisiemanne is die sekuriteit vir die groot gebeure, geen ander in sig nie. As jy mooi kyk is daar net 'n tou gespanne by die voete as 'n skeiding tussen die Prins en die skare.
Dan begin die groot vertoning van Wellington se vloot...


Die skare begin geleidelik aangroei namate Prins Charles en Camilla nader aan ons beweeg.
Sommiges het so bietjie 'opgedress' vir die okasie.
En dan die groot oomblik... Prins Charles is ook maar net 'n bleskop omie soos enige ander man van sy ouderdom (baie korter as wat ek my voorgestel het).
Gelukkig en tevrede breek die skare op om hul dagtaak te gaan voortsit.Die tou word opgerol
en ons kan die hawe verder gaan verken.


'n Maori waka (kano) het die paartjie vergesel van waar hul begin stap het langs die hawe langs tot waar hul weggedraai het om na hul voertuie terug te beweeg.
'n Laaste foto van Camilla waar sy in die wagtende voertuig klim.

En dan stap ons terug stasie toe om 'n trein te haal. Ons lag maar in die mou vir onsself, maar dit was 'n pragtige dag om buite te wees en 'n sal 'n mooi herinnering vir die toekoms wees. Ek besef maar net weereens dat adelikes net mense soos ons is en ek is bly dit is nie my job om ander mense se hande te skud die heeldag lank nie.


Sondag 11 November 2012

Wainuiomata

'n Oud-kollega van my, daar in Pretoria, het by een van my foto's opgemerk, dat dit lyk of ons altyd op vakansie is. Dit is dié ding wat Wellington (en ek dink New Zealand in die algemeen) lekker maak. Dis so veilig en om elke hoek of draai is daar 'n strand, natuurreservaat, wandelpad, park of rivier om te besoek. Alles is skoon, goed instand gehou en daar is geriewe soos piekniektafeltjies, toilette, waterpunte en plastiese sakkies vir jou honde se poef. Hier is dit ook nooit so warm soos in Suid-Afrika nie en dis 'n fees om buite te wees op sonskyndae. Die uv hier is net baie hoog en 'n mens moet maar jou hoed saam dra en sorg dat jy jouself goed smeer met 'sun block'. Ek kan stoksielalleen oral stap en ek hoef nooit bang te wees nie, dag of nag. Nou wat meer wil jy hê?

Ek en Hendrik het een Saterdag na 'n kwekery gaan soek in die omgewing van Wainuiomata (nie dat ons 'n tuin het nie, maar ons het by die 'Home en Garden Show' van dit gehoor en was nuuskierig). Ek en Rialeen het nog nooit oor die berg na daardie kant toe gery nie. Ons ontdek toe hierdie pragtige klein dorpie, Wainuiomata, daar. Dis ook deel van die Groter Wellington en nie ver van die dorpie vind ons die afgeleë strand met swart seesand. Die strande aan die Stille oseaan het swart sand agv die vulkane wat lank gelede hier uitgebars het. Aan die Tasmaniese see is die seesand ligter, soos ons dit ken in Suid-Afrika. 
 
 
  

 




Saterdag 10 November 2012

Ons lewe in die Hutt Valley

Terwyl ek hier sit en skryf (tik), luister ek na klappers en ander vuurwerke van die bure, want dis mos weer Guy Fox Day (een of ander tyd). So gaan dit nou voort tot na Nuwe Jaar. Hier is vuurwerke nie verbied soos in baie ander lande nie. Dit is maar 'n frustrasie en ek kry die diere jammer. Gisteraand toe dit begin het, het ek 'n kat gehoor wat aanhoudend geskree het. Vanaand is hy seker toegemaak, want hy is stil. Pauline het ook verlede jaar gekla oor haar kat wat totaal angsbevange raak as die vuurwerke begin en sy moet haar 'n kalmeermiddel ingee.

Ek moet sê, Hendrik se koms maak so groot verskil aan ons lewens. Hy werk mos nie en hou darem die huis aan die kant, was die klere en skottelgoed, dra die vuilgoed uit en help met die kosmakery. Dit moes ek alles doen voor hy gekom het. Dis ook vir ons lekker om weer ons lewens met hom te deel en dinge saam met hom te doen. Tot nou het ek elke Maandag gewerk en dis Rialeen se afdag en sy kon dit saam met haar pa spandeer.

Hierdie week het Hendrik begin om klas te draf by die Weltech om homself besig te hou, tussen mense te kom en om sy kanse vergroot om so gou as moontlik werk te kry. Hy doen 'n somerkursus in IT en Projekbestuur. Hy klink heel opgewonde na sy eerste week se klasdraf. Dis 'n 12 weke kursus en eindig in die middel van Februarie.

Vir my lyk Hendrik gelukkig en ontspanne. Hy beweeg rond met die hulp van 'public transport' (soos ons ook in die begin gedoen het) of stap om te kom waar hy wil wees. Hy gaan gereeld na die biblioteek in Petone en lees die koerante daar en neem op bestelling vir ons boeke uit of neem boeke terug. Hy gaan ook na die Wellington biblioteek in die stad met die trein. Mc Donalds is om die hoek en hy kan daar koffie en 'n appelpastei of koffie en 'n muffin vir $5 koop. Hy gaan haal vir ons fonteinwater by die fontein hier in Petone of stap Pack n Save (ons Pick n Pay) toe om die daaglikse melk, brood en ander benodighede te koop. Dan doen hy ook meeste van die takies by die huis. Hy lees baie en het al klomp van die wandelpaaie hier in die omgewing gestap. Dis die voordeel van Wellington. Hier is altyd iets om te doen, dis gratis en veilig. Die museums, kunsgallerye, parke, botaniese tuine, natuurreservate ens vra geen toegangsfooi. Dis net by die dieretuin en Zealandia waar 'n toegangsfooi betaal word. Niemand kan kla dat hul verveeld is hier in Wellington nie.

Vanoggend het ons besluit om langs die Hutt Rivier te gaan stap. Die Hutt Rivier vloei vanaf Wellingtonhawe hier in Petone (wat ek Petone beach noem) vir ses-en-vyftig kilometer tot verby Upper Hutt. Die area waar ons woon is bekend as die Hutt Valley en is verdeel in Lower en Upper Hutt wat deel vorm van die Groter Wellington. Petone is 'n voorstad van Lower Hutt. Die hele gedeelte lê langs die Hutt Rivier. Daar is 'n wandelpad wat langs die rivier loop vanaf die strand by Petone tot Upper Hutt, altesaam seker dertig kilometer in totaal. Hendrik en Rialeen het een oggend, kort nadat hy gekom het, die eerste gedeelte tot by Melling gestap. Ons het dus vanoggend tot by Melling gery en daarvandaan gestap vir so negentig minute en toe omgedraai. Drie ure later het ons koffie by die Mellingstasie gekoop. Die weer het saamgespeel en ons het goeie oefening gekry!
 
Hier het ons stap begin en ge-eindig (met 'n koppie koffie)
 
 
 
 
 
 
 'n Blaaskansie by die parkie
 
 
 Oral langs die pad is huise sonder enige omheining en die agtertuin loop dus uit tot op die rivierbank.
Hier het ons besluit om om te draai en terug te stap. 'n Volgende keer sal ons weer hier begin en verder opstap tot ons by Upper Hutt uitkom.
 
 Ons het oor die brug gestap en aan die anderkant van die rivier terug gestap.
 Die rivier vanaf die brug afgeneem
 
 
 
 
 Oral langs die pad is piekniekplekke. Op die onderste foto het mense ingery tot op die droë gedeelte van die rivierbank en daar hou hul piekniek (ek dink nie dis wettig nie).
  Naby die Mellingstasie is die 'skate park' vir die kinders
 
 En terug by ons karretjie

Na 'n middagete van gisteraand se oorskietkos, het ons gestort en gaan fliek by Light House, om die draai van waar ons woon en die fliek 'The Intouchables' gesien (uitstekende fliek!). Hier kan 'n mens 'n glas/bottel wyn koop by die teater en dit drink terwyl jy fliek.  Ek het 'n glasie wyn geniet en Hendrik 'n vrugtesap (boring!). Daarna  het ons 'n pizza gaan koop by Hell.

As iemand nog wonder hoekom ek so verlief is op Wellington, moet hul maar self kom kyk en dit kom ervaar.